Abel se dogters
Helene de Kock
Human & Rousseau
Vir my gesin
Adelien
Hoofstuk 1
Adelien bly ietwat verslae met die gehoorbuis in die hand staan. Dus gaan Bernadette nie saam plaas toe nie. Dis die soveelste maal dat sy ’n verskoning het. Sy’s te besig. Sy skryf toets. Sy’t eenvoudig nie lus nie, het sy so pas gesê. Dis die eerste maal dat sy prontuit erken daar’s fout met haar lus vir die huis. Adelien was geskok. “Verlang jy dan nooit huis toe nie?” “Nie baie nie. Dis regtig nie meer lekker nie. Pa en Dirk is nes twee ramme wat gedurig kopstamp. As ons ’n slag op Stille Weide was, moet ek Dirk aanhoudend paai en tuis moet ek Pa weer kalmeer. As ek dan regtig moet kies, kies ek vir Dirk. Ek wil nie eendag as ek al oor veertig is huis toe gaan net omdat ek nêrens anders het om heen te gaan nie, Adie …” “Maar … Wat ’n kinderagtige redenasie!” het Adelien losgetrek. “’n Mens se huis bly jou huis. Dis jou nes, jou kokon, jou …” Sy kon nie gesê kry wat sy wou nie. ’n Soort skrik het haar keel laat nou trek. Wat is dit tog met Bernadette? Sedert sy en dié Dirk so danig is, het sy anders geword. Erg uitgesproke. En antagonisties teenoor haar eie mense. Bernadette moes haar suster se ontreddering aangevoel het, want sy het skielik haastig gepaai: “Ag jong, dis hoe dit is. Ek voel nou so. Môre waai dit weer oor, wie weet.” “Praat jy van Dirk?” wou Adelien gretig weet. “Is dit hy wat gaan oorwaai?” “Adie, moenie begin nie. Ek weet nie van Dirk nie. Ek wag om te sien wat gaan word. Los my tog. Ek is groot en ek is soet. Waarom bekommer jy jou so?” Daarop kon sy haar suster nie antwoord nie. Maar sy weet: Bernadette is alles behalwe volwasse. Sy is wel in daardie gevaarlike stadium dat sy doodseker is van haar eie volwassenheid. En dit kan net moeilikheid spel. Daarby het sy so gehoop dat sy en Bernadette vir ’n verandering ’n heerlike suster-kuiertjie kan hê. Hulle twee saam met kleinsus Christelle en Pa Abel alleen in die groot
sandsteenhuis met sy hoë staalplafonne. Anna sal kook en brou en saans sal hulle drie susters op die mat in die sitkamer sit en dambord speel terwyl Pa swyend maar tevrede toekyk. Dis amper al wanneer hy ooit tevrede lyk. Wanneer hulle drie, koppe bymekaar, sit en klets of sommer net iets speel. Sy wonder opeens wat hy sal maak as hulle skielik hul ware gevoelens sou lug terwyl hulle so bymekaar sit. Of hy sal opstaan en loop en of hy versteen sal bly sit. Ag vader, liewe Pa … hoe kan mens iemand liefhê en hom nogtans glad nie begryp nie? Hoe lank moet mens iemand ken om te kan sê jy weet wat in sy hart aangaan? Meer as ’n leeftyd? Meer as drie of vier vinnige gesprekke so twee maal per jaar, dis vir seker. Al wat Adelien weet, is dat dit broodnodig is dat Abel en sy dogters meer tyd saam deurbring. Adelien skud haar hare ergerlik agtertoe in die klein kopgebaar uit haar kindertyd. Wat sal dit tog help om te tob? Die teuels van haar gesin is al lank nie meer in haar hande nie, as dit ooit was. Sy is maar net die oudste van Abel se dogters. Die ousus na wie op ’n manier opgekyk word, maar wat gerieflik geïgnoreer word as die ander nie in haar rigting wil trek nie. Soms wil-wil sy haarself bitter jammer kry hieroor. Want sy weet, soos ’n vrou weet, dat dinge in haar ouerhuis nie is wat dit moet wees nie. Gebroke ouerhuis, help sy haarself reg terwyl sy haar tas pak en die woonstelvensters een vir een begin toemaak. Want as die dood reeds een maal ingetrek het, verbrokkel daar iets binne die mure van ’n huis. Niks sigbaars nie, net ’n hol onsekerheid wat soms alles wil wegvreet. Soms voel dit so normaal om net ’n pa te hê. Maar dit is nie. Dis half. Soos ’n afvlerk voël nog ’n voël is, maar nie regtig kan vlieg nie. “Hoe was jou week?” wil Nomsa weet toe sy in die motor klim. Haar bruin oë glinster ondeund. “Soos gewoonlik,” sug Adelien en trek weg, vleg deur die verkeer, draai links by die verkeerslig in Universiteitsweg. “Dis nou ’n antwoord,” sê Nomsa, haal ’n dik plak sjokolade uit en breek vir hul elkeen twee blokkies af. Adelien gee haar ’n verwytende kyk, maar vat dit tog. “Eet,” glimlag Nomsa weer, “dan voel jy beter.” “Hoe weet jy ek voel … e … minder goed?” “Het oë, kan sien.” Adelien sit albei blokkies in haar mond, suig behaaglik daaraan. Tot by die
Fonteine-sirkel eet Nomsa ook stilweg. Toe sê sy: “Ek het vir jou en daai blonde dosent …” “Professor …” “Oukei, die blonde professor eergister voor die Ou Lettere sien verbyloop. Dit het gelyk of julle twee saam net drie bene het!” “Hy is my kollega en …” “Haak ál jou kollegas so styf by jou in?” “Nomsa, asseblief, ek wil graag hierdie vakansietjie geniet. Gesels met my oor jou studies, oor die koshuislewe. Enigiets. Net nie oor Henk Verwey nie.” “Oukei,” sug Nomsa, breek nog sjokolade af en eet smaaklik. “Jy word vet,” maan Adelien. “Die meeste eerstejaars swel teen Julie al uit hul klere. Jou ma gaan raas.” “Sy gaan eerder met jóú raas,” sê Nomsa en smul voort. “Sy gaan sê jy is te maer. As jy so voor die klas staan, dink ek partykeer jy lyk nes ’n meerkat in die droogte.” “Dankie, nè,” sê Adelien styf, maar om haar mondhoeke pluk ’n laggie. Nomsa is hoeka gewoond om haar sê te sê. Enigste dogter van Anna Molofe wat haar eie kind saam met Abel Buitendag se drie dogters grootgemaak het. Want die dag toe Abel se vrou van ’n verwaarloosde griep sterf, het Stille Weide se huis ’n routyd ingegaan soos wat daar net in die Bybel van gelees word. So dink Adelien altyd daaraan. Ure, weke en maande van weeklag. Dooie dae waarin die trekkers bly staan en die werkers suutjies oor die werf beweeg het om die dwingende dinge van ’n plaas gedoen te kry. Grafstil aande dat Abel dit nie kon verdra as hulle die radio of televisie aansit nie. En hulle drie, sy en Bernadette en Christelle wat kaalvoet die gang af sluip. Dan oor die stoep, die klam gras en die nagdonker strook veld deur na die rye werkershuise anderkant die populierbos. Bernadette wat halfpad al die blerrie-woord begin sê omdat die duwweltjies haar kou en Christelle wat kermend huil op Adelien se heup. Anna wat hulle hoor kom en die deur oopmaak sodat die ligbaan van die lamp hul nader trek tot binne in die huisie met sy klamwarm papgeur. Nomsa wat haasbek lag omdat haar maats gekom het. En dan, die boepenspot rooibostee wat Anna op die koolstofie
laat prut-prut terwyl haar soet Sotho-woorde hulle kalmeer. “Toemaar … die donkerte sal weggaan. Die nag hou nie vir altyd nie. Julle pappa sal weer praat en hy sal weer lag!” “Wanneer?” wou Bernadette klokslag weet. Maar dit was altyd Anna se man, Thabu, wat geantwoord het: “Net soos die winter weggaan …” Om die een of ander rede het die onverstaanbare woorde hulle telkens getroos. Miskien juis omdat dit nie ’n antwoord was nie. “Waaraan dink jy?” wil Nomsa weet. “Aan goeie en slegte tye,” sê Adelien en frons. Die verkeer verby Johannesburg ontsenu haar altyd. En dis eers naby Vereeniging dat Nomsa dit eensklaps weer waag: “Tye van nou of tye van doerie tyd?” “Doerie tyd,” sê Adelien en vryf agter oor haar stywe nek. “Soms is dit goed om te onthou hoe seer ’n mens gekry het.” “Omdat jy bang is jy gaan weer seerkry?” Adelien glimlag en tik Nomsa op die knie. “Jy is veels te skerp vir ’n eerstejaar! Ja, ek skat dis omdat ek weet hoe pyn voel.” “Waarom dink jy aan pyn?” “Omdat …” begin Adelien, maar skud skielik haar kop. “Nee, wag! Vertel my liewer hoe het dit met die Sielkundevraestel gegaan.” “Ek praat ook nie oor dinge wat seermaak nie,” sug Nomsa en sak terug teen die kussing. Adelien skud van die lag. Nomsa is ’n oulike kind. Agtien en onstuitbaar vrolik. Bernadette sê sy is ’n aanwins vir die koshuis. Al sê sy haar sê roekeloos reguit. Het glo nou die dag by ’n huisvergadering opgestaan en gekla oor die kos wat na
saagsels en koue beesvet smaak, die seniors wat snags raas en die primaria wat te veel sleep … “Haai!” sê Adelien opeens hard sodat Nomsa se ooglede oopwaaier. “Waarom het jy gesê Bernadette sleep te veel?” “Dis die waarheid,” mompel Nomsa vakerig. “Daai ou van Mopani moet nog net sy tent op Asterhof se grasperkie opslaan, dan bly hy ook daar.” Adelien se keel trek toe. Almal weet Dirk Joubert is moeilikheid en Bernadette behoort dit ook te weet. Watse doepa dra die man dat meisies so val vir hom? Maar eintlik weet sy. Hy’s aantreklik en gevat, sjarmant as dit hom pas. En net so effentjies roekeloos. Die tipe wat ’n weddenskap nie misloop nie. Soos die keer toe hy die Ou Letteregebou se dak in sy rooi Speedo en ’n bofbalpet uitgeklim en toe heeldag daar in die son gesit het. Hy moes glo bly sit tot donker toe voordat die joolkoningin sou inwillig om met hom uit te gaan. Adelien het gedink dis infantiel, om die minste daarvan te sê. Selfs ’n simpel student behoort twee maal te dink voor hy sy lyf só onder die Pretoriase somerson ontbloot. Maar Bernadette, die joolkoningin, het gedink dis snaaks. Of ten minste ’n bewys dat dié donkerkop mediese student vrek graag met haar wou uitgaan. Wanneer, wonder Adelien en trap onwillekeurig die petrol weg, gaan Bernadette eendag grootword? Asof dit nie reeds erg genoeg is dat Christelle op die dorp so sonder haar ouer susters se vormende invloed in die koshuis moet bly nie. Dis bekommernis op bekommernis. En dan is daar Henk. Adelien skud haar kop dat die asblonde hare in haar nek swiep. Genoeg. Nou gaan sy vir ’n rukkie van hom vergeet. Maar die gedagte het nog nie mooi versink nie, of sy dink aan hom: Groot en koringblond, ’n hele kop langer as sy en daardie kobaltblou oë onder die opstaankuif. Glad nie die stereotipiese beeld van ’n professor nie. Sy loer skigtig na Nomsa se kant toe, maar dié slaap oopmond soos ’n baba. En die pad is nog lank. Kan maar net sowel die tyd gebruik om haar eie kop agtermekaar te kry, dink Adelien. Want daar’s feite wat nie geïgnoreer kan word nie. Professor Henk Verwey hou nie van gras onder sy voete nie. Want vandat sy wat Adelien is ’n aanstelling as dosent in die Sielkundedepartement gekry het, is
hy met mening agter haar bloed aan. Hy het onverwags met ’n bossie karmosynrooi angeliere in haar nuwe kantoor opgedaag. Kamma net om haar welkom te heet. ’n Paar dae daarna het hy by haar woonstel naby Hatfield Plein kom inloer met ’n flou verskoninkie: “Ek was net hier onder om fotostate te laat maak, toe dink ek daaraan om ’n koppie koffie by News Café te gaan drink. Maar dis darem so aardig om dit alleen te doen.” Dit was ’n Saterdagoggend en sy het blou jeans en ’n wit katoentoppie aangehad. Haar hare nog klam van die stort. Sy wou protesteer, maar Henk het dit nie toegelaat nie. Haar woorde netjies toegevou met sy spontane glimlag: “Só ’n oggend moet gevier word, juffrou Buitendag. Dis herfs en die wêreld is vol goud en koper en …” “Ja, toemaar,” het sy haastig gekeer, altyd effens sku vir die vertoon van emosie. Selfs al word dit net spottend gedoen, soos toe. Want sy het net ’n truitjie gegryp, haar hare met ’n kam agter haar kop vasgeknyp en saamgegaan. Wonder bo wonder het hulle lekker gesels. En meer as koffie geniet. Van die kontinentale straatkafee se lekker feta-en-spinasie-konkoksies geëet tot sy nie meer kon nie. Toe hulle die laaste cappuccino afsluk, het sy verskonend gebieg: “Ek eet nooit soveel nie, hoor!” “Hopelik, want anders gaan dit my bankrot maak,” het hy sedig geantwoord. Sy het verleë na hom gekyk en hy het vorentoe geleun oor die tafeltjie met sy blou teëltjies en liggies met sy voorvinger op haar neus getik. “Ontspan, Adelien Buitendag. Die lewe is nie heeltemal só ’n stroewe proses nie!” Maar die atmosfeer tussen hulle was meteens gedemp, of nee, dit was skielik asof die lugtigheid, die soepel geskerts gekondenseer het tot gewigtige woorde. Sy het haar asem ingetrek voordat sy egalig gesê het: “Luister Henk, ons het ons so pas wel aan die tendens van die klein vergrypie skuldig gemaak, maar …” “Wat?” proeslag hy. “Hoe?” “Ja, so staan dit mos in die toekomskundige Faith Popcorn se verslag. Sy sê mos die mens maak hom skuldig aan allerlei klein vergrypies omdat hy reken hy verdien dit. Jy’t gereken ons verdien spinasiepannekoeke en ryk koffie omdat … wel, omdat …” sy tas ’n oomblik na woorde en hy vat die gaping. “Omdat ’n man darem verdien om ’n mooi meisie uit te neem. Of is dit nou weer, Calvinisties gesien, ’n te erge genieting? Sê my, het daai Popcorn-vrou dit
ook teen genot, of wat?” Sy blou oë was warm en ligweg ergerlik sodat sy vervaard probeer verduidelik het. “Nee, ek bedoel … jy sien, in dié verslag bespreek sy toekomstendense en party van hulle word nou al waar. Soos dat mense toenemend saamhok vir veiligheid, ek meen as mens nou na al die veiligheidsdorpies kyk en …” Hy het meteens die fladdering van haar hande vasgevat. “Adelien, ek terg jou net. Jy hoef niks te verduidelik nie. Wat jy sê, is interessant.” Sy was nog senuagtig. “Ek … ek is nie daaraan gewoond om klein geselsies te maak nie, Henk. Dis nie eintlik in my aard nie. Dis ’n fout, ek weet.” “Watse fout?” het hy haar in die rede geval. “My liewe mens, daar is nie fout met jou nie! Waar kom jy daaraan?” “Lang storie,” het sy gesug. “Van die soort wat te vervelig is om oor te vertel.” “Waarom?” Skielik het haar woorde glad gekom: “Omdat dit niks dramaties is nie. Ek is maar soos wat ek is omdat ons Buitendags eintlik ietwat sukkelend leef. Miskien stam dit uit ons … nee, uit my onvermoë om spontaan uit te reik.” “Dis dan wat jy nou doen,” het hy sag gesê en haar hande laat los. Sy het haar asem diep ingetrek en haar kop geskud. “Jy maak my deurmekaar, Henk. En … ek is nie goed met selfontleding nie.” “Jy sê negatiewe dinge oor jouself. En dis ongegrond.” Sy het met ’n flits van openbaring besef dat hy die waarheid praat. Maar sy was nie lus om verder te delf nie. “Baie dankie vir die ete. Dit was baie lekker.” “O, dit was ’n buitengewone ervaring, juffrou Buitendag.” Sy wou-wou dink hy spot. Maar sy oë was diep van erns. Toe het hy skielik weer geglimlag: “Kom, ek moet nog ’n vraestel gaan opstel en my ma gaan besoek.” “Jou ma?”
“Ek het een, ja. In ’n meenthuis in Fairy Glen.” “’n Meenthuis?” Sy kon haar tong afbyt. Sy mondhoeke het geamuseerd getrek. “’n Meenthuis met twee parkiete en ’n kat ook. Sy hekel en brei en kyk sepies. En bak vir my beskuit. Sulke dikkes met karringmelk en vol semels en sultanas. Partykeer okkerneute ook.” Haar mond het effentjies oopgesak en sy het onwillekeurig gesug: “Dit klink wonderlik.” Hy het teruggeleun in die stoel en die kelner weer nader gewink. “Twee koppies rooibostee, asseblief.” “Nee, ek kan onmoontlik nie …” “Natuurlik kan jy,” het hy sag gekeer. “Rooibos is gesond vir die spysvertering en dit laat woorde makliker vloei ook.” “Jy spot.” “Glad nie. Maar ons raak nou diep dinge aan. Jou oë kyk ver as ek van my ma praat … Vertel my van jou eie ma.” Hy is ’n gesoute sielkundige, het sy meteens weer besef. Iemand wat weet hoe om met én sonder rooibos woorde te laat vloei. Maar hy was so onverbloemd belangstellend dat sy opeens ’n knop in die keel gevoel het, skielik weer onwillig om te loop. “Sy … is nie meer daar nie,” het sy gefluister. Hy het sy hand oor die tafel gestoot en hare vasgevat. Dit was die laaste strooi. Sy het na sy sterk vingers gekyk en onverhoeds warm trane voel opstoot. Vervaard gesluk. “Ek … ag, kyk nou net … Dis … buitendien al lank gelede. Net soms vang dit ’n mens onkant.” “Vertel my.” En sy het. Alles. Tot haar verstomming het die woorde weer maklik gerol. Dit was of haar binneste bloot buitetoe geloop het. Soos ’n stadig kokende konkoksie in ’n kastrol waar niemand toesig hou nie. Sy het gepraat oor die hele trauma wat steeds draal en draal soos die spreekwoordelike gees wat nie sy
rusplek kan vind nie. “Dit was en is nou nog asof my pa onder water swem, weet jy …” het sy gesug. “’n Mens tussen visse … Of dalk eerder ’n vis tussen mense. Want hy’s koud en doods. En ek weet nie of hy dit ooit besef nie. Hy dink hy funksioneer normaal, maar dit is nie so nie.” “Het hy al berading ontvang?” het Henk die onvermydelike vraag gevra. “Nee. Hy wil niks daarvan weet nie. Sê hy laat nie in sy kop rondkrap nie.” “Ag tog …” “Ja … Maar jy kan die perd water toe vat, nè.” “Jip. Dis mos eintlik die reël dat die perd wat die dorsste is, juis weier om te drink.” Hulle het bly praat en praat. Sy veral. Dit was of sy nie kon ophou nie. Sy het tot van die werkers vertel. Hulle wat al die jare haar pa so getrou bygestaan het. Van die laataandbesoeke aan die huis van Anna en Thabu, van die seer toe sy moes universiteit toe en Bernadette en Christelle net so by Pa Abel moes laat. En nou dat Bernadette al amper klaar is met haar studies, is daar weer Christelle oor wie sy haar bekommer. “’n Matriekmeisie het ’n ma nodig, weet jy.” “Het jou pa nooit weer getrou nie?” Sy het haar kop geskud. “Nee. Glo my, die bure en vriende het weduwees van oral oor aangery.” En met ’n suglaggie: “Maar Abel Buitendag probeer nie eers ’n praatjie aanknoop nie.” “Die dag sal nog kom,” het Henk gesê. “Die regte een het nog nie opgedaag nie. Sit dalk nog iewers vasgevang in haar eie smart.” Hy was doodernstig, die blou blik na binne gekeer. Adelien het hom ietwat verstom aangekyk. ’n Vreemde man, het sy besluit. Die een oomblik so glad soos ’n paling en dan weer stram van erns.
“Waar trek ons nou?” vra Nomsa meteens slaperig en draai skuins op die sitplek om haar lê beter te kry. “Is ons al by Heilbron verby?” “Lankal,” sê Adelien. “Nog so ’n uurtjie.” Nomsa dommel weer in en Adelien sug liggies. Die landskap is stewig in die greep van ’n vaalwit winter en dieper die Vrystaat in gaan dit nog kouer wees. Daar was juis vanoggend voorspellings van sneeu op die Maluti’s. Miskien sal dit lekker wees, dink sy, om weer ’n slag op die plaas te wees as die wêreld toe lê onder dik wit sneeu. En miskien moes jy vir Henk saamgevra het, betig sy haarself en kriewel in die sitplek van pure ongemak. Hoeveel male het sy haarself al afgevra waarom sy nie vir Henk plaas toe vat nie. Die hele wêreld weet al van hulle twee. Nomsa het hulle eerste op ’n oggend saam gewaar en dit aan Bernadette uitbasuin wat dit op haar beurt weer vir Pa Abel oorgedra het. En Christelle was natuurlik die een om Adelien te bel en opgewonde uit te vra na die lang blonde man wat glo na Brad Pitt trek. En dit het tot dusver net mooi niks gehelp dat sy hot en haar verduidelik dat hulle net vriende is nie. Nie dat dit heeltemal waar is nie. Nie ná die afgelope drie weke se emosionele ontmoetings nie. Sy ry ’n rukkie lank gedagteloos, staar na die swart lint van die pad en die blou berge wat vorentoe laag op die horison lê. Toe eers laat sy haarself toe om te dink waaroor sy al eintlik moes gedink het: Sy en Henk Verwey stuur af op ’n baie ernstige verhouding. As hulle nie al daar is nie. Want ná daardie eerste oggend se sogenaamde klein vergrypie, was daar baie sulkes. Trouens, dit het spottenderwys ’n sêding van hulle twee geword. Lus vir ’n klein vergrypie? sou hy bel en vra. Dan lag sy net in haar keel en hy beskou die saak as beklink. Daar was baie koppies koffie en vele snye sjokoladekoek wat oggende, middae en aande glad laat verloop het. Ure wat hulle omgesels het sodat hy net mooi alles van haar weet. Een laatmiddag het hulle oor die kampus gestap, voor die Aula verby na die restaurantjie met sy tafels onder die bome. Hy het vir ’n oomblik sy arm om haar geslaan en haar liggies teen hom vasgedruk. Dis toe dat Nomsa en twee van haar mede-eerstejaars hulle klaarblyklik gesien het. Want die volgende dag in die klas was daar ’n onstigtelike gefluit toe sy agter die kateder inskuif. En op die bord
agter haar was ’n groot hart geteken met ’n H en ’n A vervleg daarin. Onder dit was geskryf: In die sielkunde is die hart van die mens deursigtig. Sy het skeefweg geglimlag en die klas het gebulder. Dié vrypostige geslag studente wat grootgemaak is om hul eie selfbeeld te poets, was min gepla oor hare. Dit was nogal moeilik om die lesing te voltooi, maar sy het deurgedruk. Alle verdere skimpe geïgnoreer. Daardie aand is sy en Henk na sy ma toe. Die wit, regop meenthuisie was vol van die geur van warmgebak en die parkiete het vrolik gefluit. Die kat het hom teen haar kuite kom vlei en Sarah Verwey het haar sonder skroom teen haar moederlike bors vasgedruk: “Henk het my so baie van jou vertel,” het sy geglimlag. “Kom, ek het soetkoekies gebak en hier’s ’n hele pot vol tee.” Dit moet in die familie loop, het Adelien agterna besluit. Want die vrou het dit reggekry om haar alles te laat vertel van Abel Buitendag en sy drie dogters wat so sonder ma moes grootword. Toe hulle daar weg is, was sy en Henk elkeen ’n yslike baksel semelbeskuit ryker en sy het ’n uitnodiging gehad om so gou moontlik weer te kom. Dit was maklik om dit te aanvaar, want Sarah se meenthuis was ’n hawe. Daardie aand het Henk Adelien vir die eerste maal gesoen. Baie versigtig, asof sy ’n tiener was wat nie moes skrik nie. Die liefkosing het haar lank laat wakker lê, laat wonder waarom hy nie meer driftig was nie. Want daar was baie emosie tussen hulle. Maar sy was verniet bekommerd. Die volgende keer dat hulle uitgegaan het, was om La Traviata in die Staatsteater te gaan kyk. Sy het soos ’n prinses gevoel in haar lang koningsblou rok en stringetjie pêrels wat sy laas Kersfees by Pa Abel gekry het. En Henk het heelaand om haar gedraai, haar liggies aangeraak, haar vingers deur syne gestrengel. Terug in haar woonstel, met die deur toe agter hulle, het hy haar opeens vas teen hom getrek, met sy lippe oor haar keel en wange gestreel. En toe het hy haar gesoen met ’n hartstog wat haar kop laat sing het. Sy het hom uitasem weggedruk: “Henk …” “Sjuut …” Hy het haar oor en oor gesoen totdat sy haar laggend uit sy arms losgemaak het. “Henk … dis … ek weet nie wat om te sê nie.” Dit was immers die waarheid. Ten spyte van die lang, goedbeplande aanloop en die onbetwisbare aangetrokkenheid, was sy onseker. Adelien sug weer diep toe sy deur Bethlehem ry. Dis goed dat hy nie saamgekom
het nie. Sy het ’n paar dae nodig om te dink. Anderkant Slabberts se heuningbruin sandsteenkoppe pomp sy Nomsa liggies in die sy. “Wakker word, ons is amper daar!” En op impuls: “Nomsa, moet asseblief nie te veel sê van professor Verwey nie, hoor!” “My ma sal wil weet,” antwoord Nomsa moedswillig. “Ek vra mooi.” “Oukei. Maar jy moet my vertel as alles finaal is, hoor.” “Niks is finaal nie, Nomsa!” keer Adelien verskrik. Voeg darem meer besadig by: “Nou maar goed, as daar iets kom van die vriendskap tussen my en professor Henk Verwey, sal ek jou eerste laat weet.” Nomsa snork liggies en haal haar skouers op. “As ék darem so ’n mooi man kry, sal die wêreld dit gou-gou weet.” “Ek glo jou,” lag Adelien toe hulle met die laning kaal kerspopuliere opry na Stille Weide se spitsdakopstal. En die dak moet weer ’n slag rooi geverf word, merk Adelien op. Die dooie kannas in die ronde sirkel voor die stoep moet afgeknip word en een van die tuinkrane drup ’n silwer strepie. Sy sal maar vir Thabu vra om ’n tydjie af te knyp en daarna om te sien, want Pa Abel sal net afwesig knik en daarvan vergeet. Hulle word soos altyd ontvang: ’n Opgewonde Christelle en lang, gryskop Abel wat sy oë bewoë knipper as hy groet. Sy oudste met ’n skraal arm ’n oomblik krampagtig teen sy bors druk en net so gou weer los, krapperig keel skoonmaak om te vra: “Het julle mooi gery?” “Natuurlik, my Pappie,” lag Adelien en druk hom weer. Hy verduur dit, draai toe om en sê oor sy skouer: “Nou ja, ek moet kraal toe … sien julle twee later. Nomsa, sal jy regkom met jou tas?” “Ja wat,” lag sy. “Adelien sê mos ek het sterk en vet geword!” Latlyf Christelle kyk haar op en af en lag kop agteroor. “Dis nogal waar! Lyk my julle kry net pap in die koshuis!” Nomsa blaas haar mond gemaak vies op en begin aanstryk oor die werf na die
werkershuise se kant toe. Die meisiestemme se groet trek helder oor die skemer werf. Adelien kyk Nomsa se ronde figuurtjie ’n oomblik goedig agterna en keer toe haar aandag na Christelle wat onophoudelik babbel oor haar tienerbestaan. Met haar swiepende bos hare, pikante gesig en vol bates, mooi lang bene en skraal arms soos haar pa s’n, beduie sy lyflik en aanskoulik oor alles en nog wat. Hulle is al amper in haar kamer voordat Adelien ’n woord inkry. “Wat lyk jy so mooi?” wil sy met susterlike ongeërgdheid by Christelle weet. “So … soos ’n grootmens?” “Ek is mos een,” glimlag Christelle en lig ’n wenkbrou bo ’n olyfgroen ooglid met wimpers vol maskara. “Jy leer nog om een te wees,” maan Adelien outomaties en is glad nie voorbereid op die uitbarsting wat volg nie. “Ag, my maggies!” roep Christelle woedend uit, haar wange bloedrooi. “Wanneer wil jy besef dat ek ’n vrou geword het?” “Wat … bedoel jy?” vra Adelien, skielik lam geskrik. “Niks drasties nie,” bedaar Christelle effens, “maar besef tog dat ek die drange en begeertes van ’n vrou het. Ek hou my nie meer op met skoolseuntjies nie! Ek het volwasse geword!” Sy gooi haarself op die bed neer en kruis haar lang bene, die ene balhorige aggressie. Adelien sug innerlik. Hier is verwikkelinge waarmee sy nie tred gehou het nie. Maar sy sal eers die kat uit die boom moet kyk. Hierdie kleinsus van haar was nog altyd ’n hand vol en nou nog meer. Sy met haar blonde haardos, groot groen oë en vol, koppige mond. Adelien hang haar klere weg en draai stadig om. “Wanneer het hierdie vrou in jou ontwaak?” vra sy soetjies. Christelle kom orent, slaan haar arms om haar knieë. “Vandat ons ’n nuwe adjunkhoof gekry het. Hy doseer Afrikaans …” Haar oë raak blink. “Hy’s bitter streng, hoor! Maar as hy gedigte voorlees, is dit of sy stem soos … soos ’n balm om jou hart vou. Daarby het hy die ongelooflikste bruin oë. Donker en diep en …”
“Spaar my dit,” sug Adelien voordat sy kan keer. “Geensins,” antwoord Christelle kalm en staan op, vee plathand oor haar smal heupe. “Ek het hom en juffrou Steensma vir aandete genooi – en Pa het geen besware nie!” Adelien staan versteen. Natuurlik het hy nie kapsie gemaak nie. Pa Abel is veels te sag met sy jongste en buitendien sal hy ook nie gevaar ruik nie. Nie voordat dit te laat is nie. Sy loop deur toe. “Wag,” sê sy, “ek wil vir Anna gaan dag sê en sommer hoor wat sy gaan kook aangesien ons gaste kry!” Christelle kom huppelend agterna. Beduie uitasem dat sy reeds opdrag gegee het dat Mamma se wit kanttafeldoek en Ouma se porseleinservies uitgehaal moet word. En daar sal skaapboud en doekpoeding en so aan wees. Meneer is mál oor skaapvleis … Sy hoor Nomsa met haar ma in die kombuis klets en Anna groet skaars voordat sy grootoog beduie: “Jy sal moet praat met daai sussie van jou! Dis nie behoorlik vir ’n skoolkind om onnies huis toe te nooi nie. Laas Sondag het sy dit ook gedoen. Hy en jou pa het lekker gesels en Chrissie het gesit en tande tel tot die man weg is. Dit hóórt nie!” Toe Adelien haar pa later in sy studeerkamer alleen kry, gooi hy allerlei draaie. Nee, maar die kind is dan nou so gelukkig. Hy het nie die hart gehad om nee te sê nie. Sy wat Adelien is, moet maar praat as daar gepraat moet word. Maar sy moet eers die saak uitkyk. En sy doen dit. Trek haar beste, formele swart rok met die hoë kragie aan en maak haar hare in ’n stylvolle bolla hoog op haar kop. En sy raas met Christelle toe dié in ’n mini verskyn. Dat die kind pragtig lyk, is nie te betwyfel nie. Haar vol, vroulike kurwes en die dun middeltjie … maar nee, hemel, die rokkie is darem te skraps. Stuur haar summier kamer toe om ’n langbroek teen die koue aan te trek. “Daar sal ’n tyd kom,” waarsku Christelle en haar oë skiet blougroen vonke, “dat ek my mini’s sal dra wanneer ek wil!” “Vir seker,” stem Adelien koel saam, “maar nie nóú nie!” En toe die gaste
opdaag, dank sy haar sterre dat sy streng was. Die man is inderdaad ongelooflik. Lank en effens asketies van voorkoms. Donker hare met diep, blink oë onder swart wenkbroue. En ’n mond wat net so ferm soos sy handdruk sluit toe hy klaar gegroet het. Dis Christelle en die piepjong juffrou Steensma wat aanhoudend gesels. Ook Pa Abel sit met ’n mond vol tande aan tafel sodat dit Adelien se plig word om as gasvrou darem iets uit die man te probeer trek. “Van waar is u, meneer Henning?” vra sy en klink selfs vir haarself ongelooflik outyds. Vies vir haarself, pers sy haar mond saam en sny vir hom nog ’n stukkie skaapboud af. “Kaap,” antwoord hy kortweg. “Dankie, dis nou genoeg. Ek eet te veel van oom Abel se lekker skape op! Ek hoor u is ’n vermaarde sielkundige. Vertel my waaroor u u doktorsgraad skryf.” Sy haal haar skouers op. “Die mens,” antwoord sy moedswillig, sien hoedat die wakker oë effens vernou en voeg gou by: “… se vermoë om aan te pas onder haas onmoontlike omstandighede.” “Is dit die volle, formele titel?” vra hy koel. “Ek is nog besig om dit te formuleer,” erken sy stywerig. En sy dink: hierdie man is gevaarlik. ’n Mens moenie met hom speel nie. Roald Henning is ’n aanloklike trofee vir enige meisie, maar spesifiek vir Christelle. Want dis die soort man op wie ’n jong dogter haar hart onherroeplik kan verloor. ’n Hardekwas held; tegelyk ’n sosiaal sensitiewe siel ook nog, so blyk dit. En ’n denker. Miskien moet sy hom ’n bietjie aanpor: “Hoe klink dit asof u ook in die sielkunde gestudeer het?” “Opvoedkunde,” sê hy en sy toon klink spottend. “Daar is ’n verskil. Skaars waarneembaar, maar tog.” Sy voel opeens oor die vingers getik. So asof hy presies weet wat in haar kop aangaan en net betyds uit die pad spring as sy hom wil vaspen. ’n Regte onderwyser, dink sy opeens woedend. Wil ’n mens alewig iets leer. En ek laat my nie vertel dat hy nie weet Christelle het ’n allemintige “crush” op hom nie! “Dan weet u hoe tieners se koppe werk?” spot sy terug, maar gedemp sodat Christelle en juffrou Steensma, wat hard aan die gesels is, nie moet hoor nie. Hy sit sy vurk neer, vou sy hande oor sy bord saam en die swartbruin oë kyk haar stip aan. “Ek dink so, ja.”
“Kan u uitbrei op die onderwerp?” vra sy baie sag. “Nie hier nie, juffrou Buitendag.” “Waar dan?” “Maak u nou ’n afspraak?” wil hy doodsedig weet en Abel proes effens bo sy bord. “Ja,” antwoord sy net so doodkoel, maar haar kake voel styf. Hierdie man is ’n komkommer van ’n mens. So kalm asof hy heeltyd vakansie hou. Of anders dra hy ’n masker; een wat sy nog driftig van sy gesig gaan afpluk.
Hoofstuk 2
Wat ’n onmoontlik komplekse man, dink Adelien wroegend toe sy laataand onder die dik blou duvet opgekrul lê. Sy moes haar kop gebruik het en hom net daar aan tafel vertel het wat sy van hom dink. Dat ’n opvoeder soos hy behoort te weet hoe die kwiksilwer emosies van ’n tienermeisie werk. En ook dat hy gerus minder ongeërg kan voorkom – so asof hy van g’n sout of water weet nie. En hy moet tog weet dat Christelle ’n fatale beheptheid met hom het. Die kind se oë was kwalik van hom af tydens die ete. Sy het wel daarin geslaag om ’n gesprek met juffrou Steensma aan die gang te hou, maar haar aandag was duidelik verdeeld. Adelien sug diep en draai op haar ander sy, trek die duvet se donsige warmte tot onder haar ken op. Dis ysig koud en toe hulle netnou die twee gaste gegroet het, kon sy nie gou genoeg die voordeur agter hulle toemaak nie. Christelle het haar natuurlik in die slaapkamer ingewag en geïrriteerd gevra: “Wat het jy en Meneer so lank gesels?” “O … oor die psigologiese vereistes van ’n goeie opvoeder, natuurlik. Asook die ideaal van indirekte beheer in die klaskamer, ensovoorts.” “Wat?” “Ag toemaar, jy sal wel eendag kan saamgesels. Word maar eers mooi groot.” Adelien wou haar suster kwaad maak en sy het. “Luister, juffrou die dosent, jy probeer my verniet afsit deur akademikaans te praat! My gevoel vir meneer Henning sal nooit, óóit oorgaan nie! Ek is siel van sy siel!” En toe Adelien haar uit die veld geslaan aanstaar: “Vrydag het hy vir my ’n versreël saamgegee om te oordink. Luister net hoe mooi …” Haar stem was meteens smeltsag: “‘O ziele! u van u zachtheid onbewust …’ Dis uit ’n gedig van Jacques Perk. O Adelien … dié woorde klink soos ’n stroompie oor fyn klippies, nie waar nie?” “Genade!” het Adelien uitgeroep. “En ek dag die man weet van beter!” Sy het ’n dreigende voorvinger gelig: “Pa gaan hiervan hoor, ou sustertjie! En jou meneer Henning kan in die vervolg van Pa Abel se skaapvleis maar net droom. Hy eet
nie wéér hier nie!” “Sê wie?” “Sê ék! ’n Groot man wat vir ’n skooldogter rympies voorlees waaroor sy aan die swymel raak, soek moeilikheid!” “Ag, Adelien,” het Christelle haar fyn hande melodramaties in die lug gegooi, “ek het geweet jy gaan nie verstaan nie! Wat weet jy nou ook van die liefde af? Jy’s al amper agt en twintig en jy was nog nooit verlief nie!” Adelien wou stik van verontwaardiging. Maar opeens het kennis en ervaring haar te hulp gekom. Christelle is net ’n kind. En sy gaan deur ’n traumatiese fase. Die eindeksamen met al sy angste lê voor. Daarby is daar die onsekerheid oor volgende jaar. En onwetend mis sy die vertroeteling van ’n moeder ook. Sy is ’n weerlose teiken vir kragtige emosies. Hier sal baie suutjies getrap moet word. So sagkens dat Christelle nie agterkom sy word in ’n ander rigting weggelei nie. Adelien het swaar gesug en haar hand paaiend in die lug gehou. “Toe nou maar … ek … ek begin begryp. Roald Henning is inderdaad ’n … ’n indrukwekkende man. Enne ek glo hy weet wat hy doen. Belowe my net dat jy nou eers jou aandag by jou studies sal bepaal.” Christelle het haar bedug aangekyk. “Is jy ernstig? Aanvaar jy dat my gevoelens vir meneer Henning nie sommer spookasem is nie?” Adelien het net geknik, want sy kon haar stem nie vertrou nie. En haar kop het oortyd gewerk. Sy sal iets moet doen en gou ook. Sy en Nomsa is net vir ’n kort vakansietjie hier, dan moet sy weer terug om klas te gee en aan haar proefskrif te werk. Intussen moet sy sorg dat Roald Henning se greep op Christelle verbreek word. En dit sal sy moet regkry sonder om haar kleinsus van haar te vervreem. Sy lê ure lank wakker, sluimer eers in ná die staanhorlosie in die gang al twee slae geslaan het. Sy word met ’n ruk wakker toe Anna haar kom roep vir telefoon. En sy strompel gangaf in haar dik japon wat sy koulik om haar lyf vou. Dis Henk. En hy klink ver en vreemd ten spyte van die duidelike verlange in sy stemtoon.
“Ek dag plaasmense roer vroeg?” terg hy met ’n sagte laggie. “Ek is nie juis ’n ware plaasmens nie,” skop sy teë. “Maar my pa is seker al weg kraal toe.” “Adelien …?” “Ja?” “Ek wens ek kon ook kom …” Selfverwyt prik opeens deur haar hele lyf. Sy kon hom maar gevra het om ’n paar dae plaas toe te kom, ja. Wat keer my? wonder sy wrang, maar kom tog nie sover om die uitnodiging te rig nie. Sy stoot ’n laggie uit haar keel: “Toe nou, ou martelaar!” terg sy. “Volgende keer as ek kom, kom jy saam! Jy sal stom staan so mooi is die lente dan in die Oos-Vrystaat! Nou is dit vrieskoud en ’n gebore Gautenger sal sommer verkluim!” “Praat ons oor die weer?” wil hy sag weet. “Nee,” sug sy dadelik berouvol. Sy kan tog nie oneerlik wees met hom nie. “Nee, Henk. Die waarheid is dat hier op die oomblik ’n paar komplikasies is wat ek eers moet hanteer. Enne … ter wille van … van sekere mense is dit beter dat daar nie nou ’n buitestander hier is nie.” “Is dit wat ek is?” vra hy dadelik maar keer self sy woorde spytig weg: “Nee wag, dis nie ’n regverdige vraag nie.” “Nee, dit is nie,” sê sy paaiend, “en jy moenie só dink nie. Jy sal baie welkom wees hier, Henk. Dis net …” “Toemaar, ek verstaan. Belowe my net dat jy my sal bel as jy vashaak.” “Ek sal,” beloof sy dadelik. “Want ek dink ek het nog ’n oor nodig. Jy weet hoe moeilik dit is om mense na aan jou te analiseer. ’n Mens is eenvoudig te betrokke.” “Vertel,” smeek hy saggies. Maar sy loer gangaf, skud haar kop asof hy kan sien. “Nee, nie nou nie. Later
…” Sy groet en lui af. En sy dink: dis nie ’n slegte plan nie. Ek sal vanmiddag ná ete gaan stap en hom met my selfoon uit die veld bel. Daar sal ek die hele saak aan hom voorlê. Hy sal objektief kan dink hieroor. Sy gaan stort en trek aan. Jeans, ’n sagte blou trui en ’n dik baadjie bo-oor. Haar hare laat sy los oor haar skouers tuimel. Toe gaan sit sy by Anna in die kombuis, drink koffie en gesels. Gee volledig verslag oor Nomsa se doen en late op kampus en voel verlig toe Anna tevrede knik. “Solank sy net mooi leer,” sug die vrou. “My geldsak is dun. Ek weet nie wat ons sou gedoen het sonder jou pa se hulp nie. Nomsa moenie dink omdat sy ’n beurs het en baie goed word vir haar gegee, alles sal maar net goed gaan nie.” “Sy dink nie so nie,” troos Adelien. “Die een waaroor ek bekommerd is, is Bernadette. Nomsa sê sy sleep met ’n wilde man. Een wat kort-kort ’n ander meisie het.” “Auk!” klik Anna verskrik met haar tong. “Waarom praat jy nie met haar nie?” “Ag Anna, as ek haar loop soek, is sy alewig iewers heen en buitendien, op haar ouderdom luister sy nie meer na ’n ouer suster nie!” “Maar jy’s baie ouer as sy! Sy móét mos luister!” Adelien skud haar kop. “Nee, dit werk anders met vandag se jongmense. Hulle luister net na hulleself, Anna.” “Tot hulle in die moeilikheid is. Dan hardloop hulle gou-gou huis toe.” “Moenie so praat nie, asseblief. Dis erg genoeg dat ek hier moet kom en sien hoe Christelle ’n gek van haarself maak.” “En nou?” wil die vrou grootoog weet en roer rukkerig in die kastrol op die stoof. “Jy sal iets móét doen, Adie …” Adelien druk ’n stuk beskuit so heftig in die vol beker koffie dat dit stort. “Ek gaan die man sien.” “Wat gaan jy sê?” “Ek weet nog nie. Maar ek sal moet slim wees. Dis nie ’n maklike saak nie.”
“Maar … dis baie maklik!” sê Anna met ’n gesig rond van verbasing. Sy klik weer met haar tong en sit die deksel terug op die pruttende kooksel. “Jy moet net maak of jy hom óók laaik.” “Ek laaik hom glád nie!” roep Adelien uit. “Jy laat dit nou klink asof ons twee terte is! Die jongste het ’n ‘crush’ en die oudste het troukoors!” Anna gooi haar kop agteroor en lag dat die trane blink paadjies oor haar gladde wange maak. Toe vee sy dit met haar hande weg en glimlag breed: “Is dit nie so nie? Jy moet tog nou ’n man kry, Adie! Jy kan nie altyd so alleen loop nie!” “Ek loop regop en alleen!” antwoord Adelien vies. “Ek het nie ’n man nodig om te kan asemhaal nie. En Christelle soek net aandag, dis wat. Hoe gouer sy ook Pretoria toe kom waar ek ’n oog oor haar kan hou, hoe beter. As ons haar net deur hierdie laaste paar maande van graad twaalf kan kry sonder dat sy skade optel, sal ek dankbaar wees.” Anna klik ergerlik. “Dink jy ek en Thabu en jou pa kyk nie mooi genoeg na haar nie?” wil sy kwaai weet. “Thabu sê sy is soos ons aanneemkind. Hy vat haar nou in die eksamen elke dag skool toe en terug en ons praat meer met haar as wat Abel kans kry om te doen.” Adelien sprei haar hande in ’n vredesgebaartjie oop. “Ek weet hoe onmoontlik dit vir Pa is om ’n hand vol soos Christelle te hanteer. En ek waardeer elke ding wat jy en Thabu vir my sussie doen, glo my.” Sy frons opeens. “Sê my, kuier Pa Abel nog by daardie weduwee wat musiek gee op Fouriesburg?” “Nee,” skud Anna kop. “Sy bel hom nou en dan maar hy gaan nooit meer nie. Ek en Thabu sien hy sit maar weer saans so voor die televisie. Hy kyk nuus en dan gaan slaap hy, want die ligte in die huis gaan voor agtuur al uit.” “En wyle dominee se vrou? Kom sy nog hier?” “Nee wat, Adie. Jou pa was laas toe sy hier aangekom het nors met haar. Het nie drie woorde gepraat nie en toe ry die vrou. Sy vat mos nie nonsens nie. Voorlaas Saterdag toe ek en Thabu dorp toe was, het Evelina vir my gesê haar mevrou sal ook nie weer kom nie, want sy loop nie agter ’n man aan wat nie van ’n graf kan wegkom nie.” Adelien se mond sak oop. “Praat die mense dan so?” wil sy weet al ken sy die
antwoord. Anna klik net met haar tong. “Niemand is meer jammer vir hom nie … En dis sleg. Jy weet mos hoe maak mense. Hulle sê dis al jare en jare. Abel Buitendag moet nou al gesond wees.” “Maar hy is mos,” brom Adelien en weet dat sy kinderagtig is. Sy is net so oneindig moeg vir hierdie soort gesprek oor haar pa. Sy staar moedeloos na Anna waar sy nou ’n paar eiers in ’n hopie meel in ’n bak breek en dit vernuftig met ’n houtlepel bykom. Die vrou bewerk die deeg totdat dit botterglad is en toe eers kyk sy op. “Jou pa sal nie weer trou nie, Adie. Hy wil nie. Hy het sy hart baie diep gebêre.” Adelien snuif-snuif aan die geur van die lou deeg en sug swaar. “Ek wens soms so hy wil weer begin lewe. Regtig lewe, weet jy. Nie dat ek mooi kan onthou hoe dit nou eintlik was nie. Maar ek dink hy het regtig nou ’n vrou nodig.” Ná middagete stap sy oor die werf verby ’n klompie weglêhennetjies wat ywerig skrop en deur ’n strook hoë bloekoms al op met die sandsteenkop tot heel bo. Daar gaan sy sit en tuur ver uit oor die wit stoppels van die afgeoeste landerye. En ’n ent nader onder aan die kop se verste kant, knus tussen ’n klomp ou populiere se dik silwerkaal stamme, lê die ou ruïnes van die Voortrekkerhuis van die Geysers. Toe die ander Voortrekkers in 1837 hier weg is die Drakensberge oor, het hulle agtergebly, betower deur dié wêreld van pienk en ligbruin sandsteenrotse, hoë koppe en sagte deinings. Soos van kindsbeen af verwonder Adelien haar aan die verkrummelde tekstuur van die horingou mure. Selfs ’n deel van die kraal met sy ronde rivierklippe het behoue gebly. Die suurlemoengeel van die winterson glim koesterend op die stukkende ou sandsteen. Baie vertrekke se buitelyne het verstommend heel gebly deur die jare, maar die dak is natuurlik toeka daarmee heen. Maar Pa Abel en Thabu sorg nogal dat dit nie verder verweer nie. Het selfs hier en daar al iets vasgesement. “Hoekom doen Pappa dit?” het Adelien as sesjarige verstom gevra. “Gaan hier iemand kom bly?” Abel het orent gekom met die troffel en Thabu se langsame bewegings soos wat hy ’n klip optel en op sy plek sit, het verstil. “My kind, hier hét iemand gebly … ménse … En hulle moenie heeltemal wegraak nie.” Woorde wat haar nog altyd bybly. Ménse het daar gebly … Sy het haar later jare
toe sy daarlangs gestap het, verbeel sy kon stemme tussen die ou mure hoor. Sy frons skielik. Een naweek nie lank gelede nie was Bernadette saam met Dirk hier. En hulle het na die ou ruïne toe gestap – ongelukkig net nadat Dirk en pa Abel vasgesit het oor die politiek. “Nutteloos om die ou plek te probeer dokter,” het hy gebrom toe hy die vars sement opmerk waarmee Abel net die vorige week nog ’n ruwe stuk sandsteen op sy plek teruggesit het. Adelien het die onrus in die man aangevoel en die simpel opmerking geïgnoreer, en vooruitgeloop. Sy was nie lus vir die aanvoelbare dog onderdrukte onmin tussen dié twee nie. Na agtertoe kon sy die gedempte drif van Bernadette se antwoord hoor alhoewel die krummelrige ou mure die woorde gesmoor het. En dié Dirk was opgeruk totdat hulle laat die middag teruggery het Pretoria toe. Adelien sug swaar. Ag, sal haar liewe rooikopsuster tog nie maar van die man afsien nie? Dis meer as genoeg dat Christelle so onstuimig is. Die winterson op haar kop maak haar effens loom en toe haar oë begin knipknip, vis sy gou haar selfoon uit haar sak. Toe Henk antwoord, is sy onnoemlik bly. Sy groet hom jubelend sodat sy die gespanne opwinding in sy stem hoor toe hy haar antwoord: “Waaraan het ek dié heerlikheid te danke? Hier sit ek in ’n muwwe ou kantoor en haal stapels werk in … en ek kry ’n oproep van die allermooiste, allerliefste …” “Hokaai!” lag sy. “Ek sit hier op ’n koppie en die hele wêreld lê onder my.” “Alléén?!” vra hy dadelik. “Natuurlik, jong! Dis nie die stad hier nie!” “Adelien … ’n Mens lees amper elke dag van plaasaanvalle!” ’n Ligte rillinkie trek deur haar. “Maar … ons het nog nooit moeilikheid gehad nie. Ons ken al ons werkers al jare der jare lank. Hulle sal nooit …” “Nee, seker nie. Maar dis glo nie juis waar die probleem lê nie. Dis rondlopers en onwettige immigrante. Daar’s miljoene van hulle in die land en …” “Ag wat,” keer sy, opeens niks lus vir so ’n gesprek nie, “ek glo my pa sal voorsorg tref as hy dink dis nodig. Hy is ook darem nie dom nie!”
“Natuurlik nie,” paai hy gou. “Ek is maar net bekommerd. Julle moet versigtig wees, Adelien.” “Ons is. Maar wag nou! Waar was ek? O ja, ek sit hier bo-op die kop en kyk uit tot doer oor die anderkantste bulte. Die landerye is kaal gestroop en die veld staan vol droë waaigras. Die populiere daar onder by die ou ruïne steek sulke kaal, silwerige vingers die lug in. Tog is dit vir my mooi. Ek voel soos ’n heerseres.” Sy sug skielik. “Dis net, ek is nie een nie. Ek is bloot ’n baie bekommerde vrou.” “Vertel!” gebied hy onomwonde. “Eers van die ruïne en dan van jou kwelling!” Sy maak so, draal breedvoerig by die ou verhaal en val toe plotseling weg met Christelle se storie. Maar sy noem nie Roald se naam nie. Eers laat sy toe dat die onderliggende angs holderstebolder in woorde uitborrel sodat sy uitasem stilbly toe sy klaar is. Daar is ’n klein swye en toe gee hy ’n ligte steuntjie. “Jy vermoed dat die man dalk te veel van Christelle hou?” “Ek weet nie,” antwoord sy dadelik. “Ek weet glad nie wat hy dink of voel nie. Sy geselskap is intellektueel en nogal boeiend. En hy gee nie die indruk van ’n man wat vreeslik geïnteresseerd is in bloedjong meisietjies nie. Al wat my eintlik diep kwel, is dat Christelle die skoot baie hoog deur het. Sy praat feitlik net oor hom. En dan is daar die reël uit ’n gedig wat hy vir haar saamgegee het …” Henk luister swyend en toe sê hy ferm: “Gaan sien die man, Adelien. Soos wat jy praat, klink hy tog nie onaardig nie. Die gediggie, of wat ook al, is dalk maar sommer net. Hy doseer tog Afrikaans, nie waar nie? Nee wat, vertel hom van jou vermoedens en dat jy besorgd is oor Christelle se gemoedstoestand wat na jou mening alles behalwe taakgerig is. Jy moet oop kaarte speel.” Toe Adelien weer terug is by die huis, voel sy heelwat beter. Henk is so bedaard, so rotsvas. Dis lekker om iemand soos hy te hê, dink sy opgetoë. Bly effens verslae voor die spieël staan toe sy besef wat sy gedink het. Iemand soos hy … Maar sy hét hom nog nie. Sy weet ook nie of sy hom regtig nou al wil hê nie. Tog, die vooruitsig is verblydend, dink sy en gaan tap vir haar warm water in om te bad. Sy lê lank in die geurige water, besluit eindelik om sommer môre al skool toe te gaan. Christelle se vakansie begin oor ’n paar weke en dis beter dat sy wat Adelien is, hierdie gesprek agter die rug kry voordat daar luilekker dae aanbreek.
Miskien moet sy Christelle kom haal om die skoolvakansie by haar in Pretoria deur te bring. Maar die aand aan tafel, kry sy hewig teenstand. Christelle wil niks weet nie. “Meneer gee dié vakansie ekstra Afrikaans klasse vir die graad twaalfs en ons kry ekstra wiskunde ook.” Dis Abel wat onverwags Adelien se arms sterk: “Dink jy nie ’n vakansietjie sal jou goed doen nie, Chrissie? Jy doen tog baie goed in Afrikaans en ek dink nie dis nodig …” “Pa, ek bly net hiér,” antwoord Christelle met stywe kake. “Als reg,” glimlag Adelien en trek groot oë vir haar pa. “Miskien kom ek en Henk dan maar vir julle kuier.” Christelle laat sak haar lepel met ’n plonsie in die dik ertjiesop. “Henk …?” “Professor Henk Verwey. Hy is ook by die Sielkundedepartement. Ons is goeie vriende.” Christelle se gesig klaar aansienlik op. “Ha! Nomsa sê julle is vriende soos wat Romeo en Juliet vriende was!” “Genade!” lag Adelien. “Ek hoop nie ons vriendskap het dieselfde treurige verloop nie! Gelukkig is daar darem nie ouerpare wat mekaar wil uitmoor nie! Sy ma is die liefste mens denkbaar.” Abel kug sag. “Lyk my … jy’s ernstig as jy al van die man se ma begin hou.” “Ag nooit, Pa! Ons is regtig net goeie vriende.” En dit val haar by: “Terloops, ek het vanmiddag met hom gepraat … Hy wonder of ons versigtig genoeg is hier op die plaas. Ek bedoel, noudat daar so baie plaasaanvalle is.” Abel verstil, tuur fronsend na die halfleë sopbord. “Ons … het al by die boerevereniging daaroor gepraat. Dis nie dat mens niks doen nie. Ons loop katvoet. Die jonger boere ry snags patrollie. En Thabu sê ook hy en die ander werkers sal dadelik rapporteer as daar vreemdelinge hier opdaag. Hulle is tog maar net so versigtig soos ons.”
Adelien loer na Christelle. Dié sit verlore in haar eie gedagtes, proe aan kleinklein bietjies van die sop op ’n slag. Dat die gesprek nie ’n rimpeltjie in haar bewussyn maak nie, is duidelik. En meteens voel Adelien vir die eerste maal werklik onrustig. Hierdie twee mense wat sy liefhet, woon alleen hier op die vredige werf van Stille Weide. Niks gewelddadigs het hulle nog ooit hier bedreig nie. Hulle het nie eens ’n hond nie. Katte wel – sommer wilde katte waarvoor daar saans ou politoerdeksels met melk in uitgesit word. “Waarom het ons nie ’n hond nie?” vra sy en weet dat sy in haar lewe nog nooit eintlik daaroor gewonder het nie. Onthou met ’n skielike flits van helderheid dat die hond destyds mos ook dood is. ’n Paar dae nadat hulle haar ma begrawe het. Sy sien aan Abel se stroewe gesig dat hy dit ook bitter goed herroep. Sy oë het dofgrys soos reënweer geraak. Dit was ’n nat, bewolkte dag toe een van die bure wat kom medelye betoon het, met die wegtrek bo-oor die slapende rifrug gery het. Sy naam was Pote. ’n Luierige ou hond wat amper nooit geblaf het nie. Maar hy was daar. ’n Asem op die werf. Anders as die sluipende katte. Nadat Abel en die huilende dogtertjies hom agter die roostuin begrawe het, was daar nooit weer ’n hond nie. “Waarom het ons nie …” begin sy flouerig. Abel haal apaties skouers op. “Ag wat … Dit was nie nodig nie.” Dis Christelle se opgewonde klokstem wat hulle laat opskrik. “Maar ons kan mos nou een kry! Ag toe, Pa, dit sal tog te cute wees om ’n klein hondjie in die huis te hê.” “Darem nie binne-in die huis nie …” keer Abel en kyk hulpsoekend na Adelien. “’n Grote vir die werf en een kleintjie om alarm in die huis te maak,” sê sy beslis en maak die leë sopborde bymekaar. “Ek sal vir Henk vra of hy weet van iemand wat Duitse herdershonde teel. En ook foksterriërs. Of dalk weet sy ma. Sy lyk so of sy iets van als kan weet.” “Klink na ’n cool tannie,” merk Christelle op en kyk ondersoekend na Adelien. “Miskien maak sy ’n gawe skoonma.” “Ag toe nou, só naby aan mekaar is ek en Henk werklik nog nie!” “Maar julle is tog committed?”
“Wat verstaan jy onder die woord?” wil Adelien ongemaklik weet. “Ek het die idee dat julle skoolkinders ander betekenisse aan woorde heg.” Christelle ruk haar terstond op. “Nie almal wat skoolgaan, is meer kinders nie en ons verstaan die presiese betekenis van elke donnerse woord wat daar is!” “Chrissie …” betig Abel skaars hoorbaar. “As jy dink kru taal laat jou volwasse klink, dink weer,” sê Adelien styf. Christelle lag en staan op om die borde by haar te vat. “Aag … ’skuus! Dis net dat jy my so vies maak as jy dink ek is nog jou klein sussie.” “Jy is dit,” sê Adelien kwaai, “en ’n mens is g’n volleerd as jy in matriek is nie!” “Bla, bla, bla …” giggel Christelle en verdwyn die kombuis in. Abel sit kop onderstebo sodat Adelien die pienkerige kroontjie tussen die ylwordende hare kan sien. En ’n wilde paniek swel in haar. Hierdie mens is hoegenaamd nie opgewasse teen sy tienerdogter nie. Waarom het sy dit nie vroeër so duidelik gesien nie? Toe Christelle terugkom, gaap sy demonstratief. “Ek wens ek kan nou gaan doeks, maar ek moet nog leer. Ek skryf môre ’n aaklige vraestel. Geskiedenis by ou Antiekus.” “Jy bedoel … meneer Jooste,” betig Abel floutjies. “O, is dit sy naam?” terg Christelle en kom soen hom en Adelien al twee nag. Dis nog grysvroeg toe Adelien al roer en klaarmaak om dorp toe te gaan. Sy trek haar beige snyerspakkie met die bont sybloes aan en neem haar jas, vat haar hare agter haar kop in ’n Franse rol vas en sit pêrelknopies in haar ore. Sy bekyk haarself krities. Amper soos ’n dorpstannie, erken sy aan haarself. Tog, dit behoort te werk. Die man moet sien sy’s ernstig. Jy bedoel verstok, praat ’n stemmetjie in haar agterkop en sy draai verergd weg van die spieël af. Sy bly in haar kamer totdat Thabu vir Christelle kom oplaai het om skool toe te gaan. Toe eers glip sy uit en ry saam met Pa Abel wat ook een en ander by die koöperasie te doen het. Maar toe hy haar voor die imposante sandsteengebou met sy
blinkgeverfde sinkdak aflaai, voel sy soos die eerste dag toe sy hoërskool toe gekom het. Groen. En hopeloos onbekwaam. Altyd nog het sy hierdie dowwe angs vir nuwe situasies gehad. Dis hoog tyd dat sy dit afskud. Maar … sê nou die man lag vir haar. Of erger: sê nou hy vererg hom? Dis per slot van rekening banaal om te dink dat hy meer as die gewone belangstelling in ’n skooldogter het … Sy trek haar skouers agtertoe en sluit haar mond ferm, begin aanstap met die paadjie na die groot voordeur toe. Ek kan Roald Henning hanteer, dink sy. Ek weet mos hoe werk ’n mens se kop. Ek het nie net die instink daarvoor nie – ek het ook die boekekennis en die ervaring en … Sy sien opeens haar weerkaatsing in die blinkgewaste glasdeur en skrik effens. Miskien is Nomsa reg, dink sy vervaard. Ek is hopeloos te maer. En stokkerig soos ’n meerkat. Dalk moes ek die wye denimromp en parmantige kort baadjie aangetrek het. Of die knalrooi kerkpakkie. Maar toe een van die sekretaresses haar opmerk, kom sy dadelik en maak die deur wyd oop. “Hallo, Adelien!” lag die dikkerige vroutjie. “Lanklaas gesien! O, maar jy lyk deftig! Ek hoop dis vir ons hier by Heimat Hoër dat jy so mooi aangetrek het?!” “Dit is, tant Geertjie,” glimlag sy. “Ek was eeue laas hier … enne … ek het gedink dit sal goed wees om meneer Henning te kom sien. U weet, met dié dat Christelle al amper die skool verlaat, en so aan …” “En so aan, inderdaad,” knik die vrou en frons liggies. “Christelle lyk juis in die laaste tyd vir my so bietjie af. So asof sy gebuk gaan onder iets, weet jy.” “Al die leerwerk, ongetwyfeld,” keer Adelien fluks, wel wetend dat tant Geertjie nie eens ’n halwe woord nodig het om ’n skinderstorie uit te ruik nie. Die vrou knik swaarwigtig en lei haar dadelik na die adjunkhoof se kantoor toe, kondig haar aan met ’n onderdanige teemstem wat Adelien amper laat giggel. Die liewe tant Geertjie is darem so kleindorps as wat kan kom. Die adjunkhoof is amper so goed soos die keiser en wee jou as jy ’n oneerbiedige woord uiter … Soos wat dit is, staan die keiser haar op die mat voor sy lessenaar en inwag. “Dankie, mevrou Kestel,” sê hy sag, “maak asseblief die deur toe.” Tant Geertjie se ronde mond gaan gaperig oop en toe maak sy maar so. En opeens kan Adelien dit nie meer hou nie en sy sê glimlaggend: “Sy sou baie graag hierdie gesprek wou hoor!” Sy steek haar hand uit na hom en hy vat haar
vingers stewig vas, sy blinkbruin blik stip op haar. Toe glimlag hy ook. “Vir seker sou sy dit wou hoor. Dis nie elke dag dat ’n leerling se mooi suster hier besoek aflê nie.” Adelien voel ergerlik hoe die bloed na haar gesig stoot, maar nog voordat sy iets kan sê, val hy haar in die rede. “Dis nie ’n kompliment nie, juffrou Buitendag. Dis bloot ’n estetiese feit, as daar so iets is. Sit gerus.” Sy besluit om hom ook onkant te vang. “Meneer Henning, ek is veel meer as Christelle se suster. Ek is in baie opsigte ook haar primêre opvoeder en versorger.” “En ek, as haar onderwyser, is jou gesagsvennoot. Trouens, in loco parentis beteken tog dat ek in jou plek staan hier by die skool, nie waar nie?” Sy swyg verleë, maar hy maak ’n paaiende handgebaartjie. “Is dit waaroor jy my kom sien het? En kom ons gebruik voorname. Ek is Roald, soos wat jy seker weet.” En toe sy opsigtelik huiwer: “Dis wat ek so aangenaam vind van die platteland. ’n Mens kan mense op hul voorname aanspreek en niemand dink jy probeer glibberig familiêr wees nie!” “Ek … goed, Roald. Want ek het juis ’n punt waaroor ek ernstig voel.” “Christelle, natuurlik,” sê hy en vou sy hande rustig voor hom op die lessenaar. Sy staar gefassineer na die skraal, sterk vingers, die goedversorgde, kortgeknipte naels. “Natuurlik,” beaam sy gou-gou. “En ek dink jy weet dat dit nie oor haar skoolwerk gaan nie.” “Nee, dié is besonder goed. Wat my wel opgeval het, Adelien, is dat Christelle in die laaste tyd besonder emosioneel is. Sy vererg haar gou, huil oor kleinigheidjies …” “En swymel oor gedigte,” keer Adelien hom kortweg. “Sy raak bewoë van bewondering as sy die versreël voorlees wat jy vir haar gegee het.” Sy maak plegtig keel skoon. “Roald … sy is hoegenaamd nie opgewasse teen …” “Het sy dit al voltooi?” vra hy met rustige belangstelling.
“Wat?” vra Adelien uit die veld geslaan. “Die versreël,” sê hy. “Ek het aan elkeen van die graad twaalfs ’n versreël uit ’n bekende digter se werk gegee. Die opdrag was om die volgende reël te probeer skryf. Sommer net ’n manier om hulle te laat dink. Veral diegene wat nie ooghare vir die poësie het nie. Hulle sing ’n ander deuntjie as hulle eers besef hoe ’n fyn en verhewe kuns dit is. Dis nie sommer vir inspring en …” “Roald,” onderbreek sy hom uitasem, “die versreël wat jy vir haar gegee het … ek dink sy neem dit te persoonlik op.” “Wat was dit dan?” vra hy met ’n ligte frons. “Ek het net die papiere met die versreëls op uitgedeel. Nie tyd gehad om te sien wie kry wat nie.” Adelien se mond word droog. Sy was gek … Sy moes net met Christelle gepraat het. Hierdie man weet van g’n sout of water nie. Hy is nié die soort wat sal vermoed dat skooldogters hul hart op hom verloor nie. Hy dink nie eens aan sulke dinge nie. Sy teug na asem, kry dit reg om skeefweg te glimlag. “Ag toemaar wat, dis nou ook nie so belangrik nie.” “Maar dit is,” antwoord hy sag en die donker oë pen haar vas. “As dit jou so gepla het dat jy skool toe gekom het, is dit baie belangrik.” Hemel tog, dink sy, sluk swaar. “Wel … dis uit ’n gedig van Jacques Perk. Iets in verband met ’n jong siel wat van haar eie sagtheid onbewus is …” “O, dis uit ‘De Bede in ’t Woud’ …” Sy blik vernou skielik. “En jy dink sy …?” Adelien knik net, voel haar hart se verleë gefladder teen haar borsbeen. Hy sit opeens agteroor in sy stoel en sy hande vat die armleunings vas. Sy fronsende blik skeer oor die vertrek voordat dit priemend op haar gesig kom rus. Toe sê hy: “Sy is hipersensitief, Adelien. Sy smag na liefde en aandag. Ek weet dit lankal, sien dit lankal, maar het juis die uitnodigings plaas toe aanvaar omdat ek my wou vergewis van wat by die huis aangaan.” “Daar gaan niks aan nie!” keer Adelien geraak. Roald staan op en loop om die lessenaar voor haar en gaan sit op die punt daarvan. “Jy reageer nou soos ’n moeder,” sê hy saggies. “Dink soos die sielkundige wat jy is. Jou sussie ontbeer al lank die liefde van ’n ouer vrou. Jy
woon te ver van haar af om dit te voorsien.” Adelien hap na asem. “Wat stel jy voor?” wil sy skerp weet. “Niks,” antwoord hy kalm, “ek skets vir jou die situasie.” “Ek ken die situasie baie beter as jy!” “Natuurlik,” antwoord hy bedaard. “Dan weet jy seker ook van haar teleurstelling met Frans Junior?” Adelien staar na hom. “Die Mahlers van Mahlersdrif se seun?” “Einste. Sy was blykbaar erg oor hom, maar toe het iets tussen hulle gebeur. Wat dit ookal was …” “En … presies wat beteken dit in dié geval?” “Haar verwagtinge was miskien nie realisties nie. Christelle het ’n dominerende persoonlikheid en Frans is glo ook nie ’n ou wat hom laat voorsê nie. So beweer ou mevrou Fourie wat langs my woon. Liewe dame, maar sy weet … gewoonlik als.” “Ek sien …” adem Adelien stadig. En toe half moedeloos: “Wat nou?” “Nou,” glimlag Roald Henning, “moet ek en jy ’n haas uit ’n hoed haal. Christelle is jonk genoeg om te glo wat sy dink sy sien!”
Hoofstuk 3
Adelien laai vir Nomsa by die koshuis af, beloof om een aand saam met haar te gaan fliek en sug van verligting toe sy eindelik haar woonsteldeur agter haar toetrek. Sy is by kapot verby. Die rit terug Pretoria toe was lank en die pad besig en vol swaar voertuie. Daarby was die afgelope dae ’n senutoets soos min. Sy en Roald Henning het inderdaad die een spreekwoordelike haas ná die ander uit die hoed gehaal. Maar vir iemand wat nie aan die toorkuns gewoond is nie, was dit nogal moeilik. Om enigeen om die bos te lei, al is die bedoeling hoe rein, was nog altyd vir Adelien haas onmoontlik. Maar dit moes net, troos sy haarself. Al wat sy nou kan hoop, is dat die nuus nie sal trek nie. Dit sal chaos afgee as Henk moet weet wat sy en Roald probeer doen het. Alhoewel Roald juis ewe koeltjies voorgestel het dat sy dié gelukkige man, soos hy na Henk verwys het, deeglik inlig … “Kyk die saak staan so,” het Roald daardie dag in sy kantoor aan haar probeer verduidelik, “ek vermoed dat Christelle in haar hart der harte steeds smoorverlief is op Frans Mahler. Dink mooi: sy ken hom mos haar lewe lank. Hy was ’n ruk gelede mos hoofseun, sportman van faam, redenaar par excellence, en so meer. Aan die firmament van hierdie skool was hy ’n groot ster en nou swot hy nog medies ook.” “Kom tot die punt,” het sy hom kortaf in die rede geval, maar goed besef waarheen hy stuur. Daarby was sy ergerlik dat hy haar goed vertel wat sy eintlik eerder moes gesnap het. “Die punt,” het hy onverstoord voortgegaan,” is dat Christelle haar … e … aangetrokkenheid tot Frans nou op my geprojekteer het. Ek is iemand na wie sy opsien en ek is uit die aard van die saak gedurig in haar nabyheid.” Adelien het hom met ’n nadenkende fronsie betrag. “Jy bedoel sy ervaar die verwerping so intens dat sy dit nie eens aan haarself wil erken nie en dus vinnig ’n geskikte plaasvervanger gesoek het?” “Een op wie sy haar romantiese hart kan uitstort. Dis so eenvoudig soos dit,
Adelien. En dis nie ’n onoplosbare probleem nie. Christelle is eintlik ’n verstandige kind. Op die oomblik ry haar gesonde verstand wel saam met haar hart skoppelmaai, maar as sy eers gedink het oor die saak, sal haar kop weer begin regeer.” “En waar pas die haas in?” “Wel … die onmoontlike moet gebeur, sien. Tog is dit eintlik maklik. Ek kom môreaand op die plaas aan met ’n bos rooi rose. Vir jou, natuurlik.” “Vir my?!” Sy was heel onthuts. “Ja. Op die oog af sal ek in jou geïnteresseerd wees. Sommer baie ook. Ek neem jou uit vir ete, ek kuier tot die kaggel se kooltjies pers word en les bes, ek kyk na jou met leepoë.” “Ek begryp nie,” het sy moedswillig gekeer. “Natuurlik begryp jy, Adelien. Dis dwingend noodsaaklik dat Christelle die boodskap kry dat ’n onderwyser in ’n ander wentelbaan as ’n leerder is. Sy weet dit eintlik, want sy’s reg grootgemaak. Maar sy moet dit sien ook.” “Ek weet dit, maar wat jy voorstel is … is nie moontlik nie,” het Adelien floutjies gekeer. “Ek … het ’n verhouding. Wel, op ’n manier …” “Ek weet dit ook. Nomsa het vir Anna vertel en Anna het dit suutjies weer aan my huishulp, Maria, oorgedra. Hulle is mos kleinniggies.” Adelien het stom gesit, toe onverhoeds begin lag. Juis op die oomblik dat tant Geertjie tee ingebring het. Die vroutjie is bloesend van opwinding daar uit, barstens toe vol vrae waarop sy sommer self antwoorde gaan bedink. Môre weet die hele dorp hoe lekker lag die adjunkhoof saam met die onderhoofmeisie se suster, het Adelien geweet. En toe maar gekapituleer. Enigiets om Christelle se dwase koppie weer reg te kry. En sy sal maar aan Henk moet verduidelik. Maar dis juis die punt, dink sy nou moeg. Sy tap die bad vol en gooi byna die helfte van ’n peperduur bottel Franse badolie daarin. Sit eers ’n rukkie in die warm geurigheid en ontspan voordat sy haar gedagtes toelaat om soekend oor die afgelope paar dae te gaan.
Die haas uit die hoed het almal geflous – so wil dit voorkom. Pa Abel inkluis. Roald was Vrydagaand op die drumpel met die rooi rose en al. Christelle het die deur oopgemaak en kon kwalik haar asem terugkry toe hy duidelik sê: “Hallo, Christelle, ek het jou mooi suster kom haal. Sit solank dié rose vir haar in water. Yskoue water, hoor. En gooi sommer ’n bietjie bleikmiddel ook in. My ma het altyd beweer dit laat die blomme langer hou.” Christelle het dit bleek by hom geneem en sonder ’n woord gemaak soos hy gesê het. Sy het feitlik dadelik die boodskap gekry, het Roald tevrede beduie toe hy en Adelien die pad vat in sy ouerige wit Merc. “Ek is nie so seker nie,” het sy geantwoord. “Christelle gaan moeilik wees, ek weet dit sommer.” “Wel, wat sê jou handboeke van sulke gevalle? Laat dit uitwoed en verleen steun, of iets in daardie lyn, nie waar nie?” “Dis hoegenaamd nie so simplisties nie!” het sy haar gewip, haar lam geskrik toe hy sy hand vlugtig, paaiend op haar knie laat rus. “Ek weet,” het hy net gesê en in stilte verder bestuur. Maar toe hulle die restaurant op die dorp binnestap, het die krapperigheid in haar binneste tog bedaar. Roald was ’n aangename tafelgenoot, die kerslig het loom oor sy hoë voorkop en sterk ken gespeel – en die kos was heerlik. Tarentaalpastei en klein aartappeltjies in pietersieliebotter. Krakerige blaarslaai met ’n eier-enmayonnaise-sous. Sy het haar hele porsie opgeëet en ’n vreemde rustigheid het oor haar toegesak. So asof sy skielik ’n oubekende vertrek binnegestap het. Sy wou-wou wonder hieroor, maar hy het so onderhoudend gesels oor wyn en die Kaapse disse wat sy ma altyd gemaak het, dat sy eers later weer aan dié sensasie gedink het. Maar hy moes ’n uitdrukking op haar gesig gewaar het, want hy het skielik sy relaas oor waterblommetjiebredie en pinotage onderbreek. “Waaraan dink jy?” “Aan … aan wat jy sê …” Sy sensitiewe mond het geroer. “Nou toe nou … Dan kan die meisie met die oop gesig tóg jok ook …” “Ek jok nie … ek … Nou goed dan … Ek dink aan die hoop werk wat vir my
wag.” “En aan die man wat sekerlik vir jou wag.” Dit was nie ’n bedekte vraag nie. Dit was ’n stelling. “Ja,” kon sy net knik. En gewens dat dit werklik waar was. Henk verdien dat sy aan hom moet dink. Maar sy het haar gedagtes bymekaar gekry en oor die onderwys begin uitvra. Hy het dadelik gefrons en gesug. “Kom ons praat oor iets anders. Die onderwys is nou te chaoties vir woorde … enne … dis nie die onnies se skuld nie.” Nog voordat sy kon reageer, het hy ’n grappie oor ’n dom onderwyser vertel wat haar laat skud het van die lag en toe tog wel die gesprek heel onverwags laat plons in die diep waters van die opvoedkunde. Hy het hartstogtelik gepraat, sy donker oë vol vonke en die netjiese hande het met ferm gebare beklemtoon. Sy het gedink: ’n Interessante man. By hom sal ’n vrou nooit verveeld wees nie. Maar – by Henk ook nie, het haar lojale hart gou-gou vermaan. Dit is net die haas-uit-die-hoed-storie wat haar effens geïrriteerd laat voel. Die onmoontlike, het hy dit daardie dag by die skool genoem. By implikasie onmoontlik vir ’n man om op Adelien Buitendag verlief te raak, of wat? Hoe dit ook al sy, sy sal eerlik moet wees daaromtrent. En dis nou juis die ding … Sy tap nog warm water, sak lui terug in die lekkerte daarvan. En wonder. Sy weet nie of sy werklik lus het om vir Henk van hierdie situasie met al sy kompleksiteite te vertel nie. Dis mos nou verby. Sy sal nie gou weer plaas toe gaan nie en Roald sal bepaald nie hierheen kom nie. Christelle ook nie. Sy het botweg geweier om die vakansie Pretoria toe te kom. Adelien maak haar oë toe. Dit was ’n moeilike tydjie, erken sy aan haarself. Christelle was eers botswyend, toe openlik beskuldigend en later huilerig. Pa Abel was eers vaagweg simpatiek, toe ergerlik en oplaas, ná ’n gesprek met Adelien, so half en half op die randjie van begrip. Dat so ’n ingewikkelde toestand onder sy dak kon ontstaan, was duidelik vir hom verwarrend. Waarom moet Christelle nou moeilik wees? wou hy gebelgd weet. Sy was altyd so ’n maklike kind … Dis toe dat Adelien kwaai met hom gepraat het: “Pa, ek kan begryp dat Pa hierdie sakie moeilik hanteer, maar probeer asseblief net verstaan dat Pa se drie dogters ingewikkelde wesens is wat werklik aandag nodig het … Pa, ons het sonder ’n ma grootgeword en … en ons is vróúe!”
Dit was, het sy wrang besef, die eerste maal dat sy só met haar pa gepraat het. Sy was self so ontsteld soos ’n mens wat ná ’n lang innerlike worsteling dit vir die eerste maal regkry om ’n kwelling te verwoord. En sy het met spyt gesien hoedat sy maer, songelooide gesig saamkramp. “Het ek dan nooit aan julle aandag gegee nie, Adie?” wou hy met wrang verontwaardiging weet. En het toe self die vraag kopskuddend beantwoord: “Toemaar, ek weet … Ek eet soms self my binneste daaroor uit. Eintlik was ek ’n afwesige vader …” Dat hy die kwessie so eksak kon bewoord, al was dit in ’n selfbejammerende toon, het Adelien vir ’n oomblik met ’n stomme swye geslaan. Onredelike woede ook. Hoe kon hy daar sit en sito-sito erken dat hy sy drie dogters aan die genade van hul eie wroegende grootword oorgelaat het? Hoe durf hy ná al die lange jare dit sommer net bely en … en dan soetjies wil beding hoe om die ou sakie gou-gou reg te stel? Adelien het haar eie wrangheid met moeite weggesluk, stip na sy geboë grys kop gestaar toe sy praat. “Ag, Pa … Kom ons laat dit daar. Besef asseblief net een ding: Christelle het nóú aandag nodig!” Hy het swaar geknik, sy mond diep ingekeep. “Roep haar,” het hy net gesê. “Moet ek bly?” wou sy huiwerig weet. “Nee, roep haar net. Môre, oormôre ry jy weer en dan’s dit weer net ek en sy.” Wat presies gesê is, weet Adelien nie. Sy het Christelle gaan roep en Pa Abel en sy jongste was vir ’n korte kwartiertjie agter ’n toe studeerkamerdeur. Daarna het Christelle gangaf gestoom en haar deur het geklap. Adelien het Abel driftig sien aanstryk oor die werf in die rigting van die skuur. Hy moet heel buite karakter kwaai geklink het en Christelle moes haar juis daarom pap geskrik het. Maar laat in die nag het sy bedremmeld en kennelik voos gehuil Adelien se kamer binnegesluip. “Slaap jy al?” “Nee, kom maar in,” het sy gefluister. Tot haar verbasing het Christelle saggies langs haar in die groot bed ingeglip, nes van ouds toe sy alleenklein en verlore was. “Is … is jy en Meneer ernstig?” wou sy met ’n wankelrige stemmetjie weet en Adelien het die fyn meisielyf langs
haar voel ruk. Sy is net ’n kind, het Adelien rou besef. Nee, wou sy sê. Nee, my liefie, ek speel sommer – soos toe Christelle klein was. Maar sy kon nie. “Ja …” het sy skor gesê. “Ek en … Roald … verstaan mekaar.” Die geruk het weer begin, ’n gesnuif ook. Huil jou uit, het sy met oneindige deernis gedink. Huil maar liewer nou … Toe het sy ’n arm uitgestoot en Christelle se bewende skouers nader aan haar getrek, haar lippe op die klamwarm voorkop gesit. “Toe nou maar … ek weet dit kom as ’n skok vir jou.” “Julle … julle lag julle seker siek vir my!” het dit opeens gegriefd gekom. “Waaroor sal ons lag?” wou Adelien met geveinsde verbasing weet. “Jy … weet mos,” het sy gesmoord in die kussing gemompel. “O … Nee, Christelle, ek glo nie Roald weet eens dat jy baie van hom hou nie … Wel, ’n bietjie verlief is op hom nie … En ek sal hom mos nooit sê nie!” Christelle het swaar gesug en stywer teen haar ousus genestel. Adelien het ’n gewigtige verligting deur haar voel stoot. Dankie tog dat dit lyk asof Roald reg was. Frans Junior is steeds nie vergete nie, anders sou Christelle nie so gedwee kom inkruip het nie. Dalk is hy net nog nie vergewe nie. Wat sou tussen dié tweetjies gebeur het? Frans is mos ’n oulike kind … Wel, seker ook nie meer heeltemal kind nie. Hy … is op universiteit, het sy met ’n skok besef. Al ’n gesoute mediese student. Eintlik het sy dit geweet, net vir baie lank nie daaraan gedink nie. Maar die jongmeisie wat so styf teen haar lê se asemhaling het rustig geraak en syself het weggedommel met die voorneme om tog eendag uit te vind wat Frans nou eintlik gesondig het om Christelle so om te krap.
Maar dit pla my steeds dat ek moes lieg en liég, dink Adelien toe sy eindelik uit die bad klim. Maar hoe anders gemaak? Dit het immers gewerk. Sy droog vinnig af en trek haar nagklere en japon aan. Sy probeer om nie verder te dink aan die aande wat gevolg het nie. Maar toe sy in die knap klein kombuisie staan en koffie maak, dring die gedagtes hulle een vir een aan haar op. Roald het inderdaad nie op hom laat wag nie. Hy het haar die laaste drie aande ook kom uitneem, soos haar Pa Abel tevrede opgemerk het. Dis goed, het hy
gesê, dat die man jou kom uithaal. Jy sit hoeka al lank op die rak. Adelien het haar bloediglik vererg en wou-wou net weer iets laat glip van ’n blonde, gawe professor wat haar buitendien amper elke aand in Pretoria kom uithaal en wat nog, toe sy haar mond vasgeklamp het. Hoe is dit dat sy nou eers agterkom hoe ongenadiglik taktloos Pa Abel ook kan wees? “Dit lyk my selfs sielkundiges gaan blind deur die lewe!” het sy teenoor Roald uitgevaar toe hulle dié aand op pad was fliek toe. Sonder dat sy dit vooraf bedink het, het sy hom klinkklaar vertel presies wat sy nou eers, in hierdie late stadium, by haar pa waarneem: dat hy in sy eie verdriet verdrink het in ’n tyd toe daar g’n grootmens naby was om hom te red nie en dat hy nou onder op die bodem van sy eie bestaan rondwaad terwyl sy dogters spartel om kop bo water te hou! Hy moes destyds vir berading gegaan het … Sy het gevoel hoe haar wange warm word terwyl sy praat en haar asem het gejaag. Roald het die motor geparkeer en doodstil voor hom sit en kyk. Die eensklapse swye in die motor het haar soos ’n skoot koue water getref. “Ek is jammer,” het sy lamlendig beduie. “Ek moet nie so voor jou van my pa praat nie!” “Jy is baie besorgd oor hom,” het hy sag geantwoord. “Maar jy moet ophou om jouself te verknies oor iets waarvoor jy nie verantwoordelik was of is nie. Elke mens loop sy eie pad, Adelien. Ons kan dit vir mekaar probeer makliker maak, maar op die ou einde sal jou pa moet leer dat hy alleen sal moet vasskop en boontoe beur as hy weer asem wil kry.” “Ek weet,” het sy driftig geantwoord, “maar ek dink nie soseer aan hom as aan … aan ons drie nie. Christelle is van balans af, Bernadette dink die lewe is ’n speletjie en ek … ek het in ’n wasige kokon van my studies en die akademie geleef totdat … totdat Henk sy verskyning gemaak het.” Sy wou haar tong afbyt. Van erg na erger. Wat gaan sy vanaand nog alles uitlap? En toe sy in ’n kort oomblik tot besinning kom: Nie veel nie. In Adelien Buitendag se lewetjie het daar nog nie juis iets aardskuddends gebeur nie. En dis wat haar op hierdie aand in haar woonstel knus by die universiteit ook ontstig. Die feit dat sy nog nie juis geleef het nie. O, sy het wel baie gedóén, ja. So soos wanneer ’n mens die instruksies van ’n handboek volg. Skoolgegaan, graad gekry, nog een en nóg een – en toe ’n blyplek van haar eie. En nou’t sy op ’n manier ’n kêrel ook. Ewe paslik, ’n professor. So reg uit die boek. As dit nou
net nie vir daardie rukkie op die plaas en die ontmoeting met die donkerkoponderwyser was nie. Roald het daardie aand toe hulle gaan fliek het net so agter in sy keel gelag toe sy van Henk praat, uitgeklim en eers toe hulle aanstap na die ingang, sag gevra: “Wanneer het dié Henk nou eintlik sy verskyning gemaak?” “Vroeër vanjaar,” het sy stug geantwoord. En toe, met ’n hovaardige klankie: “Hy’s ’n professor.” “Nou toe nou,” was Roald se allerenigste kommentaar. Daarna het hy net oor flieks gepraat. En soos wat dit vir Adelien geklink het, kon hy omtrent ’n gids skryf oor al die films van toeka en nou. Sy het gefassineerd geluister. Kundig is die man voorwaar, het sy besluit. Sowat van weet-waarvan-hy-praat, darem. Syself is nie ’n vreeslike filmentoesias nie, maar kan ’n boeiende storielyn waardeer – en as die held nog Mel Gibson is óók … Sy het die aand gate uit geniet. Dit was ’n knap riller en die spel onoortreflik, soos wat Roald wel vooraf gesê het. Hy het agterna in ’n klein koffiekroegie langs die dorpshotel nog ’n paar interessanthede uitgelig wat sy nie eens raak gesien het gedurende die vertoning nie. Soos dat die regisseur doelbewus gebruik gemaak het van skerp lig en skadublou tonele en dat die film juis in Manhattan afspeel waar die strakheid van die argitektuur bydra tot die atmosfeer. “Dit lyk my jy is visueel veel meer geletterd as ek,” het sy gesê. “Ek is meer iemand vir woorde. Prentjies flits dikwels te vinnig vir my. Dis seker maar omdat ek altyd eerder verkies het om te lees.” Hulle het lank gesels, soos ou vriende. En die aand daarna het hulle in dieselfde koffiekroegie gesit en skaak speel, naderhand ’n klompie toeskouers gehad ook. Sy het hom geklop en met geamuseerde satisfaksie gemerk dat hy ’n bietjie vieserig is daaroor. Die laaste aand het hulle naby Clarens gaan eet in ’n ou, witgekalkte plaashuis langs ’n dam met eende en bosluisvoëls wat die wilgers in die skemerte pienkwit toepak. Die gasvrou het vir hulle skaapboud en geelrys en die soetste karamelpampoen gebring wat Adelien nog ooit geëet het. “Soos toffies … Onthou jy daai soort wat pouses so teen mens se verhemelte bly sit het en dan suig jy heeltyd daaraan tot die soet weg is?” Hy het net geglimlag. Dis toe dat sy besef het dat hy besonder stil was. Totdat sy hom daarna gevra het …
“Miskien omdat jy nou weer teruggaan,” het hy lakoniek gesê. “Nou’s dit weer net ek en die leë huis langs die skool.” ’n Vreemde verleentheid het haar gepak. Vir ’n oomblik het sy glad nie geweet wat om te sê nie. Toe het sy net ’n skouer opgehaal. “Dit laat ek my nie vertel nie. ’n Man soos jy sal nie lank alleen wees nie, Roald.” “En hoe ’n man is ek?” wou hy ongeërg weet, een wenkbrou hoog gelig. “Ek weet nie,” het sy met bot eerlikheid geantwoord. “Jy word nie maklik gelees nie.” Sy gesig het verstil. “Dis reg,” het hy gesê. En toe: “Wat gaan ons vir nagereg eet? Roomys en gemmersous of die broodpoeding?” Sommerso. En dit was die einde van enige verdieping in hul gesprek. Ook was dit die einde van ’n kamma verhouding, dink Adelien. Dit help nie eens sy mors twee gedagtes daarop nie … Sy staan op om die koffiebeker te was en daar is ’n ligte raps aan die deur. Toe sy oopmaak, staan Henk daar. Sy blonde kuif is deurmekaar en hy is geklee in ’n sweetpakbroek en ’n T-hemp wat effens span oor sy fris boarms. “Ek weet ek is ontydig,” groet hy en glimlag seunsagtig. “Maar ek moes net kom toe ek nou vir Nomsa by die hoekkafee raakloop en sy my sê jy’s terug.” En toe Adelien hom net bly aanstaar: “Sy’t gaan lekkergoed koop …” “Al weer,” glimlag Adelien terug. “Kom binne …” “Hallo,” groet hy weer en trek haar dadelik in sy arms. Sy mond is op hare nog voordat sy mooi kan dink. Hy soen soos iemand wat diep omgee, flits dit deur haar kop. Soos ’n mens wat gesoek en gevind het. Die gedagte ontroer haar eensklaps sodat sy haar oorgee en haar arms om sy nek skuif. Hy lag bly in haar nek. “Adelien …! Ek het my gek verlang na jou!” Sy gooi haar kop agteroor en lag ook. “Dit voel bepaald so, Henk!” Sy woel haar los en trek hom aan die hand kombuis toe. “Sit. Ek maak koffie.” En toe sy oë met warm waardering oor haar sagte blou japon en warm wange gaan: “Miskien
moet ek eers iets gaan aantrek …” Hy lag hardop. “Sal dit help? Jou meer weerbaar maak?” “Teen wat?” spot sy verleë saam. “’n Bose man wat snags van jou droom!” “Henk!” snak sy, vat die ketel mis en hy lag weer. “Adelien, jy maak al weer asof ek jou heel eerste kêrel is!” Sy verstil, vat toe die ketel se handvatsel stewig vas en gaan tap water in. Eers toe sy die bekers reggesit het en die water fluiterig begin kook, kyk sy skuinsweg oor haar skouer na hom: “Maar jy is mos!” Hy staan op en gee twee tree tot by haar, draai haar aan haar skouers na hom toe. “Adelien, ek is mal oor jou! Ek dink nie ek wil meer sonder jou wees nie. Hierdie rukkie dat jy weg was, het my dwalend gehad en …” “Stadig …” keer sy benoud, maar die warm emosie in sy blou oë sit tog haar hart op loop. “Waarom?” vra hy sag. “Ons is volwasse mense, Adelien. En … ek het byna die eerste dag al geweet dat ek jou wil hê. Kom ons trou in Desember.” Haar mond gaan oop en hy buk vinnig, plaas sy lippe oor hare, trek haar teen hom vas. Maar sy rem vervaard terug, tuur stip in sy oë. “Henk … Ek … ek moet eers dink …” Sy mond pluk wrang, maar sy stem is teer. “Dit het ek verwag, my skat. Jy is ’n diep denker, amper ’n filosoof …” “Maar jy is tog ’n bietjie geraak dat ek nie dadelik ja sê nie?” vra sy kalmer. Sy gesig lyk so beteuterd en op impuls steek sy haar hand uit, vee sag oor sy voorkop en deur sy syige, blonde kuif. Hy vang haar vingers vas en soen die punte innig. “Toemaar, ek verstaan,” glimlag hy sag. “En buitendien, ek weet ek gaan wen!”
Die woord tref haar skielik. Wen? Hy laat dit klink asof hy kompetisie het. En hy het nie. Nie regtig nie … Maar Roald se effens skewe glimlag flits voor haar oë verby die een aand toe sy hom so lekker gepiets het met die skaak. Eers was daar die kinderlike ergerlikheid omdat hy verloor het en toe ’n vreemde, gefassineerde uitdrukking in daardie swartbruin oë. So asof hy in ’n kramp van onverwagse emosie ’n flits van openbaring beleef. Jy hou nie daarvan om te verloor nie, het sy sag geglimlag. Watter man onder manne hou daarvan? het hy kamma kwaad gebrom en toe ook maar gelag. Roald Henning, dink sy, ’n man onder manne. En tog, Henk Verwey val ook in daardie kategorie. Dit ly geen twyfel nie. “Waaraan dink jy?” wil hy skerpsinnig weet, sy hande warm op haar skouers. Sy teug diep na asem. “Aan die rukkie tuis,” begin sy, maar dis of alles wat sy wil sê, al die baie woorde wat die ure saam met Roald oordek, soos skape voor ’n hek saambondel. Net drie glip uit: “Só baie dinge …” “Vertel,” sê hy soos male van te vore. Sy draai om, sit die kokende ketel af en dis eers toe hulle weerskante van die klein ronde tafel met hul bekers sit, dat sy huiwerig begin: “Dis die ding met Christelle … Dit was moeilik om haar tot ander insigte te bring, weet jy.” “Kan ’n mens?” vra hy met vernoude oë. “’n Tiener se hart is soos ’n wilde bok. Keer jy dié kant, spring hy daai kant toe. Jy weet dit mos ook.” Hy’s so skerp, dink sy versigtig maar knik instemmend. “Jy het reg, dit was nie maklik nie. Maar dit lyk my tog asof ek geslaag het om haar te laat dink oor die saak.” “Hoe het jy dit gedoen?” wil hy weet. Ons, wil sy sê, óns het dit gedoen … Maar sy suig haar lip in, haal haar skouers op. “Ons sal moet sien of dit gaan werk, Henk. ’n Mens praat en praat met ’n kind soos Christelle en dan kan jy net wag.” Dit is immers waar, dink sy wrang, al is dit nie die volle waarheid nie. En so onbehoorlik soos wat dit sekerlik is, kan ek om die dood nie nou vir Henk van Roald vertel nie. En ek wil nie eers probéér om hierdie huiwering te ontleed nie … “Sê my eers waar kan ek ’n goeie waghond koop?” keer sy die gesprek skoon
weg. “Enne … ’n klein hondjie ook. ’n Keffertjie wat snags in die huis kan geraas maak as iets kom pla.” Hy klink verbaas. “Hier?! Jy wil tog seker nie ’n groot hond hier in die …” “Dis vir Stille Weide. Kan jy glo dat ons nooit weer ’n hond aangeskaf het ná … Jy sien, ná my ma se dood, is die hond ook sommer net dood. En toe …” “Ek sien,” antwoord hy sag. “En toe ek nou die dag praat oor die veiligheidsituasie het julle begin dink, nie waar nie?” “Ja …” knik sy. “’n Vriend van my boer met herdershonde en ek dink mens kan seker ’n klein hondjie sommer by ’n troeteldierwinkel koop.” “As ek die geld voorskiet, sal jy dit vir my doen?” “Met liefde,” sê hy en trek haar bo-oor die tafel nader. Toe hul gesigte feitlik teen mekaar is, steun sy soos wat die tafel se rand haar in die ribbes vang en hy lag. Blaas vir haar ’n soentjie. “Ek gaan net môre vir my liefste meisie twee brakke koop! En los maar die geld.”
Hoofstuk 4
Haar brakke, dink Adelien en staar met verstomming na die twee skepseltjies in die kartondoos langs haar bed. Want Henk het “sy liefste meisie” se brakke gisteraand gebring met twee pakke hondekos daarby. En instruksies: Sóveel vir Mietsie en ’n bietjie meer vir Keiser. “Is dit hulle name?” het Adelien verstom gevra. “Voorlopig, maar nou moet ek ry. Ek het twee studente wat my kom sien.” “Ja, maar …” “Vergeet van ‘maar’,” het hy gesê en haar kaplaks op haar mond gesoen. Toe hy uit is, het sy die bondeltjies hond meewarig beskou. “Nou ja, nou moet ek julle so gou moontlik op die plaas kry.” Maar dit, het sy geweet, is die minste van haar probleme. Klein hondjies is lank nie klein jakkalsies nie. Want iets kou aan haar bestaan. ’n Knaende besef dat sy innerlik eintlik wegkruipertjie speel met Henk. Hy voel dit aan, weet sy. Maar sy is nie gereed om die petalje, soos wat sy aan haar en Roald se plannetjie dink, met Henk te deel nie. Dis net te laf vir woorde. Buitendien, as alles goed gaan, sal die petalje in die niet verdwyn. En dit gaan goed op Stille Weide. Sy hoor dit elke keer dat sy bel om met Christelle of haar pa te praat. Pa Abel klink effens meer opgeruimd en Christelle gesels op haar ou babbelende trant. “Steek jy vir my iets weg, Chrissie?” wil Adelien een oggend vroeg weet toe sy bel net voordat sy moet gaan klas gee. “Hoe voel jy regtig?” Christelle het ’n suggie gegee. “Soms voel ek miserabel en ander tye kan dit weer gaan, Adie.” En toe heel onverwags: “Meneer stuur vir jou groete … Ek dag dan julle praat baie met mekaar?” “Maar ons práát!” glip die leuentjie verskrik uit. “Om die waarheid te sê, ek het
nou net met hom gepraat en …” “Het hy jou saamgevra Kaap toe?” wil Christelle gretig weet. Adelien gun haarself ’n stonde se nadenke. “Nee … e … jy weet mos dis nou onmoontlik vir my om weg te gaan.” “Hm … Wel, dalk sou hy jou graag wou vra. Hy loop juis deesdae met ’n hanglip rond.” “Pla dit jou?” wil Adelien angstig weet. Sou die kind nou wéér haar hart op die man gesit het, of wat? “Nee wat,” sug Christelle weer. “Wat my pla, is daai ellendige Frans Mahler. Ek kan eenvoudig nie glo dat iemand wat ’n mens van jou babadae af ken, die kluts so kan kwytraak nie!” “Wat het hy dan gedoen?” “Dis om van naar te word! Hy vrek glo oor daai simpel Fourie-meisiekind. Mevrou Fourie wat langs Meneer woon se kleindogter. Die ergste is dat sy hom matriekafskeid toe gevra het!” “Dis … dis … wel dis gemeen, is dit nie? Sy weet tog seker jy en hy het iets aangehad!” is al wat Adelien kan uitkry. Sy het tog in die stilligheid gehoop dat dinge tussen die aantreklike vaalkuif Frans en haar sussie sal regkom. “Dis baie dom! sou ek sê,” trek Christelle ergerlik los. “Want as hy oor ’n paar weke van plan verander, sal dit te laat wees!” “Hoe so?” “Ek het klaar vir Janneman Ferreira gevra om saam met my te gaan!” “Daardie kranige rugbyspeler van Harrismith se hoërskool?” “Einste. En ek belowe jou, hy’s by ‘smart’ verby! Regtig cool, hoor!” En ’n effens wilde javel, soos wat stories loop. Maar Adelien antwoord versigtig: “Mooi so … Daar’s mos baie visse in die see, Chrissie. ’n Mens laat nie toe dat
’n man met jou speel nie!” “Veral nie as sy naam Frans Mahler is nie,” antwoord Christelle dapper, maar Adelien hoor die ligte bewing in die teerjong stem. Frans is glad nie vergete nie, dit weet sy. Solank Roald net nie weer die teiken van die kind se gefrustreerde gevoelens word nie. Die gesprek bly haar by toe sy al die eerste klas gegee het en terug is op kantoor om stapels nasienwerk af te handel. Heeldag tob sy daaroor. Dinge moenie nou weer lol by die huis nie. Dis moeilik genoeg soos wat dit is: Sy wat hier vanuit Pretoria die tekens moet lees en haar pa en suster daar op die plaas wat soos hande uit die donker na haar tas. Toe sy by haar woonstel kom, sak sy in die naaste stoel neer. Dié ding is besig om haar te dreineer. Sy kan haar glad nie distansieer van die situasie op Stille Weide nie. Afstand of te not, sy sal ten minste moet probeer om haar vinger op die pols van die huis op die plaas te hou. Oplaas bel sy na Roald se huis toe. Sit seker voor die televisie noudat dit skoolvakansie is, dink sy met onverwagse vertedering. “Netso,” erken hy onverstoord toe sy hom skalks daarna vra. “Ek kyk ’n video. Dis snerpend koud en ek sit met drie reisdekens oor my bene. Dis nou te laat om die kaggel aan te steek.” “Waarna kyk jy?” vra sy verwonderd, kan hom net sien sit, so toegewikkel in die komberse, sy donker kuif deurmekaar bo die blink, intense oë. “Robin Hood, Prince of Thieves …” antwoord hy mymerend. Haar mond plooi in ’n sagte glimlag. “O, ek is net so mal oor daardie verhaal. En ek dink dié prent het die romantiek mooi vasgevang en …” “Wie sê ék is mal oor die prent?” vra hy tergend. “Ek hoor dit mos,” sê sy afgehaal. “Waarom? Was daar iets in my stem wat jou dit laat dink?” “Wel … ja …” “H’m … Jy weet wat sê hulle, nè? ’n Mens luister na ’n kennis se woorde, maar na ’n vriend se stem … Is ons vriende, Adelien?”
’n Klein stilte stol. Toe sê sy: “Ek dink so, Roald. Ek dink ons verstaan mekaar.” “H’m … Ek sal dit glo as jy my kan sê waarom jy geskakel het.” Dit slaan haar stom. Slim man, dink sy ergerlik. Nou kan ek glad nie na Christelle uitvra nie anders dink hy ek wil net praat omdat ek oor my sussie bekommerd is … En dit word stil in haar binneste: Dit is hoegenaamd nie al rede nie, laat sy dit nou maar eerlik erken. Laat sy met hierdie man ook liefs eerlik wees. Wat kan sy immers verloor? “Ek het jou gebel,” sê sy, “omdat ek graag wil weet wat maak ’n adjunkhoof as die skool se deure gesluit het.” Hy lag agter in sy keel. “Sluit ’n skool se deure ooit?” “Sê jy my …” lag sy speels saam. Hy gee ’n klein suggie. “Nie regtig nie, Adelien. Dis nogal soos ’n huishouding. Daar’s nie einde aan nie. Die kinders is wel weg, maar daar’s baie wat ek nog graag wil doen. Maar eers gaan ek ’n paar dae lank rus en dan gaan ek Kaap toe.” “Na wie toe?” glip dit uit. “O, maar jy’s nuuskierig! Weet daardie Henk ou dat jy so uitvraerig is oor my?” “Nee.” “Nee? Wanneer gaan jy hom van ons vertel?” “Daar is nie ’n óns nie!” keer sy vinnig en wens meteens sy kon wegglip uit die gesprek sonder dat hy dit agterkom. “Ja,” stem hy sag saam, “maar net ek en jy weet dit! Jou pa en Christelle en sommer die dorpsmense ook, dink daar’s groot dinge aan die kom tussen jou en my!” “Regtig?” En toe hy swyg, groet sy flouerig: “Nag, Roald, geniet die Kaap.” “Dit gaan koud en nat wees.”
“Ek … dag jy’s gewoond daaraan?” “Die winter is op sy grouste as ’n mens nie in die somer hout bymekaar gemaak het nie.” “Waarvan praat jy?” “Van Langenhoven. Hy’t gesê ’n mens moet in die somer hout bymekaar maak om in die winter by die vuur te kan sit.” “En het jy dan nie?” “Nee, nog nie juis nie …” Hy klink traag om te verduidelik, sê toe tog kripties: “Dit lyk my al die hout is nou nat. Ek sal moet wag vir nog ’n somer.” “En intussen doodgaan van die koue?” “Dit hang af.” “Van die Kaapse kuier?” “Moontlik, ja …” “Nag, Roald,” sê sy weer en dié keer sit sy die gehoorbuis sag neer. Maar sy bly nog lank sit, arms oorkruis oor haar bors, wenkbroue diep gekeep. Waaroor het ons gepraat? wonder sy verslae. Nie van hout of die seisoene nie, dis vir seker. Eindelik kom sy met ’n rukbeweging orent. Die man is enigmaties, besluit sy vies. Ek sal hom nooit verstaan nie. Gee my duisend maal eerder Henk wat my elke dag wys waar sy hart sit. Asof in antwoord, begin Keiser, neus in die lug, kerm. Mietsie val ook dadelik in. Kos, dink Adelien en sug. Waarom voel ek nou nie juis moederlik teenoor die tweetjies nie? Dis ’n hengse werk om na hulle te kyk. En hulle vra baie aandag. Ek is nie gereed vir sulke klein goedjies nie, het sy gisteraand teenoor Christelle gebieg toe sy huis toe bel. Jy en Pa en Anna sal jul lyf moet reghou om hondjies groot te maak. Maar haar sus was dadelik liries: Ag moedertjie tog, wanneer bring jy hulle? So gou ek kan, het sy weer gesug. Toe Henk haar die aand kom haal om by sy ma te gaan kuier, soen sy hom spontaan toe sy die voordeur oopmaak.
“Waaraan het ek dit te danke?” wil hy ingenome weet. “Is dit nie hoe ’n man gegroet wil word nie?” “Natuurlik … Maar dit het nie vantevore so natuurlik gekom nie, het dit?” “Hoe dikker die vriendskap, hoe sappiger die soene, nie waar nie!” lag sy en duik onder sy arm deur om haar jas van die haak agter die deur af te haal. Hy vang haar vas teen hom. “Moenie, Adelien! Ek is verby die stadium dat ek wil grappies maak. Ek wil nou weet!” Die heftigheid van sy woorde laat haar verstil en sy teug diep na asem voordat sy met versigtige erns antwoord: “Ek voel aangetrokke tot jou omdat jy so oop is, Henk. Ek weet waar ek met jou staan en eintlik weet jy ook. Dis net dat ek nie aan kitsprosesse glo nie. Stap vir stap … asseblief …” “En hierdie is ’n stap vorentoe?” vra hy met soveel desperate hoop dat sy hom liefkry. Sy lig haar hand en vee dit sag oor sy gesig. “Ja, ek dink so, Henk. Ek voel goed by jou!” Hy kyk lank en intens na haar voordat hy haar hand vat en die deur agter hulle toetrek. “Kom ons groet die brakkies en dan gaan ons. My ma het ’n swartwoudkoek gebak. Spesiaal vir jou. Enne, dis nie al nie, maar die res is ’n verrassing!” Sarah Verwey het weer eens haarself oortref, besef Adelien toe sy in die knus meenthuis by die teetafel gaan aansit. Die fynste Royal Albert teestel is uitgehaal. Op ’n kristalbord staan ’n romerige sjokoladekonkoksie en daar is veerligte pasteitjies. “Tante het vreeslik baie moeite gedoen!” betig sy glimlaggend. “Is dit dan ’n spesiale okkasie as ek kom kuier?” “In die oortreffende trap,” glimlag die vrou en haar blik speel liefkosend tussen haar seun en Adelien. Sy skink tee en sny die koek, bied heerlike groot stukke aan. En sy vra uit. Na die plaas, na Abel en na al Abel se dogters. Die name Bernadette en Christelle rol gemaklik oor haar lippe. Henk moes haar vooraf ook
weer baie vertel het, besef Adelien. Meer as net die inhoud van die paar kere dat sy self met Sarah daaroor gepraat het. Dat sy en haar leefwêreld ’n warm besprekingspunt tussen ma en seun is, word vir haar algaande al duideliker. Veral toe Sarah versigtig begin uitvra na Christelle se gemoedstoestand. Adelien huiwer ’n oomblik voordat sy antwoord. Maar toe sy eers begin praat, besef sy dat sy lankal hunker na ’n vrou se oor. “Wel … dis moeilik om te sê, maar Christelle klink tog nou meer gebalanseerd. Nou die aand toe ons gesels het, het sy ewe entoesiasties uitgewei oor die outjie saam met wie sy matriekafskeid toe gaan.” “Het sy al ’n rok?” vra Sarah Verwey. Adelien se oë rek verskrik. “Nee …” Sy vee met ’n handpalm oor haar oë. “Liewe aarde tog … ek het nog glad nie eens daaraan gedink nie …” En toe kom die woorde sommer: “Ek weet nie wat dit met my is nie, maar ek dink selde aan sulke praktiese dinge. Dis verkeerd, ek weet, en ek sal moet verbeter wat dit aan betref en …” Sarah raak sag met haar vingers aan Adelien se skouer. “Eet eers nog ’n stukkie koek en dan gesels ons weer daaroor. So ’n saak het buitendien twee koppe nodig!” Haar rustige stem en speelse woorde kalmeer Adelien en toe sy haar kom kry, smul sy aan ’n tweede yslike porsie en drink ’n paar koppies rooibostee ná mekaar. Sy voel effens ongemaklik daarna, maar ignoreer die gevoel. Henk sit haar met ’n stil glimlaggie en betrag. Dis toe hulle die teegoed agtertoe gedra het en weer kom sit, dat Sarah haar verras met ’n groterige pakkie toegedraai in blomryke geskenkpapier met ’n fraai goue strik. “En nou? Ek verjaar mos nie!” lag Adelien. “Nee, maar dit lyk asof jy ’n verjaardag nodig het. Maak oop!” Adelien se asem slaan weg toe sy die papier oopvou en ’n donssagte, papawerrooi trui daaruit haal. Sy ma het dit self gebrei, vertel Henk trots, klop Sarah saggies op die skouer. “Hou jy daarvan?” wil die vrou gretig weet.
“Ek … is gek daarna …” fluister Adelien en voel bewoë. Wanneer laas het enigiemand, behalwe Anna, ooit vir haar iets gegee met soveel moederlike besorgdheid as hierdie vrou met haar sprekende blou oë nes haar seun s’n? Haar tong wil knoop toe sy weer praat. “Dis … dis ongelooflik mooi … en ek het juis ’n tekort aan so iets in my kas. Hoe kan ek u ooit bedank?” “Trek dit aan wanneer jy lus kry, dan is ek tevrede!” glimlag Sarah. “Ek sal vir seker!” sê Adelien en staan op om Sarah ’n soen te gee, die trui vasgeklem teen haar bors. “Wat van my?” vra Henk onnutsig. “Ek het geduldig die hele, moeisame breiproses aanskou!” Adelien gee hom onverwags ’n klapsoen. “En tjoepstil gebly daaroor! Jy is ’n man van vele geheime, lyk dit my!” Henk maak plegtig keel skoon. “Dis meer ’n kwessie van talente as geheime. My ma is een van daardie mense wat ’n stuk lap en ’n mooi lyf bymekaar kan bring op ’n wonderbaarlike manier!” “Hoe nou …?” “Ag, hy bedoel maar net dat ek af en toe ook klere maak,” sê Sarah. “En ek het daaraan gedink om vir jou iets te maak vir julle departementsdinee. Dis nou as jy my sal toelaat … Ek weet dis nog lank voor die tyd maar …” Die vrou kyk so smekend na haar dat sy vermurwe. Al voel dit nou asof dinge so ’n bietjie onder haar uitglip. Asof die beheer van sake uit haar hande geneem word. “Ek … hét eintlik al ’n rok,” begin sy maar die teleurstelling lê so vlak in die ouer vrou se oë dat sy haar besin. “Maar ek sal nooit nee dankie sê vir ’n nuwe ding nie!” “Wonderlik!” Daar is eintlik kleur op Sarah se wange, so ingenome is sy. “Wag, ek bring sommer gou ’n paar patroonboeke en dan kyk jy of daar iets is waarvan jy hou!” Adelien bêre die mooi trui en sit saam met Henk en wag dat Sarah die boeke kry. Hy sug ligweg en sê sag: “My ma kan soms ’n bietjie oorweldigend wees, ek weet.”
“Miskien,” gee Adelien eerlik toe. “En ek moet sê, dis vir my vreemd om iemand te hê wat so meelewend in my doen en late belangstel.” “Verdra dit maar, asseblief,” smeek hy opeens liggeraak en steek ’n hand na haar uit. En Adelien vat dadelik sy vingers vas. “Natuurlik. Dis nie onwelkom nie, ek is net ongewoond daaraan.” Toe Sarah kom, haar arms vol patroonboeke, staan Henk op en gaan sit voor die televisie. Die vroue blaai en kyk en gesels en op die ou einde geniet Adelien dit baie. Dis laataand toe Adelien eindelik besluit op ’n nousluitende nommertjie met bandjies oor die skouers en ’n kort baadjie daarby. In swart? vra Sarah. Dit sal jou ligte gelaatskleur vlei. Dankie, sê Adelien. Dis lekker, dink sy toe sy oplaas in die bed lê. Sarah Verwey gaan dalk nog ’n groot rol in my lewe speel en dis dalk goed dat ons nou al dinge saam doen. Sy raak aan die slaap met ’n gevoel van welsaligheid en skrik haar vroegoggend boeglam toe Keiser en Mietsie in die vroeë oggenduur ’n keel opsit. Sy kom stram orent en neem hulle by die agterdeur uit na die klein agterplasie waarop haar woonstel uitloop, wag bibberend terwyl die hondjies vieserig pote optel op die stukkie gras en uiteindelik doen wat hulle moet doen. Dit voel of sy skaars weer gelê het, toe die telefoon skril lui. Dis Anna en sy klink skoon uitasem, praat asof ’n trein haar jaag. “Adie, jy moet kom! Christelle se rok vir die matriekafskeid is iets vreesliks!” “Wat … Hoe dan so?” “Sy’t vir haar ’n rok laat maak by daai nuwe vrou wat anderkant ou Sieberhage se winkel bly. Ek hoor sy maak al die grênd mense se klere.” “Nou maar dan kan dit mos nie te erg wees nie!” Anna snuif ergerlik. “Auk! Die toppie is baie klein. Jou pa se sakdoeke is groter. En hy moes baie geld betaal vir amper niks! Ek weet nie hoe gaan ek maak om Chrissie se kop reg te kry nie. Jy moet my kom help!” “Wat sê Pa Abel?” vra Adelien, opeens kilnugter. “Aag, jy weet hoe praat hy. Net so piep-piep soos ’n kuiken. Chrissie luister nie
vir hom nie!” En toe Adelien magteloos swyg: “Jy moet huis toe kom, Adie! Chrissie kan nie met daardie rok matriekafskeid toe gaan nie! Die hele wêreld gaan praat … En jy weet, as die praat eers aan ’n meisiekind vassit, dan was dit nie weer af nie!” “Wag,” keer Adelien opeens benoud, “ek moet dink.” “Daar’s nie tyd vir nonsies nie,” brom Anna, altyd vies oor ’n getob. “Jy moet kom!” Dis Donderdag, dink Adelien. As sy môre ry en Sondagaand terugkom … Anna is reg. Sy sal moet gaan. Buitendien kan sy dan van die hondjies ontslae raak. “Goed,” sug sy en Anna druk haar dit eers weer op die hart dat die kom góú moet wees, voordat sy neersit. Dis kompleet of die vier mure van die kamer al nader skuiwe en Adelien spring vervaard uit die bed. Dis of dit sommer op die krop van haar maag begin pyn. Ek sien nie kans nie! skree haar binneste. Hoe op aarde gaan ek in die bestek van ’n naweek vir Christelle oortuig dat die rok wat sy laat maak het ’n totale ramp is? Want Anna sal nie oordryf nie. Daardie vrou se kop is reg. Sy kyk op haar horlosie. Sesuur. Nog tyd om tot verhaal te kom voordat sy moet gaan klasgee. Maar ’n oomblik se respyt is haar nie beskore nie. Sy is kwalik klaar gestort toe daar aan die voordeur gehamer word. En toe sy oopmaak, staan Bernadette daar met bewende lippe en rooigehuilde oë. “Hallo, vreemdeling,” sug Adelien en trek haar na binne, vou haar ’n oomblik vertroostend teen haar vas, voel hoe die ontstemde meisie haar kop met die rooibruin hare in haar nek druk. “Wat makeer?” vra sy sommer self ook ontstig. “Of liewer … waarom sien ek jou amper nooit?” Bernadette se slanke lyf ruk van die snikke. “Ag, hou op verwyt! Ek is besig … soos … soos wat jy goed weet! Die koshuis hou my heeldag op my tone en om in die regte te studeer, is ook geen grap nie!” “Huil jy omdat jy primaria is of omdat jy die reg as loopbaan gekies het?” vra Adelien lakoniek, maar haak ’n arm om die dun middeltjie toe sy kombuis toe loop. Haar suster gaan sit by die tafel en vee haar oë af, maar Adelien merk dat daar
terstond weer nuwe trane opwel. “Nee, dis natúúrlik nie waarom ek huil nie!” kap Bernadette ergerlik terug. “Dirk Joubert?!” skiet Adelien ’n skoot in die donker en sien die onmiddellike kramp van hartseer op die mooi gesig. Skrik gryp aan haar hart en sy kom sit dig by haar. “Bernatjie, wat is dit?” Die liefdevolle stemtoon laat haar suster met snakkende oorgawe huil. Adelien staan solank op, sit die ketel aan en maak roosterbrood, dis eers toe hulle met die eetgoed en koffie voor hulle sit, dat Bernadette bedaar. “Ag Adie, ek het so amper-amper … aan Dirk toegegee!” Adelien voel die klamp om haar keel. ’n Woede so oud soos die berge stoot soos lawa in haar op. Sy moet diep teug na asem toe sy vra: “En hét julle toe?” Bernadette skud haar kop so heftig dat die kort rooibruin krulle dans. “Nee … Nee, ons het nie.” Verligting druis driftig deur Adelien, maar wis nie geheel en al die blinde angs uit nie. Die woorde tuimel onbeteueld oor haar lippe: “En waarom nogal nie? Almal doen dit tog!” “Ek … soek nie jou sarkasme nie!” snik Bernadette weer, snuit haar neus en kyk betraand op. “Ek dag jy weet iets van sielkunde af!” “O, ek weet wel!” antwoord Adelien, self op die rand van ’n huilbui. “Maar jy is nie nou in konsultasie nie en … en ek is te blindweg betrokke! My hemel, Bernadette, jy is my suster en ek is lief vir jou! Ek wil nie hóór dat ’n man soos Dirk Joubert by jou geslaap het nie!” ’n Stilte stol en versmelt weer. Bernadette sluk swaar. “Ek kan jou ten minste sê waarom hy toe nié het nie. Dis omdat …” sy sluk weer, “omdat ek nie wou nie. Want dis net nie ék nie.” Toe Adelien bleek bly swyg, voeg sy beteuterd by: “Daar is nog altyd mense soos ek … en jy.” Adelien leun vorentoe, elmboë op die tafel. “En hoe is ons nogal?” Bernadette, haar blus blykbaar uit, skud net haar kop. “Ons is net anders, nie beter nie. Ons dink anders oor dinge.”
“Ons het ander oortuigings, ja … Maar afgesien daarvan, die meisie wat haarself aan Dirk Joubert gee, is baie dom. Sy soort soek net lyf en as die lyf begin sak, soek hy elders. Dis wat ek hoor, Bernatjie, en uit meer as een oord. Glo my, nie eens die sanksie van ’n huwelik sal hom meer méns laat word nie. Op die oomblik is hy net man en jagter. Party mans bly dit hul lewe lank. Hulle leer nooit om mens én medemens ook te wees nie!” “Ek verstaan jou nie,” mompel Bernadette en begin weer trane uit die groenbruin oë afvee. “Jy wil nie verstaan nie … Dirk Joubert is slegte nuus vir enige vrou, Bernadette. En hy sal dit bly solank as wat hy net sy eie begeertes voorop stel.” Die stilte is lank en droewig en nog voordat sy praat, weet Adelien wat Bernadette gaan sê. “Maar … ek vóél nog vir hom, Adelien! Ek kan dit nie help nie! Hy … hy het net iets wat my bly aantrek!” “Ek besef dit,” antwoord sy stadig, “anders sou jy nie in dié toestand wees nie!” “Wat moet ek doen?” “Kalm bly en jou kop gebruik. Maar wag, ek moet nou gaan klas gee. Later gesels ons weer.” Dis toe dat Bernadette die boks met die twee hondjies raak sien en haar gesig helder dadelik op. “Ek wou sê iets ruik soos hond … Waar op aarde kry jy hulle?” “Lang storie,” sug Adelien en is verplig om eers te wag dat Bernadette klaar groet en pamperlang aan die brakke.
Toe Adelien in haar kantoor instap, voel dit asof sy kilometers ver stywebeen gehardloop het. Die hele oggend was ’n hinderniswedren. Die honde se nagtelike uitstappie, Anna se oproep, Bernadette se liefdespaniek en oplaas die groot klasse vol energieke studente was genoeg om haar tot op die bodem uit te put. Sy sak in die stoel agter haar lessenaar neer. En toe daar ’n kloppie aan die deur is en Henk se bekende, liewe gesig inloer, bars sy in trane uit. Deur ’n waas sien sy sy stomme verbasing. Hy kom in, maak die deur toe en kom trek haar op tot
teenaan hom. “Huil maar,” sê hy rustig. Sy gee haar oor aan die gawe uitnodiging en snik teen sy skouer. Eindelik begin sy snuiwend vertel van die oggend se emosionele eskapades. Hy luister aandagtig en sit sy hande in ’n gedetermineerde gebaar op haar skouers. “Vanaand vertrek ek en jy en ons vat die brakkies en gaan haal vir Christelle op Stille Weide. Môre meet my ma haar en soek ’n patroon uit wat paslik is. Sondag vat ons haar terug. En volgende week wy ons aan Bernadette se probleem.” Sy maak haar mond in protes oop, maar hy soen dit toe. En toe sy haar weer kom kry, het hy die leisels stewig oorgeneem. Hierdie naweek is dit Stille Weide toe, en basta.
Hoofstuk 5
“Hoe rym dit? Jy’s hier saam met die blonde man en jy’s mal oor Roald óók?” Dis Christelle en sy’s alles behalwe maklik. Sy plak die oggendkoffie stortend op die bedkassie neer en gaan sit op die voetenent van die bed. Die volronde, romerige geur van die koffie maak Adelien effens mislik en sy sug innerlik. Daar was nog allermins ’n oomblik wat sy Christelle kon inlig dat haar skepping vir die matriekafskeid rampspoedig is. Dis nog pynlik vroeg, sien sy en kom sugtend orent. Haar sussie was moeilik vanaf die oomblik dat sy en Henk hul voet gisteraand op Stille Weide se voorstoep gesit het. En toe haar suster bly swyg, stoom Christelle voort: “Nomsa sê hy het drie maal sy hand op jou knie gesit in die ry hiernatoe!” Adelien proes van die lag voordat sy kan keer. Dié Nomsa darem. Hulle het haar saamgebring sodat sy darem ook ’n nawekie naby die moederskoot kan wees en nou bedons sy die dinge net. Henk het baie aandag aan die kind gegee op pad hierheen en Nomsa het gesit en gesels asof sy proffies vir brekfis opeet. Die ene spontane guitigheid. En Henk het meer as een maal geskater. Binne ’n ommesientjie het sy hom volledig ingelig oor al wat leef en beef op Stille Weide en in die distrik. Sommerso suutjies het sy Roald se naam ook laat val en Adelien byna ’n hartaanval gegee. Gelukkig het die aankomende verkeer Henk se aandag op daardie oomblik geverg en sy het verlig na asem geteug. “Wat besiel jou?!” het sy gesis toe hulle op Villiers stilhou om gou ’n draaitjie te loop. “Dit het uitgeglip!” het Nomsa grootoog gekeer. “Maar die professor ‘chat’ tog te lekker. Ek laaik hom sterk!” “Wel, ek ook – en ek wil nie hê jy moet my kanse bederf nie!” “Wat van die ander man?” wou Nomsa weet, soos gewoonlik op die punt af. “Dinge is baie ingewikkeld, Nomsa,” het sy eerlik geantwoord. “Gee my
asseblief net kans …” “Orraait, maar ek sien moeilikheid kom.” Wat presies Christelle se siening ook is. Want sy neem ’n paar driftige slukke van haar koffie en kyk skreefoog na Adelien. “Wat gaan jy doen?” wil sy hovaardig weet. “Of kan ek raai? Roald is in die Kaap en nou is dit veilig om saam met Henk te kuier?” Dis so na aan die waarheid dat Adelien ’n oomblik sprakeloos is. Toe vererg sy haar. Sy mors van die koffie oor die beker se rand soos wat sy orent kom, vee ergerlik oor die klam kolle op die donkerblou duvet. “Bly stil, Christelle! Buitendien, dis professor Verwey en meneer Henning vir jou, hoor! Jy’s net ’n kind! Een wat dink sy’s groot! Wat wéét jy?!” “Genoeg,” antwoord Christelle onverstoord. “Ek sien mos wat ek sien, Adelien. Dis net dat ek nie verstaan nie.” “Het jy iets teen Henk?” gooi sy wal, suf van ergernis. Sy wil ongebreideld uitvaar teen die kind se arrogante vermetelheid en tergelykertyd in trane uitbars omdat daar sekuur aan teer plekke geraak word. Feit is, sy weet werklik nie wat haar te doen staan nie. Twéé mans in haar lewe; albei sulke uitmuntende mense. Haar gemoed swaai soos ’n pendulum: Dis Henk maar ook nie hy nie; dis Roald en tog nog nie hy nie … Dis nie menslik moontlik vir haar om nóú te weet nie … En dis opeens of sy bedaar. “Luister Chrissie, ek het nog niks werklik ontleed nie en … en ek weet nie of ek nou al kan nie.” Christelle staar grootogig na haar, knik wyslik. “Jy speel ’n innerlike speletjie met jouself, ou suster. Hulle sê al wat help is om na jou intuïtiewe aanvoeling te luister en …” “Ag, genade tog!” ontplof Adelien weer. “Uit watter sepie kom sulke snert? Los my tog net dat ek my kop bymekaar kan kry!” “Goed,” sug Christelle en glip van die bed af. “Dus mag Roald se naam nie nou in hierdie huis genoem word nie?”
“Liefs nie,” fluister Adelien met droë lippe. “En jy wil ook nie hoor of hy veilig in die Kaap gearriveer het nie?” Sy lag toe Adelien haar in stomme smeking aankyk. “Wel, hy is veilig en hy kuier by ene Madelief van Heerden! ’n Ou liefde van hom.” “Hoe weet jy dit?” “Hy’t gebel en gesê ek moet die boodskap vir Pa gee.” “Van die ou liefde? Was dit sy woorde?” “Op ’n manier.” “Christelle!!!” Adelien is terstond weer siedend kwaad vir haar suster. As sy haar nie nog verwurg nie. “Oukei, oukei!” gooi Christelle haar hande dramaties in die lug. “Hy het net gesê hy is in die Paarl tuis by die Van Heerdens. Toe vra ek hom of hy by ’n spesifieke Van Heerden kuier en toe sê hy ja, haar naam is Madelief.” Daarmee trek sy die kamerdeur agter haar toe en loop luid in die gang af en neurie. Minute lank bly Adelien doodstil in die bed sit. Madelief van Heerden … Wel, waarom nie? Roald is ’n volwasse man en het sekerlik baie vriende en vriendinne gehad voordat hy Vrystaat toe gekom het. En hy’s welkom ook, dink sy moeg. Ek het ook my vriende. Haar bravade ten spyt, speel haar kop steeds met die blommetjiesnaam ‘Madelief’ al lank nadat sy gestort en aangetrek het. Sy kry Henk en haar pa aan die vroeë ontbyttafel, druk aan die gesels. Hulle groet haar albei met ’n kus en ’n glimlag en sit hul gesprek dadelik weer voort. Henk praat saam oor koringvariëteite en stroperparte en raak opgewonde oor die dik, donkerblou kapokwolke wat bo die werf hang. “Dit gaan sommer nou-nou ’n wit kombers oor ons gooi!”sê hy en sy blou oë blink. “Wat weet jy nou eintlik?” lag Adelien en kyk by die venster uit na waar die weer inderdaad ’n storm uitspel.
“Verstommend baie,” sê Abel en klink effens verbaas. “Professor Verwey vertel my sy neefs boer al twee in die Harrismith-distrik en hy’t veral as kind baie daar gekuier.” “Jy’t my dan nooit vertel nie,” verwyt sy dadelik. Hy lag en sit vlugtig ’n hand op hare. “Daar’s baie tyd vir sulke verhale,” sê hy net en vra nog roosterbrood toe Selina kom aanbied. “Enne … noem my asseblief Henk, oom Abel. Maar dis waar, ek weet nogal heelwat van ’n plaas af. Veral in hierdie wêreld is kapok teen dié tyd eintlik voordelig vir die koring, dan nie?” “Absoluut,” stem Abel ingenome saam. “Dit bêre vog sommer diep in die grond in.” “Nou toe nou,” glimlag Adelien, eet net peusel-peusel aan ’n krakerige stukkie roosterbrood en hou heeltyd haar pa en die blonde man dop. Hulle gesels soos ou kamerade en toe Anna die tee bring, maak sy ronde oë vir Adelien. Dit beteken net een ding: sy wag vir haar in die kombuis en daar sal gepráát word. Abel sê uit die bloute dat hy bly is Henk en Adelien neem vir Christelle Pretoria toe, want hy het ook sy bedenkinge oor die rok vir die matriekafskeid. En hy klink onnoemlik verlig. “Maar weet Christelle al dat sy saam met julle gaan?” vra hy versigtig. “Ek gaan haar nou inlig,” sê Adelien en sug. “Sy was tot nou toe nog besig met die hondjies. Sy is só opgewonde oor hulle …” Maar toe sowel haar pa as Henk haar net stilswyend beluister: “Wel, ek dink Christelle was nog nie gereed vir die nuus nie.” “Maar máák haar gereed,” antwoord Henk met ’n forse beslistheid wat Abel goedkeurend laat glimlag en Adelien na nog roosterbrood laat reik. Makliker gesê as gedoen, dink sy vies. Dis duidelik dat professor Henk nog nie die dieper lae van hierdie onkonvensionele huishouding probeer peil het nie. Nog nie gesien het nie dat Abel Buitendag die dierbaarste mens maar die jelliesagste vaderfiguur is. En tog, dink sy half onwillig, dalk juis wat hier nodig is. Henk se vaste hand; sy ferm greep. Daar is te veel getob in die verlede, te lank geleun op verdriet wat
met die tyd saam muf geword het. En ja, sy sal Christelle gereed maak – op ’n manier wat sy nie ken nie. Ná brekfis nooi Abel vir Henk om gou saam te gaan kraal toe en die twee verkas. Adelien loop langtand kombuis toe, wel wetend dat Anna ook nie gaan swyg nie. “Moenie vra nie,” sê sy toe Anna haar met gevoude arms voor die opwasbak inwag. “Ek weet nie watter een ek wil hê nie.” Die vrou sit haar vingers oor haar mond en skud haar kop. “Jy kan nie al twee kry nie,” sug sy. Maar skielik kom die woorde maklik: “Ja, ek weet ek kan nie. Daar was nog nooit sprake van nie. Ek en Roald het net ’n speletjie gespeel, Anna. Ons wou Christelle help. Daar was nooit iets tussen ons nie.” “Auk …” “Nee, regtig. Ons hou van mekaar, maar dis nie soos met my en Henk nie.” “Auk …” “Regtig. Henk is lief vir my en dis maklik om vir hom ook lief te wees. Sy ma is ook baie gaaf en …” “Gaan julle trou?” Dit skok Adelien tot swye. Maar sy hap ergerlik na asem. “Miskien … en gouer as wat jy dink ook!” Na die duiwel met almal wat iets te sê het, dink Adelien met skielike hipersensitiwiteit. Dis my lewe … Daarmee draai sy om en stap vinnig die kombuis uit. En net vandag, besluit sy, vertel ek vir Henk van my en Roald se simpel, kinderagtige plannetjie om Christelle tot haar sinne te bring. Maar nou moet sy eers die saak van die rok regstel. Sy kry Christelle in haar slaapkamer waar sy tydsaam aantrek – so asof sy iewers heen op pad is. En strykdeur gesels sy met die hondjies wat haar vanuit hulle boks belangstellend dophou. “Sien julle tweetjies nou? Ek gaan stunning lyk. Die coolste van die cool girls!”
Maar dis Adelien wat sien: ’n Wye swart palazzo broek en ’n piepklein toppie wat sensueel span oor Christelle se mooi, vol rondings. Maar dis skandalig ontoereikend; dit verrig nie eens die funksie van ’n goeie bra nie. “Waar was jy aan ontbyttafel?” raas Adelien en druk die kamerdeur met ’n klappie agter haar toe. Christelle kyk nie eens om nie. Sy beskou haarself met gespitste aandag in die spieël. “Was bang ek sê iets verkeerd, my suster. Maar sê jy my nou, wat dink jy van my uitrusting?” “Is dit wat dit is? Laat ek jou vertel, daardie twee stukke lap is die rede waarom ek en Henk hier is. Ons gaan jou later vanoggend terugneem Pretoria toe en sy ma sal vir jou ’n rok maak wat pas. Daardie een pas duidelik nié!” Adelien voel die woede in haar klop en sy moet stadig asemhaal om dit onder beheer te kry. Vandag is die dag wat sy Christelle gryp, sowaar. Sy is moeg genoeg soos wat dit is en haar maag pyn. Senuwees, dink sy. G’n mens kan dit hou met al die drama in die huis nie. Sy loop tot by haar suster en sê gebiedend: “Trek uit en begin pak. Slaapklere en jou tandeborsel en nog iets. Môre bring ons jou weer terug.” “Wát!?” vra Christelle hard en skerp sodat Mietsie ’n bang tjankie gee. Sy swaai so vinnig om dat sy amper haar balans verloor, oë gesper en lippe geklem. “Jy het my gehoor. Daar word al hoeka te lank met jou speletjies gespeel in hierdie huis. Jy kan nie só gewaagd aantrek en terselfdertyd stylvol wees nie! Jy wil tog nie hê Frans moet dink jy probeer aandag trek nie?!” Christelle versteen, trek haar asem rasperig in en staar oomblikke lank verwoed na haar. “Daai … daardie Frans Mahler het niks maar niks hiermee te doen nie! Wat ék aantrek, is my besigheid en …” “Nie vir lank nie!” trek Adelien los. “Daardie uitrusting sal gou almal se besigheid word en dán vir altyd joune wees. Jy sal ewig bekend staan as die girl met die uithang bates! Maar as só ’n reputasie jou pas, het ek niks verder te sê nie!” Tot Adelien se konsternasie vertrek die jongmeisiegesig opeens en sy begin luid snik.
“Maar Adie … Pa het … het klaar betaal en …” “Vergeet daarvan,” paai Adelien dadelik berouvol. “Trek uit en kom. Henk en Pa is seker al terug van die kraal af en ons moet so gou moontlik terug Pretoria toe.” Christelle trek ’n denim en ’n dik trui aan en sê tussen die trane deur: “Ek … is nie heeltemal stupid nie, Adie. Die oomblik toe ek die ding aanpas, het ek geweet dit was ’n … ’n helse blaps! Maar toe moes ek betaal en …” Haar lippe beef weer onbeheersd en Adelien sit gou ’n arm om haar skouers. “Toe nou maar. Sulke dinge gebeur. Dis skade, maar ’n mens kan seker daaruit leer. En ek belowe jou, mevrou Verwey maak die wonderlikste klere.” Christelle skud haar lang hare beslis terug oor haar skouers. “Ek hoop so, want ek wil nie ’n ‘koekerige’ ding aantrek nie, hoor!” “Ek belowe dit sal ’n baie stylvolle, sexy nommer wees!” Maar Christelle laat haar nie sommer tem nie. Sy is nou wel heel gewillig om saam te gaan Pretoria toe – mits Anna persoonlik in haar afwesigheid na die brakkies omsien – maar sy sit heelpad swygsaam agter langs Nomsa. Dié raak ook naderhand maar stil sodat dit net Adelien is wat sukkelend ’n gesprek aan die gang probeer hou. Hulle het van die plaas af weggery toe die kapok liggies begin val en die paaie is reeds nat en ysglad. Henk bestuur met ’n frons van stille konsentrasie, glimlag nou en dan skuinsweg met haar. Sy skrik haar boeglam toe haar selfoon in die sak by haar voete begin triengelieng en vroetel om dit in die hande te kry. “Hallo, Adelien …” Dis Roald en sy stem klink klokhelder, asof die Kaap net om die naaste draai is. “Hallo …” antwoord sy sag, voel haar pols versnel totdat dit net bo haar hals begin fladder. “Weet jy waar ’n mens se kop ophou en sy hart begin?” “Wat?” Haar mond voel droog. Hy lag. “Vang ek jou onkant? Ek sê nou net vir Madelief van Heerden jy’s een van daardie akademici wat so sekuur weet wat in ander mense se binneste
aangaan. Ek kan my voorstel dat jy met ’n speld se punt sal kan druk op die plek waar hul verstand ophou en hul gevoelens begin!” Adelien sit ’n oomblik totaal uit die veld geslaan. Toe kry sy haar asem terug. “Speel jy nou of is jy gewoonweg sarkasties?” “Ag, asof ek ooit sarkasties is! Ek het nogal jou saak verdedig hier!” “Watter saak?” “Wel, Madelief werk nou aan haar meestersgraad in berading en sy reken kliniese sielkundiges sit mense in kassies, hang ’n etiket om, jy weet. Dié ou is depressief, dáái een is gevaarlik en ’n volgende soek dalk net aandag en so aan …” “Louter twak!” “Nee wag, sy sê sy glo meer aan narratiewe terapie. Jy moet net luister en die ander persoon laat praat en praat …” “En dan?” Adelien is teen haar sin gefassineerd al weet sy baie goed waarvan hy praat. Maar sy is soos altyd effens onseker of hy net die gek skeer of dodelik ernstig is. “As daar nou klaar gepraat is?” Hy lag in sy keel. “Wel, dis wat ek en sy nou probeer uitsorteer. Ek leer ook maar.” Daar is soveel tergende spot in sy stem dat Adelien ook maar glimlag. Hoe vat ’n vrou só ’n man vas? wonder sy onwillekeurig. “Luister dan,” spot sy terug, “dat ek my sê kan sê. Ek dink jy is irrasioneel, want jy probeer kies tussen twee vakgebiede!” “Irrasioneel, nè … Is dit dalk ’n etiket? Nee, Adelien, vergeet van vakgebiede. My keuse is baie ingewikkelder.” Hy klink so doodernstig dat sy stom bly sit. “Totsiens,” sê hy sag. “Eintlik wou ek net hoor hoe dit gaan.” “Ek … het nog nie gesê nie,” skerm sy.
“Nie nodig nie. Ek weet …” Daarmee lui hy af. Sy sit die selfoon terug en sien Henk se vraende, sydelingse blik, hoor Nomsa se veelseggende kuggie. “Dit was Roald Henning,” sê sy. “’n Komplekse karakter.” “Ek het mos vantevore van hom gehoor,” sê Henk en stel die ruitveërs vinniger sodat slierte ysreën verby die syvensters swiep. “Dis ek wat van hom gepraat het, ja,” beaam Nomsa. Adelien sit in ’n onthutste stilte. Hoe kan sy in een, kort sin die gesprek liefs afsluit en tog iets oor Roald sê? ’n Benoudheid druk haar vas en haar maag kramp pynlik. Sy het op hierdie oomblik niks lus om enigiets te verduidelik nie. Waarom moes die man juis nóú bel? Maar hulp kom vanuit ’n onverwagte oord. “Meneer Henning gee vir my Afrikaans,” sê Christelle en leun effens vooroor sodat Adelien haar sagte asem in haar nek kan voel. “Hy is ’n liewe mens wat my deur ’n moeilike tyd gehelp het.” “Ek sien,” antwoord Henk, sy oë stip op die reënnat pad. “Ja,” sê Christelle weer, “hy is die soort onderwyser wat ’n mens laat dink dis lekker op skool.” Adelien sug liggies. “Hy is ’n interessante mens. Het altyd een of ander onmoontlike argument wat hy wil wen.” “Wat wou hy nou gehad het?” vra Henk onomwonde. “Wel … hy en sy vriendin, Madelief van Heerden, het gestry oor sekere aspekte van berading. Dit was eintlik laf. Hy … klink vir my baie verlief.” “Vertel my meer van hom,” por Henk. Dis Nomsa wat weer inval en Adelien hou asem op. Maar sy is fyntjies diplomaties. Praat net by monde van wat sy gehoor het by die dorpskinders en by haar ma. ’n Goeie man, een wat alleen woon, ’n lekker onnie, kan grappe vat en so aan. Dis Christelle wat die finale woord spreek toe hulle om die Fonteine-sirkel ry.
“Meneer Henning is werklik iets besonders, van die min mans wat ék ken, wat ’n vrou goed verstaan.” “Ag, asof jy sal weet!” snak Adelien. “O, ek sal! Hy begryp dat ek woedend is vir Frans en dat ek hom op die oomblik haat. Hy het baie mooi met my daaroor gepraat.” Henk glimlag skeefweg. “Hy klink fenomenaal.” En toe: “Julle gaan nou eers by my ma tee drink. Dan kan julle nog ’n draai in die winkels maak. Dis nou eers elfuur!” “En jy dan?” vra Adelien. “Ek het werk op kantoor,” sug hy. “En ek het tyd nodig om te dink.” “Waaroor?” fluister-vra Adelien. “Later,” sê hy net en laai hulle voor die woonstelblok af. “Ek sal jou vanaand om agtuur kom haal.” Dit word ’n heerlike oggend. Sarah ken al die koopplekke en binne ’n ommesientjie het hulle op patrone besluit. Hoe die vrou daarin slaag om twee tieners se modewense met haar eie gesonde leiding saam te snoer, is vir Adelien ’n raaisel. Sarah koop ’n stuk rooi materiaal wat Christelle se asem wegslaan. Dat Sarah ’n slag met jongmense het, is gewis. Sy koop op ingewing sommer vir Nomsa ook ’n knalgeel chiffonlap en nog ’n stuk tafsy waarmee sy belowe om vir haar ’n wonderlike ding vir die huisdinee te maak. Die twee meisies is in die wolke toe hulle weer by die woonstel aankom. Sarah warm ’n pastei op en maak slaai, gesels strykdeur met Christelle en Nomsa en later groet hulle onwillig. Sarah beloof om die rokke so gou moontlik klaar te hê. Dalk bring sy nog self die rok plaas toe, wat. Sy het hoeka lus vir ’n uitstappie. En Nomsa se rok sal weke voor die dinee klaar wees, sy hoef haar nie te bekommer nie. Sarah neem hulle terug woonstel toe en dis eers daar dat Adelien kans kry om Christelle onder vier oë te spreek. “Waaraan het ek dit te danke dat jy tot my redding gekom het toe Roald bel?” wil sy weet. Christelle sak in ’n leunstoel neer, haak haar een been oor die leuning. Sy kyk peinsend na haar suster. “Jy het ’n bietjie speelplek nodig,” sug sy wyslik. “En jy
kan dit seker nie verhelp dat jy nie weet watter man jy wil hê nie.” “Ek weet wel,” antwoord Adelien ergerlik. “Ek is nie ’n kind nie en ek speel nie meer nie.” “Nee, seker nie … Jy is ’n vrou,” sê Christelle en gaap luid. “En dis waarom alles so moeilik is.” Daarmee draai sy skuins met haar wang op die opgestopte leuning en binne oomblikke slaap sy soos ’n baba. Adelien staan haar ’n rukkie lank en betrag, voel die glimlag om haar mond roer en kom gooi haar met ’n reisdeken toe. Chrissie en Nomsa sal mekaar vanaand maar hier moet geselskap hou as sy en Henk uitgaan. En sy sal haar woorde mooi moet agtermekaar kry. Henk het snuf in die neus en hy hou nie van speletjies nie. Sy gaan rus ook en toe sy wakker word, sien sy dat sy byna heelmiddag geslaap het. Christelle sit en televisie kyk toe sy in die sitkamer kom en beduie hoe honger sy al weer is. Adelien stuur haar om pakke tjips en twee hamburgers vir haar en Nomsa te gaan koop en toe sy terugkom, arriveer Nomsa ook vanaf die koshuis skuins oorkant die straat. Die twee maak hulle vredig tuis voor die klein skerm en begin dadelik smaaklik eet. Adelien lag net en gaan stort. Die naweek het sover goed afgeloop. Sarah Verwey is ’n staatmaker. As Christelle nou net haar balans kan hou tot na die matriekeksamen, dink Adelien sugtend toe sy aantrek. Sy wens sy kon vir ’n paar maande op die plaas wees om ogie te hou. En sy wens hartgrondiglik dat sy van die knaende moegheid en naarheid op die krop van haar maag kan ontslae raak. Dis vanaand of dit kramperig is ook. As sy mooi daaroor dink, gaan dit ’n geruime tydjie al so. Maar sy was so besig dat dit nou eers regtig tot haar deurdring dat sy siekerig voel. Dalk is dit weer een of ander uitheemse gogga wat die rondte doen en mense pyn op die maag gee. Een of ander tyd sal sy moet dokter toe. Maar toe sy en Henk eindelik rustig in ’n restaurant sit, voel sy tog beter, en bestel tongvis en slaai. Hy eet heerlik aan ’n dik stuk steak en sy is dit geredelik te wagte toe hy ewe gemoedelik vra: “Vertel my nou alles van hierdie meneer Henning oor wie Christelle so opgewonde raak.” Adelien glimlag stadig. “Jy sal dalk nie glo wat ek jou gaan vertel nie …” Sy begin by die begin: Christelle se verliefdheid op die man, haar eie bekommernis oor die situasie. Hy luister belangstellend, maar sy gesig word al stiller namate die haas-uit-die-hoed storie ontvou. En toe hy praat, klink hy kriewelrig.
“Dink jy nie dit was … wel, effens infantiel om Christelle op só ’n manier te probeer oortuig dat sy nie haar hart op haar onderwyser moet sit nie?” ’n Warm blos stoot oor Adelien se gesig. “Dit was seker kinderagtig, ja,” gee sy styf toe, “maar hou in gedagte dat ek nie daagliks aan haar sy is om haar leiding te gee nie. Dat my pa, dierbaar soos wat hy is, by sulke dinge liefs verbyskuur – en dat ek op daardie oomblik gevoel het dat ek iets moes dóén!” “En Roald? Het hy dieselfde gevoelens gedeel?” “Ek weet nie,” sê Adelien skielik kwaad. “Dit was in elk geval sy voorstel dat ek en hy as ’n … ’n paartjie sigbaar moes wees. Dit sou ’n stelling maak wat Chrissie nie sou kon ignoreer nie. En dit maak tog sin. Hy ken sy leerlinge, Henk, lees hul gemoedere en hy het geweet dat dit Christelle se misplaaste verliefdheid sou demp. Dit het toe ook!” “Ek twyfel nie daaraan nie, Adelien, maar ek besef nou dat hy bepaald ook aan homself gedink het. Want jy … is pragtig. Te mooi om los te loop.” Vir die eerste maal versag sy mond en hy steek ’n hand na haar toe uit. Verligting stu in haar op en sy vat sy vingers vas. “Ek loop mos nie eintlik los nie,” sê sy verleë. “Nee, inderdaad nie,” antwoord hy en druk sy lippe op haar vingerpunte. Daarna praat hy nie weer oor Roald nie en die aand sluit mooi en rustig af toe hy haar gaan aflaai en nag soen. Dis grouvroeg toe hulle en Christelle weer in die pad val terug plaas toe en ’n tranerige Nomsa by die koshuis agterlaat. En van meet af aan, voel Adelien glad nie goed nie. Sy moes holderstebolder was en aantrek om klaar te kry en dis nou eers dat sy besef sy voel ellendig. Sy maak haar oë toe en lê met haar kop teen die nekstut. “Is jy baie moeg, Adelien?” vra Henk bekommerd. “Net vaak,” jok sy. Heelpad probeer sy liefs slaap, maar die pyn op die krop van haar maag is in volsterkte terug en later druk sy met gevoude arms so onopsigtelik moontlik op die plek. Dis toe die motor deur ’n knik in die plaaspad gaan, dat sy hardop gil en vooroor vou. “Help my …” kreun sy. “Help my …”
Hoofstuk 6
Adelien lê die mentgroen paisleypatrone op die gordyn en beskou, is skerp bewus van ’n brandpyn in haar buik. En daar is ’n dun buisie wat vanuit haar arm tot bo in ’n plastieksak kruip. Sy kreun hardop, hoor haarself prewel: “Help my … help my …” “Hulle hét jou gehelp,” antwoord iemand en Henk se gesig swem voor haar oë verby. Sy voel sterk vingers om hare vou. “Jou blindederm het so byna gebars, Adelien.” “Ons moes jaag met jou,” praat Christelle langs haar. Adelien maak haar oë wyd oop sodat sy Pa Abel se gesig langs Chrissie s’n ook kan sien. “Dis … seer …” kerm sy en wil nog sê dat sy mos onthou van die jaery hospitaal toe. Maar sy knyp haar lippe styf toe. “Toemaar,” troos Henk se stem saggies iewers langs die bed. “Toemaar …” Toe sy weer wakker word, skyn die son helder by die venster in en Anna kom by die deur ingestap met Thabu rondeoog en skamper op haar hakke. “Auk, jy het ons laat skrik,” sê Anna. “Jy moet gesond word,” sê Thabu bekommerd, hande agter die rug. “Jou pa is al spookwit geworrie.” “Ag, Thabu …” glimlag Adelien flouerig. “Ek is … so bly om julle te sien. Waar’s die ander dan?” “Proffie Henk moes terug,” beduie Anna, kom trek-trek aan die beddeken om dit glad te kry. “Hy moet loop klas gee. En hy moet reël vir jou klasse ook. Hy’t gesê ek moet sê liefde en soene.” Die vrou smak haar lippe en trek grootoë. “Nou wag ek om te sien wat meneer Henning gaan doen. Chrissie het hom gebel
om te vertel.” “Hy sal niks doen nie,” sê Adelien bot en roer effens, trek ’n gesig toe die pyn weer skerp opvlam. ’n Verpleegster kom in en praat paaiend met haar, stel aan die drup. Anna en Thabu bly nog ’n wyle, vertel ditjies en datjies en maan haar om nou weer te slaap. Maar net na hulle weg is, bel Roald. “Kan jy al praat?” vra hy versigtig. “Nie sonder pyn nie,” spot sy liggies. “Wat … moet ek sê?” “Dat jy beplan om gesond te word!” terg hy. En toe, doodernstig: “Adelien, jy moet jouself oppas. Ek sal eers oor ’n week kan terugkom. My motor lol en ek wag vir ’n onderdeel uit die Kaap enne …” “Teen daardie tyd is ek seker al weer terug in Pretoria,” sê sy en voel skielik swak en tranerig. “Seker,” antwoord hy met koel aarseling. “Nou ja, mag dit goed gaan.” Toe hy aflui, huil sy haar oë rooi en ’n verpleegster dra ’n pilletjie aan. Bernadette bel ook. “Wat laat jy ons so skrik?” “Asof ek dit beplan het!” “Wel … ons … ek en Dirk was regtig bekommerd. Hy sê so ’n blindederm kan ’n mens sommer maklik laat doodgaan.” “Hoe bemoedigend,” brom Adelien. “Ag, Adie … Hy’t dit goed bedoel … Buitendien, Dirk …” Adelien hoor die onseker klankie in haar suster se stem. “Wat van Dirk …?” vra sy skerp en met ’n voorwete wat skrik in haar opjaag. Daar is ’n veelseggende swye. “Ag … dis nou weer als okei. Ons het gepraat en hy verstaan.” “Vir hoe lank?”
“Moenie karring nie, Adie,” antwoord Bernadette opeens weer ferm. “Anders vertel ek jou nooit weer iets nie.” “Ek sal buitendien weet,” brom Adelien, maar Bernadette lag net en groet om af te lui. Drie dae drywe verby. Soms is Adelien koorsig en voel ellendig en dan kom staan dokter Genis met ’n frons langs die bed. Nou en dan kom loer haar pa en Christelle in en Henk bel vier maal om te gesels en mooi woordjies te fluister. Sy laat haar dit welgeval. Hoor en hoor ook nie. Dis of sy ten spyte van die ongemak heel gelukkig is in haar eie wattewêreld. Die vyfde oggend beduie dokter Genis tevrede dat sy maar mag huis toe gaan, maar hy het haar afgeboek vir ten minste drie weke. Ek is van die ou soort, sê hy streng. ’n Operasie is ’n operasie en joune het komplikasies gehad. ’n Blindederm wat wil bars is ’n duiwel van ’n ding. Jy moet jou stil hou … Vreemd genoeg voel Adelien geensins daarna om te protesteer nie. Pa Abel kom haar haal Stille Weide toe en sy lê rustig op die groot hemelbed in haar slaapkamer met die uitsig op die voortuin. Winterbleek is dit wel, maar die spatsels kleur van die immergroen struike en die kobaltblou lug vergoed daarvoor. Die kapokweer is verby. Sy lê ure lank en dink aan niks. Soms staan sy op en stap heen en weer deur die huis vir oefening. Christelle leer elke dag voorbeeldig in die studeerkamer en as Abel tuis is, lees hy rustig voor die kaggel. Baie keer gaan sit Adelien by hom en tuur droomverlore in die vlamme. Hulle drink bekers stomende melkkoffie wat Anna aandra, gesels tot sy voel om bed toe te gaan. Maar dis weer hul ou geselsies wat al om en om hul eintlike situasie karring. Hulle praat oor die Vrystaatse winters wat volgens haar pa al kouer word, oor die nuwe dominee wat beroep moet word en die ou een wat aftree en oplaas oor die dorp se rugbyspan wat weer een van die dae hul jaarlikse braaivleis hier op Stille Weide kom hou. “Gaan Pa net die span nooi of hul meisies ook?” Abel kug-kug soos altyd as hy ongemaklik raak. “Hoe nou …? Haai nee, Adie, my kind, waarna sal dit nou lyk? Die klomp vroumense hier onder my dak!” “My liewe pa uit die Middeleeue!” spot sy en kry ’n verwytende kyk. Maar sy probeer tog weer: “Nooi dan daardie gawe weduvrou wat by tant Hannah van Mooivlei loseer ook saam. Dan’s pa nie die enigste een sonder ’n metgesel nie.
Watse kwaad kan dit nou doen?” “Sy kan idees kry,” brom Abel en strek sy bene strammerig na die rooi kole se kant toe. Hy staan op en buk om met die vuuryster vonke op te jaag, sy skraal figuur vol van die warm lig van die haard. “Los dit, Adelien,” skerm hy kortweg. “Ek soek nie vrou nie. My vrou is dood.” “Ag, Pa …” sug sy. “Ma is al jare der jare weg. En intussen is ons wel hier, maar lyk my ons lééf nie meer hier nie. Stille Weide is tog nie ’n begraafplaas nie, Pa … Kan ons nie maar …” “Ek hou nie van sulke praatjies nie,” kap hy terug, sy mond geset in die ou, koppige trek wat ’n lang, bot swye voorspel. En omdat sy nog swak voel, laat sy maar begaan. Dis of hy haar moedeloosheid aanvoel, want hy praat opeens met ’n skeutjie geesdrif: “Weet jy, ek en Thabu het besluit om tog maar die werf met ’n elektriese heining te laat omspan. Ou Diekie Hanekom sal dit vir my kom doen. En natuurlik, om ’n Marnet-radio te kry. Dis dalk heel onnodig. Maar mens … e … wil maar nie kanse vat nie, weet jy.” “Dis gaaf, Pa,” glimlag sy verras. “Nou sal ek my ook minder kwel oor julle.” “Ja, wat …” sug hy, skielik weer toegevou in sy ou, ondeurdringbare gedagtes. Frons op die voorkop en lang, maer vingers saamgepunt voor hom. Later sê sy net saggies nag en gaan bed toe. Die Marnet-radio word eendag geïnstalleer en nog drie dae later kom Diekie inderdaad vroegoggend daar aan. Teen die aand het hy en sy werkers die groot werf omhein. Dis vir Adelien vreemd om die gorrelrige gekrap van die radio te hoor en sy skrik op elke keer dat haar pa se naam in die gang weerklink. Tot haar verstomming hanteer hy dit ewe knap. Antwoord op die bure se roep en bel ook getrou wanneer hy moet. Dis tog ietwat gerusstellend, dink sy. Maar om by die venster uit te kyk en die hoë heining met die elektriese drade te sien, bly vreemd benouend. Mens moet jou oë effens skreef om deur die bedrading te kyk, besef sy. Die laning populiere en die sandsteenkop is nie meer so oop en toeganklik nie. Dit beklem haar en sy sien Christelle staar ook kort-kort na buite, ’n
bedrukte trekkie om die mooi mond. Waarom, wonder sy bitter, moet ’n mens se vryheid ingeperk word omdat ander mense hulle ongeoorloofde dinge toe-eien? Wat het geword van orde? Of is dit ’n uitgediende begrip? Christelle roer dit ook aan toe sy een middag by haar kom sit en gesels. “Ek hoor Frans se ma-hulle het ook nou ’n elektriese heining en sy loop glo selfs op die werf met ’n rewolwer rond.” “Waar hoor jy?” “Anna sê so. Maar ai, Adie … dat mens darem nou op jou eie plek so onveilig voel.” Adelien sien die kommer in die mooi groot oë en strek haar hand na haar uit. Die meisie kom dadelik, vlei haar teen haar ouer suster aan asof sy beskerming by haar soek. Adelien streel die bos blink hare en sug. “Kom ons praat oor iets anders,” stel sy voor. “Sê my liewer hoe jy regtig oor Frans voel.” Die jong lyf verstyf en Christelle sit orent op die bed, trek haar knieë op tot onder haar ken. Die lang hare val in ’n sluier om haar gesig. “Nie veel nie. Ek het besluit om hom te vergeet. Enige man wat saam met daardie simpel meisiekind na ’n funksie toe gaan, is buitendien vergeetlik.” En daarby hou sy onversetlik, dink Adelien met verstomming en ook ’n bietjie kwelling. Sy protesteer te veel, dink sy dikwels as haar sussie by haar in die kamer sit en kopstukke praat. Maar Christelle is tog ewe vrolik en bring meestal die twee hondjies saam. Dit amuseer en verbly Adelien dat sy so opgenome met die diertjies is. Die twee het al yslik geword net in die tydjie wat sy siek was, besef sy. Hulle blaf al met sulke dik stemmetjies. “Is jy bly oor die honde, sus?” vra sy een middag toe die skadu’s al diep op die stoep lê en die koue tot binne in die huis dring met ’n skerp ysigheid wat haar na ’n woltjalie en nog ’n kombers laat gryp. Christelle se gesig helder op. “Vreeslik!” lag sy. “Dis nog asems op Stille Weide. Hulle laat die plek ’n bietjie lewendig voel. Het jy al gesien dat Pa ook partymaal buk en hulle streel?” Adelien se gemoed skiet opeens vol en sy knik net. Luister geïnteresseerd hoedat Christelle soos elke ander middag lostrek en haar vergas op elke klein detail van
haar dag. Dis of die kind ’n leeftyd se gesels laat opdam het en kwalik kan wag om ’n blaaskans te neem en haar na haar suster te haas. Eenmaal vat Adelien haar hand vas en fluister betraand: “Jy het baie alleen grootgeword, nè, Chrissie?” Hulle staar na mekaar en Christelle skuif tot dig teen Adelien op die bed, druk haar kop teen haar skouer. Toe hulle hulle kom kry, huil hulle woordeloos. Oor hul ma wat te vroeg weg is, oor hul pa wat te lank uit die siel van hierdie huis weg was – en omdat hulle opnuut ontdek hoe lief hulle mekaar het. En hulle huil oor Bernadette wie se hart meestal deurmekaar is. Vier dae voor die skool weer moet begin, daag Roald op. Hy stap Adelien se kamer saam met Christelle binne net toe sy vir haar middagslapie gaan lê het. Sy probeer vervaard orent kom maar hy druk haar sagkens terug, knik vir Christelle wat die deur agter haar toetrek. Adelien kyk op na hom en haar gedagtes kramp saam. Hy het ’n denim en dik donkerblou trui aan, sy kuif is effens deurmekaar oor sy voorkop en sy oë gekneus van die moegheid. Moes seker heelnag deur gery het … Sy sê dit ook. “Heelnag,” beaam hy, maak hom tuis in die stoel voor die venster. “Ek dag jy’s in Pretoria? As Christelle my darem nie laat weet het jy’s nog by die huis nie …” “Wat dan?” vra sy. En wonder: Watse gesprek is dit dié? Daar is geen aanloop nie. Ons sê sommer wat ook al opkom … Hy leun vooroor met sy hande op sy knieë en dit lyk asof daar vlammetjies in sy oë brand so blink hulle. “Dan sou ek eers later gekom het omdat ek sou gedink het jy en die ander man hou mekaar geselskap in Pretoria!” “Roald …” kry sy skor uit en kom stywerig orent. “Ek … daar is ’n ander man, ja. Maar daar was nogal komplikasies met die operasie en daarom …” “Ek weet en ek is jammer … maar dis nié wat ek eintlik wil weet nie!” “Wat wil jy nou eintlik weet?” trek sy opeens los. “Daar is mos Madelief van Heerden, nie waar nie? En buitendien, daar was nooit werklik iets tussen óns nie!” Sy mond sluit ferm en sy donker wenkbroue lig. “Jy het ’n berader nodig as jy dit dink, Adelien! Daar wás iets tussen ons, vanaf die oomblik dat ons ontmoet
het. ’n Vonk, ’n vlam, noem dit wat jy wil, maar moet dit nie ontken nie!” Toe sy nie dadelik reageer nie: “Laat ek nou maar al die geykte dinge sê: Jare lank het ek gewag vir die regte een – en nie gekry nie. En toe kom jy …” Sy leun verslae op haar elmboog, te verstom om woorde te vind. Hy kyk haar ook swyend aan, sit soos ’n beeld, die ylgoue winterlig in kepe op sy wange, in die frons tussen sy swart wenkbroue en opgedam in die kuiltjie van sy ken. En dis of die lug in die vertrek gelaai is. “Waarom … is jy so kwaad?” vra sy oplaas. “En dis kompleet asof jy dit lankal … in jou dra …” Sy lippe roer in ’n skewe laggie en sy oë word byna onherkenbaar sag. “Kompleet …” adem hy half verwonderd. “Die woord het ’n ander betekenis ook. Volkome … ongeskonde, ja. So dra ek dit in my, Adelien. Miskien moes ek eerder gepraat het, jou laat weet het. Van hierdie kwaai gevoel …” Sy swaai haar bene van die bed af, druk met ’n handpalm op haar voorkop. “Ek verstaan jou nie … Ons … ons was maar min saam. Daarby het ons net ’n speletjie gespeel.” “Wat ander dinge verberg het. Dis meestal so tussen ’n man en ’n vrou, sê Madeleine.” “En wat sê sy nóg?” vra Adelien skerp. “Dat ek dit dadelik moes sien kom het.” “Waarom het jy nie?” Hy sug. “Ek sê mos die fout is dalk myne … Daarom het ek my hierheen gehaas. Madelief het gesê …” “Madelief?!” gryp sy die naam opeens. “Wat van haar? Wáár pas sy in?” “Ag ja … Ek en sy kom ’n lang pad. Sy was getroud met my enigste neef. Hy is redelik onlangs oorlede. En sy trek swaar daaraan. Een kindjie ook. ’n Seuntjie. Sy het my soms nodig. Maar daar was nooit iets tussen ons nie. Sy’t nou ’n gastehuis en sy werk, soos jy weet, aan haar meestersgraad.” Totaal geboei, luister Adelien. “En wat het sy nog vir jou gesê?”
“Dat ’n mens wat liefhet, nie altyd net kan wag nie. Hy moet optree ook. Dis net so moeilik …” Die woorde vul die hele kamer, druk teen haar aan. “Roald …” fluister sy. “Ek … ek weet nie wat om vir jou te sê nie.” “Daar’s die professor, ja,” sug hy en staan op. “Ek moet nou gaan. Jammer dat ek jou kom ontstel het.” Hy druk sy hande in sy sye, lig sy kop en sy blik vee moeg oor die tuin waar ’n klompie voëls koulik in die kil middaglig kwetter. Sy staan versigtig op, kom stadig tot by hom. “Jy … het my nie ontstel nie,” sê sy huiwerig en hy glimlag swaar, lig ’n hand om dit sag om haar wang te vou. “Moenie jok nie,” sê hy baie sag. “Jy deins terug van my vanaf dag een.” “Dit was ’n aand …” antwoord sy, vasgevang in die warmte van sy palm. “’n Aand, dan,” gee hy toe en buk onverhoeds, soen haar vol op haar mond. Sy lippe talm en ’n fyn, veerligte rillinkie trek deur haar. Hy laat haar oombliklik los, sy gesig dadelik strak. “Totsiens, Adelien. Ek sal nie weer kom nie.” Hy loop uit en sy hoor sy ferm voetstappe vinnig gangaf gaan. Oomblikke later loer Christelle om die deur. “En tóé?!” “Nie één woord uit jou nie!” sê Adelien gedemp, voel hoe die duiseligheid oor haar spoel en gaan lê dadelik weer. “Gaan weg, asseblief, Chrissie …” “Goed,” skik Christelle haar vir eenmaal en verdwyn. Anna kom ook ’n slag loer, maar sy wuif haar ook weg. Sy bly ure lank so lê. Dis of haar kop stilstaan en haar hart net so suutjies tik-tik. Al die woorde wat nog ooit tussen haar en Roald gesê is, maal deur haar. Sy voel die kolking daarvan in haar binneste. En sy dink ook aan Henk. Liefste Henk wat nooit net aan homself dink nie. Henk wat altyd daar is as sy iemand nodig het. Roald natuurlik ook. Hy is net so hulpvaardig. Maar ánders … En dis juis daardie andersheid … Sy staan later op en haar pa en Chrissie is ooglopend verlig om haar te sien, bring dadelik ’n warm sjokolade drankie en ’n stukkie koek. En sy is die dankbaarste omdat hulle niks, maar niks, uitvra nie. Later die aand bel Henk. Hy en sy ma en raai, Bernadette ook, wil graag die
naweek kom kuier. Mag hulle maar? “Natuurlik,” glimlag sy en draai weg sodat haar pa en Christelle nie die trane in haar oë kan sien nie. Hy beduie dat dit sy ma was wat gedink het Bernadette sal graag wil saamkom en veral sy ma sien ontsaglik daarna uit om ’n slaggie weg te kom. En natuurlik ook om te sien waar die meisie vandaan kom wat haar seun se hart gewen het. “Dis oormôre,” sê Christelle. “O, ek is so bly Bernatjie kom saam!” Pa Abel knik bewoë en bring vir Adelien nog ’n stukkie koek. En toe, vir eenmaal, sug hy: “Ek wens net alles wil nou reg uitwerk.” Adelien steek tydsaam en presies ’n vierkantjie koek af met die vurkie. “Pa bedoel Pa wens ek het vir Roald gekies.” Hy verstil nog meer as gewoonweg. Sy sien dat hy nie eens sy oë knip nie. Toe sê hy byna afgetrokke: “Al wat ek sê, is dat ek destyds, toe ek Jeanette ontmoet het, vir seker gewéét het. Ek het nooit gewonder nie.” Dit word klipstil in die vertrek. Jeanette … Die naam wat in die jare wat verby is, hoogtens twee of drie maal in dié huis genoem is. Sou die noem van hul ma se naam tog op ’n soort genesing dui? wonder Adelien. En Abel kyk stip na haar asof hy met sy oë ’n dieper, dwingender boodskap wil stuur. Een wat sê: ek is hier vir jou, my kind. Meer nog: ek is weer hier vir myself ook. ’n Ontsaglike verligting stoot in haar op: dan is Pa Abel so al skuifelend op die regte pad. Miskien nog met swaar voete, maar dalk tog. “Ek wonder ook nie, Pa,” sê sy net na die lang stilte. Anna maak klaar vir Henk se koms asof daar ’n kerkbasaar voorlê. Melkterte en sjokoladekoeke, ’n romerige rolkoek en pasteie. En toe die gaste opdaag, is Sarah Verwey vol komplimente vir die kok. Sy en Abel het vanaf hul ontmoeting op die breë sonnige voorstoep, skigtig met mekaar geglimlag maar met stywe hoflikheid gesels. Ook Henk is effens swygsaam, sit almal met ’n fyn glimlaggie en betrag, sy arm stewig om Adelien se maer skouers. Dis Christelle en Bernadette wat onophoudelik babbel. En dis eers toe almal kamer toe is na middagete dat Bernadette gou by Adelien kom inloer. “Jy sal wil weet,” sê sy en glimlag wrang. “Ek en Dirk was al weer uit … wel op
’n manier. Maar nou is alles weer reg.” “Vir hoe lank?” vra Adelien sag. Bernadette gooi haar rooibruin hare terug en glimlag breed. “Ek het geweet jy gaan dit vra. Maar weet jy, Dirk het my gevra om baie mooi en baie ernstig oor ons twee te dink. En dis ’n groot stap vooruit.” “Regtig? Waarom moet jy die een wees wat dink as hy die een is wat altyd agterna wonder wat nou eintlik tussen julle is?” “Ag Adelien … Probeer begryp. Ek … is lief vir die man. En ek wil hom ’n kans gee.” “Goed, ek verstaan ,” sê Adelien sag. “ Maar jy sal en hy sal moet werk aan julle verhouding om regtig bymekaar uit te kom. Geluk kom nie op ’n skinkbord nie, Bernadette.” “Seker nie,” sug sy. “Maar, dit lyk tog of Dirk begin verander … Gelukkig is dit eersdaags eksamen. Enne … dan dink ek nooit veel nie, ek swot net. Dis nou een ding, Adie. Ek kan vreeslik gefokus wees, as ek moet … en uithou as dit moet. Want met regte is dit later al wat saak maak. Of jy kan sit en sit en al daai kennis iewers inprop.” “Jy kan mos,” glimlag Adelien. “Min mense kan hulself so geheel en al afsluit soos jy. Dis eintlik wonderlik voordelig vir enige student.” “Hm …” mymer Bernadette en trek haar vingers deur haar deurmekaar bos krulle. “Wel, hoe dit ook al sy … As die eksamen verby is, lê die vakansie voor. Dan kom ek huis toe. Dirk gaan na sy ouers toe in Engeland.” Sy frons en sluk swaar aan haar eie woorde, sien Adelien met ’n flikkering van die ou bekommernis. Die fraai gesig is bleek onder die helder krulle. Maar toe lag Bernadette haar sjarmante, oorrompelende laggie en sê: “Ag wat, nog net ’n jaar dan kom sy ouers terug Suid-Afrika toe en dan sal hy nie meer elke vakansie so rondflerts nie.Vertel my liewer nou eers van jou eie hartsake. Op die oog af lyk dinge baie belowend, nie waar nie?” “Baie,” glimlag Adelien. “Maar ek wil nou rus. So ’n operasie put ’n mens uit.” “Hm … Seker omdat daar komplikasies was.”
En Adelien dink: op meer as een gebied, ja. Maar sy glimlag rustig met haar suster toe sy die deur agter haar toemaak. Dis eers laatmiddag dat Henk kom kyk waar sy bly. “Kom ons gaan stap voordat dit te koud is,” sê hy. “My ma en Christelle en Nomsa is besig om rokke aan te pas. En daar kom opgewonde geluide uit die kamer!” “Ek gaan eers kyk,” lag Adelien en trek solank ’n dik baadjie aan, vat ’n mus. “Hoe lyk dit?” wil Sarah Verwey uitasem weet toe hulle inloer. “Ongelooflik …” sê Adelien verstom. Die vrou is eenvoudig fenomenaal. Sowel Christelle as Nomsa lyk soos voorbleisies. Christelle gloei in die stylvolle rooi rok met sy kort baadjie en wye romp. “Frans sál my raak sien!” sê sy hoogs tevrede. “Hy sal nog vrek spyt wees dat hy saam met daai ander ‘nerd’ gaan!” En Nomsa skitter soos ’n ster in haar geel uitrusting, lag dat haar tande spierwit blink. “Dis regtig besonder mooi, tant Sarah,” sê Adelien. “Hoe kan ons u ooit bedank?” “Wees net bly!” lag die vrou. “Enne … gaan roep jou pa en die ander om te kom kyk.” Bernadette is in ekstase en so groen van jaloesie dat Sarah terstond belowe om vir haar ook ’n rok te maak. Blougroen, om by jou oë te pas … Henk glimlag van oor tot oor en soen sy ma. Dat ek darem ’n doring vir ’n ma het! Vir seker, beaam Adelien weer. Anna slaan haar hande saam en draai jolig in die rondte dat haar bloubont sisrok om haar dik enkels swiep. So wat van mooi, het sy nog nooit eens van gedroom nie. Abel Buitendag steek in die deur vas, sy ou stokkerige self. Maar toe hy behoorlik inneem wat hy sien, blom sy verweerde gesig oop. “Mevrou Verwey, u is inderdaad ’n towerfee!” Towerfee? Henk en Adelien kyk vir mekaar en glimlag fyntjies, sien hoe Abel nader staan en selfs verwonderd aan die sysagte rooi en geel materiale raak. En
Sarah begin sag in haar soet stem met hom gesels sodat hy skeefkop luister, nou en dan knik en nog glimlag. “Kom,” sê Henk, “dis tyd vir ons om te loop.” Hulle stap stadig deur die voortuin en al deur die lang laning populiere waar die vroeë, kil skadu’s al lank rek. “Ons moet nog praat oor Bernadette se gemoedstorms,” sug Adelien opeens. “Ja, maar … Nie nou nie,” keer Henk en trek haar sag nader in kolletjies lou sonlig wat deur die bome syfer. Hy buig sy kop en soen haar sag. “Ek wil oor óns praat, my lief.” Adelien du effens weg, haar hande teen sy bors, sien die vraag in sy oë. “Henk …” begin sy, weet tog nie hoe om aan te gaan nie en draai om om ’n treetjie weg te gee. Al waarvan haar kop nou vol is, is Roald se woorde. Al die woorde wat hy al met haar gepraat het. Veral die storie van vuurhout in die somer. Dis goeie woorde wat baie sê, dink sy en dis of haar kop begin draai. “Henk …” sê sy en voel hulpeloos. “Henk … Miskien verstaan jy vanself, of dalk sal ek moet verduidelik.” Sy gesig raak stil. Hy bly uiteindelik bleek staan, vou sy arms voor sy bors, sy felblou oë by voorbaat droef. Hy het so ’n verskriklike fyn aanvoeling, dink Adelien hartseer. “Kyk,” sê sy sag, “as ’n mens in die somer vuurhout bymekaar maak, sit jy in die winter voor ’n warm kaggel.” Hy frons liggies en haar hande begin fladderend saampraat. “Hierdie winter … is nog koud vir my, Henk. Dis of ek nie warm word nie.” “Is dit ek?” vra hy op die man af. “Bring ek dan geen warmte vir jou nie?” “Tog wel … Maar nie die soort warmte wat … wat my hart laat klop nie.” Sy sien die rou begrip in sy oë daag en hy teug hoorbaar na asem. “Sê jy wat ek dink jy sê, Adelien?” Sy knik, voel haar mond beef. “Ja … Ek praat nie regtig van seisoene nie.”
“Ek weet,” sê hy kortaf, druk sy hande in sy baadjiesakke en kom nader. “Jy praat van ’n liefde wat jy gaandeweg opgetel het, byna sonder dat jy eers weet. En dis hout wat twee mense saam moes optel, anders brand die vuur nie.” Sy knik en warm trane tap opeens oor haar wange. “Jy moet my glo … ek wou jou nooit seermaak nie.” Hy maak sy oë stadig toe en ’n snik glip uit haar keel. Toe sê hy hortend: “Adelien … is hierdie ander man dié Roald Henning?” “Ja, dis hy. Ek … het … hom lief.” Die woorde wat so stuk-stuk kom, laat hom stip na haar kyk en hy knik swaar. “Ek glo jou …” Toe buk hy vinnig en plant ’n soen op haar voorkop. “Waar is hy nou?” “In sy huis op die dorp,” sug sy en vee haar wange droog. “Kom, ek vat jou soontoe,” sê hy met soveel beslistheid dat sy verstom opkyk. “Nee maar … Wil … jy dan nie nog praat nie?” “Woorde sal niks verander nie. Ek wil jou eerder help om jou hout by syne te sit. Dan kan julle die winter brand maak.” Sy snak liggies, raak aan sy bleek, stroewe gesig. “Jy … is die beste vriend wat ’n mens kan hê!” sê sy die geykte woorde en bedoel elke liewe een. Hulle sê min vir die ander, net dat Henk haar na Roald Henning toe vat. Abel se gesig vul met ’n soet tevredenheid en dis hy wat Sarah sag wegwink sitkamer toe om voor die gloeiende kaggel ’n lang verhaal te vertel. Christelle glimlag breed en ook Nomsa kom druk Adelien se arm. Anna knik net en bied aan om vir Henk koek en koffie te bring as hy terugkom van die dorp af. Dis Bernadette wat lig aan sy arm kom raak en ietwat ontydig maar tog opreg sê: “Jy is nog baie welkom hier, jy weet mos, nè.” Hy knik net swyend en loop wag buite op die stoep totdat Adelien uitkom, mooi aangetrek in ’n hemelsblou wolrok met byende jas. Haar hare blink geborsel
en in sagte krulle op haar skouers. Om haar ’n fyn geur van jasmyn en rose en ’n titseltjie warm vanielje. Op pad dorp toe heers ’n strak, byna onpersoonlike stilte. Oor die radio sing Barbra Streisand en Bryan Adams “I finally found someone” sodat Henk dit vinnig af sit. In die stil straat voor die huis met die twee spits gewels, hou Henk stil soos Adelien beduie het. Die sitkamer se lig is aan, sien sy. “Mag dit goed gaan,” sê hy toonloos en sy druk net sy arm, klim so gou uit as wat haar nog stram en pynlike spiere haar toelaat, hoor hom stadig wegtrek toe sy die boonste stoeptrappie bereik en haar hand na die klopper toe uitsteek. Toe Roald oopmaak, val die portaallig onverwags helder op haar sodat sy haar oë knipper. Maar toe sy mooi kyk, sien sy dat hy skoongeskeer is, kuif gekam en ’n vae sandelhoutgeur kom haar tegemoet. Net sy oë is nog moeg asof hy lank nie genoeg slaap ingekry het nie. Sy mond gaan stadig oop. Die mooi, ferm mond wat haar so teer gesoen het … Sy wil naand sê en vra hoe dit gaan en praatjies maak om die wonderlike, wilde emosie te verdoesel, maar sy kan nie. Dis hartstog, besef sy vaagweg. Hartstog en vuur en liefde. En dit mag nooit, nooit uitbrand nie. “Ek het hout gebring,” sê sy en haar stem klink helder. Hy trek haar aan haar mou binne, maak die deur agter hulle toe en kyk gespanne na haar. “Waar kry jy dit?” vra hy hees en haar hart skop onbeteueld. “Bymekaar gemaak,” antwoord sy tog heel bedaard. “Al die kere dat ons gepraat het en dat ek aan jou gedink het … en dat ek gehoop het jy dink ook aan my.” Dit lyk asof hy haar woorde in sy kop omrol om seker te maak hy hoor mooi. Toe sit hy ’n arm om haar skouer en stap stadig met haar sitkamer toe. Dis yskoud in die vertrek. Die kaggel is morsdood, sien sy. “Sit,” sê hy luiters. “Ek bring glasies port en ’n paar stukkies biltong.” Sy maak so en verkyk haar met halfoop lippe aan sy ranke lyf met die breë skouers. Hoedat hy uit die jonkmanskas twee fyn kristalglase haal en die diep pruimrooi wyn inskink. Hy gee hare aan en verdwyn ’n oomblik om die biltong in ’n blou porseleinbakkie te bring. Hy glimlag stadig met haar, hurk en begin die kaggel aanpak. Toe die vuur opvlam, speel die koper lig oor sy gesig en die donker hare wat in sy nek krul. Hoe kon ek dit nie geweet het nie? wonder
Adelien en klamp haar hande saam om die heerlike, soete duiseling in toom te hou. Hy is my hart. Sy mond en my mond praat dieselfde taal; ons harte kleef aan mekaar. Toe hy langs haar op die bank kom sit en plegtig met haar glasies klink, beef haar binneste so dat sy amper stik aan die volronde, soet wyn. Sy sluk net klaar toe hy weer die glasie vat en haar met een haal teen hom vastrek sodat sy ’n effense steekpyntjie op die snyplek voel. Maar dis niks, niks … Sy hou haar mond vir hom met soveel gretige oorgawe dat hy sag in sy keel lag en haar hartsdriftig soen totdat sy haar arms om hom slaan en haar hande met seker, ievolle hale oor sy rug vryf en haar vingers eindelik vasklamp agter sy nek. “Ek het dit mos geweet,” sug hy teen haar wang. “Waarom het jy nie dadelik gepraat nie?” troef sy glimlaggend. Maar hy is reg met ’n antwoord, soos altyd. “Ek was te bang … en jy was nie juis vatbaar vir onbeplande emosies nie.” Hy lig sy kop om in haar oë te kyk. “Wanneer het jy nou eintlik besluit dat jy jou so roekeloos aan jou hart gaan oorgee?” “Seker lankal al,” bieg sy. “Maar my verstand was blind.” “En nou?” vra hy en sy stem is tog effens onseker. Sy stoot haar vingers deur sy kuif en vat sy kop sag vas. “Nou weet ek dat ek nooit weer my brein sal kan programmeer om ewe koel een man teen ’n ander op te weeg nie. Want dis net ek en jy op hierdie planeet. Dis soos jy vroeër gesê het – ons het mekaar met ’n oogopslag herken …” Sy vee speels met haar vinger deur die kepie in sy wang. “Moet ek my pos in Pretoria opgee, of wat?” “Nooit,” sê hy. “Ek wil verder studeer in die opvoedkunde en … en ek het klaar aansoek gedoen vir ’n pos by ’n seunskool in Hatfield.” Hy vee sag met sy lippe oor hare. “So desperaat was ek, my Adeliefie!” Adelien voel hoe die geluk van môre en oormôre teen haar kom aan druk toe die kole pers word en die port min. “Ons gaan dikwels hout optel, ek en jy … Daar sal altyd vuur wees,” sê sy en sien dat hy volkome verstaan.
Bernadette
Hoofstuk 1
Die wekker skril haar wakker. Sy kom swaar orent, maar die moegheid wat saam met haar gaan slaap het, druk haar op die matras terug. Sy gaap diep en stadig, maak haar oë weer toe. “Koffie …” mompel Dirk en stoot-stoot tergerig met sy knie aan haar heup. Bernadette bly aspris lê, voel ’n wrewel in haar opstoot. En sy dink met haar oë nog toe: Só vroeg in die môre, pas uit die newelland, is ’n mens se emosies naak. Jy lieg nie vir jouself nie: Dis ’n koue, kwaai wrewel hierdie. Dis nie die gewone ergerlikheid omdat sy ooreis en deur die slaap is nie. En – dis elke oggend erger. Maande lank al broei dit in haar: Hierdie taai onwilligheid om te maak soos Dirk sê. Die teësin om deur die soet van sy sexy stem, die sagte sekerheid van sy aanraking oorrompel te word. Keer op keer. Soos ’n ding wat nie ’n wil van sy eie het nie. Hy por haar weer met die knie en dié slag pluk sy haar om op die ander sy. “Loop maak self …” sê sy opeens wat sy al lankal wou sê en luister geskok na haar eie woorde. Daar is ’n hoorbare stilte. “Hei … Wassit dan nou, my poppie?” Daar loop heuning deur die woorde. Die stem koester haar. En die ou, bedrieglike warmte kruip deur haar stilgeslaapte ledemate. Ek wil nie, dink sy half paniekerig, ek sál nie … Sy draai haar gesig in die kussing. Toe voel sy die bed effens wieg soos wat hy orent kom en nader leun. Sy hand streel oor haar hare, haar nek, haar blaaie en glip oor die skouerknop na haar hals en bors. “Poppie … my poppie,” fluister hy en toe skuif sy hele liggaam stadig en sensueel oor hare totdat hulle mond op mond, bors aan bors lê. Hoe is dit dan, dink sy later toe sy staan en koffie maak, dat ek so ’n ou póppie
is? Waarom kan ek nie my man laat verstaan nie dat ek soms moeg is en … afstand nodig het? Dat daar wel toorkrag in sy hande is, maar dat hulle soms iets in my binneste wegvee. Dat daar al minder van die Bernadette wat ek ken, oorbly … Darem nie, paai sy haarself futloos, vou die satynjaponnetjie stywer om haar lyf, haal die bekers uit om koffiepoeier in te gooi. Tog wel, praat die stemmetjie wat hom deesdae altyd uit haar gewoonlik geordende gedagtes loswoel. Jy is nie meer jy nie. Waar is die Bernadette wat leiding gegee het op universiteit, wat haar eie kop gevolg en jubelend geleef het? Sy het sat geword. Sát. En oud voor haar tyd. So voel dit. Sy sit die ketel af, maar voordat sy dit optel om die kookwater in die bekers te gooi, plaas sy haar hande in ’n oneindig afgematte gebaar oor haar oë. Stil, sê sy vir haarself. Stil nou … Jy moet gaan werk. Hof toe gaan saam met mevrou Du Buisson. Sit en aanhoor hoedat mense mekaar onder die wakende oog van die landdros aan die keel gryp omdat hulle nie langer saam kan of wil lewe nie. ’n Verskriklike sufheid stoot in haar op, maak haar bene lam sodat sy ’n oomblik met haar arms op die kombuistoonbank druk. Toe die bewing in haar verstil, vat sy die skinkbord kamer toe. Dirk lê tevrede terug teen die kussings, glimlag lui toe hy die beker koffie aanvat en sit dit op die bedkassie neer. Net toe sy ook haar beker neergesit het, rol hy skielik om, vat haar speels om die middel vas en soen haar talmend in haar nek. “Wil jy nie maar bly nie? Ek het so selde ’n ou daggie af …” Skuld steek deur haar. Dis waar. Vandat hy as dokter by Baragwanath Hospitaal vir sy diensjaar begin werk het, het die lewe hom rondgerol soos ’n ertjie op ’n bord. Hy ry elke dag heen en weer op ’n stampvol hoofpad, soms slaap hy selfs oor of werk sommer agt en veertig uur en langer aanmekaar. Dis nie dat sy dit nie verstaan nie. Maar sy skud haar kop heftig. “Ek kan nie, Dirk.” Sy woel haar los, druk sy arms weg. “Jy weet dis onmoontlik.” Sy glip van die bed af en verdwyn in die badkamer. Toe sy haar kom kry, sluit sy die deur. Sy staar versteen na die slot, toe steek sy haar hand stadig uit en sluit dit geluidloos weer oop. ’n Rillinkie trek deur haar. Dis sal nie deug nie. As ’n vrou eers die deure tussen haar en haar man begin sluit …
Maar toe sy kant en klaar aangetrek langs die bed bly huiwer, slaap Dirk asof hy nooit wakker was nie. Sy blinkbruin kuif is platgedruk in die kussing en sy mond is effens oop. ’n Skielike spyt prik deur haar. Hy is darem maar ’n mooi ding, soos wat Christelle altyd ewe ongeërg beduie. ’n Rêrige mooi man. Van die soort wat vroue omkyk-omkyk laat loop. Bernadette druk die punt van haar voorvinger teen haar lippe en streel sag oor sy oop mond. Maar hy roer skaars. As sy nog iets wou sê, besef sy, moes sy dit al gesê het. Nou is die oomblik verby. Dis nou van Dirk: as hy slaap, is al die ligte uit. Salig soos ’n kind. En hy gaan nou heeloggend slaap, en dan afsak Hatfield Square toe om die middag daar by ’n sypaadjiekafee te verwyl. En vanaand sal hulle seker uitgaan, want hy het môreoggend ook af. Moet eers môremiddag teen twee-uur weer by die hospitaal wees. Toe sy by die voordeur uitgaan, sluit sy. Die ysterhek ook. En steek toe in haar spore vas. Die twee potte weerskante van die wit ystertraliehek is weg. Net verlede week het sy twee fraai, gefatsoeneerde boompies daarin geplant. Dit bevredig my behoefte aan ’n tuin, het sy nog effens verleë verweer toe Dirk haar daaroor geterg het. Wat grou jy so in die grond? wou hy weet toe hy oor haar buk waar sy in die potte aan ’t grawe was. Jy plant verniet! het hy gelag. Die studente gaan dit gaps. En nou hét hulle. Daar is net twee ronde, klam kolle op die plaveisel oor. Sy is lus en bars soos ’n kind in luide snikke uit. Toe sy wegstap, beef haar onderlip. Sy loer werktuiglik in die posbus, haal verbaas die wit, opgevoude papiertjie uit maar vou dit eers oop toe sy al in haar motor sit. “Sorrie,” staan daar, “maar my meisie wou een hê en ek kan dit nie bekostig nie! Net ’n vragie: waarom boompies en nie blomme nie?” Die briefie begin ritsel so beef haar vingers. Sy smyt dit op die asiersitplek neer en druk haar hand krampagtig oor haar mond. Trane drup oor haar wange soos wat sy huil. Die bees! Die onopgevoede, barbaarse … studént! Dis juis omdat hulle so aan die spul studente uitgelewer is hier in Hatfield! Dis omdat Dirk nie wil hóór nie! Hulle kon twee jaar gelede, ná hul troue, maar liewer in die nuwe ooste van Pretoria gaan nesskop het. In een van Moreleta Park se vele veiligheidsdorpies. Sy wou in die eerste plek nie hier kom bly nie. Dis ’n tipiese
studente omgewing en … Wat daarvan? wou hy bra koel weet. Dis mos lekker. As ek van die hospitaal af terugkom, kan ’n mens weer ’n bietjie lééf, my poppie! Saam met die klomp jol, en so aan. Bernadette loer na haar polshorlosie en gee ’n laaste desperate snuif. Nou is sy nog laat ook. En dit is Dirk se skuld, besluit sy vies. Dit óók. Wat presies die “ook” insluit, wil sy nie nou op ingaan nie. Dis weer daardie wakkerwordgevoel van haar: ergerlikheid en nog iets wat bitter en stekelrig is. Sy ry so vinnig as wat die druk verkeer haar toelaat na die prokureurskantore in Brooklyn, parkeer skeef en storm agterom die huis wat as kantore ingerig is. Die vrou in die kombuis kyk skuinsweg op, skud net haar kop. “Hulle soek na jou. Mevrou Du Buisson het al geskel op jou.” “Ag Historina, moenie nog praat nie!” sug sy net en stap deur na die piepklein kantoortjie wat sy agter in die huis met een van die ander jong prokureurs deel. Johnnie Smit is reeds by sy lessenaar en lig net wenkbroue toe sy verby hom druk om by haar stoel en tafel uit te kom. “Môre,” groet hy droogweg. “As ek jy is, loop maak ek my aankoms bekend in die hoër sfere.” “Praat Afrikaans, Johnnie,” hap sy. “En moenie koorsig raak nie. Ek weet wanneer om wat te doen.” “Oukei, oukei,” lag hy. “Maar berei jou emosioneel voor. Jy het vergeet om die verweerder in die Swanepoel-saak te skakel.” Skrik spring in haar op, maar sy speel tog half geïrriteerd saam. “Wees getroos, goeie vriend. Ek is gepantser.” Sy ken Johnnie ook al jare. Het saam klas geloop. Hy sal aanhou karring totdat sy afblaas, dis seker. Sy bel gou die verweerder in die genoemde saak en blaai toe vinnig deur ’n klompie lêers, vat wat sy nodig het en waai net vir Johnnie toe sy uitstap.
Mevrou Du Buisson is inderdaad kilkwaad toe Bernadette haar kantoor binnestap. “Werk jy nog hier of verbeel ek my maar net?” wil sy weet. Haar swartgekleurde kapsel lyk asof dit krul vir krul styfgelak is en haar lipstiffie is ’n gevaarlike knalrooi. Jip, dink Bernadette teen haar sin geamuseerd. Vanmôre gaan ons mos hof toe. Die handskoene is af en die naels is byvoorbaat uit. “Ek is werklik jammer, mevrou, dit sal nie weer gebeur nie.” “Natuurlik sal dit.” En met ’n skielike frons: “Is jy swanger, of wat?” Die vraag klap Bernadette byna om. En die antwoord glip in ’n woedende wedervraag uit: “Wat op aarde laat u dit dink?” Die vrou staan op uit haar stoel, vat haar aktetas vas en lig dit met ’n kenmerkende haal van haar arm van die lessenaar af. “As jong prokureurs wat soms korterige rompies dra eers begin vergeet en boonop soggens laat kom, kan jy maar weet.” “Tien uit tien vir logika,” antwoord Bernadette koud, skrik amper haar asem weg toe die vrou se oë begin vlam. Sy lig albei haar hande borshoogte en stamel: “Ek … is jammer … en om u vraag te beantwoord: Nee, ek is nie swanger nie en dit sal nié weer gebeur nie!” Oomblikke lank kyk die twee vroue mekaar waterpas aan. Toe lig-lig mevrou Du Buisson se skouers in die duur vlootblou tweestuk maar sy sê net: “Kom, jy weet mos landdros Gericke gooi sommer sake uit as die prokureurs laat daar aangesit kom.” In haar duur Duitse motor draai die vrou na haar toe, kyk haar aan met daardie stipte blik wat al menige kliënt sy hartsake onverhoeds laat uitblaker het. “Is jy gelukkig getroud, mevrou Joubert?” Natuurlik, wil Bernadette sê. Ons is mal gelukkig … “Ons het ons oomblikke,” antwoord sy effens stywerig. “Veelseggend,” antwoord die vrou net en skakel die motor aan.
Wat makeer my? wonder Bernadette. Dirk is lief vir my en ek is lief vir hom. Wat meer kan ’n vrou vra? En tog, mevrou Du Buisson was nie sonder rede sarkasties nie. My antwoord was geheel en al niksseggend: Ons het ons oomblikke … Wat is dit nou veronderstel om te beteken? Hoe is dit dan tussen daardie oomblikke? Vaal of bloot koud? Sy self weet nie mooi wat sy daarmee bedoel het nie. Die dag draal eindeloos om. En dis nie dat sy nie werk nie. Sy moet in elk geval elke oomblik stip konsentreer. Dis in haar hart dat dit lol. Sy is voortdurend bewus van ’n onderliggende ongelukkigheid wat swaar, soos gruis in troebel water, in haar lê. Dis kompleet of sy dit nie helder gedink kry nie. Of dit weer wegsak die dieptes in nes sy dit in woorde aan haarself wil opklaar. Die dag word ’n eindelose opstapeling van lêers, moeë gesigte, tranerige vroue en verbete argumente. Mevrou Du Buisson moet haar twee maal liggies aan die arm stamp om haar aandag in die hofsaal te kry. Dis of haar kop wollerig is en sy baie hard moet konsentreer om sin te maak uit al die gegewens. Ek is jammer, fluister sy eenkeer toe die vrou frons. Daarna bepaal sy haar met moeite by wat in die hof aangaan en raak tog teësinnig geïnteresseerd in die lotgevalle van elkeen wat voel hy of sy kan nie ’n oomblik langer aan ’n spesifieke wederhelf gebonde bly nie. Hoe voel dit om tot op daardie mespunt te vorder? wonder sy soos baie male vantevore. Sy is tot in haar murg moeg toe sy eindelik ná ses by die huis kom. Dirk sit vars en uitgerus en wag vir haar. Ontwrigtend aantreklik in sy jeans en ’n modieuse swart hemp. Hy spring energiek op uit die leunstoel voor die televisie. “Hallo, my pop!” groet hy en trek haar nader vir ’n hartstogtelik soen. Soos altyd, wis sy omhelsing terstond amper al haar gedagtes uit. Ten spyte van haar moegheid en die opgehoopte frustrasie wat die werk meegebring het, sit sy haar arms om sy nek en soen hom terug. Dis een van dáárdie oomblikke, dink sy in haar agterkop. Ons het tog wel baie sulkes. “Maak gou, Piet-hulle wag vir ons by die Irish Pub,” sê Dirk en sak weer in die stoel neer, sy oë dadelik weer vasgenael op die klein skerm waar ’n wulpse model lipstiffie adverteer wat nie afgee aan ’n man se mond nie.
Daar gaan die oomblik! dink Bernadette wrang. Dis waarom dit ’n oomblik genoem word: net ’n spikkel in die tyd. ’n Vrou moet seker tevrede wees daarmee … Haar hare waaier terug asof sy iets uit haar kop wil skud, maar sy glimlag net. Gaan sit haar tas neer en stroop haar klere af, klim in die bad om die dag af te was. Sy lê ’n rukkie terug in die geurige skuimwater en hoor opeens weer die een vrou vir die landdros sê: “Die Here weet, ek kan nie meer so aangaan nie. Hy weet nie dat ek ook ’n mens is nie.” Rou woorde uit ’n goedgegrimeerde mond. ’n Stylvolle, blonde vrou geklee in ’n ontwerpersuitrusting en goue kettings om haar nek, pêrels in haar ore. Hoe is dit dan, wonder Bernadette ontstemd, dat daar op die oog af soms geen gebrek is nie en tog is daar die vreeslikste armoede? Want daar was naaktheid, gestrooptheid in daardie vrou se ligblou oë. Die warm badwater het haar loom gemaak en sy sug toe sy uitklim, droog tam af. Haar blik vang onverhoeds haar skimmige, melkwit lyf in die toegewasemde spieël. Sy tree nader en vee die oppervlak met die handdoek af tot dit helder is. Staar stip. Die rooibruin hare wat in nat krulle aan haar nek klou, die smal skouers bo die vol borste, die effens wyer kurwe van haar heupe. En sy sit haar hand vlugtig op haar buik. Dank vader, dink sy, dat dit waar is: Ek is nie swanger nie. Maar toe sy in haar blougroen oë kyk, sien sy ’n soort wrang verslaenheid daarin. Waarom skram ek daarvan weg? wonder sy. Ek praat nie eens met Dirk daaroor nie. En hy het dit self nog nooit juis aangeraak nie, besef sy met ’n sinkende gevoel. Enige woorde oor ’n moontlike nageslag van ons twee lê nog altyd onder op die bodem van hierdie verhouding. En miskien is dit net ek wat dit ooit ’n vlietende gedagte gee. Ek raak geïrriteerd as mense speels vra wanneer ons dan met ’n gesin wil begin. Soos vanoggend toe ek sarkasties was met mevrou Du Buisson. Sy het dit wel seker verdien, maar dis soos wat ek altyd reageer. Ek het selfs Adelien se kop afgebyt toe sy nou die dag wou weet wanneer daar dan ’n klein Joubertjie kom … Maar nou ja, Adelien sal wel so ’n vraag in naïewe goedgelowigheid vra. Háár lewe het immers die substansie van ’n feëverhaal. Eers die romantiese driehoek, toe die regte man op die regte tyd liefgekry, getrou met hom, woon in ’n snoesige voorstedelike huis met ’n teëldak en ’n swembad. Daar is tot ’n lowerryke boom in die erf. En noudat klein Robert sy opwagting gemaak het, is alles perfek. ’n Mens kan al amper sê: En hulle het vir altyd en altyd gelukkig saam geleef.
Trane stoot brandend op in haar oë sodat sy hulle vervaard knipper. Wat is dit tog met my? wonder sy desperaat. Ek gun Adelien al die geluk in die wêreld. Liewe hemel, ek is verskriklik lief vir my twee susters. Dis net … dat Adelien se lewe, veral, so gladweg verloop. So storieboek voorspelbaar. Sy en Roald wat nou albei hul doktorsgrade behaal het, poste as dosente aan die universiteit het, op die koop toe ’n lieflike ou seuntjie ryker geword het – en so ooglopend gelukkig is. Dis amper onwerklik. Dan is Christelle ook nog, oënskynlik altans, met die spreekwoordelike goue lepel in die mond gebore. Sy kom altyd bruisend van geluk voor. Dis of sy haar nis in die lewe gevind het. Sy, wat altyd aangepor moes word om te leer, het skielik vlam gevat noudat sy ’n senior mediese student is. En sy het stringe kêrels. Ek hou van myself en daarom hou mans van my! het sy ewe guitig geantwoord toe Bernadette haar eendag daaroor skrams berispe het. Maar te veel mans hou van jou, Chrissie … Dink jy nie dis tyd dat jy jou by net een bepaal nie? Wátter een? Nee wat, Bernadette, ek het baie vriende en tussen hulle is daar nie ’n spesiale vriend nie. Nóg nie. Wat van Frans Mahler dan? wou Bernadette vra. Maar anders as met Adelien wat vir haarself die reg as oudste toe-eien om gedurig in haar susters se lewe te delf, is dit of iets haar mond oor die man snoer. Sy weet tog wel dat hy die laaste twee jaar van sy mediese studies in die Kaap deurgebring het en nou iewers in Engeland praktiseer. Maak glo sakke vol ponde. So het Anna vertel wat dit weer by Mieta, die Mahlers se huishulp gehoor het. Wou glo bietjie wegkom en toe twee van sy vriende die skuif maak, is hy saam. Christelle het glo net een skouer gelig-lig toe sy daarvan hoor. Aldus Anna. Maar dit is tog of haar jongste suster met groot gemak deur die lewe seil. Dalk hou sy ’n front voor, maar al is dit ook so, is dit goed om ’n skans van ongeërgdheid te hê. Miskien salf dit die binneste rouheid ook weg. “Ek beny jou …” fluister Bernadette opeens hardop en skrik vir haar woorde. Ek behoort niemand te beny nie, dink sy. Bernadette Joubert, prokureur en getroud met slim dokter Dirk, die mees bewonderde man op kampus. Stééds. En dis juis die punt. Sy ongebreidelde studentwees moes al versink het in ’n groter volwassenheid. Sy briljantheid en sy aangeleerde bekwaamheid moes hom al geskool het tot ’n ryp besinning. En al besef hy dit skynbaar nog nie – besef sy
vrou dit terdeë. Dit het ’n ding geword wat aan haar siel knaag. Dis of sy wag en wag dat daar iemand ánders uit Dirk-die-student te voorskyn moet kom. ’n Ryper mens, ’n besadigder man, ’n meer deernisvolle eggenoot … Bernadette maak haar oë styf toe. Wat dink ek? wonder sy. Wat dink ek tog …? Sy draai weg en gaan deur kamer toe om aan te trek. Die kort swart nommertjie, besluit sy. Dirk is gek daarna. Miskien is dit al ’n bietjie koel daarvoor, maar wat, sy sal maar die lang groen jas saamvat. Sy blaas haar hare droog totdat dit in ’n swierige, rooiblink wolk om haar kop staan, sit koperrooi lipstif aan met olyfgroen oogskadu en maskara aan haar lang wimpers. Sy tik ’n bietjie van Thierry Mugler se engelagtige parfuum agter haar ore en in haar hals. Die soetwarm vanilla- en sjokoladegeur omgeef haar sodat sy behaaglik snuif. Dis jammer, dink sy dofweg, dat ek so min lus het om uit te gaan. Ek wil eerder by die huis bly en vir ons springmielies maak wat ons eeneen uit ’n bak voor die televisie kan sit en pik. Maar dit, weet sy uit ervaring, is net nie moontlik nie. Nie met háár hiperaktiewe man nie. Dirk wil altyd en heeltyd elke druppel genot uit elke liewe oomblik put. Hy wil uit na waar die wêreld oopmond skaterlag. Haar oog gaan vir laas krities en effens senuagtig oor haar beeld in die lang spieël. Piekfyn. Stylvol en sexy soos wat hy daarvan hou. Dirk se gesig sê eers alles – en toe kom die woorde: “Hel, ek bly sommer tuis!” En op die impuls van die oomblik sê sy half smekend: “Nou kom ons bly dan …” Sy mond pluk in ’n laggie maar sy donker oë vernou. “Nee wat, dis nie nou die tyd nie. Toe ons moes gebly het, wou jy gaan werk!” “Ek móés gaan werk, jy weet dit tog!” Sy voel die bloed na haar kop bruis, so kwaad en gekwets voel sy. Maar hy gooi sy kop agteroor en lag net, trek haar stram, terughoudende lyf nader. Met sy lippe teen haar wang, fluister hy: “Moenie so gou kwaad word nie, vlamkop! Kom ons gaan geniet die aand. Piethulle wag al. Sarinda kom ook. Lyk my dié twee het trouplanne.” “Regtig?” vra sy geïnteresseerd en loop vooruit toe hy die deur vir haar oophou.
Sy hou van Piet en Sarinda. Piet is so gelukkig om sy diensjaar by die Pretoriase Akademiese Hospitaal te doen waar Sarinda teatersuster is. Toe hulle by die Irish Pub se deure instap, is die plek reeds byna oorlopens toe vol. Kan ook nie anders nie, dink Bernadette, daardie student met die warm altstem en uitdagende lirieke sing mos weer vanaand hier. Maar Dirk moet ’n tafel bespreek het, want hy stuur haar deur die menigte na ’n tafel in die hoek waar Piet-hulle reeds wag. Sarinda is ’n stewige, aantreklike meisie met kort, donkerbruin hare wat sy in ’n steil kenlengte bob dra. Sy lag en waai toe sy hulle sien. Piet waai ook en leun oor om Sarinda te klapsoen. Hulle pas goed in by die jolige jongmensgeselskap, sien Bernadette. En die ou onwilligheid om deel te neem, kom weer oor haar. Dis nie dat sy ’n pretbederwer is nie, dis net dat sy dalk al grootgeword het, besluit sy. Die histeriese gelag van ’n groep studente in die verste hoek laat haar gesteurd omkyk. Halfpad na hul tafel toe, gryp iemand haar aan die arm. Toe sy afkyk, lag Nomsa vir haar met haar spierwit glimlag. By haar is ’n skraal, baie donker man wat skugter saamlag. “Hoe gaan dit?” wil sy weet. “Sharp!” sê Nomsa. “Ontmoet vir Pedro. Hy is van Maputo!” “Aangename kennis! Swot jy ook hier?” Nomsa antwoord onmiddellik namens hom: “Hy swot nie, Bernadette. Hy … hy is ’n kelner by daai nuwe Griekse restaurant in Duncanstraat.” Haar bruin oë daag Bernadette uit om iets te sê. “Ek sien,” antwoord sy paaiend. Glimlag met die man wat haar bedug sit en aankyk. “Ek en Dirk het al daar geëet. Hulle het baie lekker kos.” Toe tik sy Nomsa op die skouer. “Jy moet kom kuier. Jou ma vra baie uit na jou as sy my bel.” “Dis waarvoor ek bang is,” mompel Nomsa, maar knik net. Toe Bernadette by die tafel kom, sit Dirk al, en nog twee van sy ou studentemaats het bygekom en stoele nader getrek. Hans Degenaar en Gerrit van Jaarsveld, sien sy, ’n ou skool- en studentevriend van Dirk. ’n Lang man met ’n vaal, weerlose kuif. Hy vang haar oog en wuif vriendelik.
“Haai,” groet hy en sy blou oë agter die moderne bril skuif stadig oor haar. Toe knik hy sy kop goedkeurend. “Haai,” groet sy saggies terug. Aangename mens, dink sy soos altyd, en gaan sit langs Dirk. Sy blik bly nog ’n rukkie op haar, maar die geselskap sny dadelik in hul vakgebied in. Hulle is almal dokters in hul hospitaaljaar en Dirk en Piet en dié twee ouens sit later koppe dig bymekaar en praat smaaklik oor stukkende ledemate en verflenterde bloedvate. Piet beduie sappig en in fyn detail dat hy Saterdagaand heelwat ouens moes toewerk wat messteke en ander wonde opgedoen het. Een is selfs met ’n voorhamer op die voorkop gekap. Sy beskrywings is so grusaam en grafies dat Bernadette ril. Sarinda skud ook net haar kop, maar glimlag onverstoorbaar. “Ag wat, hulle kom nie eens agter dat hulle gesprek bloederig raak nie,” sê sy en skuif nader aan Bernadette sodat hulle twee mekaar kan hoor bo die roesemoes van stemme. “Vertel my van jou en Dirk se troue,” vra sy. “Troues en daai klas seremonies is nou my geliefkoosde onderwerp van bespreking!” Bernadette glimlag skewerig. “Ek glo jou,” sê sy net. “Geluk ook met julle voornemens … Dirk het my juis netnou vertel dat julle beplan om te trou.” “Ja,” glimlag Sarinda breed. “Die vierde Junie.” “Wonderlik,” glimlag Bernadette weer en wens van harte dat sy vir haarself meer entoesiasties kan klink. Sy hoop maar net Sarinda tel nie een of ander negatiewe “vibe” uit haar stemtoon op nie. Maar die meisie sit gretig in afwagting op haar vertelling. “Wel …” begin sy aarselend, “dit was nie juis ’n groot troue nie …” “Ons s’n gaan ook nie wees nie! Kan dit g’n bekostig nie!” “Dis nogal ’n kwessie, ja … Deesdae hou mense nogal van klein troues. Pas die sak beter. Net ’n paar weke gelede was ek op ’n skoolvriendin van my se troue. Die kerk was vol en daar was baie blomme, maar net die naaste fanilie het by ’n restaurant saam gaan eet. Die res moes maar droëbek huis toe …” Ek praat al om die punt, dink sy. Sarinda het my na my eie troue uitgevra.
Net toe kom die kelner, prop onseremonieel die spyskaarte voor hul neer. Dirk wuif hom argeloos weg. “Bring vir ons vier biere en twee glase witwyn vir die vroumense … Ons sal later oor die kos besluit.” Bernadette is al rasend honger en haar moed sak. Nou sal hulle eers laataand eet, dis seker. As Dirk en sy pelle eers begin kuier, kom kos tweede. Maar nie vanaand nie, besluit sy. Wink vir die kelner. “Bring vir ons twee klein bordjies tjips, asseblief!” Dirk lig net ’n wenkbrou maar glimlag en sit sy gesprek voort. “Dis ’n wonder hy het nie gewaarsku dat ons gaan vet word nie,” lag Bernadette. Sarinda trek haar gesig. “As Piet darem sou waag om vir my voor te skryf wat om te eet!” Bernadette staar ’n oomblik na haar. Dirk doen dit amper elke dag met my, wil sy sê, maar bedink haar betyds. En sy glimlag skielik: “Jy wou van my troue hoor, nè … Wel, dit was ’n reënerige dag. Heeltemal grou, om die waarheid te sê.”
Hoofstuk 2
Dié gesprek het iets in Bernadette wakker gemaak. ’n Vreemde verlange. ’n Tastende terugreik na ’n vredige bestaan op ’n piepklein dorpie, ’n idilliese wegraak in man-huis-kinders en soel sonsondergange op ’n koel, breë stoep. Presies dit, dink sy waar sy staan en sampioene droogdruk vir Dirk se omelet, waarvan ek so naarstig wou wegvlug ’n paar jaar gelede. En nou wil ek dit omhels. Wat het met my gebeur? wonder sy vervaard toe sy driftig die eiers tot skuim klop om dit in die pan te gooi. Tog weet sy. Dit was toe Sarinda so knaend uitgevra het na haar en Dirk se troue. Toe het die warboel gedagtes in haar opgekom soos melk wat oorkook. Sy wou keer maar kon nie, wou die brandreuk ignoreer maar terselfdertyd skoonvee. En nou is die vraag of sy nog kan. Bernadette roer lusteloos aan die eiers, en die geselsie tussen haar en Sarinda verdring alle ander gedagtes. Sy het huiwerig begin vertel, vreemd traag om die betowering van haar en Dirk se troudag te herroep, want dit wou nie rym met haar omgekrapte gemoedstoestand nie. Maar deur die woorde het daar opeens onstuitbaar ’n emosie gesif. Sag en dringend soos ’n diepsomerreëntjie op ’n Vrystaatse laatmiddag. “Mens onthou nie juis veel nie,” het sy Sarinda se vrae eers probeer afweer. “Ek glo dit nie! Jou troufoto’s wys dan so ’n stralende bruid!” “Hm … ek het tóg gestraal, ja … Maar wag, kom ons twee gaan sit doer in die hoek, weg van die ergste roesemoes.” Sarinda was maar te gretig en hulle twee het gou vir die kelner beduie om hul drinkgoed en die tjips na ’n tafel vir twee diep in die hoek van die restaurant te bring. Toe hulle wegstap, was Bernadette skerp bewus van Gerrit van Jaarsveld se oë wat haar talmend volg. Dirk het een maal opgekyk en toe terstond
aangegaan met sy grillerige relaas oor ’n gebarste blindederm. Toe hul slaptjips kom, het sy, skielik rasend honger, eers ’n paar onseremonieel in haar kies geprop sodat Sarinda moes lag kry. “Ek het geweet julle jong prokureurs maak nog nie juis groot geld nie, maar is dit regtig só erg?” “Nee …” het Bernadette verleë geglimlag. “Ek weet nie waarom ek so hol voel nie … Ewenwel, jy wou van die troue weet. Wel, dit het gereën daardie Desember soos wat dit net in die Oos-Vrystaat kan reën as dit nié moet nie. Die koring was ’n heuninggeel pappery in die lande en my pa was bedruk en bewolk. Dalk ook nie net oor die ontydige reën nie. Hy … hy en Dirk verstaan mekaar nie aldag nie.” Daardie oggend was skielik helder by haar sodat sy vergeet het van die raserige restaurantgangers om hulle. ’n Melkwit, mistige oggend wat later oopgetrek het en toe teen twaalfuur weer dig toe was. Dik wolke wat eenvoudig oopgemaak het om druisend te reën. Sy en Adelien en Christelle het grootoog in haar kamer gesit, klaar gebad en gereed om te tooi. “En nou?” wou Christelle verskrik weet. “Nou niks. Ons trek aan en vat ons sussie kerk toe dat sy getroud kan kom,” het Adelien bedaard geantwoord. Sy was twee maande swanger en taamlik bleek. “Sit nog blosser aan,” het Christelle skielik aangeraai. “Anders weet die hele dorp een van die strooimeisies is swanger.” “Jy maak of dit sonde is!” Christelle het haar oë plafon toe gerol. “Dalk is dit. Kwalik ses maande getroud en nou’s dit sulke tyd! Wat sál die dorp sê?” Bernadette het hardop gelag. Op die platteland is lewe, liefhê en dood nou maar eenmaal almal se besigheid en Adelien het nog swaar gebyt aan haar verblyf op hul tuisdorp. Maar Roald moes die jaar se skoolhou voltooi voordat hulle twee Pretoria toe kon trek. Gelukkig, dink Bernadette dat hy toe die volgende jaar ’n pos by Afrikaans Seunshoër gekry het, en later die dosentepos. Adelien het ook bo verwagting net so gemaklik weer in ’n pos by die universiteit ingestap toe een van die ouer dames uittree.
Bernadette karring aan die eiers in die pan, gooi dit ergerlik op twee borde uit en prop die brood in die rooster. Alles, maar alles gaan altyd maklik vir Adelien! Op háár troue was dit die ene sonskyn en rose. En toe die baba kom, was dit ’n geboorte sonder komplikasies. Die pragtigste seuntjie denkbaar met sy ma se groot, verwonderde oë. “Dirk!” roep sy in die gang af. “Kom eet!” Sy hoor hoe hy op sy selfoon praat en oomblikke later storm hy by haar verby. “Noodroep,” beduie hy, mik ’n soen vir haar wang wat skeef op haar ken beland en hy skep ’n vurk vol eier uit om dit in sy mond te prop. “Nie kans vir meer nie, pop. Sien jou seker eers môre!” “Wat het gebeur?” vra sy lusteloos. “Skietery in Soweto. Groot fight by een van die sjebiens. Vroue het ook seergekry. Ai tog, ek kry die onskuldiges so jammer!” Daarmee klap die voordeur agter hom toe. Sy kom eers weer tot haar sinne toe die snye brood kwaps! uit die rooster spring. Een hop tot op die vloer. “Simpel ding!” brom sy toe sy dit optel. Sy gaan sit en begin eet. Sommer Dirk s’n ook. Sy maak tee en veroorloof haar die Saterdagoggend se salige alleenwees. Sy sak in die hoek van die sitkamer op ’n leunstoel in ’n kolletjie son neer. Dirk is Dirk, sê sy vir haarself. Hy sal nooit verander nie. Dit het sy daardie oggend van haar sopnat troudag ook geweet. Want toe dit kerk-toe-gaan-tyd was, was hy skoonveld. Anna het grootoog kom vertel dat hy gaan stap het toe die sonnetjie ’n rukkie kop uitsteek en nog nie teruggekom het nie. Thabu het hom later gekry – by ’n koei wat om duister redes in die ruie veld anderkant die sinkskuur begin kalf het. Dirk het dood in sy skik by die huis aangekom, besweet en bloedbesmeer in die kortbroek, T-hemp en tekkies. Daar het fyn halmpies oral aan hom gekleef en hy het na vars bloed en kraalmis en nat, gekneusde veldgras geruik. “Ag, dis darem wonderlik,” het hy gesug, verbaas na die kring geskokte gesigte gekyk. “Jy’s laat, swaer,” het Roald kalm laat hoor.
Toe eers het dit gedaag: Dis mos sy troudag. Hy was soos blits in en uit die stort en toe hy weer verskyn, was hy nie meer Dirk-die-dokter nie. Hy was skielik weer Dirk-die-swierbol-charmer. En Bernadette, toe al hoeka gereed in haar roomkleurige antieke rok met die lae en lae Belgiese kant, het kiertsregop op die sitkamerbank gesit en wonder waarom sy hom liefhet. En of sy nie dalk liewer was vir die ievolle dog professionele Dirk wat na veld en mis ruik omdat hy ’n koei wou help nie. Want Dirk-die-charmer kon haar hormone op loop jaag, maar haar hart bang maak. Soos nou ook. Sy is liewer vir hom as hy soos nou net by die huis uitstorm op pad na ’n sieke, as wanneer hy in een van sy meesleurende kom-hier-my-poppie-buie is. Ook toe sy hom uiteindelik tegemoetstap in die paadjie van die ou sandsteenkerk terwyl die klok in die hoë toring ietwat klaend beier, het sy geweet dat die forse, aantreklike Dirk in sy deftige donker pak haar ’n bietjie intimideer. Vir ’n oomblik het sy gewens hulle kon vanmiddag sommer skielik in die veld getrou het. Hy met sy T-hemp en kortbroek en sy in ’n sonrokkie en sandale. “Jy speel seker …” het Sarinda geadem en Bernadette het met afgryse besef dat sy haar gedagtes hardop uitgespreek het. “Ek speel, ja …” het sy dadelik gelag. “Alles was perfek, jong. Dit was selfs ’n grander troue as Adelien en Roald s’n. My pa en Thabu-hulle het die groot sinkskuur uitgewas en daar is gedek soos wat net die Oos-Vrystaters kan dek vir ’n fees. Wit linne en goue smeedysterkandelare en pienk rose oral. Daar was ’n oop kol waar ons gedans het. Maar die dorp se sakkie-sakkie-orkes moes vreeslik hard speel, want die reën op die sinkdak het só geraas!” “Klink wonderlik!” het Sarinda gelag. “Dit was eintlik, ja. Die kersie op die koek was natuurlik toe Dirk sy toespraak moes maak.” Sy het liggies geproes van die lag. “Jy weet, hy kan nie eintlik wyn goed hanteer nie. Hy weet dit en daarom drink hy eerder ’n biertjie, of so. Maar daardie aand … Die sjampanje was volop en die witwyn saam met die hoenderpastei en die rooiwyn saam met die gebraaide skaapboud … Dan ook elkeen wat hom gelukwens en aanpor om saam met hulle ’n slukkie op ons toekoms te neem. Wel …” “Wel wát?” het Sarinda gegiggel en skelm na die mans geloer wat steeds verdiep was in hul gesprek.
Bernadette het ook gelag. “Dirk se klinkers raak weg as hy ’n glasie te veel in het. ‘K-k nou n’t … D’mors ’k nou …’ het hy gesê toe hy sy glas omhoog hou. Glo my, my pa was glad nie geamuseer nie.” “En jy?” wou Sarinda grootoog weet. “Haai, nee, ek ken mos vir Dirk. Hy het sy dinge, maar drank is nie een van hulle nie. Hy was self ’n bietjie verleë en het later soos ’n seuntjie om verskoning gevra. Nee, Sarinda, Dirk is ’n goeie dokter. Hy is eintlik ’n goeie man.” Haar woorde het onverklaarbaar opgedroog. “Vertel my liewer hoe jy jou eie troue gaan beplan,” het sy gepor. En ook nou kan sy nie onthou wat Sarinda gesê het nie. Want haar kop was vol gedagtes wat ongevraagd asof uit donker hoeke na haar toe aangekruip het. Natuurlik is Dirk ’n goeie man. Hy is báie goed vir haar. Koop blomme en als. Komplimenteer haar baie, luister selfs na haar werkspraatjies en haar gekerm oor die moeilike mevrou Du Buisson. Sy moet aan die slaap geraak het daar waar sy in die plassie son voor die noordevenster sit, want sy skrik wakker toe daar aan die voordeur geklop word. Sy voel effens duiselig toe sy opstaan om te gaan oopmaak en gaap onverhoeds toe sy Gerrit van Jaarsveld sien staan. Hy lag. “Is jy moeg?” vra hy. Sy lig haar hande verskonend. “Glad nie … ek … wel, ek het gesit en slaap en …” Daar sluip ’n klein stilte in. Hy betrag haar met ’n ligte fronsie, die glimlag nog huiwerend om sy mondhoeke. “Lyk my jy werk te hard … . Is Dirk dalk tuis?” “Nee, hy moes weg Baragwanath toe.” “O … Wel, ek het eintlik net ’n boek kom leen. Hy’t gisteraand daarvan gepraat.” “Is dit die een oor komplikasies by blindedermoperasies wat deur daardie Amerikaanse chirurg geskryf is?”
“Netso …” “Nou kom solank in, ek kry dit vir jou.” Dis toe sy omdraai dat daar opeens ’n flikkering van lig en donker voor haar is en sy tas na die portaalmuur, voel hoe Gerrit se arms grypend van agter om haar middellyf skuiwe. Haar bene gee willoos mee en paniek klamp om haar hart. Wat makeer haar tog? “Hokaai …!” roep hy verskrik uit toe hy haar stewig vas het. Hy stap met haar die sitkamer in en lê haar op die tweesitplekbank neer. Die plafon draai aanhoudend en sy gesig kom nou en dan verby, grootogig met die gawe mond skewerig oop. “Haai …” sê sy verslae toe die aardigheid bedaar. “Dit het my nog nooit oorgekom nie.” “Gaan dokter toe,” raai hy lakoniek aan. “Hier is mos een hier in Hatfield Square. Maar lê eers ’n rukkie. Of wag, ek maak gou vir jou ’n koppie tee.” Sy wil nog kapsie maak, maar voel nie in staat tot meer as een woord nie. “Dankie …”sug sy net. Sy hoor hom werskaf in die kombuis, kaste klappend oop- en toemaak op soek na bekers. Toe hy ná ’n rukkie met twee porseleinbekers binnekom, voel sy stukke beter. Sit self regop en drink dankbaar. Hulle praat nie. Hy staan op een skraal been sy tee en drink, die ander een tot by die knie opgetrek. Onthou dat sy hom dit al dikwels sien doen het. Sy ken hom al vandat sy Dirk ken. Die twee was saam op skool ook. “Staan jy altyd so?” wil sy glimlaggend weet. “Van kleins af,” antwoord hy rustig. “Ek kan onthou dat ek op my eerste skooldag in die ry ook so gestaan het. Toe moes ek wag dat die juffrou al my besonderhede op ’n kaartjie skryf wat sy aan my hemp vasgespeld het.” “Al jou besonderhede? Vertel my.” Hy knik gewigtig en trek los: “Gerrit Hardus van Jaarsveld. Gebore 22 November in die jaar toe my ma-hulle in Holland was. Kon eers nes die Kase
praat, maar het nou vergeet. My jare in Affies se seunskool het my gou reggeruk … En ek en Dirk het mos vroeg besluit ons wil dokters word. Tuks het my nogal getrek. Het gedink daar’s mooi meisies met integriteit en ’n sin vir humor ook.” “En het jy al een gekry?” “Ja,” verras hy haar. “Sy is wel bewus van my, maar ons loop sulke draaie om mekaar. Kyk die kat eers uit die boom. Want dis ’n digte boom, sien. Baie dorings en goed.” Sy lag, sluk die laaste bietjie tee weg en hy vat die beker by haar. “So ja, nou kan jy gou by die dokter uitkom.” “Nie nodig nie, ek’s reg,” stry sy en hy frons weer. ’n Koddige frons wat ’n kort, vlak kepie tussen die boë van sy wenkbroue maak. “Fout. As jy nie gaan nie, sal ek Dirk hiervan vertel.” Sy is byna dadelik op haar voete. “As jy dít darem doen …!” “Ek belowe jou ek sal, as jy nie nou dadelik saam met my na die dokter hier op die Square toe stap nie.” Sy kyk in sy grysblou oë en sien dat hy heeltemal gedetermineerd is. “Tj,” klik sy ergerlik. “Ek makeer regtig niks, hoor!” Maar die frons verdiep net. “Nou goed dan … ek kry net my trui.” Maar toe sy met die roomwit kabeltrui uit die gang kom, staan Nomsa by hom in die portaal, haar hare in ’n duisend dansende stringetjies om haar kop. Sy is ergerlik aan die beduie. Sy het nou al drie maal vir haar rybewys gegaan en nog elke keer gedop. “Al wéér,” sug Bernadette. “Dis g’n reg nie. Dis net omdat ek ’n vrou is,” brom Nomsa. “Kan jy goed bestuur?” vra Gerrit en kry ’n gifkyk. “Ek het by die bestuurskool geleer en hulle haal jou gal vir jou uit, hoor!” “Ag wat,” troos hy lakoniek, “gaan maar weer ’n keer. Jy sal dit nie glo nie, maar ek moes ook omtrent vyf maal die bestuurstoets doen, maar nou ja, ek is
vandag nie ’n wafferse bestuurder as ’n kritiese mens langs my sit nie!” Albei vroue bars uit van die lag. Sy eerlikheid is so ontwapenend. “Dis die hele ding!” proes Nomsa. “Ek raak aan die bewe as daai man met die kwaai, dik gesig langs my inklim.” Bernadette lag saam maar sien ook ’n gawe geleentheid om by die dokter verby te kom. “Nomsa en ek het juis op die oomblik iets te praat,” sê sy glimlaggend aan Gerrit. “Ek belowe jou ek sal later gaan.” Hy pers sy mond saam maar knik kortweg. “Nou goed, ek sal later weer kom as Dirk ook hier is.” “Gaaf,” sê sy verlig en maak die voordeur agter hom toe. “Wat’s fout met jou?” vra Nomsa dadelik, tuur stip na Bernadette met haar wakker, donkerblink oë. “Heeltemal niks,” glimlag Bernadette. “Maak vir ons tee dan vertel jy my watter wind het jou hier uitgewaai.” “Jy’s bleek,” hou Nomsa vol maar draai tog om kombuis toe en Bernadette loop verlig agter haar aan. “Ek het laasnag watter tyd in die bed gekom,” paai sy. “Vertel my liewer van daardie man saam met wie ek jou in die Irish Pub gesien het. Jy moenie sommer met enigiemand uitgaan nie, Nomsa! Mense wat oorloop van ander lande is nie altyd so …” “Jy klink nes my ma en Adelien!” wip Nomsa haar en gooi water in die ketel dat dit uitspat op die geel linoleumblad. “Asof almal wat Suid-Afrikaans is nou skielik engeltjies is! Nee, Berna, Pedro is wónderlik. Hy praat so mooi sag met my en hy soen ook so …” “Soen!? En … wat nog?” skrik Bernadette op. Haar kop is meteens propvol van Dirk se stories as hy van die hospitaal af kom. Al die vigspasiënte by wie hy magteloos sit en eindelik maar net hul hand vashou tot die laaste asempie deur ’n wurgende keel afgesny word … “Nomsa … Nomsa …” begin sy hortend, “jy … moet my net een ding beloof en dit is … dat jy nooit, óóit ernstig sal raak oor dié
man voordat jy nie weet wat sy status is nie!” “Watse status?” vra Nomsa verstom en gooi die kokende water op die teesakkies in die pot. Maar sy snap skielik en mors weer die blad nat uit skone verontwaardiging. “Ag, tj! Sies vir jou! Jy praat asof hy besmet is!” “Is hy nie?” Bernadette weet haar mond hol nou met haar weg, maar dis of sy ’n naamlose angs moet besweer. “Hoe weet jy waar hy oral was voordat hy jou leer ken het? En … hoe lank ken jy hom nou al?” “Drie weke en dis genoeg. Hy is ’n gawe, eerlike man!” Nomsa stoot die beker met tee na haar toe oor die nat blad, haar vol mond koppig saamgepers. “Ek sê jou jy klink weer nes my ma en daai Efraim van Mahlersdrif. Jy weet, hy praat gedurig van trou en babatjies as ek by die huis kom. Hóé hy weet wanneer ek kom, kan ek maar net raai. Ek sweer my ma bel sy ma skelm na die Mahlers toe om te laat weet!” Bernadette verteer dit stadigies. “Praat jy van Efraim Thobelo, die Mahlers se voorman?” “Net hy, ja. Dink mos hy’s daar om al my wense te vervul. Weet jy, hy wou glad hê ek moet huis toe kom om met die paplepel te hardloop!” Bernadette se mond val oop. Dié hardlopery is om die reën te roep. ’n Ou tradisie in daardie streke en die jong meisies neem dikwels daaraan deel. Dis pret, het Anna altyd gesê. Maar Nomsa wou nooit. Nomsa, wat op skool tydens gimperiodes weggekruip het omdat sy nie van spring en hardloop hou nie. Dis vir mense wat te dom is om te lees en somme te maak, het sy altyd gesê. Meteens kan Bernadette haar lag nie hou nie. Sy sien al Nomsa se verontwaardigde gesig, welbedeelde bolyf swaaiend en wippend, paplepel in die lug soos wat sy hol … Maar die meisie lees haar glimlag korrek. “Presies!” roep sy kwaai uit. “Verbeel jou … ek met my dubbel D’s heel vooraan! Ek sê jou mos die man is laf! Ek glo buitendien g’n niks in dié reënroepery nie!” “Maar Efraim is baie oulik, Nomsa! Hy’s nog eg en eerlik ook. Buitendien, ek glo ook nie hy neem die reënroepery te ernstig op nie, maar jy moet weet, dis jou mense se tradisie en mens moet tradisies respekteer.”
“Ag, bog! Ek weet van beter.” Bernadette skud haar kop. “Hy ook, Nomsa. Maar hy het tyd en eerbied vir kultuurdinge. Dis ’n goeie kwaliteit om te hê.” “Net omdat hy nie van beter weet nie,” hou Nomsa vol en haar onderlip beef effens. “Dis nie waar nie,” sê Bernadette sag. “Hy is goed grootgemaak en die Mahlers het hom landboukollege toe gestuur. Hy was mos twee jaar op Potch.” “Ja, en nou dink hy sommer hy’s Godgeleerd ook!” “Waarom sê jy so?” vra sy geamuseerd. “Hy preek alte graag vir my, Berna. Beduie hoe gevaarlik die groot stad Pretoria is en watter slegte mense almal daar bymekaar koek om jong meisies soos ek te verlei. Vra glads of ek ooit in die kerk kom. Dink seker hier’s nie kerke nie. Hy was mos nog nooit hier nie.” “Jy klink gevaarlik meerderwaardig,” antwoord Bernadette ferm. “Die man gee om vir jou, Nomsa. Hy gee regtig om, anders sou hy nie so besorgd wees nie.” “Besorgd? Ag, spaar my! Hy’s bemoeisiek en net ingestel op sy eie voorkeure, tipies van die mans van daardie klein ou wêreldjie.” “Sjoe, maar nou is jy regtig hovaardig. Ek sou nie ons wêreld daar in die mooie Oos-Vrystaat as klein beskou nie. Buitendien, Efraim hou maar net van wat hy sien en hy maak nie ’n geheim daarvan nie. Noudat jy so mooi gewig verloor het maar nog altyd super kurwes het, verkyk hy hom maar seker.” “Vergaap is die woord,” sug Nomsa en gooi die helfte van haar tee in die wasbak uit. “Jammer, maar ek moet dadelik gaan. Pedro wag vir my in Hatfield Plaza. Ons gaan fliek. Ek het eintlik net kom hoor hoe dit met jou gaan.” “Dis lief van jou. Kom weer, hoor.” Maar toe Nomsa uit is, sit Bernadette haar opnuut en kwel. Nomsa is glads te geleerd deesdae. Veral noudat sy nagraads opvoedkunde swot. Maar dit het niks met boekekennis uit te waai nie. Anna en Thabu sal stuipe kry as hulle moet
weet hulle enigste kind hou haar op met een van die “aliens”, soos wat die studente na die immigrante verwys. Later loop sy maar kamer toe en kruip onder die duvet in. Haar kop raak skaars die kussing toe slaap sy. Teen middagete bel Dirk net om te sê dat hy glad nie huis toe kom nie. Dalk ook nie eens Sondagaand nie. Sal sy orraait wees? “Ja, wat,” sug sy en raak terstond weer aan die slaap. Sy sien hom ook nie Maandagoggend nie en kom gelukkig dié keer vroeg by die werk aan. Maar mevrou Du Buisson wag haar reeds in. “Kom-kom, ek het nie heeldag tyd nie. Ons moet hof toe en regter Bredell is op die bank. Ons gaan bars, dit kan jy weet. Vandag moet jy buitendien net observeer, as jy weet hoe.” Van wanneer af weet ek nie wat observeer is nie? wonder Bernadette wrokkig maar knik net. Die vrou se hiperkritiese houding irriteer haar hoeka. Dat sy self berge ander werk het en dat sy Vrydag te moeg was om klaar te dikteer sodat juffrou Du Toit die verslae kan tik, verswyg Bernadette liewer. Sy het nie kans gehad om ontbyt te eet nie en haar maag voel hol. Té hol vir ’n hele oggend in ’n bedompige hofsaal. Sy klim sonder ’n woord langs die vrou in en sluit liefs haar oë toe die rooi sportmotor straataf brul. Sy konsentreer so om die nare gevoel op die krop van haar maag te ignoreer dat sy nie dadelik agterkom toe daar geparkeer word nie. Mevrou Du Buisson pomp haar ligweg in die sy. “Kom as jy klaar geslaap het, nè.” Bernadette hap na asem, maar klim haastig uit, volg die deftige senior vennoot van Genis, Du Buisson en Harris die hofgebou in. Dit word ure van suiwer marteling. Sy is by tye so naar dat sy eintlik bly is sy’t niks geëet nie. Ander kere smag sy soos ’n woestynreisiger na ’n sappige appel. Meestal sit sy net roerloos en miserabel, dankbaar dat sy nie stuiptrekkend oor die wasbak hang nie. Wat makeer my? wonder sy eenmaal vlugtig en kruis haar arms beskermend oor haar buik. Sy dink liefs nie verder nie. Nie nou nie. En ook nie later nie, besluit sy. Dis seker maar ’n virus van die een of ander aard. Sal verbygaan soos wat menstruasie verbygaan … En dis dié gedagte wat haar skielik nie wil los nie. Sy hoor nie meer wat gesê word nie, sien nie die jong advokaat Le Roux se skraal
hande soos wat sy beduie nie, hoor nie regter Bredell se fyn, droë kommentaar nie. Sy dink: dis ook nie PMS nie. Want ek het laas in … Wanneer laas hét ek? wonder sy meteens. Was dit in Februarie? Of dalk selfs vroeër? Dis nou begin Mei. Amper winter. Op Stille Weide sal die kerspopuliere begin vergeel, Anna sal die kaggel vroegmiddag al pak. Eers met blinkswart kole, dan droë optelhoute en dan mieliestronke. Die vlamme sal eers hoog in die skoorsteen opskiet en dan bedaar om stadig, diep oranje te smeul. Anna is so lief vir vuurmaak, dink Bernadette, skielik verlangend. Sy sê mos sy hou van die winter, want dan kan mens teenaan die vuur sit. Dit maak jou bene en jou bloed warm en uit die vlamme kom stories en ’n snaakse verlange en lekkerte. Vuur, dink Bernadette, en hoor die jong advokaatjie se dun stem net vaagweg. Vuur en vurig … Dis belangrik in daardie bergwêreld waar die vroeë skemeraand se koue mos die winter vooruitsluip. Maar in Maart? Daardie vlamwarm maand toe sy en Dirk ’n naweek weggeglip het berge toe. Sy het nie eens skuldig gevoel nie toe hulle vlak by Stille Weide se hek verbyry op pad na die bergoord. Dirk was in sy mees oorrompelende stemming denkbaar. In die ry was sy hand gedurig op haar knie, sy woorde gaaf en baie vleiend. Jy bly maar my mooiste Bernadette. G’n vrou kan by jou kers vashou nie, Poppie. Die ander manne is gedurig groen as hulle jou sien. Mevrou Du Buisson moet ’n slag liggies aan haar stamp om haar aandag te kry. Sy fluister ergerlik: “Wat’s dit met jou? Gaan gou die lêer deur vir die nota oor die bewysstukke!” Bernadette sluk vervaard en maak so. Maar kort voor lank dwaal haar gedagtes weer weg. Maal soos los blare op ’n stroompie al om en om haar en Dirk … Daardie naweek in die berge was amper soos toe hulle destyds ontmoet het. ’n Gekke verliefdheid wat elke nugter gedagte gesmoor het. Hulle het uitbundig gelag toe hulle in die klein houthut op die krakende bed neerval, geglimlag by die flikkerende kerslig toe hulle vetterige tjips uit bruin papiersakkies eet, geskater in die vars berglug toe hulle langs ’n bloublink foreldam gaan stap. En sy het eers toe sy terug was in Hatfield, onthou dat sy nie haar pille saamgevat het nie.
Sy het toe besluit om Dirk nie te vertel van die geheueglipsie nie. Hy sou hom net ontstel en hy was en is reeds onder soveel druk. Pleks dat ek tog maar hét, dink sy nou en leun oor om te hoor wat mevrou Du Buisson weer aan ’t fluister is. “Waar is bewysstuk B, die oorspronklike kontrak?” vra die vrou ongeduldig en Bernadette soek naarstig in die lêer. “Jammer,” fluister sy terug en gee dit aan. Probeer hard om haar aandag by die saak te hou, maar dis of die hongerpyne en vae mislikheid al is waaraan sy kan dink. Soggens se naarheid is so klokslag, so tekenend van … Maar dit sê nog niks. Niks, dink Bernadette. Hierdie is net ’n virussie en die maandjie wat ek oorgeslaan het, is te wyte aan my druk werkprogram en die vermoeienis wat my so gereeld flou laat voel. Maar teen etenstyd is die floute soos ’n swart kombers op haar. Sy haal net betyds die damestoilet en sak bewend op die afgeslane sitplek neer. Sy moet goed tien minute wag totdat sy weer die krag het om op haar bene te kom. Sy loop wankelend buitetoe, sien met akute verligting ’n straatventer wat worsbroodjies verkoop. “Twee, asseblief,” smeek sy en hou ’n twintigrand noot uit. Sy gryp die kos en vergeet die kleingeld, hoor nie die jubelende dank van die smous nie. Sy leun teen die muur van die hofgebou en eet gulsig, voel die tamatiesous by haar mondhoek afloop. Sy klad vervaard met ’n snesie en eet verder. Toe sy klaar is, is sy weer mislik. Maar sy vou haar arms styf oor haar maag en sluk die narigheid weg. Sy moet eenvoudig net nou iets in haar maag hou. Sy spring om eers weer haar lipstiffie te gaan opknap en is net-net betyds terug in die hofsaal. Mevrou Du Buisson lig ’n veelseggende wenkbrou, maar Bernadette trek net haar asem versigtig in. Selfs die louwarm lug van die oorvol saal maak haar naar. Teen die tyd dat sy die middag tuiskom, is sy verby moeg. Sy sak op die bed neer en slaap totdat Dirk haar aan die skouer wakker skud. “Wat gaan aan?” wil hy grootoog weet. “Net moeg …” mompel sy, kom orent en wens haar kop wil ophou draai. Toe sien sy dat hy in sy donkerblou pak uitgepiets is. Geel sydas by die wit hemp. Natuurlik … Dis mos die tweede Mei. Die Van Jaarsveldvrou verjaar. Gerrit se ma en een van sy gewese professore se eggenote wat hulle altyd na dié okkasie
toe uitnooi. Omdat Dirk en Gerrit bevriend is, maar beslis ook omdat Dirk so ’n uitstekende student was. Die fakulteit hoop vir seker om hom later terug te lok na die akademie. Dis of haar gedagtes soos klippies wat bergaf rol, hul eie koers inslaan. Sy staar na sy blinkgepoleerde swart skoene en wonder: Hoe sal hy voor ’n klas vol studente lyk? Onweerstaanbaar. Weens intellektuele én ander vermoëns. Veral miskien laasgenoemde … “Ek’s moeg …” sê sy weer en gaap onverhoeds. “Kan nie wees nie, jy slaap al vandat ek vieruur tuisgekom het en dis nou seweuur. Ons moet agtuur by die …” “Ek weet, ek weet!” antwoord sy skuldig en swaai haar bene van die bed af. “Gaan maak asseblief vir my ’n koppie tee, ek’s nou-nou klaar.” “Gaaf,” willig hy in en sy kyk hom ietwat verdwaas aan toe hy uitloop. Wat gaan ek doen? wonder sy, wil haarself tot onder die stort waar sy minute lank onder die louerige water bly staan. Maar die moeg wil haar nie los nie. Dit voel asof sy ’n maraton agter die rug het en die ergste lê nog voor. ’n Partytjie by die Van Jaarsvelds duur gewoonlik tot ná twaalf. Ek kan nie, dink sy. Ek kan doodeenvoudig nie gaan nie. Maar toe sy in die kamer kom, staan Dirk daar met haar koppie tee. Sy drink dit woordeloos en voel tog effens versterk. “Jou groen rok,” sê hy skielik. “Daai een wat jy laas maand gekoop het. Met die funky swart kolletjies op. Dis mooi vir my.” Hy klink soos ’n klein seuntjie en sy vermurwe, al weet sy goed dat hy haar fyntjies manipuleer. “Goed,” glimlag sy flouerig. Hy loop fluitend uit, roep oor sy skouer dat hy solank in die motor sit en radio luister. Wat beteken dat hy vrek haastig is, dink sy. Goed op pad om ongeduldig te raak ook. Dis ’n wonder dat hy haar so laat laat slaap het. Sou hy iets vermoed? Tog nie. Dirk kan nie eintlik iets vir homself hou nie. Vermoedens is nie sy sterk punt nie. Hy spreek vermoedens uit nog voordat hulle kans kry om intuïtief wortel te skiet. Sy weet dat sy reg is toe sy by hom in die motor klim. Hy knipoog goedkeurend en trek fluitend weg. Als is mos nou cool, wat. Sy vrou is betyds klaar, sy lyk
spiff en hy’s op pad na ’n paartie in hogere kringe. Bernadette besef eers mooi wat sy dink toe hy by ’n stopstraat in Lynnwoodweg stilhou. Sy loer tersluiks na hom, kry die geur van sy naskeerwater. Duur. Sandelhout en muskus. En sy voel dit aan: Sy opwinding oor die aand wat voorlê, sy verbete ambisie, sy dwingende begeerte om iewers groot indruk te maak. Opeens is sy beangs. Sielsat ook. “Dirk … ?! Dirk … is jy regtig lief vir my?” Hy kyk vinnig na haar, frons. “Maar natuurlik, Pop. Wat se vraag is dit nou?” Wat de joos, besluit sy. Ek kan ook dié spel speel. “Ag wat,” lag sy en waai haar hand koketterig deur die lug, “ek’s net ’n mooi vrou wat wil hoor dat sy mooi én geliefd is!” Sy het sy aandag. Hy ry effens stadiger en draai amper dwars soos wat hy na haar kyk in die lig van die gelerige straatlampe. “Hei, hei … Nou praat jy mos. My pragtige vrou wat weer vanaand die mooiste onder die mooies gaan wees!” “Ha! Kyk waar jy ry, dokter! Jy kan later weer flankeer!” Hy lag diep in sy keel en sit sy hand op haar knie. “Belowe?” “Belowe,” sê sy en laat haar asem in ’n suggie uit. Dis ’n aand soos sovele ander van sy soort. ’n Superdeftige huis vol Persiese tapyte, feitlik onbekostigbare skilderye deur bekende kunstenaars, ruim vertrekke vol duur kerse in antieke kandelare en gaste wat hoofsaaklik deur ontwerpers geklee word. Haar eie rok met die funky patroontjies, het Dirk vir haar deur ’n opkomende ontwerper, Juno Ashar, laat maak. Juis sodat sy vrou op sulke aande kan skitter – en hy nog meer aandag kan trek as gewoonlik. Want om ’n indruk te maak, is vir Dirk Joubert so belangrik soos asemhaal, besef Bernadette vir die soveelste maal toe sy die blonde gasvrou met twee veerligte wangsoentjies groet. Karin van Jaarsveld glimlag met haar. “Jy lyk altyd só fraai, Bernadette,” sê sy opreg. “Dankie, mevrou, en baie geluk met die verjaardag, en u word ook net jonger!” Nie heeltemal waar nie, betig sy haarself. Ek raak al nes Dirk … “U lyk regtig
goed,” korrigeer sy haarself op ’n manier. “En … dankie dat ons hier mag wees.” Hulle beweeg aan en Dirk fluister in haar oor: “Jy weet darem net wanneer om wát te sê, Poppie!” “Dis nie ’n talent nie, Dirk,” sê sy en haar stem klim. “Dit kan ’n vloek word!” “Wat is dit nou met jou?” begin hy vies, maar bedaar oombliklik toe hulle professor Heerensma tussen ’n ander klompie gaste raakloop. “Goeienaand, professor,” groet hy en steek hoflik ’n hand uit. Die man groet hom verras, glimlag met Bernadette en begin dadelik indringend uitvra na Dirk se werksaamhede. Luister aandagtig na sy relaas oor die toestand in Baragwanath en die worstelende gespook van die owerhede om ’n mate van orde te skep. Bernadette gebruik die kans om weg te glip na ’n aangrensende vertrek waar drankies op twee lang tafels uitgestal word. Vrugtesap, asseblief, versoek sy. Sy sluk dorstig. Kyk rond of sy ’n onbesette sitplekkie iewers kan sien. Haar oog vang ’n ottoman skuins agter ’n oopswaai glasdeur. Perfek. Hier kan sy sit en rus terwyl Dirk, opgeneem in sy praatjies met die akademici en die glitterati, kan kans kry om te vergeet dat sy vrou netnou taamlik skerp was met hom. Sy slaag daarin om heelaand feitlik ongesiens deur die gaste te beweeg en dan weer te kom sit. Nou en dan kry sy ’n glasie sap of droë versnaperinkies op ’n klein bordjie, gesels twee woorde met wie sy ook al raakloop en verseker die gasvrou ook ’n slag dat sy die aand geweldig geniet. Sy sit ’n slag weer agter die deur en leun met haar rug teen die portaalmuur toe Gerrit van Jaarsveld skielik op haar af kom. “Haai?” sê hy verbaas. “En as jy nou hier sit?” Sy lag saggies. “Ag jong, ek is nie iemand vir skares nie. Dis ’n heerlike partytjie, die kos is wonderlik en …” “Bog!” lag hy terug. “Ek ken my liewe ma se paarties. ’n Byeenkoms van egogedrewenes en dis als behalwe sielsverheffend. Dis waarom ek nou eers hier opdaag. Kom ons gaan sit daar by die swembad. Waar’s Dirk?” “Iewers.” “Wat beteken dit?” wil hy weet en buk om haar gesig mooi te kan sien in die
wasemrige lig van die baie kerse. “Ek weet nie,” sug sy. “Kom ons gaan …” Hy vat haar aan die arm en stuur haar deur die vertrek tot op die patio en oor die grasperk na die lapa by die swembad. Sy sak verlig in ’n diep houtstoel neer, maak haar oë toe. “Wat is fout, Bernadette?” wil Gerrit reguit weet. “Maak Dirk jou kwaad?” Haar oë vlieg oop. “Ek’s lief vir Dirk, Gerrit.” Hy waai haar woorde weg. “Ons is almal lief vir Dirk, jong. Maar dat hy mens soms die harnas injaag, is nie te betwyfel nie.” Dis hierdie woorde wat by haar bly spook vir dae daarna. Dirk het haar eindelik kom soek en hy en Gerrit het dadelik weer oor hul werk begin klets. Sy het vakerig geluister maar geweet dat daar op ’n vreemde, byna onopsigtelike manier ’n keerpunt in haar verhouding met Dirk gekom het. Mens is lief vir Dirk. Punt. Dat hierdie liefde mens nie noodwendig bly maak nie, is ook ’n feit. Dit dwing mens om gedurig maar toe te gee en toe te gee …
Hoofstuk 3
Daar was ’n tyd toe sy nie sommer sonder Dirk iewers heen sou gegaan het nie, dink Bernadette toe sy en Nomsa die langnaweek Stille Weide toe ry. As hy dan op diens was, soos nou, sou sy by die huis gebly het en heeltyd net verlang het. Maar nie vandag nie. Sy is onnoemlik verlig om, al is dit net vir ’n paar dae, weg te kom. Sy loer na Nomsa wat langs haar sit en dut. Soos altyd as die wiel draai, het die meisie summier aan die slaap geraak. Bernadette wens eintlik sy wil liewer wakker word, want soos gereeld in die laaste tyd, voel sy nie te wel nie. Flouerig en effens mislik, soos wat sy in ’n onbewaakte oomblik oor die telefoon aan Adelien erken het. “Maar my gits, sussie, dit klink mos na swanger wees!” Bernadette het haar nog flouer geskrik. Om sommerso skielik klank te gee aan ’n vae spesmaas, was een te veel. “Moet jou nie laf hou nie,” het sy kil geantwoord. “Ek het bloot te min geëet die laaste tyd.” “Nou maar sorg dan vir jouself!” het Adelien uitgeroep. “En kom kuier tog. Ek en Roald sien jou en Christelle amper nooit.” “Ek weet,” het sy skuldig gepleit. “Ek sal ’n plan maak, maar eers gaan ek plaas toe. Dirk moet die hele langnaweek werk en ek verlang na Stille Weide.” Hulle hou op Villiers stil om koffie te drink en dis toe sy die aardige kafeebrousel afsluk dat sy weet: Sy kan nie verder bestuur nie, sy voel eenvoudig te ellendig. Sy durf boonop nie op die plaas afklim en nog erger lyk as die bleek, vermoeide gees wat sy vanoggend in die spieël gesien het nie. Sy sit ’n rukkie hande oor die oë. “Ek weet jy’s siek en ek gaan my ma vertel,” sê Nomsa opeens en neem die motorsleutels wat voor Bernadette op die tafel lê.
“Jy doen dit nie!” gryp Bernadette na die sleutels, maar Nomsa het al opgestaan en wink net vir haar. “Kom tog, dat ons kan ry. Ek kan goed bestuur, jy sal sien!” Bernadette kapituleer, los net die sowat veertien rand vir die twee koppies drinkgoed en loop agter die meisie aan. Heelpad lê sy op die agterste sitplek en dommel. Nou en dan trek los gedagtes deur haar kop. Sy en Dirk wat meestal in kringe praat, hul denke in verskillende windrigtings. “Dirk, ek voel siekerig …” (Ter aanvoring van ’n stelling of dalk ’n argument. Sy was nie seker nie.) “Dis griep wat maar die ronde doen, jong.” (Niksvermoedend of afwerend. Sy weet nie.) “Ek … glo nie dis griep nie.” (Mompelend, asof sy gehoop het hy hoor nie.) “Een of ander nuwe virus, dan. Noem dit wat jy wil. Lê maar ’n dag of wat.” (Klaar gepraat, dit kon sy wel hoor.) Waarom, wonder sy nou gapend, kan ek nie my mond oopmaak en vir my man sê dat ek feitlik seker is dat ek swanger is nie? Toe Nomsa deur die knik in die plaaspad verby Mahlersdrif ry, is sy wawyd wakker. “Hou stil dat ek oorneem, Nomsa. As my pa jou sien bestuur, sal die duiwel los wees. Hy weet goed jy’t nog nie jou rybewys nie.” Nomsa gehoorsaam sonder ’n woord en toe Bernadette wegtrek, draai sy die Fiat Sienna se venster oop om die skoon, veldgeur van die laatherfsmiddag in te asem. Ek sal herstel hier, dink sy met ’n skeutjie energie. Indien dan nie van die “virus” nie, ten minste na die gees. Hulle ry deur die roesgeel laning kerspopuliere en soos altyd verwonder Bernadette haar aan die kleureprag. Nou en dan fladder ’n blaar deur die stil lug. ’n Swerm rooibekvinke swiep asof verruk voor hulle uit en glip seepglad deur
die ry populiere op linkerhand. Sy glimlag. Kleintyd was sy altyd so verontwaardig as haar pa die vinkneste by die spruit en rondom die dam met gif bespuit. Sy’t luidrugtig gesnik en was so onmoontlik daaroor dat Pa Abel haar op ’n keer vir die naweek na ’n maatjie op ’n buurplaas gestuur het net sodat sy nie moes weet wanneer hy en Thabu die voëls spuit nie. Sy sug diep. Nou nog hou sy nie van die idee nie, al is dit ook hoe noodsaaklik. Nomsa skud van die lag. “Ek dink ook daaraan toe jy jou rooikoptantrum gegooi het oor die vinke!” “Maar dis sulke oulike ou voëltjies,” kap Bernadette kinderlik teë en Nomsa skaterlag. Hulle ry uit die laan en al om die groot voortuin, om die grasperk, en Bernadette sien verras dat die huis se dak nuut geverf is. Dit steek dieprooi af teen die blou van die wolklose lug. Daar is nuwe geelgroen konifere in die ronde rotstuin geplant en al om die grasperk pronk daar fraai fynblaarplantjies van ’n onbekende aard. Was ek dan so lanklaas tuis dat alles nou anders lyk? wonder Bernadette. Sy kyk meer ondersoekend, sien baie dinge: Die rose is nog in blom, die dooie knoppe uitgebreek, die werf is weerskante skoon gevee en selfs die grasperk is netjies. Anders as ander jare toe die tuin maar sommerso gelaat is om deur die jaar oorgroei en verwaarloos te raak. Maar sy sien ook die staalheining met die elektriese drade bo-op. Toe hulle stilhou, kom Pa Abel op die stoep uit, sy digte wenkbroue vraend geknoop. Maar sy gesig klaar terstond op toe hy sien wie die besoekers is. Hy hou sy ranke arms oop toe hy op die onderste trappie kom en sy mond pluk-pluk bewoë. Bernadette vlieg teen hom vas, druk haar kop in sy nek wat na veld en stal ruik. “Pappa …” kry sy uit, besef met skok dat sy hom nooit laat weet het sy kom nie. Praat sommer als wat in haar kop kom: “Ag tog … ek moes laat weet het, Paps, enne … Christelle kon in elk geval nie kom nie. Sy skryf ’n groot toets volgende week.” Sy lig haar kop en oor sy skouer sien sy Henk Verwey staan. Groot, bonkig en blond soos altyd in ’n dik blou kabeltrui wat sy ma sekerlik gebrei het. “My aarde …” glimlag sy, “wat maak jy hier?” “Ek kuier,” en hy lag in sy keel. Steek sy hand uit en skud hare ferm, wuif vir
Nomsa wat sukkel om hul tasse uit die kattebak te kry. “Wag, ek kom jou help!” Toe hy haastig kar toe stap, draai Bernadette na haar pa wat sy ou swyende self is. Selfs sy groetery geskied maar op sy skugter manier alhoewel nie sonder diep emosie nie. Dit sien sy aan die geknipper van sy plooierige oë. “Pappie,” flikflooi sy weer, “ek moes liefs laat weet het, maar het haastig besluit om te kom. Dirk is heelnaweek by die hospitaal.” “Dus het ek jou ’n bietjie vir myself,” sug Abel en druk haar nog ’n slag vas. “Ek weet ek was lanklaas hier,” sê sy boetvaardig, skuur haar wang teen sy growwe ou windjekker. “Ses maande,” sug hy weer en sy skrik haar stil. Wat word van my ou pa? wonder sy beklemd. So alleen hier op die plaas met net sy eie geselskap. Sy stoot haar arms weer om sy lyf en toe voel sy dit. Die staalkoue bult in sy sy. “Rewolwer,” antwoord hy haar nog voordat sy kan vra. “Mens moet deesdae mos katvoet op jou eie werf loop …” Hy hoef nie sy sin te voltooi nie. Sy weet dit. Miskien is dit juis dit wat haar so lank hier weggehou het. Die vervreemding van alles wat bekend was. Die versperrings, die kil waaksaamheid, die gevaar wat byna tasbaar dog onsigbaar in die lug skuil. Soos ’n kiem in drinkwater. Hulle stap die huis binne en sy ruik in die gang al Anna se gebraaide hoender met speserye. Uie en aartappels ook, raai sy. En soetpatats. “Heerlik,” glimlag sy. Agter hulle kom Henk met haar tas aan en hy steun gemaak. “Sjoe, smous jy met bakstene, of wat?” Haar mond gaan oop om te verdedig toe sy die stoutigheid in sy blou kykers sien. Hy terg haar. Nee, eintlik speel hy doodonskuldig met haar. Sy pers haar mond saam. “Moenie glo nie. Ek smokkel met kopbeendere.” Hy glimlag skelm. “Ek wou nog altyd ’n smokkelaar met rooi hare ontmoet.”
“Róói?” erg sy haar. “Koperbruin, hoor!” “Roesrooi,” gee hy toe en sy lag net, kyk hoedat hy die swaar tas met gemak lig en op die voetbankie by die bed neersit. Pa Abel het, soos wat sy ou laai maar is, net verdwyn. Innig gegroet en haastig weggeraak kraal of stal toe. Sy gaan staan langs die bed met die mentgroen duvet en kyk na Henk. Hy kyk terug, ordentlik en skromeloos soos wat ’n man kyk wat lanklaas iets gesien het wat hom interesseer. “Jy’t maer geword,” merk hy op. “Ek was nog altyd slank.” “Slank en maer is twee dinge.” “Los my,” fluister sy en voel haar onderlip so erg beef dat sy dit vasbyt. “Wat is fout, Bernadette?” Maar sy glimlag. “Ek is net moeg. Rêrig tot in my murg moeg.” Hy lig sy hande tot op sy heupe. “Sal dit jou pla as ek ook dié naweek hier is?” “Nee,” antwoord sy ewe direk. “Dit sal Anna en Pa dalk ’n bietjie van my weghou.” “Hoe bedoel jy nou?” Sy sug en vou haar arms oor haar bors. “Ek het nodig om alleen te wees, Henk.” En toe nadenkend: “Ek het jou baie lanklaas gesien … Dit moet jare wees. Ek het nie besef jy kom nog hier nie. Ná … wel, nadat Adelien getroud is, het ek gedink jy sal juis die plaas vermy. Ook omdat dinge toe nou nie wou uitwerk tussen my pa en jou ma nie.” Hy bly ’n oomblik stil, kyk verby haar venster se kant toe. “Nee wat, Bernadette. Ek is eintlik lankal oor Adelien. En ek hou van Roald. Het selfs nou een aand by hulle gaan eet. Oulike klein seuntjie wat hulle het.” “Pla dit jou regtig glad nie?”
“Niks. As ek afstand doen, is dit finaal. Natuurlik gee ek om vir jou suster, maar dis waar dit eindig. Ek blaf nie agter dooie hase aan nie.” Sy lag lekker, haar kop effens agteroor. “Jy praat al amper soos dié wêreld se mense, jong!” Sy mondhoeke pluk. “Ek … geniet dit om soms hier te kom. Ek en jou pa is groot vriende, Berna. Enne … as jy wil weet, hy kry berading by my amper sonder dat hy dit weet. Dis vanselfsprekend ’n lang en sukkelende proses, want sy rousmart het veels te lank geduur.” “Lê dit dan nou in die verlede tyd?” wil sy ongelowig weet. Hy haal sy skouers op. “Hy besef darem al dat hy moet laat gaan. Maar hy klou vas daaraan. Dis soos ’n kruk vir hom. Hy weet nie meer hoe om te loop daarsonder nie.” “Ons … ek en Adelien en Christelle sal ook nie weet hoe om op te tree as hy eendag ooit self begin loop nie.” “Ons sal dit hanteer as ons daar kom. Ek het met Roald en Adelien ook daaroor gepraat en jou suster reken dis goed dat ek hier kom.” “Ek reken ook so,” glimlag sy. Sy intense blou blik staan ’n oomblik doodstil op haar gesig, toe sê hy amper formeel: “Jou pa is besig om daardie stuk geskiedenis deur te werk, Bernadette. Hy het my selfs van sy wittebrood vertel …” Haar mond val oop. “Pa … was op ‘honeymoon’!?” Dit lyk totaal absurd. Pa Abel ’n laggende, vryerige jong man wat met sy bruid op die strand speel? Henk se mond plooi in ’n fyn laggie. “Ja, hulle was op Yzerfontein in ’n gehuggie wat aan jou ma se skoolvriendin behoort het. Dit was winter en wanneer dit nie gereën het nie, het hy en jou ma lang ente op die oop, skoon strand gestap. Die rotse was wit van die meeue se mis sodat dit van ver af soos marmer gelyk het …” Haar vingers gaan na haar mond en sy voel hoe haar lippe onder die punte beef. “Dis … so vreemd … en wonderlik,” kry sy uit. “Hy het nooit daaroor gepraat
nie en my ma is dood voordat ons ons verstand mooi gekry het sodat ons kon vra.” “Ek weet. Dalk vertel hy self later nog meer … Jy moet jou nie kwel nie, Bernadette. Nou en dan val jou pa terug in sy ou geslotenheid, maar hy is regtig baie beter, dink ek. Jy sien mos hoe het hy sy onmiddellike omgewing opgeknap en so aan. Dak geverf en hy’t die badkamers ook oorgeteël. So iets is altyd ’n goeie teken. Ons speel nou skaak ook en ek het hom sover gekry om ’n rekenaar te koop. Ek en hy e-pos vir mekaar.” “Wát?” “Ja, maar bly stil daaroor. Hy is nog besig om die rekenaar onder die knie te kry. Eers dán, sê hy, sal sy slim meisiekinners pos van hom af kry! Hy sê hy wil spog met sy nuwe vaardighede!” En toe sy hom net stom geamuseerd aankyk: “Ek gaan nou agter hom aan stalle toe. Sien jou vanaand aan tafel.” Bernadette staan nog ’n rukkie sy woorde en oordink en drentel toe kombuis toe. Anna moet agter in die buitegeboue gewees het, besig om pas geplukte kool op die gasstoof te blansjeer of vars aartappels af te was toe hulle gekom het, want anders sou sy hulle luidkeels kom verwelkom het. Nou staan sy nog niksvermoedend voor die opwasbak en bolle skuim spat driftig soos wat sy borde en koppies skoonkry. Sy praat opeens skuins oor haar skouer: “Proffie Henk, jy moet met daai seuntjie van Jan Moletsane praat. Hy kort sielkunde! Meneer Abel laat hom die jaart vee vir sakgeld, want hy wil glo ’n rugbybal koop. Maar nou moet jy net sién,” sy wys kwaai met haar seperige hand na buite waar ’n seun van so veertien floutjies met ’n langsteel-hardebesem vee-vee, “hy lê gedurig op die ding en netnou-netnou knak die steel weer.” “Dan moet jy maar maak soos toe ek veertien was, Anna,” sê sy luiters. “Jy’t my eendag goed met die besem gefoeter.” Die vrou vlie om, haar ronde mond ’n perfekte O. Haar nat hande vryf sy aan haar voorskoot droog en groot trane wel in haar oë op, maar sy vee dit vinnig af. “Dit jok jy, Berna! Ek slat g’n aan kinners nie!” “Plathandsielkunde werk goed,” hou Bernadette vol, want sy weet, hou sy nou op praat, huil Anna haar kens voor vanaand. Sy sien dit aan die mollige, trillende ken en blink oë. En Anna haat ’n getjank, soos wat sy dikwels vir die drie sussies
beduie het toe hulle klein en klaerig was. ’n Mens wat oor alles tjank, huil naderhand uit gewoonte, het sy beweer. “Sielkunde,” sê Bernadette en rol haar oë plafon toe, “is net goed as jy lus het om jou binnegoed voor ander mense uit te ryg.” Anna se asem hik effens toe sy saamspeel: “Nomsa … sal sê jy praat strooi.” Maar Bernadette se klein praatjies is skielik op. Sy loop vorentoe en gooi haar arms om die stewige vrou wat al die jare maar haar ma was. Toe sy haar kom kry, huil sy op haar skouer. Sy snik en praat en snik, die woorde val stuk-stuk uit haar gemoed soos klippe uit ’n gaterige goiingsak. Sy is onnoemlik verlig toe sy eindelik die woord “baba” saggies uit haar mond voel glip. Later sit hulle met nat oë teenoor mekaar by die kombuistafel en rooibostee drink. “Ag, ’n ou kleintjie …” koer Anna. “Enetjie vir my om te pêpa as julle kom kuier. Jy moet nou vir Dirk sê, Berna.” “Ek weet,” fluister sy. “Maar niemand anders mag nog weet nie. Dis nog te vroeg.” Anna knik plegtig. “Eet ’n stuk beskuit,” por sy moederlik, maar Bernadette skud heftig kop. Nog voordat die vrou verder kan aandring, kom Nomsa by die agterdeur ingewaai, die derduisende vlegseltjies dansend. Anna raas nog voordat sy haarself toelaat om bly te word. “Wat makeer jou hare? Dit lyk asof jy geskrik het!” “Maar … dis mode, Mame!” keer Nomsa verontwaardig. “Regtig, ja,” beaam Bernadette. “En ék hou ook daarvan.” Die vrou bestudeer haar dogter se kop met geskreefde oë, toe gee sy haar ’n lekker klap op die boud: “Ek weet nie wát jou pa gaan sê nie! En vir wat kan julle twee mens ook nie laat weet julle kom nie?” Sy loer na Bernadette se bleek gesig en brom: “Ag, nou toe dan maar …” Laataand lê Bernadette in haar bed en luister loom na die stil plaasnag se klein en veraf geluide. ’n Motjie wat lomp teen die ruit fladder, ’n voël wat in die hoë struike langs die venster roer, ’n hond wat gedemp grom onder by die
werkershuise. In haar kop maal die gesprek rondom die aand se etenstafel. Pa Abel wat rustig-kouende luister na Henk se interessante relaas oor sy onlangse studietoer na Harvard. Die man se stem, kalm soos hyself, wat ’n ver en vreemde kampus inkleur totdat sy twee luisteraars die bruin baksteengeboue en witgelyste gewels kon sien, die klam, gure wolkedek wat kort-kort oor Boston hang, kon ruik. “Hoe lank was jy daar?” het sy gevra. Die agt kerse wat Anna so rojaal aangesteek het om haar kuier te vier, het ’n diep, goue gloor in die ruim vertrek geskep. Henk se sterk, hoekige gesig was gebaai daarin. “Ses maande,” het hy geantwoord. “En jou ma dan? Het sy haar nie dóódverlang nie? “ “Nee wat, jy kan maar sê ek is al mooi uit haar hande,” het hy sag gespot. “Sy het lekker lank by haar twee susters op Oudtshoorn gekuier. Het die hele KKNK beleef en kan nou nog nie ophou praat daaroor nie!” Bernadette het haar verluister aan sy pratery. Nog weer uitgevra na sy verblyf in ’n kleinerige houthuis saam met drie ander Suid-Afrikaners en ’n Koreaan wat teologie geswot het. “Ek en die ander het hom leer braaivleis eet. Dikwels by so ’n trietsige ou vuurtjie in die reën gaargemaak … Maar waarom eet jy so min?” Sy vraag het haar onkant gevang. “Ek is nie juis lus vir kos nie.” Pa Abel het gekug. “Dan moet jy juis eet, kind. Lyk my die stad doen jou nou maar eenmaal nie goed nie.” Pa Abel, vir wie die plaas ’n kuur vir als is wat hy dink sy dogters kan makeer … Toe eet sy maar. Alles wat op Anna se geil spyskaart is. En sy luister só lekker na Henk … Maar sy het later regtig nie meer goed gevoel nie en haar spytig uit die geselskap verskoon om liefs te kom lê. Nou rol sy rond en die vaak waarop sy gehoop het, wil nie kom nie. Sy sluimer op ’n keer in, maar word amper dadelik weer
wakker van ’n akute mislikheid wat haar feitlik dadelik op haar voete dwing. Sy gryp na haar kop en haal die aangrensende badkamertjie met sy nuwe roomwit Italiaanse teëls, net betyds.Toe sy weer by die bed terugkom, weet sy een ding: Vannag gaan sy nie ’n oog toemaak nie. Die proses herhaal homself ’n paar maal en sy verwens ’n honderd maal die hoenderpastei, die stroperige perskes met dik vla, die melkerige moerkoffie agterna. En haar eie onnoselheid. Sy raak van skone uitputting aan die slaap, maar word wakker toe dit nog grysvroeg is, so honger soos ’n bees. Sy sluip gangaf en haal die spens met net ’n enkele kraakgeluidjie uit die vloerplanke. Sy skakel die lig verlig aan. Maar net toe sy gister se baksel brood uit die houthouer lig, fluister Henk in die deur: “Wat maak jy?” Sy skrik dat haar nekhare orent staan, laat val die brood dat Henk wild daarna gryp en dit net betyds vang. “Is … is jy láf om ’n mens so te verskrik?!” raas sy fluisterend. Hy sit die brood neer en kom staan langs haar. “Jammer daaroor, maar as mens vloere in ’n plaashuis hoor kraak, stel jy ondersoek in. Weet jy dat hier al vreemdelinge op die werf kom snuffel het?” “Nee!” “Ja. Gelukkig was jou pa by ’n kerkraadsvergadering. Maar Thabu het hulle gewaar en die polisie gebel. Hulle kon natuurlik niks kry nie, maar dit het darem tot gevolg gehad dat die bure nou baie wakker loop. Hulle bel jou pa gereeld …” Terwyl hy praat, het hy die brood gesny. Vier dik snye, en hy haal die botter wat Anna onder ’n glaskoepel bêre, uit. Sy groot, raakvathande smeer en plak stukke vyekonfyt, deurskynend van die stroop, op. Dit lyk watertand lekker. En sy weet sy sal dit nie kan eet nie. Nugterheid het ook saam met hierdie man gekom, dink sy wrang. “Ek sal liewer nie nou hiervan eet nie.” “Waarom nie?” vra hy verstom en vat ’n stewige hap, kyk haar vraend aan. “Omdat ek swanger is,” blaker sy uit. “En kos maak my geweldig naar … maar … ag, ek’s honger!”
Hy eet bedaard verder asof sy bloot gesê het dat dit koud is in die Vrystaat. “Nou ja … kom ons gee vir jou iets anders. Ek het in ’n stadium so ’n maaggriep gehad wat my naar gemaak het en toe gee my ma vir my Cream Crackers om te eet. Droë beskuitjies doen nogal die ding, hoor.” “Hierdie is nie maaggriep nie,” sê sy stug. “Ek hoor so, ja. Is dit dan ’n probleem dat dit nie griep is nie?” Sy kyk op na hom. Hoog op, en besef dat haar kop kwalik by sy skouer kom. Sy moet haar ken lig om in sy oë te kyk as sy so naby hom staan. “Nee,” sê sy duidelik. “Dis geen probleem nie. Het jy dalk Cream Crackers?” “Hier moet seker wees.” Hy maak kaste oop, loer in blikke en sy staan asof sy ’n totale vreemdeling in hierdie huis is. Asof sy pas van ’n ander planeet af gearriveer het soos in daardie wetenskapsfiksiefilms waar andersoortige maar gawe wesens op aarde kom kuier en mense in hul huise verras. “Dit sal ’n lekker storie maak,” sê sy eensklaps en ’n lagbui wel in haar op. “Wat?” vra hy en trek ’n strammerige laai oop. “Ha! Hier is dit!” Sy neem dadelik twee toe hy dit na haar uithou. Sy knibbel versigtig, maar die kousel sak gewillig af, vul ’n brandend-leë plekkie in haar maag. “So ja,” knik hy tevrede. “Vertel my nou van die lekker storie … Maar kom ons gaan sit in die kombuis. Dis koud hier.” Hy kyk veelseggend af na haar kaal voete. In die kombuis maak hy haar voor die AGA sit en verdwyn. Kom weer te voorskyn met haar pantoffels wat langs die bed gelaat is. Sy lag. “Waar kom jy vandaan?” vra sy verwonderd. “My ma vra dit baie … Maar vertel nou,” pleit hy en maak die stoof se klap oop om die ketel op te sit. “Kom ons speel ek is ’n … ’n wese van … van Doer Gunter. Dis ’n planeet van ver anderkant ons sterrestelsel. Ek het nog nooit mense gesien nie. Ek weet ook nie hoe het ek hier gekom nie. Net dat ek verstom is oor die ander wesens op hierdie vreemde, ronde bal in die ruimte.”
“Synde nou van ’n vierkantige planeet?” “Já!” lag sy. “My planeet is vierkantig. As jy lank genoeg aanhou loop kan jy daarvan afval. Ek dink dis wat met my gebeur het. Ek het net eendag aanhou loop teen alle waarskuwings in. En toe ek op die rand van my wêreld kom …” “Nee, op die rand van jou kubus …” Sy kyk in sy stipte blik, merk die fronsie tussen die ligte wenkbroue en sug sonder dat sy dit kan keer. “Oukei. Toe ek op die rand van my kubus kom, het ek eers lank daar gestaan en wonder.” “Waaroor?” vra hy en staan op om die ketel te vat en vir hom koffie te maak, vir haar flou rooibostee. Dit gee haar kans om haar sinne bymekaar te kry. “Ag wat, dalk is dit nie ’n lekker storie nie, Henk.” “Hoe ken jy my naam? Jy kom dan uit die ruimte!” Hy kom sit weer, gooi vir hom twee teelepels suiker in en vir haar net so vyftien korrels. “Ek speel nie meer saam nie,” fluister sy en trek haar tee nader. Hulle drink in stilte, hoor Abel iewers in die huis werskaf en toe die voordeur se sif wat toeklap soos wat hy buitetoe gaan. “Jou pa gaan nou soggens tuin toe net voor die son opkom, wanneer die lug nog so groupienk is. Dan knyp hy die ou knoppe af en kyk waar hy nog iets wil plant, en so aan,” lig Henk haar in toe hy haar vraende gesig sien. “Voorheen,” sê sy verbaas, “sou hy nooit sy voet daar gesit het nie. Dit was mos my ma se domein, het Anna altyd gesê… . Jy rig inderdaad baie uit, Henk.” “Ek probeer.” Hy staan op en maak verskoning om te gaan stort en aantrek. In die gangdeur kyk hy om: “Bernadette, jy moet onthou dat ’n storie nie lekker hoef te wees nie. Solank dit eg is …” “Eg?” “Dit moet ’n hart hê,” sê hy en loop toe.
Toe Anna inkom, sit sy nog daar en probeer sin uitmaak van hul gesprek, sin maak van haar hele situasie. En sy vorder niks. Anna gee haar een kyk en gaan haal ook nog Cream Crackers. Sy eet en maak asof sy nie geweet het kraakbeskuitjies help teen naarheid nie. Net voordat sy loop, wys Anna laggend vir haar dat Jantjie se kind buite op die werf aan die vee is dat die stoffies dwarrel, die oggendkilte ten spyt. “Wat het gebeur?” vra Bernadette. “Nomsa se sielkunde het gehelp,” sê Anna trots. “Sy’t gesê as hy nie sy agterent roer nie, sal Thabu se plak praat!” Bernadette lag spontaan. Al die kleingoed het ontsag vir Thabu se plak wat agter hul huis se voordeur hang, al het niemand dit nog ooit in werking gesien nie. Toe sy loop om te gaan bad, glimlag sy steeds. Sy voel tog beter, besluit sy. Beter maar nie anders nie, korrigeer sy haarself. Sy verwag ’n baba. Dis toe sy in die louwarm badwater sit, dat sy vir die eerste maal haar vingers versigtig op haar buik plaas. Hier onder my handpalm woon my kindjie, dink sy en die gedagte verteder haar só dat trane oor haar wange drup. Later trek sy aan en gaan lê op die bed om heerlik en droomloos te slaap. “Jy lyk beter,” sê Henk toe hy haar die middag aan tafel sien. “Soos iemand wat uitgerus is.” Ook Abel knik sy tevredenheid met elke woord wat die professor kwytraak. “Het mos gesê jy kort net vars lug.” “Net so,” beaam sy sedig. “Ek gaan juis netnou ’n entjie in die veld stap.” “Nie alleen nie,” sê Pa Abel en Henk feitlik tegelyk. En toe voeg Henk luiters by: “Netnou val jy iewers af, of so.”
Hoofstuk 4
Sê nou jy val iewers af … Dié woorde het haar maande lank bygebly. Maande waarin sy soms gewens het sy kon op die rand van die wêreld staan en haar arms sprei sodat sy en haar ongebore babatjie kon wegvlieg na Doer Gunter. Sy het met soveel moed daardie middag gaan stap. Pa Abel het saamgegaan want Henk het vroeg gery Bloemfontein toe. Glo om ’n ou vriendin op te soek. Sy het die BMW met ’n vae gemis in haar binneste agternagekyk, maar was verras toe haar pa voorstel dat hulle twee dan maar na die ruïne toe stap. Hy het ’n rustige pas ingesit om haar nie moeg te maak nie. En praatjies gemaak sodat sy verwonderd geluister het. Oor die mielie-oes wat op hande is, die reën wat hy hoop gaan kom voor die koring geplant moet word. Hulle het in die sonnetjie teen een van die ruïnemure gaan sit toe Pa Abel eindelik vra: “Hoe gaan dit met jou en jou man, Berna?” Sy was verstom. Voorheen sou hy bot geswyg het oor iets wat hom pla. En Dirk pla hom nog altyd, dit weet sy. Daarom het sy gerusstellend geglimlag: “Goed wat, Pa moet Pa nie bekommer nie.” Hy het lank stilgebly. Eindelik hortend gesê: “Dis presies die soort woorde wat ’n ouer baie bekommerd maak, my kind.” Onrus het haar keel toegeknyp, maar sy het bly glimlag. “Agge nee wat, Paps. Daar is regtig niks wat pla nie.” En toe op die ingewing van die oomblik: “Ek het wel goeie nuus. Ons gaan ’n baba hê.” Hy het sy kop stadig na haar toe gedraai en dit was of sy stem dun raak. “’n Ou babatjie? Dis baie goeie nuus, ja. Jou man is seker baie bly.” “Hy is,” het sy gejok, self verbaas oor die gladde leuen. Hy sal wees, het sy haarself getroos. Hy moet net wees.
Pa Abel het opgestaan en haar aan die hand opgetrek, sy hande oomblikke lank op haar skouers laat rus en gesug. “Nou ja, netnou word dit koud. Kom, Anna het melksnysels vir vanaand gemaak. Lyk my sy wil jou nou net vetvoer.” Dit was asof hy gelate aanvaar het dat Anna wel voor hom van so iets sou weet. Hy het oor haar kop na die plek-plek verkrummelde mure gekyk, nadenkend gefrons. “Miskien moet ek maar eendag dié ou plek restoureer, weet jy. Bietjie navorsing doen. Basie Daneel van Heuningvlei weet mos baie van die geskiedenis af. Snuffel mos heeldag op die internet rond na ou verhale en goed oor ons kontrei. Loop besoek museums en goed … Ja-nee … Ek dink ek moet die plek maar regmaak soos dit in die ou dae was.” Sy was opnuut verras. “My aarde, Pa, dis ’n wonderlike idee.” Hulle het tot die aand aan tafel bly gesels oor die restourasiewerk en daar was ’n glinstering van entoesiasme in Abel se oë. Maar in haar agterkop het sy Henk gemis. Hoe bly sou hy nie wees nie, het sy gedink. Dat Pa Abel selfs uit die ou ruïne iets wil skep … Sy’t gewonder of die meisie in Bloemfontein vir Henk iets beteken. Hy is bra skielik weg, so asof hy vinnig Stille Weide se stof wou afskud. Maar sedert daardie langnaweek was daar nie juis tyd om oor Henk te wonder nie. Daarvoor het Dirk se reaksie gesorg. “’n Baba?” Sy gesig het leeggeloop. So asof sy die tyding bring dat die land skielik binnegeval gaan word en hulle liefs moet vlug. “Ek weet dis onverwags, Dirk,” het sy gepaai. “Maar dis tog nie asof ons nie die feite van die lewe ken nie!” Hy het op die bank in die sitkamer neergesak en sy het bly staan soos ’n kind wat oortree het. Hy het ’n slag oor sy gesig gevee. “Dis ’n bra ongerieflike feit, ou girl. Ons het dit nie beplan nie, het ons? Vir wat moes jy nou vergeet het om jou pille saam te vat? Hemel, Bernadette, dié ding gaan ons sleg vang!” Iets het in haar ontplof. “Die ding?! Verwys jy nou na ons kind?” Hy het die afgryse in haar stem gehoor en berouvol opgevlieg. “Ag, Poppie! Nee, natuurlik nie … Maar jy moet tog verstaan dat ek tyd nodig het om dit te verwerk.” En toe: “Hoe ver is jy?”
“Ver genoeg,” het sy moedswillig geantwoord. “Bernadette!” “Seker so twaalf of dalk veertien weke.” “My hemel! Waarom het jy nie eerder gepraat nie? Dan kon mens dalk …” Dit was die laaste strooi. Sy het omgevlieg, te ontsteld vir woorde. Hy kon nie gesê het wat sy gehoor het nie … Hy kón nie … Sy het uitgehardloop, in die portaal na haar motorsleutels gegryp en was uit by die deur nog voordat hy kon keer. In die parkade het hy haar ingehaal, maar sy was al in die motor, deure gesluit, haar hande krampagtig om die stuurwiel vasgeklem. Haar hele lyf het gebeef. Tot haar onderkaak het geklappertand. Hy het by die kar kom staan en aan die deur gepluk. Maar sy het nie na hom gekyk nie. Sy kon nie. “My magtig, Bernadette! Weghol gaan nie help nie!” Bly ook nie, het sy besef en weggetrek. In die truspieëltjie gesien hoedat hy haar woedend, hande in die sye, staan en agternakyk. Sy het reguit na Roald en Adelien gery. Al begin huil toe sy by die skaduryke jakarandalaning waar hul woon, inry. Gou haar trane gesluk toe sy die klomp motors in die oprit voor die ouerige huis sien. Met skok besef dat dit die sewentiende Mei was … Roald verjaar. Adelien het al voor die langnaweek gebel om haar en Dirk uit te nooi. Bernadette het verby die klomp motors gestuur, agterom gery en voor die agterdeur stilgehou. Toe Josephina haar in die deur sien staan, het sy haar hand verskrik na haar mond gelig. “Sjuut,” het Bernadette gesê, “ek wil gou deurglip na die gastekamer, asseblief.” Maar die goeie Josephina moes gesien het hoe die wind waai, want oomblikke later was Roald en Adelien by haar in die kamer waar sy in ’n bondeltjie op die bed neergesak het. Kort op hul hakke was Christelle, glasie sjampanje in die hand en haar lang hare in ’n blink, blonde gordyn oor haar skouers. “Wassit met jou?” het sy gegroet, maar ’n streng kyk van Roald gekry en stilgebly.
Hulle drie het swyend na Bernadette se hortende, snikkende relaas geluister, haar beurtelings teen hulle vasgedruk en allerlei mooiklinkende woorde gesê wat sy nou om die dood nie kan herroep nie. Toe het Adelien vir haar ’n koppie warm tee en ’n klompie droë beskuitjies gebring en is terug na die gaste toe. Roald het sorgsaam toegesien dat sy eet en drink en haar soos ’n kind met ’n reisdeken toegemaak. “Slaap nou,” het hy sag gesê. “Geluk met jou verjaardag,” het sy gefluister en hy het geglimlag, die deur agter hom toegetrek. Christelle het ook weggeglip, maar later teruggekom en haar help uittrek, ’n nagrokkie van Adelien gebring. Sy het langs Bernadette op die dubbelbed geslaap met ’n arm styf om haar middel. Sy het so gekoester gevoel soos nie in jare nie … Maar toe sy wakker word, was haar sussie reeds weg klas toe en sy het die oggendkilte teen haar voel druk. Dirk was vroeg al daar. Sy het hom in die kombuis hoor lawaai nog voordat hy die kamer ingekom het. Hoe beangs hy was om haar veiligheid, hoe hy amper van sy kop af was omdat hy nie geweet het waar sy haar bevind nie en vir wat kon hulle hom nie bel nie!? Toe Roald se kalm tussentrede: Ons het gedink jy sou weet waar om haar te kom soek. Waarheen sou sy tog anders gegaan het? Buitendien het sy ons verbied. Maar gaan nou, sy wag vir jou … Dirk was nog dikmond toe hy inkom en sy het die deken tot hoog onder haar ken getrek, onvermydelik die mislikheid voel opstuif. Haar ken het gebeef omdat sy opeens glad nie geweet het hoe om die situasie te hanteer nie. Wat sê mens nou eintlik vir jou man as hy nie bly is oor julle baba nie? Wórd asseblief bly? Wéés meer volwasse? Kóm tot jou sinne? Alles opdragte wat onuitvoerbaar is as ’n mens dit nie in die eerste plek aan jouself gee nie. “Goeiemôre,” het sy dit beteuterd gewaag. Dirk het gesug, op die voetenent gaan sit. “Waarom het jy hiernatoe gekom?” wou hy nukkerig weet. “Ons kon gepraat het … Jy weet mos ons sal die beste van die saak maak!” Die naarheid het onverklaarbaar verdwyn. Seker omdat sy so onmiddellik briesend was. “Die saak … Die sáák?! Eers ’n ding, nou ’n saak! Ons vorder darem! Een van die dae kan ons dalk beskaafd praat oor die kwessie!” “Hou op sarkasties wees,” het hy kwaad gesê, en sy het gesien dat hy bleek was. Donker kringe onder die oë ook. So asof hy nie geslaap het nie. Sy het vreemd
tevrede gevoel daaroor. Dirk wat so droomloos, so met volkome oorgawe kon slaap, was blykbaar heelnag wakker. Sy het haar asem hygend ingetrek: “Wat besiel jou, Dirk Joubert? Jy, wat ’n dokter is, het nou skielik nie tyd vir ’n nuwe lewe nie! Wat … wat het jy gedink toe ons getroud is? Dat kinders net verwek word as mens hulle netjies beplan?” “Dit sou beter gewees het!” het hy ingekry. “Veel beter, ja!” “Maar nou is dit nie! Nou is jou kind hier in my en hy wil lewe, Dirk!” “Nou moraliseer jy, Bernadette. Kom huis toe dat ons in vrede kan stry.” Vrede en stryd. Altyd dié paradoks, het sy gedink. Dirk wat lief en dierbaar is versus Dirk die arrogante, onsensitiewe, onvolwasse … Ag, vader … Sy was sat tot in haar beendere. Sy het een allesoorheersende begeerte gehad: Om rustig te raak, omring te word deur kalmte en sielevrede. Sy het toe saam huis toe gegaan – maar hulle hét gestry. En nie in vrede nie. Dae lank. Snags klipstil en oopoog langs mekaar bly lê. Dit was asof hy net nie kon snap dat hy baie skielik ’n grootmens sou moes word nie. Dat sy speeltyd finaal aan ’n einde gekom het nie. Dis altans hoe hy dit gesien het. ’n Fase wat onherroeplik uit sy lewe geruk is deur die koms van iemand wat hy glad nie genooi het nie. Op ’n vrieskoue winteroggend toe sy met moeite haar skraal liggaam uit die bad lig om klaar te maak vir werk, voel sy die eerste fyn trillinkie van lewe. Veertjiesag soos vingertjies wat soekend tas. Sy het baie, baie saggies die groot wit handdoek om haar lyf gevou, nie geweet of sy nou self moes beweeg nie. Dalk fladder die handjies weer as sy net tjoepstil bly staan. Sonder dat sy kon keer, het die trane oor haar wange gestroom. Dirk het haar so kom kry, een kyk na haar gesig gegee en pront gesê: “Jy moet by ’n ginekoloog uitkom. Dokter De Wet is uitstekend. Ek maak dadelik vir jou ’n afspraak.” “Hy … sy … dit het geroer,” het sy geprewel. En toe, vir die heel eerste maal het Dirk weer dié Dirk geword wat sy liefhet. Dirk wat op sy huweliksdag die koei in die veld help kalf het, Dirk wat vergeet
dat hy op ’n partytjie is as hy eers oor sy werk begin praat … Hy het vorentoe getree en haar teen hom vas gevou. “Laat staan tog nou die lawwigheid,” het hy gesê, asof dit sy was wat die onmin ontketen het. En sy het gewilliglik die vae ongelukkigheid wat bly kleef het eenkanttoe gestoot, geweet dat sy nou net sy liefde en versorging wou hê. Sy wou niks ooit weer analiseer nie, so het sy gevoel. Nog een maal het hulle kop gestamp. Sy wou op ’n oggend weet of hy al ooit sy ouers laat weet het van die baba. Hy het uit die veld geslaan gelyk. “Nee … ek … wel, ek het gedag dat dit beter sou wees om ’n rukkie te wag.” “Hoe lank wil jy wag?” wou sy suf weet, moeg om te tob oor Dirk en sy mense nie juis naby aan mekaar is nie. “Ag, wel, nog so ’n rukkie,” was al wat sy uit hom kon kry en hy is haastig daar weg hospitaal toe met sy wit jas en tassie vasgeknyp onder die arm. Van toe af het sy dit uit haar kop gestoot soos wat mens ’n swaar meubelstuk uit ’n kamer probeer kry. Want dit was moeilik om te glo dat die Jouberts, nou van Constantia in die Kaap, wragtig nie eens sal wil hóór van ’n naamgenoot nie? Toe sy dit eendag spottenderwys teenoor Christelle opmerk, was sy verstom om die reaksie te hoor. “Wat het jy verwag, Berna? Dirk se mense is net op papier familie van hom. Jy weet, soos party mense net op papier getroud is. Begryp kan ek dit nie … maar nou ja, dis deel van die pakket ‘Dirk Joubert’,” en haar twee voorvingers het veelseggend aanhalingstekens in die lug gemaak, “waarmee jy getroud is.” Bernadette het liefs niks geantwoord nie. Christelle kon soms haar vinger hard op ’n seerplek druk. Dis toe dat sy besluit het om van die senior Jouberts, wat buitendien kwalik onthou dat hulle ’n skoondogter het, liefs te vergeet eerder as om haar sinne kwyt te raak. Dirk sal hulle wel van die baba vertel as hy lus kry. Daarvandaan het dit redelik goed gegaan. Sy het van die dokter gehou en Dirk was ingenome met die sonarfoto’tjie en het dit, nes in ’n sentimentele fliek, teen die yskas vasgeplak, tydig en ontydig daarna gestaar, hom verbeel hy kon sien dis ’n seuntjie. Daar het selfs gaandeweg vrede gekom tussen hom en Roald en Adelien. Hulle het hom en Bernadette genooi om daar te gaan eet en daar is land en sand gesels asof daar nooit rusie in die kombuis was omdat Bernadette na
hulle toe gevlug het nie.Wel net bolangs, maar tog. Of die Blou Bulle dit gaan maak dié jaar en of Ernie Els weer die land gaan trots maak. Dirk het kwinkslae kwytgeraak en selfs Adelien se hoendergereg gekomplimenteer. Dirk weet goed hoe om die blink kant bo te hou, dink Bernadette dikwels. Haar liggaam het begin uitswel totdat sy eenvoudig moes gaan klere koop. Sy het haar twee susters saamgevat en hulle het een hele Saterdagoggend al giggelend, soos skooldogters, Menlyn Park en Brooklyn Mall deurkruis op soek na kraamklere. Oral tee gedrink en al hul gesels ingehaal. Eindelik ’n boetiek gevind en Bernadette moes die een wye rok na die ander, vol blommetjies en kolletjies, aanpas. Maar Christelle het haar neus gou opgetrek. “Agge nee! Kies effe kleure. Dit moet darem cool ook lyk,” het sy reguit gesê. “Mens moet kan sien jy’s ’n ‘with it’ mammie!” “Praat tog Afrikaans,” het Adelien speels gemor. “Die kleintjie moet sy moedertaal suiwer aanhoor. Hulle kan goed hoor daar in hul nessie, nè! En hulle voel aan as hul aanstaande tannies nie ordentlik praat nie!” Christelle het haar kop agteroor gegooi dat die blonde hare om haar skouers golf. “Dis nou die grootste ‘crap’ waarvan ek nog ooit gehoor het!” Sy het afgebuk en haar oor teen die laggende Bernadette se buik gedruk. “Hoor net daar! Hy sê dis glad nie cool klere hierdie nie! Hy sê …wag, wag … Ja, hy sê ons moet liefs wye denimbroeke en T-hemde probeer!” “Darem net een swart rokkie,” het Adelien, altyd konserwatief, gepleit. “Dan kan sy ma lekker kerk toe gaan en ook sommer paartie hou daarmee.” “Julle vergeet ek is nog ’n werkende vrou ook. Dit sal vir kerk, werk én dans moet wees!” Hulle het toe twee rokkies gekoop. Een swarte met skouerbandjies vir die somermaande wat voorlê en die ander appelgroen met ’n stemmige baadjie daarby as Bernadette hofsittings moet bywoon. Maar Christelle het haar sin gekry. By ’n oulike boetiek in Brooklyn het hulle twee denimkraambroeke en ’n paar stylvolle wit en swart T-hemde gekoop. Ook ’n swart kraambaadjie wat daarby pas. Daaroor was sy nog nooit spyt nie. Ook vanoggend staan sy goedkeurend na haar klerekas en kyk. Dis Saterdag en Dirk is weg hospitaal toe. Die oggend lê
lui en leeg voor haar uitgestrek. Sy gaan ’n bietjie stap, besluit sy. Sommer hier in Hatfield Square. Sy het lanklaas daar gaan rondloer, was baie besig op kantoor en het hope werk huis toe gebring. Dik lêers wat al haar aandag verg en haar moeg en lusteloos laat sodat sy nie veel energie oor het vir allerlei geselsies nie. Gelukkig was Dirk ook baie bedrywig. Maar hy het reeds begin kla dat hulle darem nou regtig in die laaste tyd min tyd kry om te jol. Eintlik behoort hulle en ou Gerrit en ’n paar ander vir ’n naweek Dikhololo toe te gaan. Sodat mens net weer vry kan wees, bietjie kan wegbreek. Seker niks daarmee fout nie, dink Bernadette en wikkel haar swaar lyf in die denimbroek in, trek ’n wye swart T-hemp oor haar kop. Dis net dat daar altyd iets anders aan Dirk se wegbreke kleef. ’n Wilde breek-met-als houding. Of miskien verbeel sy haar dit net. Sy skud haar kop ergerlik, borsel haar hare uit en laat dit net so krullerig om haar kop staan. Sy sit pêrel oorkrabbetjies aan en hang ’n fyn goue kettinkie om haar nek. Sy spuit ’n bietjie J’Adore in haar nek en hare, aan haar polse. Toe gryp sy haar handsak en glip uit die huis asof daar iemand is wat haar kan keer. Sy stap vinnig straataf en net toe sy by die ingang van die Square kom, kom Henk uitgery. Die motor stop dadelik en hy klim uit. Sy staan hom tellings lank stom en beskou. So asof sy nog nooit so ’n groot blonde mens vantevore gesien het nie. Wel, miskien het ek nie, dink sy en frons. “En nou?” lag hy. “Het jy pas gearriveer?” “Van waar?” vra sy dom en hy kyk haar uit die hoogte aan, sy ooglede met die digte donkerblonde wimpers laag oor die blou oë. “Van Doer Gunter af, natuurlik. Of het jy van jou herkoms vergeet?” ’n Stadige, warm blydskap stoot in haar op, en sy glimlag. “Ek … vergeet soms dat ek eintlik dáár woon. Maar miskien moet ons meer omvattend oor herkoms en sulke goed gesels.” “Dit pas my,” sê hy en neem haar arm. “Kom, hier’s ’n plek wat koffie maak waaroor mens net kan droom. Ek kry onttrekkingsimptome as ek dit ’n paar dae lank nie geproe het nie. Kom, klim in.” Sy maak gedagteloos so en eers toe hy wegtrek, besef sy wat sy doen. “Ek weet nie of ek moet nie, Henk.” “Natuurlik moet jy. As jy soms op hierdie ronde planeet wil kuier, moet jy weet
dat ons ook ons eie kultuur het. En dis tradisie dat alle mensmoeders ’n slag goeie koffie moet proe. Dan raak hul kleintjies wys en oulik.” Bernadette lag. “Jy weet so goed wat om te sê. En ek is juis so lus vir koffie … Maar ek moet liefs weer terug na my vierkantige planeet.” Hy antwoord nie dadelik nie. Later sug hy net. “Seker ja, maar Bernadette, ek wil regtig net graag vir jou koffie koop. Dis al. Kyk, hier’s ons. Hulle bedien spesiale Arabica-koffie in hul tuin. Dink jy nie dis ’n mooi plek nie?” ’n Gastehuis, sien sy. La-la Palma, staan in goue letters op die bord. Diep versteek agter ou, digte palmbome iewers bokant Parkstraat. Hulle klim uit en tussen die skurwe bruin stamme deur gewaar sy wit mure en groen grasperke, ’n fontein wat sag suisel en vrolike geel sambrele, wit houtmeubels.”Dis pragtig, Henk.” Hulle word vriendelik ontvang deur ’n kelnerin in wit wat hulle na ’n tafel naby die fontein begelei. Hy gaan sit langs haar, nie teenoor haar nie, en ’n kolletjie genoeglikheid sprei in haar oop. Henk is so … so maklik, dink sy – en so menslik. Sy glimlag met hom, hoor hoe hy sy asem hard intrek. Toe roep hy weer die kelnerin nader en hulle bestel sommer dadelik melkkoffie met room. “O aarde … kan jy al sulke goed drink?” vra hy skielik besorgd. Sy lag. “Gelukkig, ja … al waarmee ek deesdae effens sukkel is moegheid en geswelde enkels.” “Is dit normaal?” vra hy huiwerig. “Wel, die dokter reken ek moet my maar net oppas.” “Werk jy nog?” “Ja …” sug sy, “en mevrou Du Buisson herinner my gereeld daaraan dat dit eintlik ongerieflik is dat ek vier maande kraamverlof sal moet neem.” “Stuur haar Doer Gunter toe,” lag hy. “Ons is kieskeurig oor wie ons daar toelaat,” speel sy saam en kom agter dat sy die gesprek verskriklik geniet. Daar is ’n glimlag binne-in haar wat haar mondhoeke vanself laat plooi.
Hulle koffie kom en sy gooi twee lepels suiker in, roer stadig. Toe sy opkyk, is sy helder blik koesterend op haar mond. “Dink jy,” vra hy stadig, “dat ek ooit daar toegelaat sal word?” “Op ons kubus genaamd Doer Gunter?” vra sy om tyd te wen, maar skud toe byna dadelik haar kop. “Nee, daar’s net plek vir twee.” Hy neem ’n slukkie van sy koffie, knik somber. “Ek weet dit eintlik … Soms spreek ek net wense uit, Bernadette. En sê ek dinge wat net op my eie planeet gehoor mag word.” “Is dit nou hier op aarde? Ek dag hier is baie dinge verbode.” “Hier is, ja. Maar op hierdie oomblik in tyd, om gonswoorde te gebruik, bestaan my planeet net uit hierdie tuin tussen die palms.” Haar hart se slag versnel, dis of sy vasgevang sit onder die sonnige sambreel by die wit tafel met sy heldergeel doek. By hierdie man met sy oop gesig en ernstige oë. “Ek moet gaan,” sê sy asemrig en voel die baba fladder in haar, sit haar hand dadelik op haar maag wat rond bult onder die T-hemp. “Haai,” sê hy verwonderd en leun nader, steek sy hand uit. “Het jou kindjie geroer? Mag ek voel?” Hy lyk so kinderlik opgewonde dat sy net knik. Hy sit sy palm baie sag op haar buik en die baba beweeg weer, skop selfs ’n slaggie sodat hy sy oë in ekstase toemaak. “Liewe vader … maar dis wonderlik,” sê hy. Sit skielik terug. “Dirk moet in die sewende hemel wees!” Daar stol ’n stilte tussen hulle wat haar wild na woorde laat tas en uiteindelik ’n Doer Gunter antwoord laat gee: “Ek het mos gesê ek praat nie op julle planeet oor ons kubusmense nie.” Sy sit haar vingerpunte vervaard op haar mond. “Ek … ons moet nou ophou …” Hy bly baie lank stil, kyk oor die tuin met sy immergroen grasperke, die silwerblink water wat uit die fontein spuit en weer in die visdammetjie onder terugplas. Toe sug hy diep. “Ja, jy is reg. Ons beter ophou. Maar Bernadette …” Hy kyk na haar en sy oë is ’n diep baftablou: “Ek moet dit net vir jou sê … Ek het nog nooit sedert … wel, daardie langnaweek, opgehou om aan jou te dink nie. Jy wat op jou kubusplaneet moet lig loop om nie te ná aan die kant te
beweeg nie, anders val jy af.” “Jy … mag nie nou sulke goed sê nie,” keer sy en voel ’n bewing uit haar kuite boontoe na haar arms sprei en lig ’n hand na haar hart. Hy vang die hand vas en hou dit in albei syne. “Net op hierdie oomblik alleen praat ek, en ek sê dit voor die Here en sonder bybedoelings of hoop, selfs sonder … ja, sonder gedagtes. Dit kom geheel uit die hart. Jy is ’n allerpragtige vrou, Bernadette. En jy is dierbaar. So swanger is jy onweerstaanbaar. Herinner Dirk daaraan.” Toe wink hy die kelnerin nader. “Bring vir ons die rekening, asseblief.” Toe sy weg is, draai hy weer na Bernadette, sy gesig digby hare: “Luister na my … Pas jouself goed op daar op Doer Gunter … En onthou, ek is jou vriend en sal jou bereik as jy my nodig het. Al is jy ook wáár.” “Dankie,” fluister sy, weet dat sy nie een enkele woord verder mag sê nie. Want – hierdie man sien waar ander nog nooit die moeite gedoen het om eers te kyk nie. Hierdie man sonder hoop of gedagtes, is ’n kosbare mens wat liewers nie langer opgehou moet word deur die swanger vrou van ’n ander man nie. Hulle ry in stilte terug en toe hy haar reg voor die woonstel aflaai, leun hy oor en soen haar op haar wang. “Mooi bly, Bernadette!”
Dié oggend se kuiertjie bly haar by soos ’n fyngeur wat talmend steeds plesier verskaf. As sy en mevrou Du Buisson soms in Parkstraat verbyry hof toe, draai sy haar kop in die rigting van La-la Palma, verbeel haar sy kan die klam, fris lug daar langs die fonteintjie onder die sambreel ruik, kan opkyk in Henk se suiwer blik. Maar dan herinner sy haarself terstond daaraan dat sy op ’n vierkantige planeet woon. En taamlik naby die skerp kant. Dit weet sy met toenemende beklemming. Dirk is meestal dierbaar en gaaf met haar, besorgd ook. Hy hou niks daarvan dat haar enkels so geswel is nie. Neem kort-kort haar bloeddruk en lyk soms ’n bietjie bekommerd. Dan laat hy haar lê met haar voete gelig en hy dra rooibostee aan. Sy mag ook nou nie meer koffie drink nie en selfs gewone tee het hy verbied. Hy het ook streng reëls neergelê in verband met haar dieet en het gevra dat sy asseblief smiddae dadelik moet kom lê as sy van die werk af kom.
Dit geval haar, hierdie ding dat hy so begaan is, maar wat haar kwel, is sy groeiende en kwalik bedekte ongeduld met die feit dat sy werklik nie saans juis kans sien om uit te gaan nie. Sy is eenvoudig te moeg. Sy haal bedags skaars drie uur of sy begin verlang na huistoegaantyd. Nou die middag het sy by ’n rooi verkeerslig agter die stuur ingedut en woedende reaksie van haar medepadgebruikers gekry toe sy uiteraard ’n oomblik langer as wat nodig is, vertoef toe die lig groen word. Sy het haar slap geskrik vir die getoeter agter haar en die petrolpedaal verbouereerd getrap sodat die kar eers weer gestol het. Dat sy heelhuids tuisgekom het, is ’n wonder. Dit was die aand wat Dirk saam met Gerrit en Piet en Sarinda wou gaan uiteet by die Griekse restaurant. Sy was flou van vermoeienis en kon haarself kwalik aangetrek kry vir die okkasie. Moes net ’n oomblikkie rus en het gevoel asof sy heeltemal wegsink in die bed toe sy eers gaan lê. “Voel jy regtig nog nie beter nie?” het Dirk vir die vierde maal kinderlik moedeloos kom vra. Sy het swaar orent gekom, ’n skielike besluit geneem. “Nee, Dirk … Maar waarom gaan jy nie sonder my nie? Piet en Sarinda sal mos verstaan. Buitendien, Gerrit is ook daar. En hy sal seker ook sonder ’n vroumens daar aankom.” Hy het ’n rukkie gestaan. “Ek sal eers vir Nomsa bel om by jou te kom sit.” Wonder bo wonder was Nomsa binne minute daar en het gelate geluister na al Dirk se instruksies. Geen koffie vir Bernadette nie, net flou rooibos, hoor. En bly asseblief by haar in die kamer. Sit en swot. Buitendien, sleep jy nie nog ’n vak nie? Asof iets, al is dit nou Nomsa se akademie, die skuld moes kry. Nomsa het dikmond geknik, haar klein voete in die swart Sketchers voor haar uitgeskop toe sy op die leunstoel in die kamer gaan sit. “Dié Dirk darem!” het sy losgetrek toe hy fluitend daar uit is. “As ek hy was, sou ek my mond hou oor …” “Nomsa!” “Ag okei, maar jimmel, hy kan my vies maak!” Vir my ook, wou Bernadette sê, maar sy het te siek gevoel, net teruggesak teen die kussings en die tee wat Nomsa aangedra het, het koud geword op die
bedkassie. Gerrit het haar die volgende dag werk toe gebel. “Waar was jy gisteraand?” wou hy bondig weet. “Dirk sê jy het oes gevoel.” Oes … Oes en olik, is gewoonlik die woorde waarmee hy haar toestand beskryf. Ook as sy ma-hulle darem dan en wan uit die bloute bel om te hoor hoe dit gaan. Sy het gesug. “Ag wat, Gerrit, ek is nou beter. Volgende week gaan ek saam as julle … as ons klomp wegbreek Dikhololo toe.” Hy het klikgeluide gemaak en kwaai gesê: “Jy moet jou nie laat boelie nie, Bernadette. Ons liewe Dirk het soms nie die sensitiwiteit van ’n gewone huisvlieg nie.” Sy het nie geantwoord nie, net gegroet en toe die foon neergesit. Ook Sarinda het gebel en wou bekommerd weet of sy reg sal wees vir haar en Piet se troue. “Dit gaan by ’n vakansieoord in die Magaliesberg gehou word, jong, en jy móét net kom!” “Toemaar, ek is mos nie siek nie. Ek sal daar wees.” Natuurlik sal sy dan daarvoor lus wees ook, het sy haarself wysgemaak. Eintlik hét sy baie lus vir die wegbreeknaweek na die Bosveldoord toe. Dis net haar lyf wat nie altyd wil saamspeel nie. Mevrou Du Buisson het haar juis ook gister ingeroep en onverhoeds só simpatiek na haar gekyk sodat sy haar oë moes knipper om die trane te verdoesel. “Bernadette … Hm ja, ons firma het besluit om ons korporatiewe beeld te verander. Meer informeel te maak. Ons is van nou af op voornaamterme en die logo en alles gaan verander. Ons wil meer kliënte-vriendelik wees.” “O. Nou wat moet ek doen?” Die vrou het skeef geglimlag. “Nou nog niks. Ek wil hê jy moet vroeër met kraamverlof gaan. Ek wil nie ’n hoogswanger foto van jou op die nuut ontwerpte webwerf sit nie.” “Maar ek is nou eers ses maande, wel, amper sewe en …”
“En hoog tyd dat jy ’n bietjie by die huis gaan rus, Bernadette. Jou voete is geswel, jy is bleek en lyk vermoeid. Bepaald nie bevorderlik vir ons beeld na buite nie!” Bernadette het na die vrou gestaar, haar gesig steeds so klinies ontoeganklik soos altyd. Maar ’n klein laggie het vlugtig oor die koel gesig getrek. “Toe nou, ek het wel simpatie met jong prokureurs wat gaan kraam, maar die eintlike rede is dat die firma vars, skerp jong prokureurs nodig het. Gaan word sterk en gesond. Kom volgende jaar terug met nuwe moed. Totsiens.” “Ek … wel … van wanneer af geld dit, mevrou?” “Van hierdie oomblik af, Bernadette. Geniet die rustydjie voordat die baba kom. En my naam is Marta. Trek asseblief die deur agter jou toe.” Bernadette kon kwalik ’n dankie uitkry voordat sy die kantoordeur baie sag agter haar toemaak. Marta, bid jou dit aan. ’n Stoere naam vir ’n koel kat. In hulle kantoor het Johnnie net skuinsweg opgekyk en in ’n betekenisvolle grafstem gesê: “Daai La Grange-saak is op die opponerende rol vir Dinsdag geplaas. En indien jy nog nie weet nie, die saak is aan regter Erlank toegewys en jy weet hoe …” “Sorry, kollega,” het Bernadette hom in die rede geval en na haar lessenaar toe gestap, “maar dit lyk my ek gaan dié saak misloop.” “Wat?” “Ek is aangesê om huis toe te gaan. Deur ene Marta, nogal.” Hy het sy bril stadig afgehaal. “Is jy orraait?” “Nee, ek is nie. Ek is bly dat ek kan gaan. Sien julle klomp weer volgende jaar. En ek moet sê, so lief as wat ek vir my werk is, is ek bly om vir ’n rukkie van my diktaatmasjientjie en dik lêers ontslae te raak.” “Jy moet jouself mooi oppas, Bernadette.”
Gawe woorde wat haar ’n paar dae lank bybly. Dit raak egter toenemend moeiliker om haarself “mooi” op te pas. Deels omdat Dirk rooi miere het en elke beskikbare naweek wat hy nie op spoed is nie, wil wegbreek iewers heen – en ook omdat sy werklik haar bes moet doen om net gaaf te klink. Sy het eerder lus en bly in die bed en slaap die res van die swangerskap om. Maar Adelien en Christelle en ook Nomsa kom loer kort-kort in. Ook vanmiddag, net toe sy haar wil regmaak vir ’n dutjie na ete, bel Christelle. “Ek en Adelien kom jou haal. Jy moet gaan babagoedjies koop,” sê sy op haar reguit manier. “Jy’t dan nog niks!” “Ag wat, daar’s mos nog baie tyd oor en …” “Kry jou drie-uur,” sê Christelle ferm en lui af. Hulle loop die hele middag in babawinkels en snuffel en dis Christelle wat ’n slag ondersoekend na haar kyk. “Jy’s bleek. Slaap jy goed? Wat sê jou ginekoloog? Kom ons gaan drink eers tee.” Toe hulle drie in ’n koffiewinkel in Menlyn sit, sê Bernadette: “Die dokter lyk tevrede. Die laaste sonar was oulik.” “Seuntjie of dogtertjie?” wil Adelien nuuskierig weet. “Jy sê mens ook niks!” “Ek wil nie juis weet nie. Dirk beweer hy kan sien dis ’n seuntjie, maar ek is te dom om iets wys te word uit die sonarfoto’tjie. Nee wat, dit moet maar ’n verrassing bly.” Sy kom tuis met ’n allemintige pak goed en Dirk sit die aand ewe geduldig terwyl sy uitpak en wys. Lyk later self entoesiasties toe hy die piepklein, donssagte kleertjies saggies tussen sy goedversorgde doktershande vryf. Lag kop agteroor vir die minuskule kousies, frokkies en gebreide blou mussie met tossels. Snuif verspot aan ’n paar sneeuwit skoentjies. “Hm … Mens kan nie glo sulke voetjies gaan eendag tekkies dra nie, nè!” Sy lag. Dis Dierbare-Dirk wat hier praat. Die Dirk wat sensueel deur sy sintuie leef … Maar sy sug innerlik. Ongelukkig nét deur sy sintuie, wil dit soms voorkom. Dis of hy nie dieper as die bloot sensuele kan of wil ervaar nie. Sy leun vooroor en druk haar hand ’n oomblik moederlik op sy skouer. Liewe Dirk
tog … “So,” sê hy glimlaggend en blaas vir haar ’n soentjie, sak terug op die bed, “nou’s dit ook gedoen. Toe, ou suster, nou kan ons lekker klaarmaak vir môre se wegbreek.” Ou suster … Hy is al meer geneig om haar so te noem. Hoe groter sy word, hoe meer word sy sy “ou suster”. Sy draai ergerlik weg en sê liefs niks. Dirk kyk net met sy oë, dis seker. Hy sien en onthou niks meer van die Bernadette wie se latlyf haar gehelp het om joolkoningin te word nie. Hy sien net die dik, swanger vrou voor hom en van oog na hart en hart-se-onthou, is daar blykbaar nie sprake nie. Tog is daar ’n man wat meen dat sy onweerstaanbaar is, die swangerskap ten spyt. Sy druk die gedagte haastig dood toe Dirk opstaan en hom steunend uitstrek. “Kry ons nie koffie nie?” gaap hy en maak aanstaltes om uit te trek. “Natuurlik,” glimlag sy en voel steeds skuldig toe sy die koppie stomende koffie vir hom bring. Sy moet geheel en al ophou om aan Henk te dink. Hyself het nie gedagtes oor haar nie, dit het hy mos gesê. En sy glo hom. Hy is net ’n baie goeie vriend soos wat hy dit nou nog vir Roald en Adelien is. Hy is ’n mens uit een stuk. Iemand wat deur die genade dit regkry om ander se begeertes voor sy eie te stel. En daarby lê die naweek op Dikhololo voor. Sy het amper vergeet daarvan. Dis goed dat Dirk dit genoem het, troos sy haarself. Dis belangrik vir hom en hy is haar man. Maar ’n mate van opwinding pak haar tog toe die ander die middag teen vieruur opdaag, met kakieklere, Nikes en pette. Sarinda met ’n geel, breërand-strooihoed. Sy is opeens bly dat sy op Christelle se aandrang ’n driekwart denimbroek ook gekoop het. Nogal met ’n fleurige, wit kantbloes wat daarby pas. Op ’n manier laat dit haar effens minder swanger voel. Toe hulle eers op pad is, is dit of sy ontspan. Sarinda en Piet ry saam met haar en Dirk in sy VW Polo en gesels land en sand. Hul troue is mos voor die deur en die voornemende bruid borrel behoorlik. Op Dikhololo kry hulle klomp elk ’n hut in die Piet-My-Vrou kamp en toe die mans in die ongelooflike koperrooi skemerte van die Bosveldaand begin braai aan die jaartse wors en boudtjops, kry Bernadette ’n kansie om ’n rukkie te gaan lê.
Sy voel oneindig moeg, gereed om weg te raak. Buite hoor sy Dirk se genotvolle lag opklink tussen die ander stemme langs die vuur. Solank hy dit geniet, dink sy loom. Sy word wakker onder voëlgesang en knipper haar oë vervaard teen die vierkant rosige lig. Dirk moet die gordyne oop vergeet het laas nag. Laas nag? Sy moet dwarsdeur die aand se gejol geslaap het en almal het haar maar laat begaan. Sy draai haar kop. Hy lê soos ’n kind en slaap. Sy mooi hande oopgesprei, een se vingerpunte onder sy wang ingedruk. Bernadette staan versigtig op, gaan badkamer toe, besef met die opstaanslag dat sy nog net so moeg voel soos gisteraand. Sy neem ’n koel stortbad, trek suutjies aan en besluit om ’n entjie te stap. Dalk doen die vars lug haar goed. Buite huiwer sy eers in die fris luggie, vryf oor haar arms en stap toe tog maar aan na die uitkykpunt bo-op ’n koppie. Daar kan sy rustig onder die grasdaklapa sit en die wêreld bekyk. Sy voel al kortasem nog voordat sy die uitgekapte trappies bereik, maar hou vol. Die oefening kan haar tog net goed doen. Sy gaan staan halfpad hygend, druk haar hand op haar maag. Dis toe dat ’n gedagte in haar opspring soos ’n kurk wat onder water was: Die kind het lanklaas geroer, as sy mooi dink, dae laas. Haar voorkop trek in ’n angstige frons saam. Miskien maak ’n fetus maar so. Fetus … Wat ’n aardige woord vir ’n amper-mensie. Sy skud haar kop, druk die bos hare uit haar gesig weg en sit die klimtog voetjie vir voetjie voort. Sy steun hoorbaar toe sy bo kom, sak dankbaar op die lae muurtjie onder die grasdak neer. “Bernadette?” Dis Gerrit en hy lyk verstom. Hy sit so roerloos teen een van die pilare. Sy trek haar asem verskrik in en hy kom besorgd orent. “Wat makeer? Jy’s doodsbleek!” “Ek …” maar die res van die woorde wil nie kom nie. Die Bosveldhorison, rosig in die oggendsonnetjie, begin stadig kantel totdat dit oor die rand van die aarde verdwyn.
Hoofstuk 5
“Dis goed,” sê Marta du Buisson koel-vriendelik oor haar skouer, “dat jy besluit het om liewer te kom werk. Mens kan baie dinge in die werk begrawe.” Maar ek wil nie, dink Bernadette lusteloos. Ek wil niks begrawe nie. Ek wou ook nie tóé nie – en ek wil nooit weer nie. “Ja,” sê sy sodat die vrou kan ophou praat. “Bernadette.” Marta draai haar stoel weg van die rekenaar en kyk haar vol aan. “Dis beter om liefs normaal aan te gaan. By die huis gaan dit jou net inhaal.” Normaal? Bernadette knik net. “Ja …” sê sy weer. “Nou luister, ek het vir jou ’n skriftelike memo opgestel. Kry my dagboek in orde en finaliseer ook vir my die Fourie-Hancock-saak en kom eers weer na my toe terug as jy uitsluitsel oor alles gekry het.” “Goed, Marta.” So gaan dit dag ná dag. Sy Goed-Marta en Ja-Marta meganies. Sy weet ook dat Johnnie Smit haar uit menige penarie red. Hy berei aanmaningsbriewe voor wat sy vergeet om te doen, hy stel eedverklarings op waarvoor sy eintlik verantwoordelik is. Dat hy in die proses Marta du Buisson se wrewel van haar wegkeer, is ’n feit. Maar dis of sy nie regtig omgee nie. Die lewe spoel soos lou water oor haar, nie te koud nie, nie te warm nie. Tuis glimlag sy selfs al bietjie meer, maak soms lekker kos waarvan Dirk hou, luister na al sy praatjies sonder dat dit haar in die minste raak. As mense kom kuier, neem sy beleefd deel aan die gesprekke, glimlag net as Piet en Sarinda na hul troue, wat sy misgeloop het, verwys. Sy gaan slaap saans vroeg, soms twaalf ure lank, staan dan tog moeilik op en gaan werk toe. Sy werk, slaap, eet. En dink dat sy in beheer is.
Diep binne in haar groei daar iets, dit weet sy egter. Maar dit leef nie. Dis morsdood. Dit was aan soos muf op ou aartappels. Party dae wens sy sy kan haarself oopruk en skoonmaak daar waar dit besig is om te vergaan, dis net dat sy nie weet hoe nie. As Dirk by die hospitaal is, gaan kuier sy soms ná werk by Adelien. “Jy kan nie so aangaan nie, Bernadette,” maan haar suster haar op ’n dag. “Waarvan praat jy?” vra sy lusteloos en sak terug in die diep leunstoel, stoot haar vingers deur haar los hare. Adelien skink die tee rustig klaar, hou vir haar ’n bordjie sjokoladekoekies. Maar sy skud net haar kop. “Sien jy nou? Jy’s nie eers lus om te eet nie. Jy word by die dag maerder.” “Ja …” glimlag Bernadette wrang, “Dirk sê ek is nou net ’n klerehanger. Hy wil hê ek moet vleis kry, weer lewend word.” Adelien sê eers niks. Roer en roer haar tee totdat Bernadette voel sy kan die teelepel gryp en weggooi om net van die tshwieng-tshwieng-tshwieng-klankie ontslae te raak. “Maar wat dink jy, Bernadette? Dink jy óóit?” “Nie juis nie, Adie. Ek … wel, ek dobber sommer net.” Weer ’n stilte. Adelien wat diep sug. “Berna, dis dalk goed om soms te dobber … maar feit bly, jy het nog nie hierdie ding gekonfronteer nie. Jy skram aanhoudend weg. As ek nie jou suster was nie, sou ek vir jou berading aangebied het. Maar dit sal nie werk met familie nie en …” Bernadette kom orent, merk dat haar hand met die teekoppie beef. Daar stort ’n bietjie uit in die ligblou geblomde piering. “Adelien … Julle karring te veel aan my! Wat is daar om van weg te skram? ’n Leë gat? Iets wat nie bestaan nie?” “Dis waaroor ek bekommerd is, my sussie … Jy ontken die feit dat jou kind dood is.”
Bernadette snak na haar asem, voel hoe haar tande saamklamp. “Ek … Dirk sê dit was nie ’n kind nie … dit was ’n fetus. Dit was kwalik lewensvatbaar, sê Dirk …” Die laaste woorde kom wurgend uit, asof daar hande om haar keel is. Sy drink meteens dorstig. Hou aan sluk tot al die tee op is. Sien nie hoe traannat Adelien se oë word nie. Toe plak sy die koppie neer: “Luister, ek moet nou gaan … ek …” “Nie nou nie, asseblief, Berna. Ek moet gou na die supermarkie om die hoek. Bly net sit tot ek terug is … Asseblief tog … ek kan Robert nie so alleen los nie en Josephina is uit …” Bernadette skud haar kop “Jy wil net hê ek moet alleen met die kind wees. En ek kan nie nou nie. Ek wil nie.” “Hy slaap,” pleit Adelien en staan ook op. “Hy sal eers heelwat later wakker word. Ek sal baie gou maak. Toe sit, skink vir jou nog tee. Voordat jy klaar gedrink het, is ek terug. Ek moet net kafeïenvrye koffie vir Roald gaan koop. En nog Pampers vir boetietjie.” Boetietjie … Wat sou háár kind se troetelnaampie gewees het? Dalk sommer net Liefie. Of … poppie. Al was dit ’n seuntjie. Bernadette sak skuins op die bank neer, skop haar skoene uit en lig haar voete tot op die armreling. Sy hoor die voordeur toegaan en die motor wegtrek. Wat maak dit tog saak? Sy voel niks vir enigiemand nie. Selfs al kom die klein, blonde Robert nou met sy hemelsblou ogies ingewaggel en kwyl liefderik op haar skouer, sal dit haar nie raak nie. Sy maak haar oë toe, lyfseer en moeg soos iemand wat ’n steil heuwel kaalvoet moes opsukkel. Dis toe die stilte van die huis op haar neerdaal dat sy weet sy kan nie vandag alles net weer wegskuif nie. Sy herroep weer soos talle male die afgelope weke: plotseling en met soveel helderheid dat sy kort-kort asemrig kreun … Sy klim weer op na die uitkyktoring, sien Gerrit se verskrikte gesig, voel die donkerte tasbaar oor haar sprei. Sy word wakker in die hospitaal met Dirk se strak gesig bo haar. Die lippe wit saamgepers. “Poppie … die dokter wil ’n tweedevlaksonar doen … Mens kan beter sien daarop …”
Dit was ’n ouerige dokter, die een by die privaat hospitaal op Brits. Gaaf, maar onbekend aan haar. Dirk het agtertoe getree toe die man haar kom sê het hy gaan ’n keisersnee doen. Sommer dadelik, het die man gesê. Daar’s groot fout met die kind. Wat? Sy het die woord stadig oor haar lippe gestoot. Hy het iets gesê van die rugmurg en die onderlyf wat nie na behore ontwikkel het nie. Sy het onbegryplike woorde gehoor: Ernstige koudale regressie … En buitendien, die fetus was reeds dood. Iemand het ’n luide snik gegee. Een enkele snik wat aangehou het en aangehou het. Later het sy gedink dat sy seker selfs onder narkose geskree het, want sy het haar eie stem hoor roep toe sy wakker word. “Ek wil my kind sien! Géé my kind! Géé my baba vir my!” Hulle het eindelik ’n bondeltjie gebring. “Seuntjie,” het Dirk van ’n afstand af gefluister, maar dit was die suster wat die spierwit, styf toegedraaide papielyfie vir haar aangegee het. Voordat haar oë op die bleekblou gesiggie vasgenael geraak het, het sy gesien hoedat Dirk met ’n trek van woede en afkeer om sy mond wegdraai venster toe. Sy het gedink: Dirk hou nie van dinge wat skeef loop nie. Eintlik hou hy niks van slegte nuus nie. Dirk is bang vir die diep dinge van die hart en die gemoed. Dirk … Bisarre gedagtes wat soos watte haar kop toegepak het. Toe al het dit begin muf in haar. Alles het stadigaan begin sleg word. Afgesterf. Daar was die verskriklike klein gelaat, deursigtig wit die vliesdun gestorwe ooglede, die lippies ’n perserige strepie. Die kort, misvormde liggaampie waarvan sy die kilte dwarsdeur die lakentjie waarin hulle hom toegedraai het, kon voel. En Dirk wat rasperig asemhaal daar voor die venster. Al haar trane het net daar weggedroog – of dalk binnetoe geloop. Sy wou nie sien wat sy sien nie. “Hy … hy is mooi,” het sy vir haarself gesê. “Sy gesig is baie fyn. Hy lyk soos …” “Hy’s dóód,” het Dirk met gedempte drif geantwoord, opeens omgedraai en die kind by haar afgevat nog voordat sy besef het wat hy doen. Hy het die popperige lyfie in die suster se arms geprop en uitgeloop. Bernadette het weer geroep,
gesmeek, maar iemand het haar kom inspuit. Toe sy nugter wakker, maar skielik koorsig was, het sy weer gepleit: “Bring hom nog een maal vir my … Ek wil nog kyk …” Maar Dirk het verbete geweier. “Dit sal jou net ontstel, Bernadette. Jy móét nou na my luister. Die fetus is klaar begrawe. Dis beter so.” Dié besef het haar omgekrap. Haar kleine baba is in die stowwerige grond. Iewers … “Waar?” het sy gevra, na Dirk se hand getas. Maar hy was te ver, sy liggaam dwars gedraai en hy het die gebaar nie eens gesien nie. “Wáár?!” het sy uitgeroep. “In die begraafplaas hier op Brits,” het hy verbaas geantwoord. “Kalmeer nou, Bernadette. Dis die beste so.” In haar droewe skok het sy wild na redes gegryp. “Dit kan nie die beste wees nie … Wat van … Hy moet eers ’n naam kry. Hy … Ek moet hom nog net een keer sien … Ek moet vir hom totsiens sê.” Dirk het sy kop geskud. “Dis nou genoeg. Fetale verlies is nie so erg nie, Poppie. Jy kan weer ’n kind hê.” Sy het na hom gekyk en geweet dat hy vir haar vreemd geword het. Hy was ’n dokter wat baie van ’n mens se liggaam geweet het, maar niks van die anatomie van die gees nie. En sy, sy was verlore in die doolhof van haar eie gemoed. “Ek wil nie nog ’n kind hê nie,” het sy bot gesê. “Ek wil …” “Kom, Berna … Kom ons gaan huis toe,” het hy probeer paai. “Alles is al reg vir jou. Nomsa het vir jou blomme gestuur en Adelien en Christelle wag by die woonstel.” Dit het nie gehelp nie. Sy wou niemand sien nie. Haar susters het soos skimme om haar gedraai, maar sy het hulle weggewuif. “Gaan nou liewers,” het sy gesug. “Ek wil oor Wilhelm dink.” Adelien en Christelle het na mekaar gekyk, Dirk het sy skouers opgehaal. Dit
was ’n naam wat in daardie oomblik by haar opgekom het. ’n Deftige, werklike náám. Haar seun s’n. Wilhelm was háár kind. Haar skoonouers het ’n winkelkaartjie met perserige simpatielelies op gestuur. Pa Abel het eers gebel, snuiwend en stadig met haar gepraat. Hoe wreed dit is wat sy deurgaan … Hoe baie hy aan haar dink, vir haar intree by die Vader. Later het hy selfs een van sy skaars reise na Pretoria aangepak, ’n naweek lank rusteloos deur die klein woonstel geskuif-skuif, kort-kort by ’n venster gaan staan en uitgetuur asof hy die Vrystaatse vlaktes daar verwag. Soms haar hande kom vashou en min gepraat. Maar sy het vreemd getroos gevoel. Dit was of sy swygsaamheid haar meer begrip gebied het as enigiets anders. Tog was sy verlig toe hy weer terug is na Stille Weide. Hy het tog nie antwoorde gehad nie en sy het al hoe meer vrae voel opkook in haar. Soms het hy selfs e-pos-briefies gestuur. In vreemde, stywe taal wat glad nie aan hom herinner nie. Dit was vir haar net tekenend van sy eie verwarring en smart en daarom het sy dit gou uitgewis. Iemand anders het ook gekom. Henk se ma, Sara. Met ’n gerf bont rose in haar arms. “Van my en Henk,” het sy net gesê. “Hy sal later self kom as Dirk hier is.” Hy het ook. Een Sondag net ná kerk toe sy uitgeput op die bed neergesak het, gewens het sy kan die vorige nag se donkerte soos ’n blinding oor haar toetrek sodat sy kan wegkom van Dirk se gretige afwagting dat sy weer mens moes word, net syne moes wees. Henk het saam met Dirk binnegekom. Hy het ’n bord met vars appeltert gedra en Dirk die skinkbord met tee. “Kyk wat het Henk vir ons gebring,” het Dirk opgewek gesê. “My ma het dit gebak,” het Henk geantwoord toe sy haar kop vraend van die kussing af lig. Hy het die tert op die spieëlkas neergesit en behendig in stukke gesny, in kleinbordjies geskep terwyl Dirk die tee skink. Sy het orent gekom, haar stuk appeltert sonder ’n woord by Henk geneem. Geluister hoe die mans gesels oor rugby en krieket en die algemene gees van apatie wat deesdae skynbaar onder sportlui heers. Dirk se hande het geesdriftig saam beduie, want rugby was sy hart se sport, maar Henk het net beleefd geknik, soms in ’n vlugtige skuins blik haar oë vasgevang. Sy het gebrand om ’n woord in te kry, hom te sê dat haar kind se naam Wilhelm
was. Maar dat sy dit nie kan regkry om van hom af te sien nie. Dat sy hom vreeslik graag nog sou wou gesien het voordat Dirk en die dokter hom weggevat het … Dat sy wonder of mens ’n handafdrukkie nog iewers kan kry. Doen hulle dit dan nie selfs as die kind dood is nie? Of is dit net vir kinders wat vars en lewend die wêreld binnekom? Rég vir die lewe, bekwaam vir alles wat wag … Sy wou vra: Henk, waarom dink jy doen God dit? Of is dit nie Hy nie? Was Hy dalk iewers elders besig toe die die vreemde misvorming met Wilhelm gebeur het? Dink jy God gee regtig om? Maar Henk is daar weg sonder dat sy kans gekry het om iets te sê. Dirk het hom afgesien en tevrede gelyk toe hy terugkom. “So ja, lekker om met iemand te gesels wat sy sport ken, nè! Sê my, het dié ou al ’n meisie of ‘sulk’ hy nog oor Adelien?” Bernadette het na haar man gekyk. Na die oop, skoon gesig met die jong, sensuele mond, so geheel en al ontdaan van die rou, pynlike afdruk wat smart laat. Wat sou hy werklik voel? Was hy … is hy ooit hartseer? Of laat hy nie die lewe te naby aan hom toe nie? “Sy meisie is glo in Bloemfontein,” het sy haastig geantwoord. En toe pylreguit: “Dirk, treur jy ook oor Wilhelm?” “Wat!? Wie?” Hy was opreg verstom, het haar ietwat bekommerd aangekyk asof sy gevra het of hy plek bespreek het op NASA se volgende ruimtevlug. “Ons seun … Wilhelm …” het sy volgehou. Konsternasie het die onbegrip weggevee. “My hemel tog, Bernadette. Ons het nié ’n kind gehad nie! Dit was ’n miskraam! Jou swangerskap het op niks uitgeloop nie! Hóé moet ek dit stel dat jy dit kan begryp?” ’n Verskriklike emosie het haar uit die bed gelig tot op haar voete. “Hy het oë gehad en ’n mond en ’n neus. Sy liggaam was onder my hart vir maande en maande lank … Hy … het soms met sy hande teen my binnekant gedruk. Seker om te voel of ek nog daar is … Hy …” “Poppie!” het Dirk haar hard in die rede geval, “ jy moet ophou om so te praat.
Dis nou alles verby. Anderdag sal ons wel ’n kind hê. Klim terug in die bed en slaap jou behoorlik uit. Dis wat jy nou nodig het. Nie om allerhande gedagtes op te krop en jou daaroor te verknies nie.” Sy het willoos toegelaat dat hy haar sagkens terugdruk op die bed, haar toemaak met ’n katoendeken. En sy het die nag se blinding oor haar toegetrek sodat hy tot nou toe nog nooit weer iets uit haar mond oor Wilhelm gehoor het nie. Ook nie in haar oë die skerp verlange gesien het of eers snuf gekry het dat sy by tye steeds langs ’n klein graf op ’n vreemde dorp sit nie. Deur die weke wat gevolg het, het Wilhelm net hare gebly. Dirk het, as hy tuis was, vir haar tee gemaak en soms in die leunstoel langs die bed sit en lees. Later het hy haar ietwat stug gemaan om liefs op te staan. Want met só ’n wond moet mens aan die beweeg bly, was sy raad. Só ’n wond? Wat sou hy dink? het sy gewonder en tog geweet. Hy dink steeds dat daar net ’n blindederm verwyder is. Maar daar was meer as ’n wond, het sy gedink. Haar hart is uitgehaal en begrawe. Sy kan die grafstof en verrotting rondom haar ruik. Dirk het volstoom begin werk, saans laat pootuit tuisgekom en haar steeds in die bed aangetref. Eers het hy nogal vriendelik gepaai: Poppie, dié ding moet nou end kry. Jy kan nie so aanhou ief wees nie. Jou liggaam vra nou jou samewerking. Kom ons gaan uit vanaand, dan jol ons bietjie. Vrolikheid is net wat jy nou nodig het. Sy het hom vaagweg geïnteresseerd beluister. Dirk, die man van vlees wat net vleeslik dink. Dirk, wie se vyf sintuie hom so oorheers dat hy nooit ’n denkvlak verder as die sensuele bereik nie. Om met hom te redeneer, sou futiel wees. Dirk wou nie weet van Wilhelm nie. Glad nie. Dit sou beteken dat hy diep geestelik moet ervaar, dalk werklik seer moes kry – en hy was nie gereed daarvoor nie. Dalk sou hy nooit wees nie. Dié dat sy ook nog nie snags kon nader skuif aan hom nie, ook nie sy toenadering kon verwelkom nie. Sy was magteloos om iets te doen aan die kilheid wat soos ’n ontydige winterkoue tussen hulle ingekruip het.
Daarom het Bernadette opgehou om met haar man te praat. Maar sy het geweet: Sy was op pad iewers heen en sy was alleen. Wel, nie heeltemal nie. Saam met
haar was klein Wilhelm met die stil, skimmige gesiggie. Soms het hy na haar geroep met ’n stemmetjie soos die soet gekweel van ’n voëltjie. Mamma, het hy geroep. Mamma. “Mamma?” Bernadette skrik op en haar hart bons. Digby haar staan klein Robert, gesig blosend van die middagslapie. Sy blou oë wyd gerek van verbasing. Paniek spoel deur haar. Waar bly Adelien tog? Die kind kom nader, vryf sy oë met sy pofferhandjies en die mond vorm weer die Ma-woord, maar net so halfpad asof hy nou mooi sien dis sy tannie en nie sy ma nie. Die gesiggie trek op ’n huilplooi. “Moenie,” sê Bernadette skerp. “Moenie huil nie!” Hy trek snikkend los sodat sy vervaard na hom gryp. Die klein lyf is teen haar, sy kindergeur soos warm donsvere en nat appelkose is in haar neus. Haar arms gaan om die lyfie en sy druk hom vas. ’n Bewing stuif in haar op en sy bly roerloos sit totdat hy bedaar. Adelien kry hulle so ineengestrengel, gaan sit langs hulle. “Sien, dis goed vir jou om by hom te wees,” sê sy. Bernadette teug diep na asem en gee die kind vir sy ma. “Miskien … Maar dit maak ook die verlange erger.” Adelien frons. “Ek dink nog steeds jy moet vir terapie gaan. Henk sal mooi na jou luister.” “Ek kan onmoontlik nie na hom toe gaan nie,” kap Bernadette terug. “Hy … hy ken my … ons te goed. Wees jy maar net my suster, Adie, luister na my as ek wil weeklaag oor my kind.” “Maar ek luister mos … En praat asseblief oor … oor Wilhelm. Ek weet dat hy onmoontlik nie nou al vir jou dood kan wees nie. Dalk nooit. Jy sal moet leer om daarmee saam te leef.” Bernadette kyk lank na haar, tel haar handsak op en loop deur toe. “Dit is die
eerste sinvolle ding wat enigiemand nog vir my gesê het sedert die dag toe ek hom in die wêreld gebring het.” Adelien, met wie dit altyd goed gaan, word haar toevlug. Adelien, wat sy altyd gedink het nie heeltemal met haar voete op die aarde is nie, stap elke smartlike tree saam met haar. Ook Roald luister dikwels na haar met ’n kalmte en geduld wat haar laat insien waarom haar suster op dié diepsinnige pedagoog verlief geraak het. Dan sit klein Robert op haar skoot en sy adem sy lewendigheid, sy geurige warmte in soos een wat lank nie suurstof gekry het nie. Selfs Christelle kom op ’n Saterdag vir een van haar warrelwind-kuiertjies en toe Bernadette vir ’n verandering liefs oor koeitjies en kalfies gesels, sê haar kleinsus uit die bloute: “Dis ’n geweldig ingrypende ding wat met jou gebeur het, Bernadette. Enige swangerskap is … Te meer nog as jy die kind verloor.” Bernadette voel haar mond begin beef, trane skiet in haar oë op. “Ek … ja … Dis baie swaar vir my.” Christelle knik gewigtig waar sy kruisbeen op die sitkamerbank sit, haar sandale argeloos uitgeskop, die dik blonde hare deurmekaar en ’n blos op haar hoë wangbene. “Praat jy ooit hieroor met daai man van jou? En waar is hy, by the way?” “Hy speel tennis saam met Gerrit,” antwoord Bernadette. “Wil jy koffie hê?” “’n Derde koppie sal lekker wees, ja. Weet jy Bernadette, ek hou nog steeds nie van Dirk nie. Kan hom nie kleinkry nie.” Alles in een asem, dink Bernadette ligweg geamuseerd en tog ergerlik ook. Dis nie nuus dat Christelle ’n renons in hierdie swaer van haar het nie. In Christelle se oë het Dirk nou maar eenmaal nie Roald se statuur nie. “Chrissie, hou op!” waarsku sy en loop kombuis toe. Daar is regtig tye dat Christelle se skrikwekkend reguit manier van praat haar onderkry. Maar toe sy die ketel aansit en vir hulle Mariebeskuitjies uithaal, is Christelle by, gaan sit by die tafel en tik-tik met haar skraal vingers op die blad. Toe sê sy : “Berna, Dirk loop rond. Ek sê dit nou vir jou dat jy dit kan weet. Jy is besig om emosioneel uit te rafel en jou man flankeer met al wat ’n rok is!”
’n Vreemde, wrang verligting golf deur Bernadette. So ken sy mos vir Dirk. Dis totaal en al onskuldig. Natuurlik sal hy juis nou ’n bietjie afleiding soek. Niks om oor huis toe te skryf nie. Sy maak die koffie en sit die bekers op tafel, gaan sit teenoor Christelle. “Jy moet daai mond van jou beteuel, my sussie!” raas sy goedig. “Jy hoef nie van Dirk te hou nie, maar jy mag hom nie afkraak nie. Ek ken my man. Spontane flirtasies is deel van sy menswees. Hy doen dit immers met my ook … Juis met my!” Christelle roer langsaam aan haar koffie, en toe sy opkyk is haar oë onverwags blink, haar stem stokkerig. “Dis nie waarvan ek praat nie, Berna. Dirk is te vriendelik met een van my professore. Heeltemal te vriendelik.” “Wie?” vra sy meer verbaas as geskok. “Prof Isabel Kirsten. Ek het hulle al ’n paar maal saam gesien. Eers was ek verstom dat hy nog by die akademiese hospitaal kom en toe het ek en Gerrit van Jaarsveld hulle een Sondagaand in ’n klein restaurant by die Centurionmeer gesien. Koppe bymekaar, die kersvlam op die tafel feitlik onder hul ken. Nee wat, Berna, daar’s fout met Dirk.” ’n Suwwe kalmte het in haar ingetrek. En ’n soort moedswillige onbegrip. “Maar wat het jy en Gerrit daar gemaak?” Christelle se mondhoeke lig net effens. “Ek en Gerrit is ou pêlle, sus. Maar dis nie nou die punt nie, is dit?” “Was dit die enigste keer wat jy hulle bymekaar gesien het?” vra Bernadette met ’n koel intensiteit. Christelle drink haar koffie op, vee haar lippe soos ’n kind met haar skraal vingers af. Sy skud haar kop kwalik waarneembaar, maar haar woorde is direk soos altyd. “Nee. Ek sien hulle gereeld op die tennisbaan. Hy flankeer met haar … Of nee, flirtasies het reëls. Mens maak ogies en giggel, maar jy oorskry nie die fisieke perk nie. Maar, Berna, hy flirt nie net nie. Dirk is so … so beskaafd dekadent.” “Waarom sê jy so?” Dis of sy die woorde oor haar droë lippe moet stoot. “Ag Berna, ek probeer jou nie met opset ontstel nie, maar ek kan ook nie maar net daarvan weet en jou in die duister laat nie. Dirk het selfs eenmaal geweet ek
sien hom en prof Isabel in die CNA in Menlyn en toe waai hy ewe vriendelik vir my. So asof die vrou by hom bloot ’n toevallige kennis is.” “En is sy nie?” Christelle skud haar kop dat die blonde stringe dans om haar kop. “Nee, Bernadette. Jy weet ek maak nie stories op nie. Nooit nie. Ek sien ’n ding soos hy is. Miskien het ek dit by ons ma geërf. Ek weet nie. Maar ek weet wel: Dirk Joubert is ’n losbol. Hy sit sy arm om professor Isabel se skouers en hou dit daar. Tellings lank …” Sy sug diep. “Nou die Saterdag was ek op die baan langsaan en hy het dit nie eens opgemerk nie. ’n Bal het die mooi prof op een van haar tweelingbates getref en hy het dwarsoor die net gespring om ondersoek in te stel. Sy hand was daar waar die bal seergemaak het.” Berna is ’n rukkie sonder woorde, toe vra sy styf: “Hoeveel mense weet hiervan?” “Almal wat oë het en kan sien, my sussie.” Lank na Christelle weg is, onthou sy eers dat Gerrit laas toe sy hom in die Hatfield Plaza by ’n boekwinkel raakgeloop het, haar kwalik in die oë kon kyk. Hy het net bolangs na haar welstand verneem, anders as gewoonlik wanneer hy eers deernisvol uitvra en dan lawwe praatjies maak en aanhou torring aan haar totdat sy lag. Bernadette bly in die sitkamer op die sagte bank sit daar waar Christelle se lyf ’n duik gelaat het. Sy nestel haar daar in asof dit warmte in haar koue ledemate kan bring. Sy wag en wag totdat die nag insypel in die woonstel en sy skakel nie die ligte aan nie. Sy dink niks. Sy sit net. Maar sy voel iets. ’n Roering in daardie donker, geheime plek in haar binneste. Toe Dirk fluitend binnekom en die lig aansit, breek dit oop in haar. Haar kakebeen is geklem toe sy praat: “Waar wás jy?” Sy fris, gespierde lyf word stil, toe kom hy nader en buk by haar sodat sy die rooierige sonbrand op sy neus en wangbene merk. “Liewe land, Poppie, wat sit jy so in die donkerte?” vra hy met die onskuld van ’n kind wat net ’n rukkie buite loop speel het.
Die vurige, ontembare ergernis van die oomblik, die snydende smart van die afgelope maande, kook onbeheersd in haar op. Sy stoot hom hardhandig weg, vlie op. Haar asem hyg en sy voel die bloed na haar kop bruis toe die woorde by haar mond uitbars: “Hou óp! Hou op met jou ewige Poppie-dit en Poppie-dat! En dit terwyl jy jou poppies op ander plekke loop soek! Terwyl jou vrou probeer om deur ’n trauma te worstel waarvan sy die omvang self nog skaars besef! En jy … jy besef dit glád nie! Jy vee die dood van jou kind luiters onder die mat in en staan en wag dat ek dit ook moet doen! Wel, Dirk Joubert, ek is nie gereed daarvoor nie!” Hy staan haar oopmond en bekyk. Toe skud hy sy kop asof ’n vlieg hom pla. Sy mond pluk in ’n wrang laggie. “Jislaaik, Berna, ek kan sien dat jy kwaad is. En ek kan ook sien dat jy rêrig vreeslik mooi is as jy so woedend is. Jy was nog altyd vir my so mooi as jy …” “Staak dit!” gil sy buite haarself. “Word gróót! Ons het ’n kind verloor en jy wil dit nie erken nie!” Hy gooi sy raket neer, pluk die handdoekie wat om sy nek is af en vir die eerste maal skrik sy self effens. Onder die sonbrand is hy skielik doodsbleek. Dit gee sy gesig ’n aardige koper skakering. “My liewe vader, Bernadette! Dit kon kwalik bestempel word as ’n doodgeboorte. As jy nou wil klinies raak, kan ons sê dat die fetus darem soort van lewensvatbaar was, want daar was sowat agt en twintig weke van intra-uteriene lewe. Maar dis nou verby en …” Sy druk haar hande wringend voor haar teen mekaar: “Dis wat jy nie begryp nie, Dirk! Ek wil nie klinies raak nie. Ek wil luister na my emosies, my hartsgevoelens … na … na die rou ellende wat uit my baarmoeder na my roep! En jy ignoreer dit!” Hy trek sy skouers terug en sy stem klim driftig: “Dis jy wat nie wil begryp nie! Ek is kláár gerou as daar dan ooit van rou sprake was. Ek wil leef en geniet! Daarom speel ek tennis, paartie ek saam met die boys en wil ek graag hê jy moet nou uit jou dop kruip …! Bernadette, ek kan nie langer so aangaan nie. Ek soek my vrou terug. Die mooi vrou met wie ek getrou het.” Maar Bernadette is self by omdraai verby. “Nou toe nou! Die joolkoningin en die jolkoning!” smaal sy, skud haar hare kwaai terug. “Hoe oulik! Ons dartel net voort!”
“Ag hel, Berna! Wat is dit met jou? Ons … jy kan nie vir ewig emosionele bagasie saamsleep en dit net omdat jy ’n bietjie teëspoed gehad het nie!” “’n Bietjie teëspoed, nè? Wel, vir jou informasie, ek hanteer hierdie teëspoed baie moeilik. Ek is platgeslaan en ek is moeg vir jou ongeërgdheid.” Sy is sat tot in haar gebeente toe sy omdraai en haar arms styf oor haar bors vou, opeens gestroop van alle voorgee. Dis of sy vasgekeer binne ’n kring van aanklagte staan. Aanklagte wat sy al die jare aan haarself gerig het eerder as aan Dirk. Omdat sy wou gehad het alles moes uitwerk. ’n Huwelik moet net werk, dit het sy geglo. Glo dit nog. Miskien is dit meer hoop as geloof. Dalk net ’n hersenskim. Maar tog, om Abel Buitendag se dogter te wees, beteken dat jy weet dat liefde tot sterwens toe kan bind en bekoor. Dis wat sy op hierdie oomblik fel besef: Dat haar verhouding met Dirk haar saamgesleep het die wêreld in sonder om haar ooit te bekoor. “Bernadette?” praat hy agter haar, “dis nie dat ek nie omgee nie, dis net …” “Hemel, Dirk,” sê sy gedemp oor haar skouer, “by dit alles lê dit nog die wêreld vol dat jy en Isabel Kirsten ’n ding aan het. Jy flankeer glo so fluks met haar dat sy dit ernstig opneem!” Dit word so stil dat sy wonder of hy die vertrek uitgesluip het. Sy kyk om. Sy gesig is glad soos ’n plaasdam op ’n windlose dag, maar onder die oppervlak sien sy roeringe. ’n Skielike skroomvallige behoedsaamheid, en ook erge skrik. Joviale, soms luide Dirk, weet sy, skrik eintlik gou. Hy is kompleet, dink sy, nes ’n kind wat in die bure se perskeboom betrap is. “Wat is dit?” vra sy onwillekeurig. Hy sluk stram, hou sy handpalms huiwerig na bo. “Dit … Berna, ek sweer, dit was net een … of twee keer.” “Wat?” “Ons … ek en Isabel was bymekaar …Wel, ons het …” “Wát!?” “Pop … Bernadette, ek sweer dit was net omdat ek self verward was en ek … dit was regtig net twee maal.”
“Waar nogal?” hoor sy haarself vra. “In haar woonstel in die Moot. Ons was nie eers slaapkamer toe nie, dit het sommer in die sit … Ag Berna, ek sweer …” “Moenie!” sê sy. Toe loop sy verby hom slaapkamer toe. Sy gaan staan in die middel van die vertrek. Kyk na die bed met sy skoon kerspit deken, die sneeuwit kussings met die roomgeel kantstroke wat Anna nog vir haar opgestik het. Toe loop sy kas toe en haal haar tasse uit, begin metodies inpak. Eers haar langbroeke, toe die somerbloese, die snyerspakkies wat sy hof toe dra, wintertruie en laastens die onderklere en skoene. Die kraamklere waarna sy nog nooit weer na Wilhelm se dood gekyk het nie, gooi sy in die snippermandjie onder die spieëlkas totdat dit naderhand uitpeul en later in los bondels op die vloer beland. Die spieëlkas kom aan die beurt. Sy sorteer versigtig, so asof sy bloot in ’n oomblik van luiterse verveling die ou en die nuwe goed van mekaar skei. Sy draai lipstiffies oop, bekyk dit en bêre die nuwes wat sy laas nog saam met Christelle gekoop het in haar smuktassie, ook slegs die nuwe poeier en ongeopende reukwater gaan daarin. Alles anders gooi sy summier weg asof dit skielik besmet geraak het. Haar kop is dig toe. Geen enkele gedagte ontsnap nie. Sy weet net ’n paar dinge vir seker: Vanaand slaap sy nie in dieselfde bed as Dirk Joubert nie, sy sal elders heen gaan. Eers na Nomsa toe in Tuksdorp om vir haar te sê sy ry môre Stille Weide toe as sy dalk wil saamgaan. Dan na ’n hotel toe. Sommer ’n Holiday Inn. Net vir die nag. Want sy sien nie kans vir Christelle se benoude ou kamertjie daar naby die hospitaal nie. Beslis nie na Adelien en Roald toe nie. Hulle sal die stuipe kry. En sy het genoeg van stuipe gehad vir ’n lang, lang tyd. “Moenie gaan nie,” smeek Dirk sag in die deur. “Kom ons praat dit uit.” Hoe lank hy al daar staan, weet sy nie. Sy kyk skaars om. “Práát?! Nee, Dirk. Niks te praat nie. Kwaad is gedaan. Jy het by ’n ander vrou geslaap.” “Dit was regtig net twee keer … of so.” Sy lag skielik geluidloos, maar haar skouers ruk en sy stoot haar vingers radeloos deur haar digte krulhare. “Dirk, Dirk …” skud sy haar kop. “Jy is so onverantwoordelik, so hopeloos oppervlakkig … en tog probeer jy eerlik wees. Dalk is daar iewers ’n morele basis in jou. Iets waarop jy dalk later in jou lewe
sal kan staan as die waters oor jou kop wil gaan.” “Hou op sarkasties wees, Berna … Ek probeer ons huwelik red.” “Dis ’n kwessie van te min en te laat, Dirk. Buitendien, ek kan nie nou dink nie … Kom, help my die tasse dra. Ek gaan nou. Ek sal jou laat weet of ek veilig is.” Hy stribbel nie verder teë nie, sien haar af en bly op die sypaadjie staan en haar agterna kyk. Sy ry die blok of wat na Tuksdorp, skakel gou eers Nomsa se selfoonnommer. Maar ’n blikstem antwoord: Nomsa is nie beskikbaar nie. Laat gerus ’n boodskap. “Nomsa,” sê sy, “ek gaan huis toe. Ek sal tot môre nog in die stad wees. Sal jou laat weet waar. Bel my as jy wil saamgaan.” Sy sit ’n paar oomblikke besluiteloos, wag dat die ding wat besig is om met haar en Dirk te gebeur haar wese moet binnedring. Maar dit gebeur nie en sy trek doelloos weg, ry met Burnettstraat af en toe in Duncan regs, vloei met die stroom verkeer aan na die oostelike voorstede. Toe sy in Wingatepark kom, besef sy dat sy eintlik nie naby ’n hotel is nie en sy ken nie juis gastehuise in die omgewing nie. Sy vroetel om haar selfoon in haar handsak raak te vat, prop die draadjie in haar oor en skakel tant Sara se nommer. Die vrou is verbaas-bly om van haar te hoor. “’n Gastehuis?” verneem sy versigtig. “Ja, ek het ’n vriendin wat een besit. Dis in Oudtshoornstraat. Maar waarom kom jy nie sommer na my toe nie?” Wonderlike mens, dink Bernadette verlig. Sy vra nie vrae nie. Sy aanvaar net die gegewe. Bernadette Joubert soek slaapplek vir die nag en basta. Maar sy sug spytig toe sy antwoord; “Ek kan nie, tante. Dit sal nie reg wees nie. Vannag moet ek alleen wees.” “Goed, kind. Maar bel as jy my nodig kry. Belowe?” “Belowe.” Dis eers toe Bernadette klaar ingeboek het, klaar gebad het en tussen die vreemde lakens met die laventelblommetjies op ingeskuif het, dat sy weet sy
staan en wieg op die rand van haar bestaan. Sy gaan enige oomblik afval en in die niet verdwyn. Sy kom orent in die donkerte, snak na asem. Sy moet weg, Stille Weide toe. Maar sy kan nie alleen ry nie. Sy sien ook nie kans vir Nomsa nie. Dié sal meedoënloos vrae vra en sy kan haarself nie nou so uitryg nie. Dan maar vir tant Sara vra. Sy skakel weer en tot haar verstomming antwoord die vrou dadelik. “Goed, ek ry saam, Bernadette. Henk is in Bloemfontein vir ’n kongres en hy kan my sommer weer op Stille Weide optel. Slaap nou maar, alles sal regkom.” Die woorde troos haar, laat haar bedaar, maar voordat sy wegraak, weet sy dat alles verander het. Sy het klaar afgeval van Doer Gunter af en met ’n slag die aarde getref.
Hoofstuk 6
Die somer lê appelgroen oor die veld. Ná die goeie reëns van die vorige weke is daar selfs groen spruitjies op die kaal werf voor die agterdeur. Die koring golf bottergeel in die bries en die grasse ruik soet. Dis net Bernadette wat oes voel. So geheel en al gestroop. Sy weet ook nie regtig hoe sy voel nie, weet nie of sy meer mooi is nie en of sy ooit mooi was nie. Dis of sy nie weet waar in haar menswees haar vrouwees te vinde is nie. Al waarvan sy seker is, is dat sy waaragtig nie ’n poppie is nie. Veral nie Dirk s’n nie. Sy dwaal deur die huis, ontwyk haar pa en Anna se angstige blik, eet min. Sy kom nie agter dat Keiser sy snoet in haar hand kom druk nie en Mietsie drentel ietwat verlore agter haar aan. Sy lees stowwerige boeke wat sy van die rak in haar pa se studeerkamer haal. Stokou romanses in hogere taal geskryf van helde en heldinne wat piksoen en skamper glimlag. Voor in die soms vergeelde blaaie staan in dowwe ink geskryf: Jeanette Buitendag. Vir die eerste maal in haar lewe besef sy dat haar ma ’n romantiese siel gehad het. Een maal bel Marta du Buisson en verneem hoe dit gaan. “Jou werk wag vir jou, nè?!” “Ek weet … en dankie … Maar ek kan nog nie terugkom nie.” ’n Ergerlike suggie. “Nou goed dan. Maar die lewe gaan aan, hoor.” Presies wat Bernadette nie wil hoor nie. Háár lewe het net hier gestol.Dis nou al meer as ses weke dat sy hier op Stille Weide is en kort-kort bel Dirk haar op haar selfoon. “Poppie! Ag, Poppie, luister na my …” “Moenie my so noem nie. Nooit weer nie.” “Bernadette …” Opeens sugtend. “Kom terug.” Maar sy stem had ’n dooie onbelangstellende toon.
“Jy bedoel dit nie en ek wil nie,” antwoord sy klokslag. Tot gister. Toe kon sy dit nie meer vat nie. Sy het op die stoep sit en lees aan ’n storie waar die heldin getrou wag op die held wat weg is oorlog toe. Hy kom terug minus ’n been maar die heldin swymel van liefde en dankbaarheid. Bernadette snuif trane weg soos wat sy haar inleef in hul herontmoeting. Miskien was dit die verkeerde oomblik vir Dirk om te bel. Hy het so onvanpas bruisend en gesond geklink en vol selfvertroue weer gesmeek dat sy moet huis toe kom.. “Huis toe?! Dirk, ek kan nie na jou toe terugkom nie. Jy het my uitgestoot tot op ’n plek waar ek vreemd vir myself voel.” “Wat?” Soos altyd was hy stadig van begrip as die gesprek effens dieper delf. En weer die sug: “Wassit tog nou? Vergewe my en kom terug! Ek is lief vir jou, Berna …” “Nie lief genoeg nie, Dirk. Anders sou jy nou al hier gewees het.” Stilte. “Jou pa sal my doodmaak.” “Morsdood, ja. Maar jy sal nie omgee nie, want jy wil my mos terughê …” Weer ’n bot stilte. “Ag, liewe hemel Dirk, laat staan tog net. Jy gee doodeenvoudig nie genoeg om nie. Erken dit nou maar.” Sy stem was opeens woedend skril. “Jy wil my in ’n ding indwing wat kon gebly het, Bernadette! Jy … jy soek nou regtig moeilikheid!” Sy het gelag, want sy kon nie anders nie. Moeilikheid? Wat val vir Dirk Joubert alles onder die vaandel van moeilikheid? Owerspel dalk? Of bloot ’n vrou wat kwansuis nie verstaan nie … ’n Situasie wat hy nie kan of wil beheer nie? Die gesprek kon seker aangekarring het, maar sy het skielik tot ’n punt gekom, en toe besef dat sy eintlik lankal geweet het wat sy sou sê. “Dirk, dis verby tussen jou en my. En as ek nou mooi dink, weet ek nie of daar ooit werklik iets was nie. Ons was volgens die wet getroud en ongelukkig voor God ook, maar ons hart was nooit een nie. Maar dankie vir alles wat tog mooi was …” Haar stem het geknak en sy het agtergekom dat warm trane oor haar gesig loop en op die stoepsement drup. “Jy sien, Dirk, ek glo nie God het jou ooit met sy hand na my toe gebring nie … Dit was meer asof ons mekaar gegryp het nog voordat Hy
’n sê gehad het. En dan, Dirk, bly God stil. Ek weet dit nou. Dan laat Hy mens begaan.” “Wat? Tj! Moet tog nie nou met die Here lol nie! Bernadette, ek kom soontoe. Ek kom nóú!” Hy het afgelui. En nou wag sy. Sit gestewel en gespoor op die koel stoep en kyk uit oor die grasperk waar drie hadidas goggatjies uit die dik gras pik. Sy dra ’n stemmige roomkleurige bloes by haar denim en het solank haar stapskoene aangetrek. Want sy weet sy gaan die veld invaar as sy klaar met Dirk gepraat het. Iewers op hierdie planeet moet sy nou tot stilstand kom en bestek opneem – en waar beter as daar bo-op Stille Weide se sandsteenkop? Anna se kop steek kort-kort by die voordeur uit. “Is jy orraait?” “Ek’s orraait,” antwoord sy telkens, glimlag selfs. Die arme vrou is vaal van bekommernis oor haar. Pa Abel het liewer geloop. Doer na die ruïne toe waar hy soms saam met oom Basie Daneel werk om die ou plek, soos wat hulle twee sê, weer op die been te kry. Aangesien die ou huis nou so oor die muur is, nè? grap Bernadette soms, maar word dan ewe ernstig tereggewys. Ons kultuurskatte moet bewaar bly, my kind. Ougoed is hougoed. Sy wonder of pa Abel nou nie net langbeen in die son sit nie. Want sy het oom Basie nog nêrens gewaar nie en hy is die man wat die sê het daar by die ou Voortrekkerhuis. “Jou pa sal wil begin stroop,” praat Anna meteens skuins agter haar en sy skrik. “En sy kop is nie by die werk nie. Thabu sê hy vergeet goed … Kom, drink ietsie.” Bernadette vat die glas lemoensap gehoorsaam, neem klein slukkies. “Ek sê, jou pa …” “Ek het gehoor, Anna. Maar wat moet ek …” Anna gaan sit op die stoepmuur, keer die bloedige son met haar hand uit haar oë. “Berna, ek en Thabu word party dae moeg om jou pa te abba. En ek dink die Here word ook moeg daarvoor.”
“Regtig?” vra Bernadette ligweg geamuseerd. “Word God dan moeg?” “Van mense se nonsens, ja …” sug Anna wyslik, staan swaarlywig op, druk met haar hand op haar heup. “Jy moet met jou pa praat. Sê vir hom hy moet weer bietjie begin rondkyk.” Sy sug weer. “Maar hy sal seker nie. Nie voordat hy nie die boom geplant het nie.” “Watter boom?” vra Bernadette verstom en Anna skud haar kop, hande in die lug. “Jy is nes jou pa. Julle hoor, maar hoor ook nie. Julle kyk, maar sien eintlik niks … Kom, loop saam met my dan wys ek jou die gate.” Bernadette gee op en drentel agter Anna se wikkelende heupe aan oor die digte groen grasperk. Die hadidas vlieg verontwaardig, skreeuend op, maar die mossies bly onverstoord en verspot in die sproeier se mistigheid wip en spartel. Aan die oorkant, naby die elektriese heining en tussen twee klompe roosbome, sien sy twee groterige gate in die grond. Netjies uitgespit. Maar nie vars nie, die kante is droog. Moet al ’n rukkie so staan, besef sy. Keiser snuffel al om die rand van die gate, gaan lê toe eenkant met Mietsie wat haar teen sy maag kom aan vlei. Sy staar na die honde asof hulle iets vreemds gedoen het. Toe vra sy heserig: “Waarvoor is dit?” “Henk het dit laat spit toe hy laas hier was. Hy sê eendag as jou pa reg is, moet hy ’n boom hier plant. Jou ma se boom. As hy klaar geplant het, sal hy klaar gegroet het. Dan eers sal hy reg wees om weer aan te gaan. En wragtag, dis darem nou tyd!” Bernadette staan stokstil, voel die son op haar kroontjie brand. Henk … Natuurlik… . En meteens weet sy vir wie die ander boom geplant moet word. Die hitte op haar kop sak af tot in haar keel. ’n Snik ruk so rou uit haar bors dat Anna verskrik omkyk waar sy langs die eerste gat staan. “Berna?” Maar sy huil so dat sy nie ’n woord kan uitkry nie. Henk … Dierbare, bedagsame Henk wat soms deur sy ma boodskappe stuur. Hoop dit gaan beter. Ek glo God sal vir jou onderneem. Henk wat laat gate grawe sodat ander mense
hul smart daarin kan bêre … Dis toe dat Anna haar arms om haar kom sit en haar sus. Heen en weer wieg hulle daar op die rand van die tweede gat en hoor nie die motor in die rylaan aankom nie, sien nie vir Dirk toe hy oor die gras na hulle toe loop nie. “Berna?!” klink sy stem ontsteld op. Anna versteen met haar arms om Bernadette sodat sy moet wikkel om los te kom. “Dag, Anna,” groet Dirk bot maar versigtig. “Dag,” sê Anna kwaai en stap verby hom, haar kop hoog. Bernadette snuif-snik nog ’n slag en vee toe haar stromende gesig met haar palms af. “Dirk …” Hy kom nader en trek haar teen hom vas. Toe sy haar kop lig, sien sy met verstomming dat sy oë ook vol trane is. Hulle staan lank so, asof hulle wag vir iets om te gebeur. Toe tree sy terug. Sy kyk in sy nat, ontstemde oë en kry hom lief en jammer. ’n Anderster soort lief, ’n weemoedige, verslae gevoel wat tegelyk wil troos en betig. Sy sien hoe hy frons. “Voel jy nou beter, Berna?” “Oor ons? Nie regtig nie. Ek wonder baie …” “Oor wat?” Die frons verdiep onbegrypend en sy sug by voorbaat. “Was dit die eerste maal dat so iets gebeur het, Dirk?” vra sy byna kinderlik reguit. En jou waarlik, dis kompleet asof hy eers nie mooi weet waarvan sy praat nie. Maar toe hy homself eindelik sover kry om te snap wat sy vra, stoot ’n dieprooi gloed in sy gesig op en sy blik glip weg uit hare. “Nee,” sê hy skor en maak keel skoon. “Nee … dit was die tweede maal.” En toe sy stom na hom bly staar: “Dit was toe jy nie na Piet en Sarinda se troue toe kon gaan nie. Ek en … en Rita Mouton het gedans en toe is ons na haar plek toe … Ag, Berna …”
Sy kyk en kyk na hom. Dié man met wie sy getroud is. Die aantreklike dokter wie se slim diagnoses die professore beïndruk het, maar wie se mensekennis nog kwalik ’n voorskoolse kind s’n ewenaar. Stout Dirk wie se eerlikheid mens nogtans ontwapen. En dis daardie eerlikheid wat vir haar die pad sal moet aandui. Want Dirk het sy eie, verdraaide soort integriteit. “Dirk, was die affair met die mooi prof nou die laaste een? Sal dit weer gebeur, dink jy?” Sy mond gaan effens oop en die blos word dieper. “Ek … ek weet nie, Berna. Sowaar, ek is lief vir jou, maar …” “Toemaar, dan weet ek.” Sy sit haar hand paaiend op sy voorarms wat senuagtig voor sy bors geklem is. “Ons kan nie so aangaan nie, Dirk, want ek sien nie kans vir ’n man wat rondkyk nie. Jy skend my konsep van die huwelik.” “Dis darem nie só erg nie,” kap hy verbouereerd teë en sy kry onwillekeurig lag. Dirk kan soms kompleet snaaks wees. “Dis presies so erg. Ek en jy was twee lawwe studente. Miskien is jy nou nog een. Maar ek het grootgeword, Dirk. Ek kan nie meer lag oor niks nie. As ek nou lag, sal dit wees omdat ek waaragtig bly is.” Hy staan lank doodstil en uitdrukkingloos. Toe trek hy los: “Ons sál kan lag, Berna … dis dan wat ek altyd sê ons moet doen. Pret hê en die flippen lewe geniet! Hel, daar’s genoeg dinge om mens vir ewig depressed te maak as mens dit toelaat en …” “Jy verstaan nie,” sê sy geduldig en kyk vir ’n oomblik verby sy skouer na waar die mossies steeds vlerkklappend te kere gaan in die koel damp van die sproeier. “Daar moet ’n fondament wees vir ’n verhouding … Iets wat dieper as gesamentlike pret lê.” “Jy laat dit klink asof ek frivolous is. Wat van my pasiënte wat kom dankie sê omdat ek hulle gehelp het? Is dit nie ’n getuigskrif vir iets meer as net die gejol waarvan jy my beskuldig nie?” “Ek is nie jou pasiënt nie, Dirk, en ek beskuldig jou nie. En miskien draai hierdie gesprek nou net om die as van eindelose argumente. Luister na my … Ek is … was jou vrou. En jy was goed vir my. Maar ek kan nooit my man deel met ander
vroue nie. Punt.” Hy sug, vat haar arm en hulle stap stram, soos twee ou mense, oor die warmgebakte, klam gras na die koelte van die stoep. Asof sy hulle dopgehou het, kom Anna uit met ’n skinkbord tee, sit dit suutjies op die stoeptafel neer en verdwyn weer. Bernadette skink vir hulle, gee syne aan en toe hy dit vat, beef sy hand liggies. “Wat nou?” vra hy en klink bang en moeg. “Jy sal van my prokureur hoor,” sug sy. “Mevrou Du Buisson.” “Jy kan alles kry, hoor,” sê hy en sy oë knipper toe hy die tee wegsluk. “Ek wil niks hê nie, Dirk. Ek wil eers net hier bly en weer mens word.” Hy kyk skerp op toe hy die leë koppie neersit. “Jy is bleek, ja. En baie maer. Ek gaan vir jou ’n voorskrif gee, Bernadette. Sal jy dit gebruik?” Sy glimlag wrang. “Natuurlik. Waarvoor is dit? ’n Gebroke hart?” Maar hy lag nie. Sy mond is streng saamgepers toe hy opstaan en na sy motor toe stap, terugkom met sy dokterstas. Hy haal die blok voorskrifte uit en skryf iets neer, skeur die blaadjie af en gee dit vir haar. “Dis iets om jou te kalmeer en ’n klomp vitamine daarby. Ek sal bly wees as jy ook vir ou dokter Henning hier op die dorp wil vra om vir jou ’n reeks B12 inspuitings te gee. Dit behoort jou bietjie te help.” Sy oë lyk werklik hartseer toe hy sê: “Jy moet saans vroeg gaan slaap, Bernadette. Ek wil myself nie verder verwyt nie …” Sy begin lag en hy kyk haar geskok aan. “Dirk, Dirk! Jy is enig in jou soort, glo my! Maar weet jy, ek is nie regtig vir jou kwaad nie. Nie meer nie.” Tot haar innige verstomming beef sy mond. “Ek is bly … Weet jy, Bernadette, ek het ook daardie dag by die hospitaal gehuil toe die fetus … die kind … toe …” “Wilhelm dood is,” voltooi sy die sin en voel hoe haar keel opnuut toetrek. “Wilhelm,” fluister hy agterna en sluk ’n slag, knik stadig met sy kop asof hy iets gewigtigs beaam. Toe tik hy met sy palms op sy knieë en sê: “Ek moet gaan. Groet jou pa vir my onthalwe. Sê vir hom … Sê …”
“Toemaar, ek sal sê wat moet gesê word.” Sy loop saam met hom motor toe en oomblikke lank staan hulle verleë voor mekaar. So asof hulle nie hulself vertrou om die volgende en laaste woorde te sê nie. “Jy moet mooi bly,” uiter sy die geykte groet. Maar hy trek haar nader, hou haar ’n oomblik vas en soen haar toe op haar voorkop. “Pas jou op, Bernadette,” sê hy weer en sy stem is laag. Toe hy inklim en al die motor aangeskakel het, sê hy sag: “Ek is baie, baie jammer oor alles.” “Ek glo so,” sê sy en wuif toe hy wegry. Sy draai feitlik dadelik om en loop die huis binne, gryp haar strooihoed van die haak in die gang af en roep na Anna : “Ek gaan veld toe!” Sy kom haar pa teë waar hy met sy kenmerkende, gedrewe stappie van die ruïne se kant aanstryk huis se kant toe. Hy steek bedug vas toe hy haar sien, gryp sy hoed van sy kop af en hou dit voor hom soos ’n burger van ouds. Sy oë lyk star van bekommernis. “Dis verby, Pa,” sê sy, loop deur die geil waaigras tot by hom en vat sy arm. ’n Sidderende sug trek deur hom, toe knik hy net en sit weer sy ou hoed, vaal gedra, op sy kop. “En nou?” Die vraag ontsenu haar meteens. “Ek weet nie … ek weet eintlik niks meer nie, Pa.” Sy verweerde vingers sluit grof om hare. “Ek ken die gevoel. En … ek wens ek kan vir jou sê dat dit sal verbygaan.” “Maar dit moet!” roep sy opeens ergerlik uit. “Mens mag nie daaraan klou nie!” “Dit klou aan jóú …” fluister hy en toe loop hy verder, roep net oor sy skouer: “Versigtig wees, Berna. Die wêreld is anders deesdae. Loop liewer ruïne toe. Ou Basie werk vandag daar en dis veilig. Hy het sy rewolwer by hom.”
Maar sy roep na hom. Só opnuut verslae deur ou en nuwe ellendes kan hy nie gaan nie. En sy sê die eerste ding wat in haar kop kom: “Pa! Wat se boom gaan Pa in die tuin plant vir Ma?” Hy gaan staan, kyk terug. En sy sien op ’n afstand die worsteling in sy oë. So asof hy kán laat gaan, maar nie wil nie. “Ek weet nie. Miskien ’n populier. Sy … Jeanette was baie lief vir populiere.” Toe draai hy om en stryk weg. Sy draai ook om, stap so vinnig dat haar asem in haar bors brand toe sy eindelik by die ou ruïne kom. Dele van die dak is al gedek, sien sy. Met riete uit die spruit. Oom Basie en die werker by hom groet vriendelik, nooi haar om op die nuut gerestoureerde stoepmuurtjie te kom sit. “Haai, oom,” sê sy waarderend, “oom maak dit so mooi hier … Mens kry amper lus om in te trek … dit moet lekker gewees het destyds om saans hier te sit en kyk hoe die sonnetjie ondergaan.” “Ja,” beaam oom Basie en begin smaaklik vertel wat hy al alles opgelees het oor die ou Voortrekkers wat hierlangs getrek het en wat toe tog maar verkies het om liewer te bly as om oor die berge te trek. Hoe hulle seker ook maar die winters bitter swaargekry het en moes wonder of die lewe anderkant die berge nie groener sou wees nie. Bernadette luister met ’n halwe oor. Haar binneste voel rou, haar siel voel verstrengel. Ná ’n rukkie groet sy en loop maar weer. Tuis kry sy vir Anna in die kombuis. Dié sit kop in die hande by die kombuistafel. “En nou?” “Nomsa … Sy’t netnou met ’n taxi hier aangekom.” Bernadette word koud. “’n Taxi? En jy en Thabu het haar die dood voor die oë gestel. Dis só gevaarlik!” Anna se oë blits. “Dis nog niks! Sy was Maputo toe met een! Saam met daai anner man! Waarom het jy my nie gesê sy loop saam met daai anner soort mense nie?” Anna is smoorkwaad en Bernadette skrik. “Ek het met haar gepraat en gehoop dit sal verbygaan, Anna. Askies tog … Met alles wat gebeur het, het ek nie verder gedink nie …”
Die vrou sug en staan op, maak die ketel vol water. Bernadette is byna te bang om te vra. “Wat het gebeur?” “Niks. Sy’t alleen teruggekom. Hy het glo ’n vrou. En twee kinders.” “En?” fluister Bernadette. “Niks,” sug Anna en haar bolyf ril van verligting. “Nou moet my kind maar sien hoe sy weer op Pretoria gaan kom, want ek gaat haar nie ’n sent gee om terug te gaan nie. Daar kom net swaarkry van die leerdery.” “Gelukkig het sy al haar graad en diploma,” glimlag Bernadette onwillekeurig. “Dis nou net die verdere nagraads wat pla. Maar Anna, dis mos nie die studies wat …” “Ek gee nie om nie!” roep Anna hard uit. “Jy het net hartseer gaan haal in daardie plek en nou my kind ook! Sy huil haar oë dik daar in die huis en sy wil nie met ons praat nie!” Bernadette dink ’n rukkie. Syself sien nie nou vir Nomsa kans nie. Miskien kan Adelien haar op haar selfoon bel en met haar praat. Sy het nog altyd meer na Adelien geluister as na enigiemand anders. Maar ná middagete stap sy tog maar af na die werkershuise. Kry Nomsa langbeen in die son teen die muur sit, nuwe Nikes aan haar voete. Die meisie vang haar blik en glimlag suur. “Ja … Reken, hy koop toe vir my nuwe skoene om sy vrou te gaan ontmoet.” Ek het jou gewaarsku, wil Bernadette sê, maar doen dit nie, maak haar langs Nomsa tuis, kyk met stipte konsentrasie hoedat ’n ry swart miertjies teen die heldergeel geverfde kosyn van die voordeur opsuiker. “Weet jy, Nomsa, ek is die laaste een wat kan praat. Ek het met die verkeerde man getrou en in my hart het ek dit goed geweet. Mens moet na jou binnestemme luister.” Trane loop oor Nomsa se wange en sy vee dit weg, snuif ergerlik. “Ja … waarom is mens so dom?” Hulle sit daar totdat die tarentale se geroep laer af na die spruit se kant toe begin opklink, praat die miserabelheid bietjie weg. “Wanneer gaan jy terug?” wil
Nomsa weet. “Wil jy saamry?” lag Bernadette.
Die Maandag toe sy weer op kantoor instap, is Marta du Buisson onbeskaamd verlig. “Daardie arme klerk wat jy gekry het om in jou plek waar te neem, wou my teen die mure uitdryf. En maak jou maar reg. Daar lê ’n woeste tyd voor. Jy moet nou beslis daardie spesialiseksamen in handelsmerk aflê. Dit sal jou buitendien beter posisioneer in hierdie firma.” Bernadette besef dit maar te goed. Daarom maak sy soos die senior vennoot sê en bring haar aande agter die boeke deur. Menige nag ook. Sy het tydelik by Roald en Adelien ingetrek en hulle kloek tydig en ontydig om haar. Sy laat haar dit welgeval, verlustig haar eintlik daarin. En probeer om nooit aan die gat in die tuin van Stille Weide te dink nie. Sy sien nog nie kans om ’n boompie te plant nie. Van Dirk het sy nog ’n paar maal gehoor. Hoe gaan dit met jou? Eet jy darem? Wil jy regtig nie iets uit die woonstel hê nie? Waarom nie? Wat moet ek met … met Wilhelm se goedjies maak? Hy het die pak goed een middag by Adelien kom aflaai en weer haastig vertrek. Adelien het vir Christelle ook laat kom en vir die eerste maal het al drie susters saam gehuil oor die klein mensie wat nooit was nie. Hulle het die klein kousies en baadjies en broekies bekyk, met hul handpalm oor die delikate goedjies gevryf en gesnik. Adelien het oplaas aangebied om alles by haar te hou tot eendag, wie weet. Kort daarna is die egskeiding gefinaliseer. En Bernadette het gevoel asof sy ’n diep sug geslaak het. Verlig en so byna tevrede. As dit net nie was dat ’n mens so broos was nie, het sy meermale gedink. Verlig om uit ’n verkeerde huwelik te kom, maar diep en snydend jammer oor al die skade. Daarom wag sy dat die tyd moet loop en haar moet saamvat. Wag dat sy weer heel moet voel. Van Henk hoor Bernadette egter niks. Op ’n aand voel sy lusteloos en moeg geleer en sy bel Sara. Kan sy gou kom teedrink? Sommer net om hallo te sê.
Dis ’n heerlike, snoesige kuier soos wat sy haar voorstel dit by ’n mens se ma moet wees. Hulle gesels onophoudelik, soms selfs tegelyk en lag dan daaroor. “Henk sal bly wees om te hoor dat jy beter word, Bernadette,” sug Sara eindelik. “Ek voel partymaal nog rou geskaaf, tante,” antwoord sy net. Die vrou antwoord nie, maak net nog rooibostee en sny ’n klam sjokoladekoek met room en neute op. Bernadette eet vir ’n verandering met groot smaak en toe sy byna klaar is, sê Sara: “Henk is in Holland. Hy kom eers oor ’n maand terug. In sy laaste e-pos wou hy weet of jy al ’n slag hier was …” Sy haal diep asem: “Bernadette …” “Tante?” “Ek wil nie uit my beurt praat nie, maar jy weet dat Henk en die meisie in Bloemfontein eintlik nooit werklik ernstig was nie, nè?” “Het hy dan net gespeel?” vra Bernadette en haar stem wankel. “Nee, nooit. Maar hy het probeer om ’n sinvolle verhouding te hê. Met ’n mooierige, gawe dosent in die regte. Ena Grundling. Maar dit wou nie werk nie. Veral nie ná hy verlede jaar by Abel op die plaas was en jou weer daar raakgeloop het nie.” Die vrou leun vooroor in haar stoel sodat sy byna tasbaar die moederangs kan aanvoel. “Bernadette, my kind, hy vóél vir jou.” “Ek weet, tante,” sê sy paaiend, en besef in ’n verbasende, verhelderende oomblik dat sy dit bedoel. Sy weet góéd dat daar diep emosie tussen haar en Henk Verwey vloei. En sy weet dit al van toeka af. Iewers, op ’n gegewe tydstip, het dié wete in haar onderbewuste vasgehaak. Dat sy en die blonde man met sy dwingende, dog stil sjarme raakpunte het wat sy en Dirk nog nooit gehad het nie. Meer nog: Sy en Henk is lief vir mekaar. Waarlik lief. Miskien ook baie lankal al. Dalk vandat hy op Adelien en Roald se troue so saam met sy ma agterlangs in die kerk gesit het en sy oë heeltyd op die strooimeisies was. En toe’t sy gedag hy kyk vermanend na Christelle omdat dié weer ekstra moeilik was, want haar rok het kwansuis nie na wense gesit nie, gekla dat die rok se bostuk haar na ’n advertensie vir Wonderbra laat lyk. Sy het dan op dié been en dan op daardie gestaan, haar mooi mond beslis dik. Maar Henk, erken sy nou openlik aan haarself, het nie na haar tienersussie gekyk nie. Sy oë was op háár …
Ook tydens die dans in die skuur, het hy eensklaps voor haar gestaan toe Dirk op ’n keer met die blonde, wulpse Fiekie de Koker van Bokrans getango het dat die stof van die saagsels op die vloer in ’n wasige geelbruin lagie bo die sement gehang het. “Kom dans met my,” het Henk gesê en sy hand was om haar middel voordat sy kon teëstribbel. Maar hulle het nie gedans nie. Hy het haar buitetoe gevat na waar twee rye bruin papiersakke met sand en kerse daarin geanker ’n paadjie na die skuur gevorm het. “Jy lyk baie mooi,” het hy sag gesê. “Is jy gelukkig, Berna?” Vreemd dat sy nie toe regtig wou erken watter impak dié man nog altyd op haar gehad het nie. Sy het hom dikwels saam met Adelien gesien, geregistreer dat sy van hom hou, maar daar was altyd Dirk. Soos ook toe. Dirk wat verwaaid en uitasem van die dans na haar kom soek het, haar besitlik omarm en demonstratief voor Henk gesoen het. Sodat sy toe nooit die vraag beantwoord het nie. Dirk het haar aan die hand die skuur in gevat en dadelik weer energiek begin dans. Oor sy skouer het sy gesien hoedat Henk nog buite in die kerslig staan, maar sy kon sy gesigsuitdrukking nie mooi uitmaak nie. Iets tussen weemoed en ergernis, het sy toe gedink. Daar kom keerpunte in ’n mens se lewe wat jy moet herken, dink Bernadette een aand toe sy gedaan gestudeer in haar bed lê, byna te moeg om te slaap. En wonder of Henk, die man sonder bybedoelings of hoop, ja, die man sonder gedagtes, haar ooit gaan bel. Sy dink aan hulle gesprek daar onder die geel sambrele in die tuin van La-La Palma en sy woorde kom na haar toe terug … “Ek sal jou bereik as jy my nodig het …” Ek gaan hom vra om my te bereik, dink sy. Dis nog drie dae voor my eksamen, en daarna gaan ek hom bel. Sy studeer soos ’n besetene, tot Marta du Buisson sien dit raak. Dié vrou wat haar op kantoor meedoënloos roskam as sy die geringste foutjie maak, maar haar tog byna moederlik oor haar ontferm. Soos een middag toe sy laat gewerk het en ’n pak lêers op die vrou se lessenaar kom neersit.
“Ag nee, Bernadette, jy lyk of jy uit ’n koma wakker geword het. Sit tog lipstif aan … Of nee, is daar regtig niemand wat na jou kan kyk nie? Jy lyk wraggies so onkapabel om dit self te doen!” “Ek kan self regkom, dankie!” wip sy haar, maar Marta laat haar nie koudsit nie, vat haar taamlik onsag aan die arm en druk haar in een van haar kantoorstoele. “Kyk, dit is my saak as een van die jong prokureurs soos ’n gees begin sweef. Eet tog in vadersnaam iets wat vullend is en jou aan die aarde kan anker.” Die vrou bestel terstond ’n enorme eetding met spek en sampioene by ’n pizzaplek en tot haar eie verbasing eet Bernadette dit saam op. Vreemde vrou, besluit sy nie vir die eerste maal nie. Hard, maar tog genaakbaar. “Toe,” por Marta weer, “wie kan ek bel om na jou om te sien? En moenie vir my vertel daar’s niemand nie!” Bernadette vee haar mond met ’n papierservet af – en toe kry sy ’n gedagte. “Daar is, ja. Hy is in Holland. Henk Verwey …” Marta se gegrimeerde oë rek effens. “Die vermaarde professor Verwey van Sielkunde?” Sy knik. “Sê … sê vir hom ek hét toe afgeval, en dis nog seer.” Marta sit ’n rukkie. “Hm … Kripties. Maar ek sal so maak,” is al kommentaar. Maar Bernadette moet wag tot ’n week ná haar eksamen. Sy lê op Roald en Adelien se sitkamerbank en lees aan ’n liefdesverhaal wat Adelien haar in die hand gestop het. Pure ontvlugting, het sy beduie. Heerlik. Klein Robert speel doodtevrede langs haar op die mat met sy blokkies. Nou en dan steek sy ’n hand uit en vryf die sagte kuifhaartjies deurmekaar. Dan kyk die kind op en glimlag met haar. Eenkeer buk sy af en raap hom op tot teen haar bors. “Ek druk jou sommer pap!” lag sy in sy nekkie en hy kraai gelukkig. Toe sy orent kom, sien sy hom. Hy staan in die deur wat na die portaal lei. Agter hom is Adelien en sy skuif verby om Robert te kom optel en weer te verdwyn. Dis ’n gekookte ding dié, weet Bernadette meer verleë as geamuseerd. Wat het haar makeer om sulke amper-intieme goed vir Marta du Buisson te sê wat dit sekerlik aan Henk oorgedra het en Henk weer aan Adelien?
Sy staan op, vryf senuagtig oor die klein strokie maag wat tussen die T-hemp en die denim uitsteek. “Hallo,” kry sy droogweg uit. “Hallo is nie die regte woord nie,” sê hy en kom nader. “Wat dan?” Sy sluk, trek haar vingers deur haar hare. Nes ’n tiener, dink sy ergerlik. Waarom is ek so … so onuitstaanbaar infantiel? Maar haar oë verteer hom. Hy lyk langer, skraler miskien, die blonde kuif netjies soos altyd, maar daar is donker kringe om sy oë asof hy maar min geslaap het. Haar hart wil smelt van vertedering en liefde en berou omdat sy nou eers só kyk – en só liefhet. “Aangename kennis,” sê hy en steek sy hand uit. Sy neem dit, maar word met ’n kragtige haal teen hom vasgetrek sodat haar mond teen syne is nog voordat sy kan dink. Hy soen haar met soveel ie en teerheid en allesomvattende liefde dat sy saggies begin huil. Hy laat haar begaan, en sy snik teen sy skouer. “Ek woon nie meer op Doer Gunter nie.” “Ek weet,” fluister hy in hare, hou haar nog stywer vas, maar sy druk hom effens terug. “Henk, ek is vreemd vir myself …” “Ek weet dit ook …” Hy vee die natheid van haar wange af met sy vingerpunte en sy lippe beef toe hy glimlag. “Maar ek sal jou help om jouself opnuut te leer ken …” “Hoe?” vra sy en trane brand weer in haar oë. Hy trek haar op die bank langs hom neer. “Berna … Ek is hier vir jou. Ek weet nie hoe om heel te maak nie, maar God weet. En soms stuur Hy mense na mekaar toe.” “Marta du Buisson het jou laat kom,” snik-lag sy. “Het God regtig iets hiermee te doen?” “Ek glo so,” antwoord hy baie ernstig. “Want ek glo in Hom, in die onkreukbaarheid van sy karakter. Ek weet dat Hy nie ’n onpersoonlike God is
wat net sy kinders van ver af sit en dophou nie. Ek glo Hy sal jou help om jouself weer van binne af heel te maak.” Sy plaas haar handpalms op sy bors en leun nader tot haar gesig teen syne is. “Eintlik glo ek ook so. Maar jy moet ook bietjie help …” Hy laat hom nie twee maal nooi nie, soen haar totdat sy goed weet dat sy saam met hierdie man kans sien om op die aarde te woon. Daar waar mens soms moet gate grawe om te bêre én om te onthou. Sy sal ook saam met hom eendag ’n boom vir Wilhelm gaan plant. “’n Kerspopulier soos sy ouma s’n,” sê sy. En Henk knik omdat hy dadelik en volkome verstaan. “Wanneer die tyd reg is,” glimlag hy. “Het ek jou al gesê, Henk Verwey,” fluister sy, “dat jy vir my onuitspreeklik kosbaar is?” Sy arms sluit vas om haar en hy praat teen haar gesig asof hy bang is die klank bereik haar nooit: “Ek het geleer om dit te hoop … Later het ek gedagtes daaroor gehad … gedagtes wat ’n man aan die gang kan hou soos niks anders kan nie.” Sy lag meteens, soen sy mond en wange en weer sy mond. En sy voel vry. Vry van alles wat haar tot nog toe so gebind het dat sy nie haarself kon wees of haar hart kon volg nie …
Christelle
Hoofstuk 1
“En ek dag ék is die een wat eintlik moet kom vakansie hou!” mor Christelle toe sy met ’n skinkbord en drie koeldranke op die stoep van die strandhuis uitkom. Sy stap oor die breë grasperk wat tot teenaan die strand lê en kyk beskuldigend na Adelien en Bernadette. “Julle is regtig skaamteloos lui!” Haar twee hoogswanger susters is uitgestrek op die houtlêstoele en Adelien doen nie eens die moeite om die breë sonhoed van haar gesig te lig nie. Brom net dat sy moeg is, en basta. Bernadette, haar bos rustelose krulle koperblink in die son, lag net. “Maar jy is nie swanger nie, sussie, en jy is die jongste. Jou plek in ons hiërargie vereis gedienstige onderdanigheid. Dus moet jy maar spring!” “Dis onregverdig. Julle het elkeen ’n man. Waarom kan húlle nie spring as julle jul vingers klap nie?” “Ag, have a heart,” kom dit van onder Adelien se hoed, “en kom sit my koeldrank hier langs my neer. Ek gaan dood van die dors.” Christelle gee haar suster se wit bobeen ’n ligte klappie maar maak so. Kyk af op Bernadette wat haar, fronsend teen die son, dophou. “Waarom is jy so eenkant dié vakansie, Chrissie?” wil sy weet. “Jy gaan stap alleen, lees alleen en jy sulk alleen. Jy moet nog net alleen eet ook. Dit lyk so asof jy nie geanker is nie. Is dit dan nie vir jou lekker by ons nie?” Christelle maak haar op een van die ander stoele tuis, strek haar bene in die son en tuur oor die see wat vandag so stil soos ’n dam in die somerson lê. ’n Paar meter van hulle af kan hulle die branders luiweg hoor aanrol onderkant die trappe wat steil afklim strand toe. Sy sug liggies. “Jy het die alleen-woord gebruik, Bernadette. Dit behoort vir jou alles te sê. En ek wil nie nou al geanker wees nie.”
“Ek dog dan jy en Gerrit van Jaarsveld het ’n ding aan,” praat Adelien en lig die strooihoed effens sodat sy onderdeur kan loer. “Soort van,” sê Christelle en hou by voorbaat haar hand op om haar oudste suster se vloed preekwoorde te stuit. “Adelien, los my uit. Jy wil nie verstaan as ek vir jou sê hy’s nie noodwendig dié een nie!” “Nou wie is dan ooit?” vra Adelien dadelik ontsteld. “Jy fladder en dartel van man tot man en …” “Ag, hoe poëties!” kap Christelle terug. “Al fladderend en dartelend deur die lewe!” “Moet nou nie weer met woorde begin speel nie, Chrissie! En moenie sarkasties of skerp wees met my en Bernadette nie! Ons gestelle is nou te broos daarvoor!” “Nou maar hou op karring in my persoonlike lewe!” “Dis bloot opregte susterlike belangstelling,” kom dit verontwaardig van Adelien en sy draai met moeite om om haar koeldrank by te kom. Sê so tussen dorstige slukke deur: “Jy kan ook dankbaar wees dat ons nog hoegenaamd belangstel, want jy slaan gedurig op die vlug as ons van jou kêrels begin praat en …” “Waar’s julle eie helde?” val Christelle haar in die rede, “of het hulle ook gevlug?” “Tj! Daar doen jy dit weer! As jy dan nou moet weet, Roald het vir Robert strand toe gevat, Pa het strandlangs gaan stap en dalk swem hy ook. O ja, Henk het gaan proviand koop vir vanaand.” “Wat gebeur vanaand?” “Ons hou partytjie,” antwoord Bernadette en Christelle mag haar dit verbeel, maar haar twee susters wissel onderlangs wat mens ’n betekenisvolle blik sou kon noem. “Elke vakansie behoort ten minste met een behóórlike opskop gevier te word,” sê Bernadette en loer weer na Adelien. “En ja, dit klink nou asof ons gereeld vakansie hou. Maar dis die eerste in jare en daarom juis werd om gevier te word.”
“Wraggies, ja …” sug Adelien en suig aan die strooitjie in haar lemoensap. “Wie kom almal?” vra Christelle agterdogtig. “O … dis ons en ’n paar mense wat ons ken.” “Lig my in.” “Wag en kyk,” antwoord Bernadette. “Ag,” trek Christelle los, “ek hoop tog regtig nie dis die ou klomp van die buurplase wat vakansieplekke hier rond het nie! Dis erg genoeg dat Pa nog altyd weier om vir ons ons eie een aan te skaf en ons dié Desember nou opsluit die Mahlers se plek moet gebruik.” “Dit was baie gaaf van hulle om dit vir ons aan te bied,” sê Adelien styf, “en ons pa was nog nooit een van die grondbaronne nie. Hy kan dit nie regtig bekostig nie en jy weet dit. Daarby is dit tyd dat jy jou kinderagtige gekyf oor alles wat die Mahlers doen, laat staan. En Christelle, jy het ’n probleem met mans, laat ek dit nou maar vir jou vertel. Jy …” “Die Mahlers en mans … als in een asem. Sou ek dan ’n probleem met álmal hê?” onderbreek Christelle haar en voel hoe ’n ergerlike gloed na haar gesig klim. As Adelien net nie nou weer begin nie … Maar Adelien is op dreef. As sy eers besluit het om Christelle te bepreek, is daar eenvoudig nie wegkomkans nie. “Luister, Chrissie, ek en Bernadette kwel ons oor jou. Regtig, jy begin al ’n reputasie ontwikkel. Moenie dink ons weet nie van die chirurg Johan Fourie, die onderwyser Philip Snyman en die prokureur Tiaan Ysel nie! En dit terwyl jy arme Gerrit steeds soos ’n hondjie aan ’n halsbandjie rondlei!” “Maar … ek het mos nou gesê daar is ’n soort verhouding tussen my en hom … Wel in embriofase, maar tog!” protesteer Christelle. “Buitendien, die ander was soort van net pelle! Waarom moet julle alles so ingewikkeld maak?” Bernadette sukkel halfpad orent, stut haarself op haar elmboog, haar magie soos ’n waatlemoen uitgeswel onder die skrapse T-hemp wat sy bo-oor haar bikinitop aanhet. “Dis net vir jóú ingewikkeld, sussie, want …”
“Ja,” val Adelien haar in die rede, “en dis net omdat jy nog nooit jou vroulike intuïsie ontwikkel het nie, Christelle!” “Watter formidabele gevolgtrekking,” glimlag Christelle geamuseerd en teug aan haar koeldrank. “Of is dit nou ’n kliniese diagnose?” Adelien, immer ernstig, val dadelik in: “Chrissie, wat ek en Berna sê, is waar. Jy luister nooit na jou binnestem nie! Jy is so gewoond daaraan om blindelings te glo wat jou sintuie vir jou sê, dat jy jou intuïsie morsdood druk.” Christelle se mond sak teatraal oop. “Nou … wat stel jy voor moet ek dóén?” vra sy bedrieglik vroom. “Wel,” gaan Adelien onverstoord aan, “jy moet in aanraking kom met jou ware self. In kontak kom met jou emosies. Ek het al in my studies en ook onder andere in Mariette Snyman se artikels gelees dat intuïsie eintlik ’n natuurlike proses is. Buite-inligting word verbysterend vinnig deur die brein ingeneem en verwerk en dis dán wanneer daar voorgevoelens ontstaan en …” “Ja,” gooi Bernadette speels ’n stuiwertjie in, “ek kry baie voorgevoelens. Ek het sommer dadelik geweet ek en Henk gaan gou-gou ’n babatjie hê. Dit bewys net dat die verbinding tussen ons en ander mense en selfs gebeure, eintlik baie sterker is as wat mens vermoed. Dis ’n formidabele netwerk van gevoelens en …” “Wag, wag!” speel Christelle nou saam, “sê my nou mooi, het ons hier te doen met die krag van positiewe denke, of lol ons dalk met die kwantumfisika?” Al twee haar susters gaap haar onverbloemd onbegrypend aan. “Hm, so swanger as wat kan kom, sien ek. Die geswolle breins het afgesak ondertoe.” “Ag twak,” erg Adelien haar, “wat het kwantumfisika te doen met voorgevoelens?” “Wel, volgens wat ék weet, bestaan alle materie uit energiegolwe en alles is letterlik aan mekaar verbind, soos wat dié Mariette in een van haar artikels in rooi rose sê. En nou reken ek so: Die hele mensdom is soos ’n web. Pluk jy hier dan beef dit dáár … Sien, ek lees ook!”
“Presies!” beaam Adelien glimlaggend. “Dan verstaan jy wat ons bedoel as ons van voorgevoelens praat. Ons hart en ons gemoed voel letterlik die web op ’n ander plek tril!” “Goeiste!” lag Christelle, teen haar sin geamuseerd. “En dan kielie daai veraf trilling weer jou breingolwe sodat jy diep in jouself delf enne allerlei opwindende maar irrelevante brokkies kennis te voorskyn bring, of wat?” “Jy spot verniet,” sê Bernadette met nog ’n sameswerende blik na haar oudste suster, “ek het byvoorbeeld hierdie sterk aanvoeling dat vanaand se partytjie vreeslike interessante mense gaan oplewer!” “Natuurlik, julle het hulle dan self genooi.” “Nie almal nie.” “Maar …” “Hallo, julle!” groet Henk vanuit die voordeur. “Nou ja, meisies, die voorrade is gekoop, die bier, die witwyn en vrugtesap is in die yskas en julle moet nou die vleis in die marinade kom sit. Vanaand braai ons tot die sterre vaal word.” Adelien en Bernadette kom steunend orent. Christelle loer na hulle van onder afgeslane wimpers. Hulle het vanoggend vroeg al praatjies gehad oor watter marinade die beste by hoender en skaap gaan en dat repies vars mango dalk heerlik saam met koue hoender gaan smaak. Christelle waai vir Henk en kyk die twee swaarlywiges goedig agterna. Adelien is al agt maande swanger en Bernadette bietjie meer as sewe. Of dit nou juis wys is om so ver te reis om te kom vakansie hou, wonder sy wel. Gelukkig het dié besige dorp aan die Natalse Noordkus ’n baie goeie hospitaal en mense kom tot van Durban af hierheen. Sy sug en sak salig terug teen die houtstoel, maak haar oë toe teen die skerp son. Sowaar, sy’t dié blaaskansie nodig. Ná sy voorverlede jaar klaargemaak het as dokter, moes sy na Venda vir haar gemeenskapsdiensjaar. Behalwe dat sy haar gaar gesukkel het met gebrekkige voorrade, ambulanse wat soms feitlik op drie wiele moes voortkruie en die algemene swak toestande van die kliniek waar sy geplaas was, het sy byna nooit rus gehad nie. Sy is bleek en beenmaer. Sy loer af na haar skraal lyf wat sy vroegoggend al blink gesmeer het met die sonblok in die hoop om die ergste UV-
strale te ontduik. Haar boesem vul die bikinitop mooi, maar haar middeltjie is onbehoorlik dun en haar bene ook. Gelukkig, dink sy wrang, ly haar borsmaat nooit onder haar neiging om gewig te verloor as sy onder stres verkeer nie. Sy is (meestal tot haar spyt) nog altyd goed bedeel. Verstaan mooi, het sy eenkeer vir Adelien verduidelik toe dié haar betig het omdat sy daaroor kla, ek is bly ek lyk nie soos ’n strykplank nie, maar my sus, mans kyk selde of ooit na my mond of oë. En daarby, dink sy met ’n innerlike sug, word sy nog as te uitgesproke ook beskou. Net jou eie skuld, sal Adelien wel beweer. Maar tog, het ’n vrou dan nooit, ooit die reg om te sê wat sy van ’n verhouding verwag nie? Moet sy altyd, maar áltyd wag totdat meneer sy voorkeure uitspreek en dan skamper daarby inval? En dit omdat die samelewing dit kwansuis so verkies? Te duiwel daarmee, dink sy baie maal. Soos nou ook. Dit spook maar kort-kort by haar. Sy is nie ’n stereotipe nie en sal dit nooit wees nie. Sy is … wel, sy is haarself. Uniek, as mens nou eerlik wil wees. Buitendien, wat is fout met uniek? Is dit nie wat ons almal veronderstel is om te wees nie? Sy sug diep. Party mans noem dit halsstarrige eiesinnigheid. Maar dit is nie dit nie. Net ’n ingewortelde begeerte om haarself uit te leef. Sy het dit hardop bely teenoor Phillip, die onderwyser, maar hy was ongemaklik daaroor. Wou weet wat presies sy daarmee bedoel. Sou dit dan nou ten koste van haar gesin wees, of wat? Ag foei, was haar reaksie. Dink jy regtig ’n vrou wat haar eie loopbaan het, moet noodwendig ’n pyn hê met haar selfbeeld? Ek bedoel maar net dat ek graag ’n baie goeie dokter wil wees en ek wil ’n gesin ook hê, ja … Maar eers eendag. Die man was terstond dikmond. Toe eers het sy besef hy soek vrou en dringend ook. Sy het haar so gou moontlik uit die voete gemaak. As ’n man eers op daai vlak vassteek dat hy met alle mag met die eerste inskiklike wil trou, is die einde naby … So voel sy altyd. Natuurlik het sy dit hardop gesê ook en dié slag het Adelien saamgestem. “Die man voel bedreig deur jou. Geklik tog.” Dis net Gerrit wat haar verduur. Terg haar en druk haar speels vas. “Goed so, Chrissie!” en “Sê hulle, my meisie!” is van sy geliefkoosde uitdrukkings as sy weer ’n slag haar mond verbygepraat het. Maar nou ja, die chirurg en die
onderwyser en die regsman het vies geword vir haar. Die chirurg het haar selfs ’n klein helleveeg genoem toe sy hom op ’n aand daarop wys dat sy humeur handuit ruk as hy agter sy Audi TT se stuur sit. Padwoede pas nie by ’n dokter nie, het sy (ewe snipperig, moet sy toegee) gesê. Skielik besef dat sy geensins met ’n geëmansipeerde man te doen het nie en sommer gestrip … “Helleveeg?! Is dit wat jy my genoem het?” wou sy kwaai weet. “Ag vroumens, staak dit! Ek het nie nog tyd om met jou te stry as dit só lyk op ons paaie nie!” Hulle was op pad Menlyn Park toe om te gaan fliek en sy het meteens geweet sy sien glad nie kans vir dié aand nie. Nie saam met ’n man wat onbeheerbaar opvlam as iemand ’n toeter naby hom druk of as ’n fietsryer te stadig na sy sin die pad oorsteek nie. Toe hulle in Atterburyweg naby die winkelsentrum by ’n verkeerslig stop, het sy kalm gesê: “Ek klim nou hier uit!” “Vir wat?” wou hy ongrammatikaal weet. “Vir vars lug,” het sy geantwoord. “Ek mors nie my tyd saam met iemand wat so baie daarvan hou om ’n slagoffer van klein situasietjies te wees nie!” Hy het haar in ergerlike verstomming aangegluur. “Vir wat is alle vroue deesdae so moeilik en beterweterig?” “Ek beantwoord nooit retoriese vrae nie,” het sy gesê en uitgeklim. Die aantreklike chirurg se intelligente grys oë het gerek. Verbasing, het sy besluit. En toe besef: Nee, woede. Hy was al weer smoorkwaad en toe sy uit is, het sy voet so heftig op die petrolpedaal beland dat die TT vorentoe geskiet het en so byna ’n verskrikte swartsak-en-hanger-verkoper op die straathoek sy balans laat verloor het. “Maar my magtie, Christelle!” het Adelien later ontsteld gehyg, “die een is so erg soos die ander!” “Hoe bedoel jy nou?” het Christelle onskuldig gevra, maar goed geweet sy tempteer haar ietwat konserwatiewe ousus darem nou te veel.
“Ek bedoel … dat jy darem self ’n pak slae kort, jong!” “Ag Ous,” het Christelle gepaai, “ek kan mans nie meer verduur wat mens soos ’n vodderige lap behandel nie. Ek wil nie heeldag loop en opvee agter hom nie. Of voor hom uit mop dat die wêreld mooi skoon kan wees waar hy trap nie. Om die hele aand in sy geselskap te moes piep en pamperlang, was toe net te veel vir my! Ek kan nie mans hanteer wat my nie my ruimte as medemens gun nie!” “Nou … wat van die onderwyser en die prokureur?” “Ditto vir hulle, Adie. Die een wil hê ek moet my hare vasmaak as ek saam met hom na ’n skoolfunksie toe gaan en die regsman wou vir my voorskryf watter kleure om te dra. Rooi pas my glo nie …”
’n Skadu val meteens oor haar gesig en bolyf. “Haai,” groet Roald vriendelik en klein Robert kom tik-tik oor haar kaal midderif met sy sandhandjies. “Hai, hai!” roep hy vrolik. “Hallo, julle liewe goed! Hoe was die water?” “Heerlik! Jy sal spyt wees as jy nie gaan nie … Daar’s talent ook op die strand. Wel, as ek nou ’n vrou was, sou ek so gedink het!” “Regtig?” lag sy. “Dan moet ek dadelik gaan ondersoek instel.” “Maak so, die water is louwarm en helder. Pa kan nie genoeg kry daarvan nie. Hy swem soos ’n tiener!” “Dit moet ek sien!” sê Christelle en staan op, vat haar geelgestreepte handdoek en loop af strand toe. Van bo by die rotse af, sien sy haar pa. Hy swem energiek, duik in die skuimende branders en dryf dan weer sodat net sy kop en sy tone uitsteek en soos wat sy nader stap op die soom van die spelerige plat brandertjies, kan sy die genot op sy gesig waarneem. Wanneer laas het ek hom so gesien? wonder sy gelukkig. Eeue der eeue laas, indien ooit. En sy dink: Hy het tóg verander. Sy self was so aan die swoeg met haar studies dat sy dit nie werklik waargeneem het nie, maar nou kan sy dit nie
meer ontken of ignoreer nie. Abel Buitendag het verander. Sy dink aan die twee nuwe bome in die voortuin op Stille Weide en haar hart word warm. Twee opgeskote kerspopuliere wat eersdaags bo die elektriese heining gaan opstoot. Hulle blare word al digter ook. En dit was glo ook nie net ’n kwessie van boom in die grond steek nie. Daar was groot opgewondenheid op Stille Weide. Aldus Anna. Dit was sy wat die dogters gebel het om vir die naweek plaas toe te kom vir die boomplanting. Dis toe dat Bernadette besluit het Wilhelm moet nou ook sy boompie kry. Want dit was darem toe al meer as ’n jaar … Net Christelle kon nie gaan nie, want sy het eksamen geskryf. Nou nog is sy spyt sy het dit misgeloop. Sy kan haar goed voorstel hoe Anna gewerskaf het om die geleentheid so luisterryk moontlik te maak. Abel wou glo nog keer. Maar sy het ’n anderhalf dosyn sponskoeke gebak waarvan die deeg goudgeel, grasgroen en skokpienk gekleur was en oranje aanmaakkoeldrank by die megaliters gemaak. Thabu en die ander werkers en hul vroue en kinders het aangetrek asof hulle kerk toe gaan. Selfs Efraim wat op Mahlersdrif werk, het gekom – al was dit seker net om Nomsa te sien te kry, want dié het verlof geneem by die skool in Mamelodi. Toe Abel eers sien wat die omvang van dié geleentheid gaan wees, moes hy maar kopgee. Dit was ’n enorme, emosiebelaaide okkasie vir al wat leef en beef op Stille Weide. So ampertjies traumaties, het Henk later glimlaggend beduie, as daar nou van goeie trauma sprake kan wees. “Ek het toe ook maar my kispak aangetrek,” het Pa Abel later droogweg gebieg. “Ek reken toe so … As dit dan nou die omvang van ’n formele staatsfunksie het, dan moet ek maar daarby inval. Die meerderheid het mos so gestem!” En sugtend bygevoeg: “Buitendien, jou susters en hul mans het net so grênd aangetrek! Klein Robert het glads ’n onderbaadjie gedra!” Thabu het glo ook die dag vantevore die gate in die grasperk vol water gemaak om die grond eers sag te kry en toe die dag aanbreek, het hulle met sonsopkoms om die klam gate vergader. Almal wat hul lewe lank op Stille Weide woon en weet van die groot en lang treurmare oor die vrou wat destyds so ontydig dood is, was daar. En toe Abel en Bernadette die boompies in die gate laat sak, het almal “Prys die Heer” gesing. Trekkerig en temerig soos wat mens dit doen as jy erg emosioneel voel. Anna het gehuil dat haar mollige lyf dril en skud, het Adelien weet te vertel. Bernadette het ook gehuil, maar dit was ’n goeie, skoon huil met Henk wat haar baie styf vasgehou het. Christelle self het gesnik toe Adelien haar dit vertel. Ook nou kry sy sommer ’n
knop in die keel as sy so na haar spelende pa kyk. Dis of sy skielik rou en pynlik besef dat sy baie soos hy is. Dat sy stellig net so onlosmaaklik sal liefhê soos hy, dat sy dalk net so sal ly as die liefde weggepluk word of miskien nooit kom aanklop nie. Om die skielike gevoel van verlange en die onafwendbaarheid van liefdespyn te besweer, skop sy verwoed die borrelende vlak watertjies in silwerblink boë weg van haar af en draf die laaste entjie swemplek toe. Om Abel plas daar ’n paar ouerige dames sedig rond. Maar daar is ook ’n klompie jong manne. Lawaaierig en plesierig, dit hoor sy op ’n afstand. Hul gespierde lywe glim waternat en hul hare kleef donker aan die welgevormde koppe soos wat hulle duik en opkom en telkens saam met die branders uitrol tot waar hulle laggend op die sand bly lê. En sy kry onuitstaanbaar lus om dit ook te doen. Om sommer net saam te speel en al die innerlike kwellings, die onmenslike tempo van haar lewe, haar verlangens en begeertes in die see te dompel en weg te was. Sy los haar handdoek op die sand naby die lewensredders se uitkykpunt en hardloop water toe. Sy snak toe die eerste kniehoogte golf haar tref en platslaan. Sy sluk monde vol seewater en stik en spoeg onvroulik. Pa Abel lag toe hy haar sien en wink dat sy dit dieper moet waag. “Kom!” roep hy, “dis lekker hier!” Sy swem met lang hale tot by hom. “Ai, Pa,” lag sy, “dis goed om Pa só te sien!” Tot haar innige verstomming lag hy kop agteroor en verdwyn onverwags onder ’n aankomende golf om haar bene onder haar uit te gryp. Haar mond gaan oop en sy sluk seewater, spartel woes om weer bo te kom. Hy lag weer en sy sak ondertoe om hom aan die kuit te gryp. Hulle begin jubelend speel asof daar skille afgeval het en albei skielik mekaar se onderliggende temperament begryp. ’n Joligheid wat eintlik deel is van hul al twee, maar so lank onderdruk is. Dis toe sy weer ’n keer onder ’n golf in duik dat hy halt roep. Uitasem en steeds laggend. “Sjoe, jy speel my skoon gedaan, Chrissie. Jy moet weet, ons hou glo nog partytjie ook vanaand … enne … ek sal moet krag hê om met die buurmanne te gesels.” “O …” sê sy en laat toe dat ’n deining haar saggies van haar voete lig, “dan is dit
tóg die klomp Oos-Vrystaters wat vanaand kom kuier.” “Ja,” beduie Pa Abel. “Ek gaan nou uit, maar swem jy gerus nog.” Sy knik en hy waad uit strand toe. Daar draai hy om en wuif vir haar. Sy waai terug met ’n warm hart. Net toe sy weer dieper wil in, klop iemand haar op die skouer. “Hallo, mooiste!” Sy vee die water uit haar oë en haar moed sak. Tiaan, een van die Hattinghtweeling van Rus-te-Velde. Nagraads regte op Tuks en heeltemal te dapper vir sy ouderdom. Was nog altyd. Het haar op skool al verpes al was sy ’n paar jaar ouer as hulle. “Is jou alter ego ook hier?” vra sy dikmond. Hy lag breed en skud die nat blonde poniestert terug oor sy bruingebrande skouer. “Nie hier in die water nie. Riaan help solank daai swaers van jou om reg te maak vir vanaand se paartie der paarties. Hulle gaan glo ’n yslike vuur pak wat tot laatnag sal kole maak. Dink net wat ek en jy dán als kan doen!” “Ek sidder nóú al,” sê sy en duik onder ’n brander deur. Maar hy volg haar, glad soos ’n dolfyn. Toe sy opkom, is hy digby haar. “Moet nou nie weer mislik wees met my nie,” glimlag hy. “Ek is lief vir my boetie, maar ek het jou dié slag eerste gesien!” Die woelige water swel meteens hoog op en sy moet spartel om haar neus bo die oppervlak te hou. Sy moet ook haar geheue haastig oophark om uit te vind waarvan hy praat. Al wat sy kan onthou, is dat sy hom taamlik lanklaas gesien het. “Die aand op Mahlersdrif,” help hy haar en toe rol die brander hulle al twee. Die water spoeg hulle onstuimig uit en sy kom dadelik orent, plas uit in die hoop dat hy sal agterbly. Maar verniet. Hy draf spatterig agterna en gryp haar liggies aan die elmboog. “Nie so vinnig nie,” sê hy. “Jy onthou mos toe tannie Retha Mahler verjaar het?” “Sy doen dit elke jaar, ja,” sê sy en trek haar arm uit sy greep om haar handdoek
op te tel en vinnig om haar lyf te vou. Sy waarderende blik ontgaan haar ook nie en tot haar konsternasie bloos sy soos ’n skooldogter. Sy skud lang slierte hare weg uit haar gesig en kyk hom kwaai aan. Maar hy lag vir haar. “Nog net so opstêrs soos altyd … Ag, wil jy nie net één keer gaaf wees met my nie?” “Definieer gaaf,” sê sy en begin terugstap. Hy val langs haar in. “Wel, in regsterme sou dit beteken dat jy gewillig opdaag sonder dat jy gedagvaar hoef te word!” Sy moet lag kry. So ken sy mos die tweeling. Hou net nie op nie. Kleintyd het hulle die graad een juffrou klokslag in trane gehad en op hoërskool het hulle die prefekte in ’n permanente staat van histerie na die hoof toe laat draf. Net … natuurlik nie vir Frans Mahler nie. Nee, die hoofseun van daardie jaar toe hulle pas in die koshuis aangeland het, het hulle koeltjies meegedeel dat hy hulle sal dóóddonner as hulle dit sou waag om hom in die minste te grief. Dat die hoof hom ingeroep het oor sy kru dreigement het geen effek gehad nie. Frans Mahler se gesag oor die Hattinghs was legendaries en volledig. As hy gesê het hulle moet spring, het hulle gespring. Miskien is dit die tipe taktiek wat sy nou moet volg want, ag regtig, sy’s niks lus vir Tiaan of Riaan nie. Maar sy kan kwalik help om te glimlag toe sy sê: “Los my uit! Ek is nie lus vir jou of vir jou boetie nie, ek is baie moeg. Ek moes my halfdood werk en het rus nodig voordat ek oor ’n maand Londen toe gaan.” As sy gehoop het dat dit sy aandag sou aflei, had sy dit mis. Sy gesig helder op asof die son net vir hom skyn. “Halfdood, sê jy …” Hy pas gou sy treë aan om net so vinnig soos sy oor die nat sand te stap. “Dit impliseer dat jy ook halflewend is en dis waarop ek nou gaan konsentreer. Wat jou lewende helfte nodig het, is ’n goeie paartie aan die sy van ’n man wat jou lankal bewonder.” Sy steek vas. “Ek haat dit om dit te moet erken, maar jy gaan ’n goeie advokaat maak. Nietemin, jy mors jou asem. Ek gaan nie eers dáár wees vanaand nie. Ek sien eenvoudig nie kans vir …” “Vir wat sien jy nie kans nie …?” vra hy vinnig en die blou oë blink nuuskierig. “Agie!” lag sy en begin draf, al klouend aan die handdoek wat al laer sak. Maar
sy laat haar nie afsit nie. Sy kan vinnig hardloop en sy het ’n lang asem. Maar toe sy later brandasem die trappies op hol tot bo by die grasperk, is hy langs haar en dit lyk nie juis asof hy suurstof nodig het nie. Om alles te kroon, staan Riaan hulle en inwag, klaar aangetrek in ’n kortbroek en baftablou hemp wat by die broers se eenderse blou oë pas. Hy het ook ’n steil, blonde poniestert. In sy hande hou hy ’n pakkie Blitz en ’n aansteker en skuins agter hom op die ronde sementblad in die middel van die grasperk, sien Christelle dat die vuur kant en klaar gepak is. “Dag, mooiste!” groet hy vriendelik. “Hallo, Riaan,” sê sy en voel hoe die handdoek laer oor haar heupe af glip. “En waaraan het ons die inval van die Hattinghs te danke?” “Sy is weer erg goor vandag,” lig Tiaan hom in en die broers lag dawerend. “Wel, dié slag is ons genooi, maar noudat ek jou so in jou volle glorie aanskou, weet ek ons sou in elk geval gekom het!” Toe eers besef sy dat sy mos haar turkoois bikini aan het. Die een wat nie juis baie aan koorsige verbeeldings oorlaat nie. Sy is op die plek vies vir haarself. Maar kwaad word is olie op hierdie twee se vuur, dis seker. Saamspeel is die enigste verweer. Sy lig haar ken dramaties, sit haar hande op haar heupe en laat die handdoek afgly tot op haar enkels. Toe hou sy haar hand uit vir Riaan om te soen. “Ek is dankbaar dat daar mense is wat my bates kan waardeer!” Tot haar innige verleentheid, gryp Riaan die aanbod met albei hande aan en begin met mening kus. Smakkende soene van die rugkant van haar hand op met haar voorarm tot in die waai van haar elmboog sodat sy vervaard wegrem. Tiaan gee ’n paar wolwefluite ter aanmoediging van sy broer se hofmakery en skater dat die aarde bewe. Waar hierdie twee hul welluidende stemme vandaan gekry het, weet niemand, want hul ouers is albei regtig bedees en bedaard. Maar dit sal haar ook nou leer, besef Christelle toe sy die huis in vlug. Die Hattinghs is geskool in treitering en hulle kom altyd die beste daarvan af. Om te dink hulle en Frans het toe later sulke groot pelle geword. Dis nou volgens Nomsa wat hulle al glo dikwels in mekaar se geselskap gesien het.
Maar natuurlik, dink sy vies toe sy onder die stort staan, dis presies wat mens moet verwag. Frans sál aanklank vind by sulke ouens vol studentikose bravade. Sulke “kinners” wat nooit grootword nie. Toe sy aantrek, sien sy dat dit sowaar al skemer is. Sy moes langer geswem en geklets het met dié twee as wat sy gedink het. Sy gooi ’n blou sonrokkie oor haar kop, goue sandale aan haar voete en borsel haar hare uit tot dit soos ’n syige gordyn oor haar kaal skouers hang. ’n Bietjie lipstif en maskara, ’n sproeisel van Dior se wonderlik sensuele Tendre Poison en sy is klaar. Sy kom Bernadette in die gang teë. “Sjoe,” sug haar suster, “die aand het nog nie begin nie en ek is al klaar moeg. En om te dink ek het vanmiddag nog ’n uurtjie gedut ook!” “Maar dan moet jy liefs rus, sussie,” sê Christelle besorgd. “Ek sal by jou sit as jy wil lê. Jy weet tog jy moet jou nie ooreis nie. Hoe lyk jou voete? Laat ek sien! Of wag, laat ek gou jou bloeddruk neem.” “Nee wat,” glimlag Bernadette ferm en trek haar skouers agteroor toe Henk ook uit hul kamer kom. “Ek’s reg. Die bietjie swelsel is net van al die sit voor die rekenaar. Ek het vanmiddag so bietjie aan my tesis gewerk. Die LL. M. maak my klaar … Maar ek sien uit na die aand. Dis ’n lekker klomp mense en ek het lus vir gesels.” Christelle kyk hulle gekwel agterna. Ná wat laas gebeur het, is almal op hul senuwees oor Bernadette se swangerskap. Sy sal haar maar goed dophou vanaand. Adelien, aan die ander kant, is soos ’n vis in die water. Amper wellustig gesond. Sy hoor haar werskaf in die kombuis en draai om soontoe. Maar toe Adelien haar sien, wuif sy haar weg. “Loop sit jy en gesels en help die gaste ontvang, asseblief. Hou sommer vir Robert ook dop. Hy moet so teen agtuur bed toe.” “Goed. Ek sal vir hom sy slaaptydstorie lees.” Buite is die grasperk al vol mense. Almal wat hier in die omgewing óf strandhuise óf woonstelle het. Die Breda’s van Bredasfontein is hier. Die Fouries van Weltevrede, die De Kokers van Bokrans en die Naudés van Ondervlei. En onvermydelik, die Hattinghs van Rus-te-Velde. Die tweeling en hul skugter ouers.
“Naand, oom Piet, naand, tannie Bets. Hallo, boetietjies,” groet sy. Die ouer mense knik vriendelik maar Riaan en Tiaan is reg vir haar. “Boetietjies?!” stik Tiaan in sy drankie. “Die wêreld hierlangs het baie verander, mooiste! Die aanspreekvorm is nou ‘broers’!” Hul ma betig hulle skamper, maar hulle lag heerlik, steek sommer ’n klomp van die ander jonges ook aan sodat Christelle teen wil en dank die middelpunt van die aandag word. Sy groet en gesels en lag en loer kort-kort na waar klein Robert met een van die De Kokers se kleindogters speel. Almal vra gawerig uit na haar diensjaar en ook na haar plan om Londen toe te gaan vir ’n paar maande voordat sy iewers begin praktiseer. Byna al die gesinne het op ’n tyd ’n kind daar gehad of gaan een soontoe stuur. Dis mos nou mode, beduie Mina de Koker. Mens is nie mooi voltooid voordat jy nie ’n draai dáár gemaak het nie. Vat nou maar vir Fiekie. Sy kon nooit boe! sê nie en noudat sy oorsee was, praat sy nonstop en is sy so eie met die kêrels. “Regtig?” glimlag Christelle en neem die wyk na ’n ander groepie. “Steur jou tog nie aan Mina nie,” brom tannie Naudé. “Die mens hoor altyd ’n klok iewers lui, maar weet selde waar die bel hang.” Christelle lag net en beweeg liefs aan, want soos wat sy dié tannie ken, gaan sy nou-nou ’n kwaal bedink waaraan hierdie jong doktertjie terstond aandag sal moet gee. Nou en dan wens Christelle ook om onsigbaar te word, want die tweeling is hopeloos te geïnteresseerd in haar. Riaan wil-wil net weer verspot vatterig raak. Toe die twee egter weer elders met een van hul onstigtelike grappies begin, gaan sit sy stilletjies langs Pa Abel en vat dankbaar die glasie witwyn wat hy vir haar inskink. Dis toe hy rustig met die ouer Hattinghs begin gesels, dat sy meteens presies onthou waarvan Tiaan vroeër op die strand gepraat het. Daar was die aand met tannie Retha Mahler se twee en vyftigste verjaardag. Sy en Pa Abel is genooi, want toe was sy pas in matriek en nog sieklik verlief op Frans, die o, so aantreklike mediese student en enigste erfgenaam van die Mahlers. Sy het drome gedroom oor hoe sy hom matriekafskeid toe gaan vra. Die Hattingh-tweeling was in graad tien en op hul stoutste. En al agter haar aan asof sy die enigste meisie is wat hulle ooit te sien sou kry. Hulle het leepoog weerskante van haar gedrentel en sy kon haar nie draai nie of een of albei die seuns het iets te sê gehad.
“Soen my ’n slaggie,” het Riaan eenkeer skaamteloos gesmeek. “Jy’s vreeslik cool … Wraggies, hoor! G’n meisie in die hele skool het so ’n mooi mond soos jy nie en die ouens gaan dink ek is ’n held as ek Claudia Schiffer se look alike gesoen het!” “Ag, twak met jou!” het Tiaan tussenbeide gekom en sy stem het skielik skril gebreek, “sy gaan my eerste soen! Ek is éérste gebore en ek sal die éérste soen kry!” Die jongklomp het buite saamgebondel – in die lapa en oral langs die swembad terwyl die grootmense in die ruim sitkamer bymekaar was. Christelle het benoud rondgekyk en op daardie oomblik nie geweet hoe om van die twee vryerige lasposte ontslae te raak nie. Hulle het begin aandag trek en dit het hulle juis aangespoor. Dat hulle gedetermineerd was om elk ’n soen te kry, was duidelik. Na alle waarskynlikheid was daar ’n weddenskap by betrokke. Sy het hulle toe maar laggend probeer ontduik, maar hulle het haar hoogs opgewonde teen die kroeg in die lapa vasgekeer. Toe al was hulle lank en fris vir hul ouderdom en sy het skielik weerloos en geïrriteerd gevoel. “Ag, gee nou pad!” het sy uitgeroep. “Nou is julle regtig skoon orig!” Hulle het na mekaar geloer. “Ons kan nie teruggaan skool toe sonder dat ons jou gesoen het nie,” het Riaan met luiterse selfversekerdheid gesê. “Hoe gouer jy instem, hoe gouer is dit verby.” “Waarom is dit so belangrik vir julle?” het sy skielik agterdogtig gevra. Hulle het nader gebuk en Riaan het gefluister: “Die hoofman oor duisend het gesê ’n man is nie ’n man voordat hy nie emosionele bagasie het nie! Ons reken ’n soen is ’n hele rugsak vol bagasie en hy’t gesê hoe gouer mens ’n soen kry hoe beter, want dan kan jy dit altyd met jou saamdra!” “Wát? Wie?!” het sy gestamel. “Tj! Frans, natuurlik! Daar was mos nog nooit weer ’n hoofman soos hy nie. Hy’s nou vir jou ’n man der manne!” Tiaan was eintlik blosend van lofprysing vir dié hoofseun van twee jaar gelede. Toe sy nog wou stry, het Riaan haar aan die skouers beetgekry en toe sy wegpluk, ’n skuins soen kaplaks op haar ken laat land. Sy was woedend en het
hom voor die bors gestamp dat hy agtertoe steier en met ’n yslike gespat in die swembad beland. “Dit moes jy darem nie aan my boetie gedoen het nie!” het Tiaan kwaai uitgeroep en haar terstond opgetel, swembad toe geloop en haar ingegooi. Hy het ook sommer agterna geduik om sy soen op te eis voordat sy behoorlik haar asem kon terugkry. Intussen het Frans en sy trawante op die rand staan en lag. Weliswaar het hulle seker nie die aanloop tot die eintlike drama gevolg nie, maar feit bly, hulle het gelag. En sy, met haar wulpse bolyf en al, was kletsnat. Die pienk bloesie en wye wit romp het aan elke kurwe gekleef. Sy wou moor, maar soos altyd wanneer sy werklik ontsteld was, het sy net stil en stiller geword. In haar eie huis het sy in die greep van tienernukke soms deure geklap om pa Abel en Anna kwaad te maak, maar voor ander mense kon sy haar nog altyd weerhou van emosionele uitbarstings. Sy het stadig kant toe gewaad en toe met haar kop hoog by die leertjie uit die water geklim, haar arms voor haar bors gevou. Dis toe dat sy Frans se oog vang. Hy het na haar gestaar asof hy haar nog nooit vantevore gesien het nie. Meer nog: sy oë het elke sentimeter van haar suutjies betas. Toe het hy skielik gefrons en sy streng, stipte blik het na die jillende tweeling in die water verskuif. “Klim uit daar!” het hy gegil. “Of ek kom haal julle!” Die twee was soos blits uit die water en toe sy self by ’n sydeur inglip om iewers in ’n badkamer ’n handdoek te probeer opspoor, het sy net gehoor hoe hulle luidkeels protesteer toe hy hulle aan hul ore nader trek om ’n verduideliking te eis. “Christelle?” Dis Pa Abel en hy glimlag, lê sy hand vlugtig op hare wat slap in haar skoot lê. “Jy was ver weg?” “Lank gelede se dinge,” glimlag sy terug. “Gelukkig nie meer belangrik nie. Ek gaan gou vir Robert in die bed sit.” Dit kos mooipraat om die kleintjie by sy maatjies weg te kry, maar oplaas het sy hom in die enkelbedjie in sy ouers se kamer. Sy vertel sommer haar eie storie. Van dwergies wat nou ewe skielik in daardie ou Voortrekkerhuis op Stille Weide woon en net saans uitkom as die maan skyn. “En – as daar wolkies is?” wil die kleintjie gapend weet.
“Dan, wel, dan bly hulle maar binne en kook op die ou vuurherd hul kossies en …” Maar toe sy weer sien, slaap Robert, kapot gespeel. Nie lus om weer dadelik buitetoe te gaan nie, gaan lê sy ’n oomblikkie op Roald en Adelien se bed, sug toe daardie aand op Mahlersdrif tog maar weer in haar gedagtes opduik. Want Frans se vasvat van die tweeling was lank nie die einde van die verhaal nie. Tannie Retha moes ook van die fiasko te hore gekom het, want sy het haar kom uithelp met droë klere – ’n denimbroek en T-hemp wat hopeloos te groot was vir haar. Toe sy weer buite kom, het Frans haar by die skuifdeur ingewag. Die geel lamplig was in sy digte vaal kuif en donkerblink, deurdringende oë. Om sy mond ’n vreemde grimmigheid. “Wat het jou besiel om dié twee so aanleiding te gee? Jy weet hoe stout is hulle!” Sy was smoorkwaad, het brandend gesmag na die regte woorde – en dit gekry. Of so het sy gedink. “Het jy dan nog nie van die Eva-lusie gehoor nie?” het sy smalend gevra. Sy het verwys na Faith Popcorn se boek Eve-olution wat sy Adelien en Bernadette hoor bespreek het ’n rukkie vantevore. Nie dat sy veel daarvan te wete gekom het nie, maar op daardie oomblik sou sy enige storie spin net om Frans Mahler se simpel kop te laat draai. Sy oë het gerek. “My magtie, Christelle! As jy dink daar was enigsins sprake van evolusie by die Hattingh-monstertjies, het ek nuus vir jou. Hulle is nog in die Neandertal-fase! Buitendien, wat het dit nou …” “Jy hoor verkeerd,” het sy koud gesê. “Dis Eva-lusie. En ’n skrywer, Faith Popcorn, bedoel daarmee dat die vrou, die Evas van hierdie wêreld, ’n … ’n gerekende spesie is én ’n faktor op alle gebiede is en …” “Spaar my dié springmieliefeite, dogtertjie,” het hy kwaai gesê, “en gaan kyk ’n slaggie in ’n vollengte spieël. Jy kan nie bekostig om mansmense, van watter ouderdom ook al, opgewonde te maak en dan weier om die gevolge te dra nie!” “Maar ek het niks gedoen nie!” het sy verwoed teëgekap. “Daardie … daardie twee monsters, soos wat jy so pas na hulle verwys het, het my verpes vandat ek my voete vanaand hier gesit het en …”
Maar Frans was nie verniet destyds die hoofseun met die meeste gesag in jare nie. Hy het haar koel en saggies aan die skouers gevat en ferm gesê: “Christelle, hoor wat ek vir jou sê. Jy sal moet let op jou doen en late. ’n Eva soos jy is ’n gevaar vir die manlike geslag en …” Sy het haar losgepluk en weer die huis in gevlug. Reguit kombuis toe na waar Efraim Moloto se ma, Mieta, haar verstom aangekyk het. “Wat makeer jou nou?” wou die vrou grootoog weet. “En waar’s jou mooi klere van netnou?” Sy het snikkend begin vertel, so kwaad dat sy kwalik die woorde kon formuleer. Mieta het haar laat sit, ’n bietjie suikerwater aangemaak en mooi geluister. Toe het sy gesê: “Frans het nie mooi gepraat nie, maar hy is reg. Jy sal moet weet die mans gaan baie van jou hou.” Toe sy dit later vir Anna oorvertel, was dié ewe filosofies daaroor. Net minder simpatiek. “Ek het jou mos gesê party van jou rokkies sit te styf.” “Niks was te styf nie!” het sy geprotesteer. “Daai tweeling was buite perke, en ag, niemand verstáán nie!” Maar iemand het. Tannie Hattingh het die dag ná die eskapade haar seuns Stille Weide toe gestuur. Elk met ’n bos blomme. Tiaan het rooi papawers gebring en Riaan geelbont rose. “Ons is báie jammer,” het hulle gekoor. “Régtig-égtig!” Sy het in die twee paar blou oë gekyk, was opeens nie meer vir hulle kwaad nie en het die apologie met grasie aanvaar. Vir Frans Mahler egter is sy tot op heden oomblik briesend. Net om aan hom te dink, krap haar om. Dié dat sy sommer net hier bly lê. Die blote herinnering is uitputtend. Want die storie wou nie end kry nie. Altans, nie gou nie. Twee dae later het Frans ook opgedaag. Sonder blomme of apologie, maar met baie besliste bedoelings. Hy het Abel gevra of hy Christelle mag fliek toe neem op Bethlehem en haar pa het gedagteloos ja gesê. Want dit was mos darem die Mahlers se seun. Syself was in die wolke. Om te dink ’n man op universiteit wil haar uitneem. ’n Man wat dink sy is volwasse. ’n Senior mediese student nogal.
Haar hart het amper gaan staan toe sy die voordeur vir hom oopmaak. Sy is lank, maar Frans is ’n hele kop langer as sy. En enige meisie wat hom sien, kry lus om haar soos ’n klein katjie teen sy breë borskas te vlei. Hy gee daardie soort indruk: Hy boesem vertroue in, wek ’n gevoel van koestering. En dis juis die ongeluk, dink sy nou wrang. “Jy lyk mooi,” het hy gesê en haar pa, wat agter in die portaal gestaan het, met ’n kopknik gegroet. “Sal haar vroeg terugbring, oom.” Sy het geweet sy lyk mooi. Haar hare was los op haar skouers en sy het spesiaal die nuwe swart rokkie met die dun bandjies gedra. Daar was ’n stringetjie rooi krale om haar nek. Hy het nogal baie gesels op pad Bethlehem toe. Oor sy kursus, die koshuislewe, die kampus-girls. Sy het skaars ’n woord ingekry. “Gaan ek kans kry om iets te sê, of wat?” wou sy later speels weet. “Verveel ek jou?” “Nee, maar ek wil jou ook vertel van my lewe en …” “Hét ’n skooldogter ’n lewe?” Dit was die spreekwoordelike skoot koue water. In retrospeksie het sy al baiemaal toegegee dat sy eintlik net die woorde gehoor het en nie die tergende stemtoon werklik geregistreer het nie. Of dalk het sy net ’n speelse kwaliteit aan die woorde gewéns. Sy weet nie meer nie. Hy het die motor parkeer en hulle het uitgeklim. By die ingang van die winkelkompleks waar die flieks geleë is, het hy van sy ou skoolvriende teëgekom en eers ’n lang gesprek met hulle gevoer. Teen die tyd dat hulle bo by die teaters uitgekom het, was daar skaars tyd om kaartjies te koop. Hulle het net gaan sit toe begin die film. ’n Harrison Ford-prent wat blykbaar sy aandag gehou het. Maar sy was ’n bol senuwees en toe hy sy arm agter om haar stoel sit en haar skouerknop sag vasvat, was dit verby met haar. Sy’t niks gesien nie en haar gedagtes het gestol, haar polsslag amper ook. Daarna het hulle gaan koffie drink en toe hulle hul sit by die tafeltjie kry, het hy eensklaps vooroor geleun: “Vertel my nou van jou aksiebelaaide lewe, Christelle.” Sy oë het gelag, maar sy mond nié sodat sy glad nie geweet het hoe om te antwoord nie.
“Ek, wel, ek gaan maar skool en so aan …” “Waarvoor wens jy?” wou hy weet, sy hand meteens geskulp oor sy vol mond, sy groenerige, donker oë geskreef. “Ek wil eendag gelukkig wees.” “Man en kinders?” “Dit ook,” het sy gefluister. “Wat nog, Eva?” Dis toe dat sy geweet het hy spot. En die aand het soos ’n ballon afgeblaas. Maar sy kon nie sommer die aftog blaas nie. Dis nie in haar aard nie. En haar woorde was meteens terug: “Is dit ’n fout as Eva meer wil hê as net vir Adam?” Hy het ’n rukkie gedink, stadigies aan sy koffie geproe. “Nie per se nie, nee. Ek sou sê Eva is geregtig op haar eie lewe, maar nie ten koste van Adam nie.” Die gesprek wou-wou bietjie bo haar vuurmaakplek styg, maar sy het kopgehou. Eintlik het dit haar meer ontsenu as wat dit haar een oor was. “Lewe mense nie soms maar ten koste van mekaar nie?” wou sy weet en was self verbaas oor die vraag. Sy het die verrassing op sy gesig gemerk. “Ja, ek reken so,” het hy geantwoord. “Wanneer dink jy gebeur dit?” “Wanneer … wanneer daar nie meer balans is nie, as die een die ander een niks gun nie.” “Hm …” het hy gemymer, sy oë op skrefies. “Dis dus eintlik relatief. Weet jy, Einstein het gesê as ’n man ’n nice meisie uitneem, voel ’n uur soos ’n sekonde, maar as jy op ’n kooltjie vuur sit, rek ’n sekonde ’n uur lank. Dit, het hy gesê, is relatiwiteit. Maar nou ja, ons probeer nou rasionaliseer oor ’n onderwerp soos die liefde.” Hy het onverwags haar hand vasgevang wat slap langs haar koppie koffie gelê het. Die liefdewoord en die koesterende warmte van sy vingers het die ding gedoen. Sy het goed begin onthou wat sy eintlik lankal vergeet het. Haar hart het vlerke
gekry en by haar mond uitgevlieg. “Ja, dis seker dom. Maar weet jy, Joan Baez het gesê die maklikste verhouding is met tienduisend mense, die moeilikste is om met net een mens ’n verhouding te hê.” Dit het sy Adelien eendag nogal prekerig aan Bernadette hoor sê en sy was glad nie voorbereid op Frans se volgende vraag nie. “En wie dink jy is Joan Baez nogal?” wou hy geamuseerd weet en sy duim het liggies oor die bokant van haar hand gevryf. “Ek, wel, ek weet nie. Seker ’n skrywer of so iets.” Hy het sy kop geskud en sy mondhoeke het gepluk. “Nee, Evatjie-weet-als, sy is ’n ouerige Amerikaanse sangeres. My ma het van haar plate. Maar ek het nie geweet dat sy ’n filosoof óók is nie.” Hy het openlik geglimlag en haar hart het soos ’n bang voëltjie weer in haar bors kom sit. “Kom, laat ek jou huis toe vat na Pappa toe.” Sy was te verlief om vies te word. Te jonk om die spel te begryp. Daarom het sy net geglimlag, gedink hy’s die mooiste ding wat haar twee oë nog ooit gesien het. En o, sy het haar voorgeneem om hom so gelukkig te maak dat hy nooit ooit na ’n ander meisie sou kyk nie. Hy het haar by die voordeur nag gesoen. Saggies, vlinderig op haar voorkop, die punt van haar neus en toe haar lippe. Sulke donsige soentjies wat haar na meer laat verlang het sodat sy haar hande teen sy bors laat opkruip het en sy kop afgetrek het. Toe hét hy haar regtig gesoen. Wild en wonderlik soos wat sy gehoop het hy sou. Tussen die soene deur het hy haar Eva genoem. Maar toe sy haar arms om sy nek vou het hy hulle met ’n laggie vasgevang en toe weer gelos, teruggetree en gegroet. Sy’t heelnag deur gesluimer, duikelend tussen droom en dagdroom. Haar lewe sou nooit weer dieselfde wees nie, dit het sy geweet. Want Frans het gekom. Maar hy het nie. Hy het universiteit toe vertrek sonder om te kom groet. Weke lank weggebly. Hy leer baie hard, het sy gedink. Mediese studente werk ook nog so tussenin in hospitale, of so. Dit was ’n tyd waarin sy slaapwandelend skoolgegaan het, muisstil in haar kamer gesit en wyd begin lees het. Selfs aanhalings opgeswot wat sy moontlik, ag vader, asseblief tog, eendag in ’n gesprek met Frans Mahler sou kon gebruik. Haarself geskool soos wat sy haar altyd geskool het vir die onvoorbereide toesprake tydens redenaarskompetisies.
Sy sou so gevat, so wys, so diepsinnig en so sexy wees dat hy binne oomblikke tydens die weersiens van sy voete sou wees. Maar dit het lank geneem. Sy het al tallose aanhalings gememoriseer oor elke denkbare onderwerp: Liefde, verraad, politiek, sinisme, mans, meisies, ag alles. En toe een Sondag vroeg in April sien sy hom weer saam met sy ouers in die kerk. Toe almal by die kerksaal tee drink soos wat die gewoonte is, het hy hom uit die kring van grootmense en skoolvriende losgemaak en vinnig na haar toe gestap. “Haai, Evatjie, en hoe gaan dit met jou?” Sy het nie omgegee dat sy vreugde soos ’n blos op haar gesig voel blom het nie. Hy kon mos maar sien dat sy bly is oor hom. “Wonderlik, noudat jy terug is,” het sy gefluister. ‘n Fronsie het op sy gladde voorkop kom sit en ’n waaksaamheid het in sy oë ingetrek. “Terug? Van waar nogal?” “Ek, wel, ek het gedink jy …” Sy het skielik verleë gestamel. Hy het haar arm gevat en haar ’n entjie weggelei na waar daar nie ore sou wees nie. Sy het in sy gesig opgekyk en wou dóód van die liefde. Maar in sy blik was daar iets anders. Die frons het sy gesien groei uit sy donker kykers. “Eva,” het hy sag gesê, “jy moenie idees kry nie. Jy moet ook nie te veel dink nie. Jy is te jonk daarvoor.” “Waarvoor?” het haar lippe gebeef. “Vir Einstein se dinge. Jy moet nog leer dat alles relatief is, ou meisietjie.” Haar ore het gesuis, en op die agtergrond het sy sy pelle hoor lag. Toe het haar nuutgevonde boekekennis haar tot hulp gekom. Haar kop het skeef gesak. “Relatief?” het sy sag gesê en toe driftiger begin praat: “O, ek sien nou, ja. Dit beteken alles is betreklik en niks is absoluut nie. So, ’n soen is betreklik algemeen en glad nie absoluut beperk tot een meisie nie. Cool, nè? Wel, vir oppervlakkige mense werk dit seker so!” Sy het haar ken gelig en wou net omdraai toe hy haar haastig aan die skouers vat soos daardie aand op Mahlersdrif. “Christelle, jy verstaan nie, ek …”
Sy het haar taamlik demonstratief losgeruk. “Ek begryp baie goed, maar laat ek jou een ding vertel, jy weet niks van verhoudings af nie!” “Wat laat jou dit dink?” wou hy ergerlik weet, sy gesig meteens vuurrooi. “Wel, soos Sandra Bullock gesê het, die sleutel tot enige goeie verhouding, sowel op as van die skerm af, is kommunikasie en respek … enne … sy meen ook mens moet seker hou van die ander een se geur.” “Sandra Bullock, nè?” Hy was meteens weer geheel en al in beheer en het breed geglimlag. “Dis nou vir jou plastiekwysheid so reg uit Hollywood! Die ander een se geur, sê jy?” Sy kon net knik, gevaarlik na aan trane ook. En toe hy vooroor buig en sy neus in haar nek druk, kon sy net versteen bly staan. “Heerlik. Dit ruik na jasmyn en ryp vye, sou ek sê. En ja, sowaar, dit dóén iets vir my! Hm, parfuum is die sleutel tot groot dinge, lyk dit my!” Dit was die laaste strooi. Frans Mahler was ’n skurk wat met als wat vir haar kosbaar was, gespot het. Sy het op haar lip gebyt en toe stadig gesê: “Die onderwerp hier is verhoudings. Vir my impliseer geur in dié geval, karakter. Betroubaarheid onder andere, en dit het jy blykbaar nie!” Hy het verstil en sy kon ’n spiertjie teen sy kaak sien rol. “Christelle, jy is verkeerd. Of liewer, ek was verkeerd. Ek moes besef het dat jy te veel van ’n kind is, al was ek …” Hy het sy asem ingetrek en sy mond saamgepers. “Wel, dis nou vergete en geheel en al verby. Gaan huis toe en word groot. Totsiens.” Hy het weggedraai en met lang treë geloop na waar sy ouers al op hom in die motor gewag het. Die wêreld het op haar omgekeer. Maar sy was trots en niemand het geweet nie. Selfs Anna het nie juis snuf in die neus gekry nie. En toe kom Roald, die wonderlike nuwe onderwyser … Christelle glimlag in die skemerdonker en lig haar kop om te sien of Robert nog rustig is. Sy gaap ’n slag en haar oë sak toe. So leer mens maar seker, dink sy en glimlag weer skewerig. Liewe Roald en Adelien wat haar so gedra het deur al haar dinge met die manne. Want later was daar ook nog John Daniels wat haar
met alle mag wou oorreed om medies te laat vaar, Hans Roux wat wou hê sy moet ’n boervrou word en Flip Fourie die argitek op wie sy ampertjies verlief geraak het. Maar nie een het haar ooit so diep geraak soos Frans Mahler nie. Natuurlik omdat sy so vatbaar was toe. ’n Meisie, besluit sy, en gaap weer ’n slag, is so ellendig broos as sy sewentien is. Gelukkig gaan dié broosheid weg. Word sy taai en tough. “Christelle! Haai! Christelle, my hemel tog, word wakker!” Dis Adelien en sy skud haar hardhandig aan die skouer. Christelle knipper haar oë teen die skielike skerp lig en moet twee maal kyk om te sien wat sy sien. Adelien en Roald staan langs die bed. En net agter hulle staan Frans Mahler. Met haar tong nog swaar van die slaap, sug-sê sy: “Kwantumfisika en intuïsie? Grappie, nè. Julle’t hom genooi.” Maar toe sien sy: al drie lyk hewig ontsteld. “Wat’s dit?” vra sy verskrik en kom orent. Roald help haar verder op en toe sy staan, besef sy dat Frans nog net so lank is soos laas. Hy toring behoorlik bo Roald uit. Maar toe tref die absurditeit van die situasie haar. Frans is regtig hier. “Wat gaan aan?” Adelien staan met een hand op haar geswolle buik en een op haar mond. Dis Roald wat antwoord. “Ons dink Bernadette het in kraam gegaan. Jy moet kom help. Gelukkig is Frans ook hier. Hy het nou-nou net gekom.” “Hoekom?” glip dit uit. “Ek kom vakansie hou,” antwoord hy kortaf. “Ek bly mos altyd hier in die buitekamer. Maar kóm nou.” Toe sy nog huiwer, te verdwaas om mooi te dink, staan hy effens nader. “Jou suster het hulp nodig. Is jy onwillig of is jy bloot onbekwaam?”
Hoofstuk 2
Dat ’n mens in sulke tye jou sinne behou, is net genade, dink Christelle toe sy in die vliegtuig sit op pad na Heathrow. Dis ook die eerste maal sedert die nag van Bernadette se krisis dat sy innerlik ’n bietjie tot stilstand kom. Haarself toelaat om haar gedagtes saggies en tastend oor die afgelope drie weke se gebeure te laat gaan. Dit het begin toe hulle haar wakker gemaak het daardie aand en dit het aangehou en aangehou tot nou toe waar die vliegtuig sy romp moeisaam, dreunend die blou verskiet in lig. Christelle maak haar oë toe en leun effens agteroor. Daar was op daardie oomblik toe Frans haar aansê om te kóm, nie tyd vir skrik nie, nie tyd vir dink nie en nie tyd om op enige iets anders te fokus nie as net op die feit dat Bernadette ontydig in kraam was. Sy het verby die verskrikte Adelien en Roald gedruk en Frans net een kyk gegee wat sy gehoop het boekdele spreek. Sy het sy doelgerigte voetstappe agter haar in die gang gehoor. Die res van die huis was onaards stil. Die gaste moes hulle uit die voete gemaak het toe die drama begin. Sy en Frans het Bernadette doodsbenoud op haar bed aangetref, sag kreunend. Henk op sy knieë langs haar, openlik biddend, smekend vir die behoud van vrou en kind. ’n Haas onbeheerbare vrees het Christelle se vingers laat tril, haar lippe laat beef. Wat as … Maar toe het Henk opgestaan, Bernadette se hand nog in syne en sy het haarself geforseer om te bedaar. Sy het by haar suster gebuk en kalm geglimlag. “So ja. Ons gaan jou nou help, Berna. Wees net rustig.” “Kan nie … kan … nie …” het Bernadette gekreun-sug. Christelle het Henk sag weggedruk en gehoor hoe Frans beheers en mooi met hom praat, hom vra om in die gang te wag. Toe eers het sy ook besef dat sy ’n paar maande gelede by tannie Naudé gehoor het dat Frans klaar gespesialiseer het in ginekologie.
“Ek het die ambulans klaar gebel,” het Frans skielik hard gesê. “Hulle behoort enige oomblik hier te wees.” Maar hy het haar aan die arm eenkanttoe getrek en gefluister: “Ek weet nie of hulle betyds gaan wees nie. Ek het haar netnou ook ondersoek. Sy is feitlik geheel en al ontsluit. Kry alles wat ons nodig het.” Sy het in sy bruingroen oë opgekyk en geweet dat die uur op haar was. Daardie uur waarin mens moet ontdek wie jy werklik is en waartoe jy in staat is. Maar wat sy in Frans Mahler se gesig gesien het, het haar hart stilgemaak. Sy, wat so lief was om aanhalings op te lees ná hulle gesprekke destyds, het skielik klinkhelder onthou wat die Spaanse skrywer Miguel de Cervantes lank gelede gesê het: “He had a face like a blessing …” Dit het haar krag en ook inskiklikheid gegee. Sy het gespring. Haar dokterstassie gekry, kookwater laat maak, geskrop en terwyl Henk weer by Berna gesit het, Frans in die aangrensende badkamer gehelp om sy hande tot by die elmboë te skrop en te ontsmet. Sy het fronsend gekonsentreer toe sy daarmee besig was, nie een maal weer in sy gesig gekyk nie. Intuïtief geweet sy moenie. Want dit sou die reeds gewigtige oomblikke te swaar laai met dinge wat sy reeds afgelê het. Dat Frans Mahler se gesigsuitdrukking soos balsem vir haar verskrikte gemoed was, was bloot toevallig. Nooit weer sou sy toelaat dat hy haar onkant vang met sy kragtige fisieke aantrekkingskrag, sy fyn dog manlike sjarme nie. Sy was immuun. Maar in die uur wat gevolg het, was veel meer as net sy gesig ’n seëning. Hy was geheel en al hul redding. Die ambulans en die paramedici het wel opgedaag, knap bystand verleen, maar toe die krisis kom en die brugbaba moeilik gedraai moes word, was dit Frans wat kopgehou het, Frans wie se raakvathande oneindig teer was en hy wat dierbaar-mooi met Berna praat, ferm bevele aan Christelle gee. Sy het gevoel dat sy meer gedurende dié bevalling geleer het as met die sowat honderd babas wat sy al self moes vang. En Henk … Henk was sy ou onverstoorbare self. Hy het Berna se hande vasgehou en gebid soos wat Christelle nog niemand hoor bid het nie. Die woorde sal haar altyd bybly. “Vader, U weet hoe broos ons is, hoe breekbaar Berna is, hoe fyn die lewe is. Here, help tog hierdie twee goeie dokters.” Oor en oor het hy dit gebid. En toe Frans die piepklein dogtertjie uit haar ma lig en die kleintjie floutjies mê soos ’n baie swak lammetjie, toe het hy éérs gebid. Woorde wat weggeraak het in sy en Berna se snikke.
Sy en Frans het vinnig gewerk. Hy met die babatjie wat onmiddellik moes hospitaal toe waar ’n pediater reeds wag. Sy met Berna wat moes steke kry na die groot episiotomie. Daarna is sy en Henk saam met ’n tweede ambulans om Berna by die hospitaal te besorg. Nag lank het hulle saam gewaak. Sy en Henk en Frans. Nou en dan lou, slegte koffie uit ’n masjien gedrink. Feitlik niks gepraat nie, uitgeput teruggeleun in die wagkamer se plastiekstoele. Teen dagbreek het die pediater kom sê dat hy redelik gerus voel oor die kind. ’n Vegtertjie, het hy haar genoem. Christelle het Pa Abel, wagtend by die strandhuis, gaan bel en ook vir Anna op Stille Weide waar sy en Thabu en ook Nomsa die nag voor die televisie in die groot huis deurgebring het, te bang om ’n oog te knip. Adelien moes hulle vroeër op Thabu se selfoon laat weet het dat Bernadette in kraam was. En toe die nuus kom, was Anna en Nomsa jillend van vreugde. “Nou sal ons lewe vol wees!” het sy gejuig. Dat Henk en Bernadette maar selde op Stille Weide tuis sou wees, het haar blykbaar ontgaan. Toe eers kon Henk saam met Christelle en Frans gaan kyk na die kleine rooipienk liggaampie in die broeikas. “Haar naam is Naomi,” het Henk poutrots verklaar. “Die Hebreeus vir ‘lieflikheid’.” Sy en Frans het onderlangs na mekaar geloer en hul glimlag gesluk. Sekerlik sal sy mooi word, maar op daardie oomblik kon niemand behalwe eie vlees en bloed haar as fraai bestempel nie. Kort daarna het hulle Bernadette op ’n rystoel ingestoot. Sy was lakenwit van vermoeienis, maar Frans het ingestem dat sy kon kom kyk, want sy wou net nie tot ruste kom nie. Haar gesig het gestraal asof daar lamplig in haar aangesteek was. Sy is toegelaat om haar hand deur die afskorting te steek en het die kleintjie s’n ’n rukkie lank vasgehou. Die pediater het ook beloof dat hulle van die volgende dag af die baba sou bring om op haar ma se bors te lê. Ons aap nou die kangaroes na, het hy glimlaggend gesê. Babas baat geweldig baie daarby as hulle vir kort periodes so intiem naby hul ma’s kan wees. Mens kan hulle amper sién groei. Toe eers is sy en Frans huis toe. Henk het nog gebly.
Die lugwaardin raak lig aan haar skouer. “Koffie of tee?”
“Niks nie, dankie,” glimlag sy meganies en maak haar oë weer toe. Sy moet, móét eers hierdie ding vir haarself uitsorteer. Ten minste weet waar sy met haarself staan al weet sy niks anders meer nie. Op pad strandhuis toe het dit gebeur (onvermydelik, soos wat sy later sou dink): Cervantes se gesegde van die gesig wat ’n “blessing” was, het ’n kraak gekry. Want Frans was weer Frans soos wat sy hom in matriek ervaar het. Dinamies, maar tergend so. Joviaal, maar ook ontwykend. Weg was die deernisvolle, sorgsame, bekwame dokter. In sy plek was daar Frans wat ontstellend aantreklik was in sy denimbroek en swart hemp, sy oë vonkelend. Hy het onversteurbaar uitgerus gelyk, vars en lus vir pret. Dat sy fisiek wou ineenstort van moegheid en haar binneste soos jellie gewiebel het, het haar ook niks gehelp nie. “En toe, Evatjie, hoe voel dit om ’n tannie te wees?” het hy begin skoor toe hy die motor in een van die drie motorhuise stoot. “Aardig,” was al wat sy kon uitkry. “Dit was en is darem maar …” “Jy bedoel, jy het nie geweet geboorte gaan gepaard met soveel bloed en pyn nie, nè?” Hy was daarop uit om haar te tempteer, dit het sy goed geweet. Maar sy was nie lus om oulike antwoordjies te gee nie. “Nag,” het sy net gesê. “Dankie vir jou aandeel.” Hy het haar aan die arm teruggehou. “Ag, Christelle … Dis nou te laat, of liewer, te vroeg om te gaan slaap. Kom ons gaan stap op die strand. Daar’s niks so mooi soos ’n sonsopkoms oor die see nie. En moet jou nou nie weer so gou oor niks vererg nie.” Hulle het hul skoene op die stoep van die nog slapende huis gelos en saam oor die dounat grasperk af gestap na onder en met die trappies strand toe. Dis toe sy die klam sand onder haar voete voel dat sy weer haar woorde agtermekaar kon kry. “Wat het jou hiernatoe gebring?” “Wel.” Hy het haar hand heel ongeërg gevat, haar vingers liggies tussen syne verstrengel. “Ek is nogal moeg ná al die eksamens. Dus het ek kom rus. Maar toemaar, ek sal jou nie pla nie, ek sê mos ek bly in die buitekamer.”
Soos altyd het sy soos ’n gek gevoel en liefs op dié gevoel gekonsentreer as op die warmte wat vanuit sy handpalm met haar arm opgekruip het. “Ek het meer daaraan gedink dat ons jóú dalk kan pla,” het sy styf gesê. Hy het gaan staan, sy arm om haar skouers gesit, hul gesig na die see waar die son bloedrooi agter die kim gegloei het. Hy het gewag totdat die eerste strale kronkelende vlampaadjies op die water maak. Haar toe afgetrek sodat hulle op die koel, klammerige sand kon sit. En sag, byna fluisterend gesê: “Wens jy ook soms dat ’n enkele oomblik die onverganklikheid van die ewigheid kan hê?” Ja! wou sy uitroep. Duisend maal ja, veral as jou arm, jou lyf se warmte so deur myne vloei. Maar sy hét grootgeword soos wat hy haar in matriek aanbeveel het. Volwasse en versigtig. Daarom het sy net asemrig, selfs lughartig, gelag. “Dit hang af met wie jy so ’n oomblik deel, jong!” “Jong?” het hy verbaas laat hoor. “Dis so … so krenkend om my ‘jong’ te noem op so ’n goddelike oggend wanneer die son net vir jou en my opkom!” Die salige gevoel in haar binneste het plek gemaak vir ’n kil woede. “Daar is nie ’n jou-en-my nie, Frans. Daar was nog nooit.” Hy het sy arm laat val, dwars gedraai om haar mooi te beskou. Sy hande gelig om haar hare sag agter haar kop vas te vat, haar diep in die oë gekyk. “Christelle, waarom verweer jy jou teen my? Is ons dan nie ten minste vriende nie?” Sy het vervaard gesluk, ’n hol kol in haar maag voel groei. Maar die volslae eerlikheid van haar aard het gepraat: “Ek, wel, ek glo nie juis nie. Ons is eintlik net kennisse. Ek weet net dat jou naam Frans Mahler is, dat jy op ’n buurplaas grootgeword het. En dat ons eenmaal nogal naby aan mekaar gekom het. Maar dit was meer my indruk as joune, dit weet jy tog.” Dit het botstil geraak tussen hulle, maar die branders se geruis het ook dit verswelg sodat daar niks meer was nie. Geheel niks. Die see het hulle van mekaar afgesny, het sy gedink. Frans was skielik weg. Soos ’n speld op ’n strandduin. Langs haar het ’n vreemdeling gesit, sy kake geklem, sy oë ’n troebel bruingroen soos mos in ’n dam. Die skraal, netjiese hande meteens slap op sy knieë asof alle daadkragtigheid uit die vingers gevloei het. “Is jy altyd so ingewikkeld?” wou hy afwesig weet.
“Nee, ek is net eerlik, maar jy kan blykbaar nie eerlik wees nie.” Natuurlik was die woorde uit voordat sy gedink het. Maar sy was bly. Want dit was tog presies wat sy wou sê. Sy kop het skeef na haar toe gedraai en omdat hy vlak langs haar gesit het, kon sy die bruin spikkels in die groen oë mooi sien. Maar dieper kyk, dit kon sy nie. Hy het sy ooglede laat sak. “Daar’s jy reg, Evatjie. Ek kan nie eerlik wees nie. Nie met jou nie. Dit sal meer afbrekend as opbouend wees.” Sy het hom verslae, onbegrypend aangestaar. Gevoel hoedat die tydjie saam met hom, die paar minute wat iets wou-wou word, weer eens wegglip tot in die niet. “Waarom dan?” wou sy fluisterend weet. “Waarom is ek nie … goed genoeg vir eerlikheid nie?” Hy het ’n gedempte woord geuiter en skielik opgestaan. Haar haastig aan die hand opgetrek. “Eva, hou nou op! Hoor jy my? Hou óp!” Maar sy wou nie kopgee nie, kon skielik dit nie verduur dat dit weer so word tussen hulle nie. So leeg, so volslae onvervul. Waarom kon sy en hierdie man, hierdie opwindende man, mekaar nie vind nie? Hulle is van dieselfde wêreld vol ooptes en sandsteenkranse en wit, kapokwinters en liefde-vir-die-veld en ’n duisend ander dinge. Hulle bloed roep al lankal na mekaar. Sy weet dit soos wat net ’n vrou sulke goed weet. Móét liefde dan onoorkomelike spanning veroorsaak? “Waarmee moet ek ophou?” het sy driftig gevra. “Waarom maak jy asof daar niks is nie terwyl daar iets is?” “Jy verbeel jou, Eva!” “Nee, ek verbeel my nóóit, Frans Mahler! Ek gaan nooit op loop nie. Maar ek is oop vir die fyn onderstrominge tussen mense en ek kan om die dood nie stilbly daaroor nie!” Hy het afgekyk na haar en ’n fyn laggie het om sy lippe geroer. Hy het sy kop geskud asof hy ’n gedagte wou wegkeer. Toe tog maar gesê: “Christelle, jy is wonderlik mooi en ek begeer jou nie van vandag af nie.” Dis toe dat die damwal bars. Sy het die bruisende slag van vreugde soos ’n magtige golf oor haar hele lyf voel breek. Sy het na hom gekyk en sy gesig het
weer ’n “blessing” geword. Die oë vreemd blink en weerloos, die mond sag en soepel. Sonder om twee maal te dink, het sy haar teen hom aan gewerp en haar mond het syne gesoek en gevind en hulle arms het mekaar gegryp. Hulle het gesoen en gesoen totdat die geruis van die see weggeraak het en die sonlig warm en wonderlik op hulle was. Dis hoe dit is om regtig, régtig lief te hê, het dit deur haar kop gejubel. Ek was nie verkeerd destyds nie en ek het hom nooit vergeet nie. Nie een enkele oomblik in al die jare nie. Maar dis toe hul bene onder hulle padgee en hul lywe teen die koel duin sak, dat hy na asem gesnak het en weggerol het van haar. “Christelle,” het hy skor gehyg. “Ek kan nie, regtig nie …” Dit het koud geword in haar sodat sy lam, soos ’n afbeenmeeu, teruggesak het teen die sand. Haar oë het vermoeid teen die skerp oggendlig geskreef en sy het trane voel prik. “Jy wil nie,” het sy sag gesê. “Nee, jy verstaan nie, en ek kan nie verduidelik nie,” het hy geantwoord. Sy stem het effens gewankel asof hy moeite had om te praat. “Jy moet my glo as ek sê dis die beste so.” “Hoe kán dit die beste wees?” het sy gevra en die huil brandend in haar voel opwel. “Hier het ons iets gevind en jy smyt dit weg!” Hy het langs haar teen die duin kom kniel en oor haar gebuk, sy hande weerskante van haar bors. Toe het hy haar saggies gesoen, talmend asof hy ’n held in ’n outydse film is en teatraal vaarwel moes sê. Maar dit was nie ’n spel nie, dit was werklik, so werklik soos die vars, nuwe sonstrale wat koesterend oor hulle getas het, so eg soos die opwelling van louter liefde en hartstog waarvoor sy magteloos geswig het. Sy het hom vasgeklou asof hy skielik sou verdamp sodat hy haar hande ferm agter sy nek moes losmaak. “My liewe Christelle …” Sy asem het hortend gekom. “My klein Eva … hierdie, hierdie iets, soos jy dit noem. Dis nie myne om weg te gooi nie. Dit behoort nie aan my nie. Dit kan nié. Glo my, asseblief.” Trane het in haar keel gebrand en sy het desperaat uitgeroep: “Maar wat van hierdie … hierdie gevoel? Dis tog nie niks nie. Mens tree tog op vanuit jou emosies ook! Frans, ek …”
“Nee, Christelle,” het hy haar in die rede geval, “emosie is nie ’n vereiste nie, dis ’n bonus. En ’n bonus kan verval …” Toe het hy vinnig opgespring en weggestryk strandhuis toe sonder om een maal om te kyk. So is dit dan, het dit haar te binne geskiet. Dis waar wat daardie Franse dramaturg, Anouilh, gesê het: “There is love, of course. And then there is life, its enemy.” Die woorde het haar laat huil en huil totdat sy gevoel het dat sy nie eers die krag sal hê om huis toe te loop nie. Lank het sy nog so gesit, toe by die vlak branders gaan buk en haar gesig in die koel seewater afgespoel totdat haar oë daarvan gebrand het. Teen die tyd dat sy terug strandhuis toe is, was hy weg. Uit die buitekamer en sy motor was uit die motorhuis. “My jinne,” het Pa Abel ewe gesê nadat sy hom môre gesê het en die ergste wedersydse opgewondenheid oor klein Naomi bedaar het. “Dié Frans darem. Hy’s netnou hier weg asof hy skielik ’n tyding gekry het. Toe ek vra waar gaat hy dan nou, toe sê hy hy gaat Kaap toe. Twee van sy vrinne wou hê hy moet soontoe.” “Ja,” het sy geglimlag en gejok omdat sy móés jok: “Ek weet, hy’t my vertel. Maar Pa, ek gaan ook nou vroeër terug. Ek het heelwat dingetjies om te doen voordat ek Londen toe vlieg. Ek bly nog net so drie dae, dan waai ek.” Pa Abel wou keer, Adelien was opstandig, maar Bernadette, toe sy haar in die hospitaal gaan besoek, salig met haar babatjie aan die bors, het net geknik. Die wêreld kon maar by haar verbygaan. “Moet jy nie ook nou in kraam gaan nie,” het Christelle Adelien laggend gegroet. “Doen dit nou in styl in jou eie privaat hospitaal met jou gynie aan jou sy.” “Moenie nog praat nie,” het Adelien gesug en Roald het net gelag, beloof om sy vrou mooi op te pas. Henk het saam met haar motor toe geloop, sy skerp blou blik speurend op haar. “Chrissie, wat is fout?” Met hom kon sy tog nie voorgee nie. “Ag, liewe Henk,” het sy gesug, “fout is by my. Ek wil mos nooit leer nie. Mens kan nie maar net liefkry en dink dis nou joune nie.”
“Tog nie Frans nie?” Sy het net geknik, soos altyd verstom oor dié swaer van haar se fyn aanvoeling. Hy het gefrons. “Ek weet nie wat om vir jou te sê nie, Chrissie, ek het nooit kon dink dat jy gevoelens vir hom koester nie. Ek weet wel dat hy in ’n verhouding staan. Lankal. Ek ken die meisie. Sy was een van my doktorale studente, maar sy het aanvanklik medies gestudeer. Was in dieselfde klas as Frans. Heidi Jansen.” “Wat?” “Jy het nie gewéét nie?” Nee, sy het nie geweet nie. Die blote idee het haar lamgeslaan. Toe eers het Frans se woorde min of meer sin gemaak. Sy het in haar kar geklim en heelpad aan Heidi gedink. Almal het geweet wie dit was. Die Heidi’s van hierdie wêreld is gesog en gerespekteer. Mooi, hiperslim en werklik geroepe. Deesdae is Heidi werksaam as kliniese sielkundige cum naturopaat met ’n praktyk in Kaapstad. Twee gewilde boeke oor welstand het al uit haar pen verskyn. Wees gesond al makeer jy wát! en Soos ’n vis in die water! Christelle self het albei boeke omdat dit nogal soos soetkoek lees en daarby nog sin maak ook al lag baie medici nog bietjie daarvoor. Heidi het ontdek wat baie dokters nog nie weet nie: Dat die verstand dinge versit, soos Vergilius tweeduisend jaar gelede al beweer het. Nee, dié Heidi het ’n oop kop en sy weet hoe om die wêreld om haar positief te aktiveer. Dit bewonder Christelle regtig in haar. En volgens alle bronne is haar derde boek al op die rakke en beloof om net so ’n treffer te wees. Maar waarom, het Christelle haarself gemartel, kon Frans dit nie oor sy lippe kry om haar van Heidi te vertel nie. En waarom was hierdie wonderlike vrou nog nooit op Mahlersdrif nie? Altans, nie sover sy weet nie. Later het sy opgegee en heelpad gewonder wat ’n vrou moet doen om ’n “blessing” soos Frans Mahler uit haar gedagtes te kry. Op Harrismith het sy oorgeslaap by ’n skoolvriendin wat nou met een van die onderwysers getroud is en land en sand gesels asof haar lewe as dokter een groot hospitaalroman is, vol lang, donker spesialiste wat diepsinnige gesprekke met haar voer wanneer hulle saam opereer. Maar Johannie het oënskynlik so aan haar lippe gehang dat sy kwalik kans gesien het om haar te ontnugter. Het darem met die ryslag gespot: “Jy glo tog nie wat ek alles opdis nie, nè?” “Nee,” het Johannie skielik sober gesê. “Ek weet mos hoe jy kan kaf praat as jy
die dag regtig ongelukkig is.” Christelle het haar ’n antwoord skuldig gebly, net tranerig gewuif toe sy wegtrek. Sy het anderkant Bethlehem by Stille Weide aangery en nog ’n paar goedjies ingepak wat sy gedink het sy maar oorsee moet saamneem. Soos haar aanhalingsboek en ’n paar dik truie wat sy laas vergeet het om in te pak. Anna het haar só gekyk en laat val: “Jy lyk altevol soos een wat verlief is!” “Ag, my magtag, Anna-mens, moenie nonsens praat nie!” het sy kwaai gesê, haar wange bloedwarm en haar mond bewend. “O, vadertjie,” het Anna gesug en gaan tee maak. Haar toe aangejaag om gou te maak sodat sy nie donker op pad is Pretoria toe nie. “Jy moet ook nie hier oorslaap nie. Een mens kan nie meer alleen hier in die huis bly nie. Veral nie ’n meisiekind nie. Nomsa en Efraim het nou die aand toe ons televisie stukkend was hier kom sit en Generations kyk, maar selfs hulle was bang. Want hier was mos nou die dag weer vreemdes wat wou kom skape koop.” “Nomsa en Efraim?” het Christelle geglimlag. “Nou toe nou.” “Ja, ons sal maar sien wat ons sal sien,” het Anna gesug. “Nomsa dink nog sy kan Efraim rondshunt. As sy hier kom, is dit net Efraim-dit en Efraim-dat. Mens sou sweer sy is die Swazi-koningin. Dink omdat hy haar laaik sy kan enigiets doen. Maar sy’s in vir ’n groot surprise. Daai boytjie sal nog vir haar ’n les leer, jy sal sien!” Vir die eerste maal in dae het Christelle geskaterlag. Sy kon haar dit net voorstel. Efraim is ’n baie netjiese, agtermekaar man, maar hy lyk nie na die tipe wat juis vroumensstreke sal duld nie. Miskien is dit net wat Nomsa nodig het. “Ja, Anna, die tyd sal ons leer. Ek hoop net ek leer ook met die tyd saam. Sover het die jare my nie juis gehelp nie!” “Wat praat jy dan nou?” wou Anna verstom weet. “Anna,” het Christelle dit gewaag, “weet jy dat Frans Mahler ’n girl het?” “Auk, nee!” roep Anna vies uit. “Hoe dan nou? Mieta het my dan niks gesê nie!”
“Toemaar, dan’s dit dalk net ’n storie.” “Ek sal Efraim vra,” bied Anna skielik aan, want haar moederoë het skielik iets raak gesien. “Chrissie, is jy dan nog lief vir daai man? Ek dag jy sien hom nooit?” “Nee, Anna, ek sien hom nooit!” lag sy dit af. “En mens kan nie lief wees vir iemand wat jy nie ken nie. Ek het maar net gewonder.” “Chrissie? Jy weet jy het daai man baie gelaaik toe jy jonk was en …” “Ek is nog altyd jonk!” het sy teëgekap en te laat besef dat sy haar in ’n hoek gepraat het. “Jy laaik hom!” het Anna uitgeroep, hande in die sye geplant. “Ek worrie nog altyd oor jou en daai Frans Mahler. Wat gaan jy doen?”
Maar Christelle is daar weg sonder dat sy die goeie vrou behoorlik geantwoord het. Anna sien hoeka te veel. Sy sien wat mens sien as jy ’n kind grootgemaak het. En Christelle weet wat sy sal sê: Mans dink nie soos vrouens nie. En jy wóú mos die man allerhande goed laat dink. Wóú hom mos soen sonder hy éérste sy mond gehou het. Daarom het Christelle haastig padgegee van die plaas af en by ’n doktersvriendin in Pretoria gaan bly totdat dit tyd was om Londen toe te vertrek. En hier is sy nou. Nog niks nader aan haar bestemming as toe die vliegtuig opgestyg het nie. Want haarself het sy nog nie gekry nie. Nie ’n enkele herinnering het haar nader gebring aan wat sy soek nie. Wat gaan ek doen? wonder sy beklemd. Frans se gesig bly haar by soos wat hy afgekyk het na haar op die strand. Vol innige heimwee en ’n vreemde smagting. ’n “Blessing” as daar ooit een was. Dis van sy gesig wat sy moet ontslae raak, besluit sy. Sy moet dit uitwis met ’n ander konsep, ’n ander idee. Of dan ’n ander gesig. Adelien sal dit fototerapie noem. Jou onderbewuste reageer nie op woorde nie, Chrissie, net op indrukke. Kyk na ’n ander man, kyk goed sodat sy impak sterk word. En kyk met jou geestesoog na hom. Só sal die liewe Adelien seker praat. Die ete word bedien en Christelle wurg die droërige hoendergereg af, drink ’n houertjie met lemoensap leeg. Toe staan sy op en vroetel in haar kajuittas bo in
die toeklaprakkie. Sy haal die aanhalingsboek uit. Dalk doen die regte woorde tog die ding. Sy gaan sit weer en begin opsoek. F … Faces … Sy lees ’n paar deur, druk toe triomfantelik met haar vinger op een: “A face is too slight a foundation for happiness.” Ene Lady Mary Montagu, ’n briefskrywer uit die sewentiende eeu het dit nogal kwytgeraak. Touché, dink sy. Cervantes se “blessing” is gekanselleer. Dit móét net wees. Sy slaag daarin om nou en dan weg te dut, skrik soms wakker en staar minute lank somber voor haar uit. Genadiglik is daar Gerrit van Jaarsveld wat haar op Heathrow sal kom kry. Oor hom is sy nou werklik bly. ’n Dierbare vriend. “Gaan jy na dié man toe?” wou tant Bybie Fourie daardie aand van die braai weet toe Pa Abel gepraat het dat sy Londen toe gaan. Hoe die ou tantetjie ook uitgevind het dat Christelle soms vir Gerrit sien, kan mens net raai. Sekerlik Anna wat rondvertel het van die paar kere dat hy laas jaar saam met haar op Stille Weide gaan kuier het. “Nee, tante, hy is toevallig in Londen. ’n Jaar lank al.” “Gaan jy dáár ook ’n dokter wees?” “Nee, tante, ek gaan ’n rukkie lank net wéés.” Die gemaal op Heathrow ontsenu haar so byna, maar toe sy uitbeweeg uit die aankomssaal, sien sy hom staan. Sy hele gesig straal toe hy haar opmerk en hy druk deur die mense tot by haar. Soen haar met albei hande om haar gesig gekelk, sy mond warm en troostend. Ek gaan bly wees oor hom, sê sy vir haarself. Ek gaan nog báie bly wees oor hom. Ek sal by hom net kan wéés. “Ek is bly ek is hier,” sê sy en hy druk haar laggend vas. “Ja, ek ook! Om die waarheid te sê, ek kan jou opeet!” “Stadig, hoor! Ek wil graag dié trippie oorleef!” Hy staan haar doodstil en beskou. “Jy’t gewig verloor,” verklaar hy. “Is dit ’n diagnose of bloot ’n nare opmerking?”
“Ag, ou Christellie! So gou op haar perdjie!” “Ag, ou Gerrie, ek is nie lus vir speletjies nie. Kom, vat my na daai groot stad toe. Ek wil mal gaan!” Maar teen die tyd dat hulle met die Heathrow Express in die middestad aangekom het en hul weg met die volgepakte moltrein na die bruinrooi baksteenskakelhuis in Stoke Newington gebaan het, was sy doodmoeg. Kon kwalik dag sê vir die ander woonstelmaats. Twee mediese studente en nog twee dokters wat ’n jaar of wat hier kom werk het. Een meisie is Engels en kom van Manchester af, die ander twee mans is Suid-Afrikaners. Piet Claassen van Stellenbosch en Fanie Kestler van Harrismith. Hulle was vriendelik maar nie juis spraaksaam nie – almal te moeg om asem te haal, beweer Gerrie. Toe sy in die solderkamertjie kom wat sy met die Engelse Jane Richardson deel, het sy net uitgepak, ’n koppie koffie saam met die res gedrink en in die bed geval, koulik daarvan bewus dat sy die somer in Suid-Afrika agtergelaat het. Net voordat sy wegraak onder die dik duvet, dink sy aan Frans en sy Heidi Jansen. Om heel te word, kom die titel van Heidi se nuut geadverteerde boek by haar op. Wat sou Heidi daarin geskryf het? wonder sy op die randjie van die slaap. Waarom sou dit vir haar nodig wees om oor stukkende dinge te skryf? Want om heel te word, impliseer tog dat mens eers gebroke was. Wat sou sy tog weet – sy wat so gelukkig is om Frans Mahler se hart in haar besit te hê. Dink aan Gerrit, maan sy haarself. Sien hom voor jou. Sy gawe gesig met die dunraambrilletjie wat tog nie sy hartlike, grysblou blik versluier nie. Sy kyk en kyk, maar sien hom tog nie. Sy kyk weer – en sien ’n man met dwingende, donker oë wat afkyk in hare. Sy huil voordat sy slaap, huil weer iewers in die nag so tussen wakker en wegwees.
Hoofstuk 3
Christelle loop haar bene lam in Londen. Sy kan nie genoeg kry van die meestal grys en koue maar opwindende stad nie. Dis of sy gedrewe haastig is iewers heen, asof sy hoop om haar gedagtes langs die pad te verloor. Sy loop op ’n dag met slierte reën in haar gesig deur Cheyne Walk, naas King’s Road seker die mees bekende straat in Chelsea. Sy staar na die fraai argitektuur van die Georgiaanse huise, sy talm kort-kort wanneer sy ’n blik op die nabygeleë rivier kry en sy verwonder haar aan die vele huise wat deur skrywers bewoon is. T. S. Eliot, Henry James en selfs Ian Fleming het hier hul tuiste gehad. “Tot Bram Stoker het daar in nommer 27 gewoon,” beduie sy die aand aan die ander, wat kapot gewerk, goedig na haar gebabbel sit en luister terwyl hulle pizzas verorber. “En hy’t glo ’n ou uit die Teems daar naby gevis en huis toe gedra, hom op die eetkamertafel neergesit en toe sy vrou daar inkom, is die ou klaar dood!” Sy ril. “Bram Stoker is mos die ou wat Dracula geskep het!” sê Gerrit en rol sy oë agter die brilraam. Sy knik en hy skud sy kop laggend. “Waarom besoek jy sulke weird plekke? Dis tyd dat ons jou ’n ander kant van Londen gaan wys! Waarom stap ons nie almal Sondag saam met haar op die Shakespeare-roete nie? Mens loop alte lekker van die Westminster Abdy na die Toring van Londen en jy hou tog mos so daarvan om aan te haal uit al daai Shakespeare-goed.” “Kan nie,” sê Jane. “Skryf Maandag toets.” “Ons is op diens,” sê Piet Claassen en Fanie feitlik tegelyk. “Gaaf en gawer,” lag Gerrit, “dan’t ek haar vir myself.” “Hoog tyd ook,” meen Fanie en sny vir hom nog pizza. “Sy’s mos jou meisie, dan nie?”
“Sowat van takt,” glimlag Piet en ontlont die klein stiltetjie wat geval het. Maar Gerrit oordink sy woorde ernstig. “Hm, dis nie ’n slegte idee nie,” beaam hy. “Wat?” wil Fanie geïnteresseerd weet. “Die staptoertjie of die meisiegedagte?” Christelle voel die ou, verleë blos in haar gesig opstoot soos wanneer sy haar nie heeltemal tuis voel in ’n situasie nie, en staan onder die gelag van die ander op om te gaan koffie maak. Sy het dit op haarself geneem om altyd die tee en ander warm drinkgoed te maak en soms ’n ete van pasta met kaassous of frikkadelle in koolblare toegedraai bo-op gegeurde rys soos wat Anna dit voorsit. Sy geniet dit en buitendien is almal erg waarderend. Die klomp werk hard. En sy, wel, sy hou vakansie. Maar baie langer, besluit sy skielik in die kombuis, kan dit nie so aangaan nie. Dis al of die niksdoen haar in ’n hoek wil jaag. Sy het al vreeslik baie gesien. Madame Tussaud’s, die Tate, die National Gallery, Buckingham-paleis, die British Museum, Hampton Court en nog talle ander buitengewone besienswaardighede waarvan meeste toeriste net droom. Sy was tot in die Dickens-huis in Doughty Street en het die Sherlock Holmes roete van Oxford Circus tot in die befaamde Baker Street geloop. Maar dis of dit te veel raak. Of al die nuwe, vreemde indrukke haar onrustig stem. Buitendien, dink sy en gooi water op die koffiepoeier in die bekers, help dit net mooi niks. Want Gerrit laat haar begaan, hy bewaar ’n rustige afstand. En Frans Mahler hou haar te besig: Sy dink aan hom, wonder oor hom, verlang na hom. Soms voel sy sy hand in hare, sy mond op hare. Maar dan onthou sy weer die outeursportret van Heidi Jansen op die agterblad van haar boeke. Fraai en petite, swart hare, sagte mond – en oë die onvergeetlike blou van maagdeblom. Nee, sy wat Christelle is, moet nou ’n ander lewe kry. Sy moet wegkom van Frans en sy Heidi. “Sondag sal lekker wees,” sê sy vir Gerrit en sy mond plooi in so ’n gelukkige laggie dat sy opnuut skuldig voel. Hier is ’n man, ’n liewe dierbare man wat nog aantreklik is ook én sensitief genoeg om haar eers haar gang te laat gaan nadat hulle mekaar vir baie maande nie gesien het nie. En sy breek haar hart en haar kop oor iemand wat niks vir haar voel nie. Iemand van wie se bestaan sy liefs nooit moes gehoor het nie.
“Kom ons gaan eers kerk toe,” sê Gerrit toe Sondag kom en ’n poeierige sneeu fyntjies begin uitsif oor die stad. Hulle neem die moltrein na Westminster Abdy en is nog betyds om ’n deel van ’n spesiale erediens by te woon. Christelle sit doodrustig met haar hand in Gerrit s’n en luister na die klank en weerklank in die pragtige ou gebou soos wat die koor van jong seuns en manne suiwer soos fluite hul lofliedere sing. Later drentel hulle rond in die Poet’s Corner van die Abdy waar Chaucer begrawe lê. Teen die tyd dat hulle weer buite kom, het die sneeu opgehou. Die stad lê wit en skoon vir hulle en wag en hulle begin versigtig aanstap op die ysgladde sypaadjie. Hulle loop met Whitehall op verby Charing Cross en aan met die Strand tot by St Clement Danes Church by Aldwych. “A!” adem Christelle ingenome met die instap toe die klok in die hoë toring begin lui. “Weet jy, in die drama Henry VI Deel II, sê Falstaff mos aan Master Shallow: ‘We have heard the chimes at midnight’ en toe het hy juis na dié kerk verwys. Hoe opwindend!” Gerrit glimlag. “Nie naastenby so opwindend soos jy nie, en as ons nie nou in ’n kerk was nie, het ek jou behóórlik gesoen!” Christelle lag net. “Jy is lief en gaaf, Gerrit,” sê sy opreg. Buite die kerk met sy hoë stapeltoring kyk sy op in die grou, sneeubelaaide lug en toe weer na hom. “Regtig, jy is dierbaar.” “Jy maak my bekommerd,” sug hy, maar toe sy nie reageer, nie neem hy haar hand en hulle stap weer aan in Fleet Street al met die kromming van die Teems langs op pad na die nuwe Globe Teater. Maar die sneeu sak weer uit en hulle hol haastig vir skuiling, besluit op die ingewing van die oomblik om by Corney & Barrow in Fleet Place in te gaan en liefs iets te eet. Die dag is net te onguur vir ’n stappie. Die restaurant is klein en snoesig binne en toe hulle sit, bestel Gerrit dadelik twee glase rooiwyn en ’n groot bord met gebotterde rolletjies, gebraaide bokmelkkaas en hoenderboudjies wat hulle sommer so met die vingers kan eet. “Dis eintlik lekkerder om hierheen te kom in die somer wanneer daar baie tafels buite is en vermaak op die plein aan die gang is,” sê Gerrit. “Ons moet so teen Juniemaand hierheen kom.” Sy oë raak meteens troebel: “Jy sal mos dan nog hier wees, nè, Christelle?”
Dis die eerste vraag wat direk en persoonlik op hulle twee betrekking het sedert sy hier in Londen aangekom het en sy skrik lig. Kyk in sy helder oë agter die dunraambril en sien dat sy gelaatskleur effens verhoog het. Ek het die mag om hom te ontsenu, dink sy verteder. Sy steek haar hand stadig oor die tafel na hom uit. “Ek dink tog so, Gerrit. Maar ek sal iets moet kry om te doen. Totdat jy klaarmaak met jou navorsing.” Hy vat haar vingers styf vas, kyk af na hul hande toe hy sê: “Nie meer te lank nie. Ek is al meer as ’n jaar by die Cromwell Hospitaal doenig, weet jy? Dis lank. Ek het oneindig baie geleer, maar ek wil dit nou gaan terugploeg in ons eie land.” Sy luister geïnteresseerd, frons liggies. “Wat het jou laat besluit om juis lewersiektes by kinders na te vors? En waarom het jy eers Cromwell toe gekom voordat jy in Suid-Afrika gaan spesialiseer?” Die kos en wyn kom en hulle eet eers ’n rukkie hongerig voordat hy talmend sê: “Ek wou wegkom uit Pretoria en wegkom van jou af. Dit was die eerste rede.” Hy sug. “Al het ek feitlik onophoudelik vir jou e-posse gestuur.” “Ek het dit baie waardeer, jy weet dit tog.” Sy mond pluk liggies asof hy nie weet of hy moet lag of huil nie. Toe sê hy: “Tweedens wou ek regtig graag meer te wete kom oor lewersiektes voordat ek as internis gaan spesialiseer. Ek dink dis goed so. Ek het nou ’n goeie agtergrondkennis van lewerprobleme.” Christelle is doodstil, vat twee groot slukke wyn voordat sy vra: “Die eerste rede – waarom wou jy wegkom van my af?” Hy kyk haar waterpas in die oë. “Om te sien of ek jou kan vergeet, natuurlik.” Die wyn sak vuurwarm af tot onder haar ribbes. “Maar waarom?” vra sy, al weet sy ook. Sy voel haar gesig warm word onder sy reguit blik. Skud toe net haar kop asof sy iets wil ontken, maar nie regtig die moed het nie. Hy sien haar ontreddering en help ook nie, bly net so na haar kyk asof hy alles weet wat in haar binneste aangaan en lankal weet dat hy daar niks mee te doen het nie en ook niks daaraan kan doen nie.
“Gerrit,” fluister sy. “Ek is jammer as ek so onbelangstellend voorgekom het, ek …” “Nee,” hy hou sy hand op en sy swyg vervaard. “Moenie jammer wees nie. Dis nie iets waarvoor mens verantwoordelik kan wees nie, Christelle. Mens voel, of jy voel nié.” “Maar ek vóél vir jou!” kap sy eensklaps teë, haar stem dun en dringend sodat ’n paar mense by hul tafels omkyk en sy gou drie vingers op haar mond druk. “Ek voel respek en diep vriendskap en ’n anderster soort liefde wat …” Hy neem ’n stukkie hoender tussen duim en voorvinger en kyk aandagtig daarna voordat hy dit in sy mond steek. “Wat wát?” “Wat as dit gevoed word, baie lank sal kan hou,” sê sy saggies. Hy vat weer haar hand, stryk die palm oop met albei syne. “Christelle, ek wil die einde van die jaar teruggaan. Maar dit hang van jou af.” “Is dit ’n voorwaarde?” Maar hy sit vinnig ’n vinger op haar mond. “Onder andere, ja. Maar jy moet eers daaroor nadink. Sulke groot besluite mag nie haastig geneem word nie. Oor sowat twee weke sal ek jou na Babylon toe neem.” “Wat?” “’n Baie romantiese restaurant. Dalk nie ’n goeie keuse nie, want ek weet nie wat jou antwoord gaan wees nie.” Hy sê dit so doodkalm dat sy lus kry om hom te skud. Hoe lank al dra hy hierdie gesprek in sy binneste rond? So lank dat hy al daarby berus het dat sy dalk sy aansoek van die hand kan wys? “Ek kan jou my antwoord sommer nou gee,” sê sy kwaai. “Ek sal …” “En ék wil dit nie nou hoor nie,” antwoord hy ferm, trek grootoog vir haar agter die bril. “Kom, eet klaar, dan gaan ons terug skakelhuis toe en bak pannekoek. Dink jy nie dis ’n dag daarvoor nie? Die ander ou klomp sal tog te dankbaar wees.”
“Waar kom jy aan hulle?” vra sy eensklaps nuuskierig. “Wel, ek het hulle by gemeenskaplike vriende in Suid-Afrika raakgeloop en gehoor hulle huur hierdie skakelhuis. Ná die eerste drie weke in ’n voos ou hotelletjie, het ek opnuut besef ek hou nie daarvan om alleen te wees nie. Dis immers die hoofrede waarom ek al van graad agt af in Affies se koshuis was. Toe kom sien ek vir Piet en hy nooi my om in te trek byna sonder dat ek vra. En ek is doodgelukkig met dié lotjie saam.” “Hulle is gaaf, ja. Die arme Jane leer haar skoon kis. Lyk my nie sy memoriseer maklik nie.” “Hm. Sy sukkel daarmee. Nie so gelukkig soos jy wat glo yslike volumes werk voor brekfis in jou kop kon kry nie. Jou vorige swaer, onse Dirk, het mos altyd daarmee gespog dat sy skoonsussie so intelligent is. Hy is mal oor enige vorm van akute intelligensie, weet jy. Dis eintlik sy afgod. Dit en mooi vroue.” Christelle lag en skud haar kop. “Ja, dié Dirk tog. Wat kan mens sê? Wat gaan op die oomblik in sy lewe aan, dink jy?” Gerrit se wenkbroue trek saam. “Ag weet jy, hy’t al weer ’n nuwe girl. ’n Lentenooientjie uit een van die dameskoshuise. Dit maak mens eintlik hartseer om daaroor te praat. Hy dink mens is net gelukkig as jy die piek van opwinding ervaar. Terwyl ek weer dink opwinding is net ’n klein bestanddeel van geluk. Wat dink jy?” “Dieselfde,” sê sy met ’n klein suggie. “Maar as julle darem gedink het dit was vir my so maklik om alles te onthou wat ’n medikus moet onthou, het julle dit mis, hoor!” “Ek glo jou nie,” glimlag hy speels. “Jy onthou dan ritse en ritse aanhalings en kon altyd die regte ding op die regte tyd sê. Ons ander het soms gewonder of dié juniortjie ooit die regte kursus swot.” “O ja, ek is ’n dokter in murg en bloed, dit moet jy weet. En die aanhalings, wel, dis net ’n stokperdjie.” Sy tel haar glas op, staar na die laaste bietjie robynrooi wyn en sluk dit stadig weg. “Ook sommer ’n simpel stokperdjie. Dit moet buitendien seker irriterend wees om na iemand te luister wat gedurig die regte, gepaste ou woordjies sê.”
Hy sit sy leë glas ook neer en staar na haar. “Jy klink asof jy kwaad is, of ontstemd. Het dié stokperdjie dalk ’n geskiedenis?” Skrik swiep deur haar. Dis al weer Frans Mahler wat hom indring in haar gesprekke en haar gedagtes. En sy kan dit nie langer toelaat nie. Hy hoort by Heidi. En sy hoort by hierdie man wat stabiel en standvastig en lief is vir haar. Sy weet dit. Hy het dit nog nooit gesê nie, maar dis in sy bebrilde blik, in sy mooi beheerste handgebare, in die effense weerloosheid van sy stemtoon. “Nee wat, Gerrit, eintlik hou ek van die letterkunde en van pittige sêgoed. Dis regtig net ’n speletjie.” Later in die skakelhuis staan hy by haar voor die gasstoof. Daar is al ’n stapel pannekoeke in ’n bak en die ander kom kort-kort loer of hulle nog nie geroep word nie. “Die geur maak ons mal!” roep Piet eenkeer moeg gewag uit. Net toe almal om die klein ronde tafel sit om weg te val, piep Christelle se selfoon. Sy lees die SMS: Nuwe boetie vir Robert. Ons is baie dankbaar! Sy druk haar hand voor haar mond en huil dadelik tranerig asof al haar emosie net ’n uitlaatklep gesoek het. Gerrit staan op en kom hou haar vas, verduidelik oor haar kop aan die ander van die heuglike gebeurtenis. Jane gaan haal dadelik ’n bottel port wat haar oupa uit Surrey nou die dag vir haar gebring het en Piet en Fanie vis ’n bietjie sjerrie iewers uit. Dwarsdeur die pannekoek-en-port-fees, hou Gerrit Christelle se hand styf vas. Toe die ander weer later kamer toe verkas, trek hy haar nader. Soen haar sag en versigtig. “Stuur vir jou sus ’n mooi aanhaling.” “Ek sal,” glimlag sy. “Ek het gedink aan Psalm 127 vers 3. ‘Seuns is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee …’” Maar die blote uitspreek van die woorde laat haar weer huil. Sy snik soos ’n hartseer dogtertjie teen sy gewillige skouer. Toe laat hy haar op die bank voor die televisie sit en gaan maak twee bekers soet tee. “Dankie,” sug sy. “Jy is baie goed vir my.” “Ek wil meer as goed wees, Christelle. Goed klink so lou, so jammerlik.”
“Ek weet,” sug sy. Hy drink sy tee swyend, staar na die televisieskerm waar ’n langdradige episode van ’n speurreeks hom afspeel. “Luister,” sê hy eindelik, “ás en wanneer jy so voel moet jy nou die eerste skuif maak. Ek wil my nie aan jou opdring nie.” Sy knik net, laat toe dat hy die leë beker uit haar vingers neem. “Dankie. Ag, Gerrit, ek is net so bietjie emosioneel. Adelien se ou seuntjie, en kort gelede nog Bernadette se ou dogtertjie. Dis tog ’n bietjie traumaties. Die koms van sulke ou kleintjies gaan sit nie in ’n mens se klere nie, weet jy?” “Sal nie weet nie, maar ek glo jou!” lag hy en die helder klank beur haar effens op sodat sy ook waterig glimlag. “Miskien dink ek te veel, Gerrit. Delf te veel, ek weet nie. Maar ek belowe jou, ek wil vars begin. Iewers …” “Hier,” sê hy en hou sy arms oop. Sy skuif gewillig tot teenaan hom, druk haar kop teen sy skouer sodat hy behaaglik sug. “So ja,” sê hy net. Laataand toe Jane al in die bed is, nog met ’n handboek tussen haar slap, slapende vingers, haal Christelle haar skootrekenaar uit. Sy klim in haar enkelbed en sit dit op haar uitgestrekte bene. Dis nou die een luukse item wat sy vroeg al vir haarself aangeskaf het. E-pos is vir haar die lekkerste soort pos. Blitsige vonkies van een siel na ’n ander. Sy skryf ’n lang brief aan Roald en Adelien, wens geluk en smeek vir ’n foto’tjie. Sal hulle nie maar enetjie van die kleintjie en ook van Robert in skandeer en dit aanstuur nie? Toe skryf sy vir Bernadette en Henk ook en vra ’n foto’tjie van Naomi. Want sy verlang na hulle, verlang na die paar dae wat hulle almal so in die strandhuis bymekaar was, verlang na … Haar vingers stol bo die sleutelbord. So ampertjies het haar hart weer oorgeloop. Haar naïewe hart wat nie wil leer nie. Sy klik saggies met haar tong. Daar’s tog nut in sinisme, dink sy ergerlik. As ek sinies en hardgebak was, sou ek nie nou swaargekry het nie, sou ek nie sy naam wou tik in dieselfde sin as die woord “verlang” nie. Wanneer gaan ek ooit leer om nié te smag na Frans Mahler nie? Of is daar dalk iets soos ’n hoopvolle sinikus?
Toe neem sy ’n besluit en skryf vir Adelien, verwoord die warboel van haar emosies sonder om Frans se naam een maal te noem. Sy snuffel in haar aanhalingsboek en kry dié paslike woorde uit ’n onbekende bron: A cynic is one who not only reads bitter lessons from the past, but who is prematurely disappointed with the future. En so wil ek tog ook nie wees nie, Adie, skryf sy. Wat moet ek doen? Ek kan nie so bly pendel tussen gister en môre en nie weet wat ek hier en nou wil hê nie. Want weet jy, ek is eintlik lief vir Gerrit, hy is alles wat ’n vrou maar kan begeer. Aantreklik, begrypend, sensitief, ambisieus en hardwerkend. En Adie, ek dink hy wil met my trou. Ek moet erken dat dit my nogal ontroer. Sy kliek op Send/Receive en tot haar innige vreugde kry sy ook ’n paar briewe. Een van haar pa en een van Anna ook. Anna wat ewe in drukskrif haar brief op papier skryf en dan vir Pa Abel gee om oor te tik en te versend. “Liewe Chrissie, ek en Thabu wonder hoe dit met jou gaan. Partykeer dink ek jy moes nie gegaan het nie. Wat as jy daar ver siek word?” Christelle lag saggies. Dat Anna min vertroue in haar vermoëns as dokter het, was nog altyd duidelik. Sy glo eenvoudig nie dat Christelle enigiets so grusaam soos ’n inspuiting sonder bloederige gevolge kan toedien nie. En dat haar grootmaakkind nou al vir haarself kan sorg, is eenvoudig bo haar vuurmaakplek. Die trant van die brief laat Christelle egter nadink: “Ek is nou baie gelukkig, Chrissie. Thabu is ook gelukkig. Jou pa gaan daardie stuk land anderkant die spruit aan ons gee. Ons gaan koring plant. Dan kan ons ook ons eie oeste hê. Jou pa sê dis omdat ons so lank en so goed by hom gebly het. Nou dink ek en Thabu ons moet maar op die werf gaan bly dat ons naby jou pa kan wees. Hy kan nie so alleen in daai jaart wees nie. Dis te gevaarlik. Mieta-hulle bly ook nou in die buitekamers by die Mahler-mense. Dis veiliger vir almal. As jou pa dan moet patrollie ry saam met die ander boere, is daar iemand by die huis ook. Nou bou jou pa nog twee kamers aan daai ou buitekamer waarin ons eers bees geslag het toe jy nog klein was. Toe vra ek jou pa hoekom hy dan twee kamers bou. Toe sê hy dis vir Nomsa as sy kom kuier. Dié pa van jou darem! Jou ma en Wilhelmpie se bome word mooi groot. Die blare lê mooi rond op my hand as ek die tuinslang daar by die stamme sit.” Dis goed, dink Christelle tevrede, goed dat Pa so maak. Thabu en Anna het hul lewe vir Stille Weide en sy mense gegee. Hulle moet ook oes. Al is dit nou net ’n klein stukkie land, dit sal vreugde bring vir almal, daarvan is sy seker.
Dis egter die laaste paar sinne van Anna se brief wat haar tot laatnag brandoog laat wakker lê. “Mieta sê Frans se girl het kom kuier. Maar sy was siekerig, sê Mieta. Wit in die gesig en baie maer. Frans het heelnaweek net langs haar bed gesit. Miskien is hy lief vir haar. Auk tog. Mooi bly, Chrissie en groet vir dokter Gerrit. Ek groet jou ook. Jou Anna.” Sy lees eers haar pa se brief toe sy die volgende oggend met ’n effense dik kop wakker word. En ook eers nadat sy ’n ruk gesig-in-die-hande in die bed bly sit het. Heidi op Mahlersdrif, dink sy. So is dit dan. Toe skakel sy weer haar rekenaar aan en lees haar pa se kenmerkend formele briefie: “Liewe kind, hoe gaan dit? Seker maar goed soos hier ook. Ek voel ek moet jou tog maar inlig dat ek besluit het om die landjie anderkant die spruit aan Thabu-hulle te skenk.” Christelle lees en glimlag, onthou hul spelery in die branders. Haar pa is besig om mens te word, dink sy deernisvol. Stadig maar seker is Abel Buitendag besig om in te haal wat hy jare lank gemis het: die lewe. Hy is besig om sy ou mufgeworde rousmart te begrawe en vars gras daaroor te plant. Want hy skryf epos soos ’n ou ingewyde, hy geniet sy tuin, hy koop vierwiel-motorfietsies vir toeriste wat na die Voortrekkerhuisie kom kyk en hy en oom Basie beplan nog ’n dinosaurusroete ook. Oom Basie het klaarblyklik ’n bekende paleontoloog van Clarens daar gehad en dié is gaande oor fossielafdrukke wat op die klipplate anderkant die sandsteenkop gekry is. Miskien, skryf haar pa, kan hy selfs later aan ’n gastehuis op Stille Weide begin dink. As Thabu en Anna saamspeel, kan hulle almal ’n paar sent daaruit maak en dit nog geniet ook. Ten minste begin hy ’n glimps van persoonlike geluk ervaar, dink Christelle. Want hy leer homself ken en aanvaar. Abel wat nog soms treur, is ook Abel die man, die mens wat kan uitreik en lag. En dis wat ek ook nou moet doen, dink sy. Ek moet die dag gryp, anders gaan die son onder en tas ek in die donker rond.
Hoofstuk 4
Adelien antwoord haar e-pos eers ’n week later, en soos wat Christelle haar suster ken, val sy donderend met die deur in die huis. “Trust you om ’n mens sommer met die intrap te verras, Chrissie! Of sal ek sê, te skok. (En baie, baie dankie vir die gelukwense! Jou nuutste nefie is tog te oulik! Donker haartjies soos sy pa. ) Maar sussie, ernstig nou – watse probleem het jy nou eintlik met Gerrit? Dis regtig tyd dat jy nou jou dinge agtermekaar kry wat die mans betref. En ja, sinies wees gaan jou nêrens bring nie. Wees nugter en kyk vorentoe. Wil jy regtig alleen wees? Buitendien (na aanleiding van die aanhaling!), watter bitter les het jy nou eintlik uit jou verlede te leer? Niks sover ek weet nie. Liefste Chrissie, ek preek nie vir jou nie as ek vir jou sê dat ek en Roald ons hart vashou oor jou. Liewe land tog, kry ’n lewe. Verkieslik saam met Gerrit. Hy’s goeie nuus, sê Bernadette ook.” Bla-bla-bla en bla, dink Christelle. Natuurlik preek Adelien en deur haar nek ook. Wat weet sy nou eintlik? Sy, met wie dit so seepglad in die lewe gaan. Sy is sommer lus en skryf ’n kwaai brief terug. Maar om eerlik te wees, kan sy Adelien en ook Bernadette nie juis kwalik neem nie. Voor haar susters hou sy altyd die blink kant bo, miskien uit vrees dat hulle dalk mag dink sy kan nie cope nie. En flippit, sy cope al van kleins af dat dit bars. ’n Skielike, onstuitbare selfbejammering oorval haar en sy vee groot traandruppels van haar wange af. Waarom steek ek myself tog so weg? wonder sy desperaat. My susters het g’n idee hoe kook ek van binne nie. Maar wat sal dit nou ook help as ek vir hulle laat weet dat Frans Mahler verantwoordelik is vir die chaotiese geskiedenis van my amper non-existent liefdeslewe? Wat sal Adelien en Bernadette sê as ek vir hulle vertel dat ek nog kwalik ’n man behoorlik gesoen het? Want Frans se soen (wel, soene!) tel nie omdat dit vir hom heeltemal niks beteken het nie. Dit was net ’n bietjie leë pret in die wind. Maar nie vir my nie. Want ek wil nie sommer net soen nie. Ek wil waaragtig nie só naby ’n man wees dat my asem met syne saamvloei as daar geen betekenis in skuil nie. Ek wil boweal nie soen omdat daar van ’n ses en twintigjarige vroumens verwag word om darem ’n poging aan te wend om vryerig te raak nie. Ek soek ook nie ’n sogenaamde loss of
innocence net omdat dit mode is en mens met jou liggaam omgaan asof dit op appro is nie. Dis nou eenmaal nie ék nie. Sy sit ’n rukkie voor haar en staar. Die skakelhuis is ontstellend stil. Al die klank dring van buite af in, die onrustige gebrom van die verkeer en die suising van die ysreën teen die vaal gewasemde ruite. Dis té alleen, besef sy weer. Sy sal iets moet kry om te doen tot tyd en wyl sy (of dan sy én Gerrit) huis toe gaan. Sy lees Adelien se brief klaar. Voel weer die polsing van susterlike bekommernis in elke sin aan – en vermurwe tog maar. Die liewe Adelien. Sy wil net die beste vir haar kleinsus hê wat lankal nie meer klein is nie, maar wat nou erg pieperig voel teen die aanslae van die lewe. En sy weet Adelien voel dit ook aan, telepaties of dalk so al met die ragfyn, veeldradige menseweb van die intuïsie. Sy glimlag skeefweg: Of dan van die sogenaamde kwantumfisika waarvan haar susters so ewe gepraat het. Hulle het toe natuurlik goed geweet Frans kom strandhuis toe omdat hy sekerlik vooraf gebel het. Maar Adelien wéét nou wel onfeilbaar intuïtief dat Christelle sielsonrustig is en nou preek sy maar in die hoop dat dit iewers die regte snaar sal laat tril: Moet jou nie verknies nie, gaan eenmaal voluit in ’n verhouding in, gee oor en erken dat iemand anders jou gelukkig kan maak. Kyk nou net vir my en Roald en vir Henk en Bernadette. En dit komende van ’n kliniese sielkundige wat goed behoort te weet dat sulke dinge nie aangepor kan word nie, dink Christelle geamuseerd. Omdat sy so emosioneel betrokke is by haar kleinsus ignoreer sy die Dirk-enBernadette-fiasko en al die waarskuwingseine wat daardie ongelukkigheid nog steeds aan hul almal uitstuur. Mens kan tog nie maak asof dit nooit was nie, dink Christelle. En dit maak my bang. Miskien is Frans reg. Dat mens met jou kop moet liefhê. Dat emosie ’n bonus is. Of dalk is emosie net te ver bo sy sensitiwiteitsdrumpel, dink sy wroegend. Hy kán dalk nie voel nie. Wil ook nie. Want kyk tog, hy sit langs sy siek meisie se bed. Hou sekerlik haar hand vas of lê langs haar en praat mooi, soet woorde. Uiteindelik beantwoord sy tog Adelien se brief heel bedaard: “Ek en Gerrie gaan een of ander aand by Babylon eet. Glo ’n romantiese plek. Dink aan my. Dat ek die regte goed sal sê, dat ek sal weet wat ek moet doen, Adie. Glo my, dis nie so maklik nie, selfs al is die man hóé oulik. Ek weet daar is gelukkige huwelike, Adelien, maar die pad daarheen is moeilik. Dis nou as jy die pad ooit kry.” Sy sit terug, glimlag wrang en kliek op die Send-knoppie. Dié e-brief behoort
Adelien se kop goed besig te hou so tussen die borsvoedings deur. Môreaand gaan daar weer ’n briefie uit dié huis met die twee seuntjies kom, dit weet sy. Adelien is nou eenmaal ’n kommerkous. Dalk gooi Roald ook nog ’n paar gewigtige woorde tussenin. Christelle gaan af kombuis toe en maak die kaste oop. Haal ’n pak rysnoedels uit en twee pakkies spek. Sy snipper die spek en braai dit in ’n pan op die gasstoof, sny groen rissie en uie by. Sy maak die ryspasta gaar en meng dit met die spek en ander goed. Toe maak sy ’n dun witsous met baie gerasperde kaas in. Teen die tyd dat haar skakelhuismaats tuiskom, staan die tafel klaar gedek met ’n mengelslaai ook. Gerrit kom soen haar onbeskroomd. “O, as jy net weet hoe ek uitgesien het daarna om vanaand terug te kom na jou toe!” sug hy in haar nek. “En nou’s die skakelhuis ook nog vol watertand geure!” “Eet en word versadig,” lag sy en kyk genoeglik toe hoedat die ander ook sonder veel woorde wegval aan die kos. “O ja,” sê Piet luiters toe hy ’n slag diep asem skep, “ek het vir jou ’n werkie gekry. Jou kêrel het gesê ons moet uitkyk vir ’n joppie vir jou.” “Regtig?” vra sy verras. “Ja,” sê Piet. “Maar sê my eers, is hy ooit jou kêrel?” Sy loer in die rondte, lag verleë. “Mens kan dalk so sê, ja. Nieamptelik so …” Gerrit glimlag breed en vat haar hand vas. “Een van die dae dalk amptelik.” “Weird,” skud Piet sy kop. “Dalk is g’n woord nie. Mens is mos of jy is nie? Hoe werk julle dinge dan?” “My taktvolle vriend!” lag Gerrit nou openlik. “Dink jy ooit daaraan om dalk ’n patoloog te word? Werk liefs met bloed en weefsel, want met pasiënte gaan jy nie regkom nie!” “Ag bog!” skerm Piet vies. “Ek vra bloot ’n reguit vraag!” “Wat ongelukkig die pasiënt gaan noop om sy kop soos ’n skilpad in te trek, pêl,” lag Fanie. “As sy of hy voel jy wil te veel weet, gaat hulle toeklap of kwaad
word.” Piet lyk duidelik ontredderd. “Nou maar wat de joos moet ek dan máák? Ek móét mos weet hoe sake staan!” “Hm,” praat Fanie verder en skep vir hom nog ’n groot skep van die pastagereg in, “jy weet mos hoe mense simptome kan verdoesel of verdraai sodat jy die siekte wat hulle eerder liefs wil hê, moet diagnoseer.” “Ek weet,” glimlag Christelle, “en nou weet ek ook sommer hoe om Piet te antwoord.” “Laat ek hoor,” grom hy en selfs die gespanne en voos gestudeerde Jane lag ’n bietjie al begryp sy min of geen van die Afrikaanse gesprek nie. “Speel eers saam. Hallo, dokter Piet.” “Oukei. Hallo, dan.” “Dokter, hm, hoe gaan dit met dokter?” “Met … my?” vra Piet verstom en Fanie en Gerrit lê by voorbaat soos hulle lag. “Ja, dokter,” sê Christelle bedees, “ek sien dokter het ’n nuwe kar. Ek dink mos daai rooi Merc is dokter s’n, is dit so?” “Nee, verdomp, juffrou, dit is nie. Maar wat is jou probleem?” “Sien!?” skater Fanie. “Werk liewer met die mikroskoop, pêl. Jy kan nie soos ’n mechanic eers al die opsigtelike duike wil uitslaan nie! Dié mooi pasiëntjie is nog eers besig om haar vrese te probeer begrawe onder ’n hopie gawe woordjies, maar jy jaag weer direk al haar spoke op. Chat eers met die arme pasiënt, my pêl!” Die klomp lag so dat Christelle liefs eers vir Jane die gesprek vertaal. En dié knik ewe ernstig: “That is quite a point you’ve got there, Fanie!” “Watter dokter het tyd om te chat?” wil Piet gegrief weet, maar die ander lag hom uit.
“O ja ,” onthou Gerrit meteens. “Watse werk het jy vir Christelle gekry?” “Wel, dis eintlik net ’n moontlikheid. Sy moet gaan vir ’n onderhoud en ás sy die werk kry, sal sy die teenpool van ’n uitsmyter wees.” “Wat?” vra Christelle verstom. “O,” glimlag Gerrit, “een van daai hallo-en-koebaaiers van die grênd restaurante?” “Net so,” beaam Piet in sy skik. “Ek dink dit sal ’n jolly goeie job wees by Morton’s Place. Ene Lord Morton is die eienaar. Hy besit glo meer restaurante as wat gewone mense verkoue in ’n leeftyd kry!” “Oh!” kom Jane tussenbeide. “One of those places where you can wear any colour as long as it’s black?” “Thát grand?” vra Christelle. “En meer so,” knik Gerrit. “Jy sal dit geniet. Hulle sê mos die Engelse is nie juis gesteld op goeie kos nie, maar hulle gee wel om waar hulle gesien word wanneer hulle dit eet!” Christelle lag en vertaal vir Jane wat haar terstond oppof. “I’ll have you know that we English have a couple of restaurants with menus that can give some Frog dishes a go!” “Toe nou maar, Janey,” paai Fanie grinnikend, “ek sal honger ly en spaar en jou dan een Saterdagaand soontoe neem dat jy jou swart nommertjie kan dra!” Hoe direk en op die man af Piet se vrae ook al is, hy is ’n meester van die vertelkuns, dit vind Christelle gou uit. Want hy beskryf die restaurant so lewendig dat sy op die plek lus kry om vir ’n onderhoud te gaan. “Pure Engelse herehuisstyl,” beduie hy. “Skilderye uit Lord Morton se eie versameling hang daar in goue rame. Gainsborough en Constable, de lot. Selfs ’n inktekening van Picasso. Blomme pryk in antieke vase en spesiaal gemaakte porselein pas by die meesterlike en glo baie kleurvolle disse.” Twee dae later is Christelle op pad na die elegante hart van Mayfair waar
Morton’s Place is. Onder haar dik, lang jas, het sy ’n kort swart rokkie aan wat haar lang bene vlei. Om haar nek is ’n stringetjie pêrels wat Gerrit spesiaal vir haar gekoop het. “Jy moes nie,” gee sy die geykte antwoord, maar bedoel dit. “Waarom nie? Jy is my spesiale meisie en ek kan dit bekostig. Maar as jy nou wil weet, dit kom uit my hart, nie my beursie nie.” Sy soen hom hartlik voordat sy loop, maar haar tred is lig toe sy eindelik alleen haar weg vind. Tot haar verbasing is die ouerige man wat die hoofkelner is, baie gaaf met haar en sy kry die werk summier. “Your looks alone will do us proud, Miss,” sê Mister Remington stywerig maar met ’n gawe vonkel in sy beplooide oë. Sy knik haar dank vir die kompliment maar lig hom nie in dat sy ’n heelwat meer indrukwekkende titel as ‘miss’ het nie. “Bly sommer vir vanaand al,” vra Mister Remington mooi. “Dis net sowat ’n uur voor oopmaaktyd.” Sy stem gewillig in. Al wat sy buitendien moet doen, is om in die ingangsportaal te staan en die gaste glimlaggend welkom te heet. Niemand kom in elk geval sonder ’n bespreking nie. Dan neem sy hulle na hul tafel toe en sorg dat hulle baie, baie tuis voel. Sy besef gou dat Piet geensins oordryf het nie. Die skilderye teen die maroen van die fluweelbedekte mure, slaan haar asem weg. Die oorwegende atmosfeer is regtig dié van ’n eeue oue Engelse herehuis en sommige van die personeel lyk inderdaad asof hulle uit die vroeë Renaissance dateer. Van die brose ou dametjie ( Remington se eggenote!) met haar silwerwit kapsel by die ontvangstoonbank tot die statige kelners wat kiertsregop maar geruisloos met hul silwer skinkborde beweeg. Net die kok, ontdek sy toe Mister Remington haar aan die kombuispersoneel bekend stel, is bloedjonk en Frans. Dié Jacques Dupont kyk ook na haar met die oog van ’n Fransman en dit kos ’n paar bitsige woorde van Mister Remington om sy aandag weer by die aand se disse te kry. Namate die aand vorder, vind Christelle dat sy haar nuwe werk geweldig geniet. Dis lekker om deftige en sommige werklik bekende gaste by die deur te ontvang,
hulle met fyn elegansie en versigtige diplomasie welkom te heet en na hul tafel toe te begelei. Mister Remington het ook nie oordryf toe hy klem gelê het op diskresie nie, want Christelle slaag daarin om glad nie verbaas te lyk toe Sir Elton John en sy maat daar aankom nie. Ook ’n vorige James Bond maak ’n verskyning en gee haar ’n regte, egte leepoog Bond-kyk. “Ek het so ampertjies aangebied om sy Martini te bring. Shaken, natuurlik, not stirred,” skryf sy die aand laat aan Adelien en Bernadette. “En my liewe sussies, sowat van aanskoulike kos! Daai Fransmannetjie kook ’n storm los en dan lyk dit asof hy die borde beskilder het. Saffraankleurige visbredie, delikate lentegroen komkommersop met geklopte room en kaviaar, gebraaide eend in koljandersous met gepelde neute. Ek was amper flou van die honger toe die laaste gaste weg is en ek saam met die ander personeel kon eet van die sop wat oorgebly het. O ja, daar was vir my ook ’n spesiale stukkie Engelse brood-enbotter-poeding. Mens sien ook allerlei soorte mense. Jy hoor Duitse dialekte, Frans, Russies en natuurlik die nasale Oxford-aksent. Ook die onvermydelike Jet Set Esperanto. G’n ordentlike Vrystater kan dié klomp stralerjakkers se lingo verstaan nie. Lyk my as mens in dáárdie finansiële sfere beweeg, vloei woorde soos Armani, Dior, Aspen, St Tropez en Bloomingdale’s so gladweg oor jou tong soos pap en braaivleis oor ons s’n.” “Verlang jy nie al na spuitnaalde, skalpels en vars, bloeiende wonde nie?” wil Piet weet toe sy een aand vry het en hulle aan tafel vergas op al haar wedervaringe. “Soms, ja,” lag Christelle. “Wonde wat ek graag sélf sal wil toedien wanneer een of ander belangrike lekkerbek my soos ’n muwwe toebroodjie behandel.” “Wat doen jy dan?” wil Gerrit geïnteresseerd weet en stoot sy arm agter om haar stoel se leuning sodat hy nader aan haar kan sit. “Ag, ek praat Afrikaans. Sê wat ek dink, en so aan.” Gerrit se oë rek. “Dit kan jy nie meer in Londen doen nie, hoor!” “Nie sonder diskresie nie, maar mister Remington verstaan g’n snars nie. En hy het my snedig betig omdat ek ou sir Terence Watsenaam na ’n hoektafel geneem het en dit terwyl hy eerder in die middel van die vertrek wou sit. Kry glo verkoue as hy in hoeke sit.”
“Interessant,” meen Piet. “Verwys hom na my toe. Ek sal sy hoeke vir hom rond slyp.” Heerlik om so twak te praat, dink Christelle. En dit tussen mense wat vir jou omgee en jou veilig in limbo hou sodat jy nie te veel of te diep dink nie. Maar die oomblik toe die gedagte vorm aangeneem het, is dit of die onrus haar pak. Toegegee, sy het lanklaas aan Frans gedink. Twee dae laas. Altans, hy was in dié tyd nie voorop in haar gedagtes nie. Net so agterlangs soos ’n skim wat moeilik wyk omdat hy nog nie werklik weggejaag is nie. ’n “Blessing in disguise”, kan mens maar sê, dink sy bitter, maar tog verlangend. Sy staan eensklaps van die tafel af op en begin vuil borde bymekaar maak. Maar Gerrit keer haar. “Jane en Fanie se beurt vanaand,” kondig hy aan. “Jy doen genoeg hier in die huis rond. Kom, ek wil gesels.” ’n Klein beklemming kom sit in haar bors toe hulle afgaan na die grondvloer se klein sitkamertjie, maar sy glimlag met hom. Sien die oop gesig met die eerlike oë. “Wat het jy op die hart?” vra sy toe hy haar langs hom op die verweerde vaalblou bank neertrek. “Ek dag dis jy wat iets op die hart het,” sê hy sag. “Of liefs, jy behoort dit te hê?” Die vraag is in meer as sy woorde, dit dring deur in sy stem. En vir ’n oomblik moet sy kopkrap om te weet wat hy bedoel. Natuurlik. Hulle moet Babylon toe gaan. Móét? Ja tog, dink sy. Dis tyd. “Ek het volgende Vrydag weer af,” sê sy en sit haar hand versigtig op sy knie. Hy kyk daarna en ’n glimlaggie flikker oor sy gesig. “Dis die eerste maal dat jy dit doen,” sê hy sag, leun oor en vat haar vas, soen haar meteens so driftig dat sy ’n oomblik lank doodstil in sy omhelsing bly sit. Toe soen sy hom terug. En sug diep toe sy haar kop op sy skouer laat sak. Vrydagaand trek sy haar mooi aan. ’n Swartbont romp wat sy in die Portobellomark raakgeloop het en ’n swart toppie saam met die stringetjie pêrels. Haar hare dra sy in ’n losserige knoop agter in haar nek. Sy spuit “Miracle” van Lancôme aan haar hals en polse. Wonderwerke gebeur tog seker, dink sy sonder geesdrif. En ek moet een máák, as dit dan nie wil gebeur nie. Gerrit glimlag toe sy met die trap afkom. “Verruklik,” is sy kommentaar. Hy help haar om haar jas aan te trek, want dis snerpend buite. Toe hulle in die moltrein
op pad Kensington toe is, hou hy haar hand styf vas in syne. Ook Babylon is nogal ’n verrassing. Vol pretensieuse twintig-plussers wat demonstratief hul dun sigaretjies rondswaai en ietwat luider as wat nodig is hul opinies lug. Maar die fantastiese uitsig oor Londen se dakke maak op daarvoor. Ook die tropiese vistenks oral in die restaurant werk nogal kalmerend in op ’n mens, besluit sy. En sy het kalmte nou baie nodig. Hulle kies gebraaide vis met aspersies in ’n geheime sousie en Gerrit bestel ’n bottel duur sjampanje. Sy kry lag vir hom toe hy smeek-sê: “Dis tog seker in orde, dan nie?” Sy knik net en hy steek dadelik sy hande oor die tafel na haar uit. Sy vingers sluit warm en gerusstellend om hare. “Ek is verskriklik bly, Chrissie, en ek sal jou regtig probeer gelukkig maak.” Sy word yskoud. Is dit dan so ooglopend? “Haai, nee,” keer sy floutjies. “Ek is al klaar gelukkig, jong!” Die sjampanje kom en hy antwoord haar nie, glimlag net met daardie fyn, alwyse plukkie van sy mond. Toe besluit sy om geheel en al eerlik te wees. Hy verdien dit immers. “Gerrit,” sê sy toe hulle glasies klink, “ jy lees my baie goed. Maar ek beloof jou ek gaan jou ook gelukkig maak. Want ek wil, en as ek eers my kop op ’n ding gesit het, kan jy maar weet ek …” “Sjuut,” sê hy sag en hou sy glas in die lug. “Op ons twee en op blydskap.” Omdat sy dit nie kan weerstaan nie, sê sy: “Dit behoort nie moeilik te wees nie. Marcus Aurelius het gesê mens moet onthou dat baie min nodig is om ’n lewe gelukkig te maak.” Hy glimlag kopskuddend. “Ek verskil van hom. Ek het jóú nodig om my gelukkig te maak, en jy is nie bietjie nie. Jy is baie jy, baie vrou, baie alles. Ek het jou lief, Christelle.” Hulle kos kom en sy kry kans om haar asem terug te kry. Want sy woorde, so reg uit die hart, het haar geskok. Om alles te kroon, skiet ’n ander gedagte wat sy iewers gelees het, haar te binne: Geluk is soos ’n kat; as jy hom roep, kom hy
nie. Sy maak versigtig keel skoon. “Gerrit, dankie, dis die mooiste woorde wat enigiemand nog aan my gesê het. Maar Gerrit …” “Ek weet,” sê hy rustig. “Maar dit sal kom.” Sy dwing haarself om doodstil na hom te kyk en toe net instemmend te knik. Al weet sy mos: as jy roep, dan kom hy nie. Asof hy besef dat die oomblik vir haar te gewigtig raak, sê hy terloops: “Ek dink ek het vergeet om jou te sê. Daar was gisteraand twee ouens uit Pretoria daar by ons. Jy was al weg Lord Morton’s toe.” Sy vat ’n happie van die smeltsagte, geurige vis. “O, wie was hulle?” “’n Hattingh-tweeling wat saam met jou grootgeword het.” Hy lag meteens breed. “Hulle sê jy het hulle baie ‘grief’ gegee toe hulle op hoërskool was, want jy wou hulle nooit soen nie.” Christelle moet twee maal sluk om die vis af te kry. “Wát sê jy?!” “Ja, hulle sê jy is deel van hulle emosionele bagasie, want toe hulle jou wou soen, het jy hulle te lyf gegaan en toe het Frans Mahler hulle glo vuurwarm geklap. Terloops, ek het nie geweet jy ken ook vir Frans Mahler nie?” “Ek, wel, ek het ook nie geweet j´y ken hom nie,” skerm sy. “Natuurlik, ja, hy was ’n jaar of wat voor my en Dirk voordat hy weg is Stellenbosch toe. Dis mos hy wat met daardie ‘wunderkind’ Heidi Jansen uitgaan, nie waar nie?” “Ek hoor so, ja. Wel, hy is die buurseun van Mahlersdrif, maar ek ken hom nie juis goed nie.” Dis immers die waarheid. Sy ken hom nie goed genoeg om te weet of ’n soen vir hom beteken wat dit vir haar beteken nie. Sy vat ’n hap en sluk dit met drie slukke sjampanje weg. “Waar is die Hattings nou? Ek hoop tog nie hulle kom weer nie want hulle is twee regte lasposte. Het nooit grootgeword nie.” Gerrit lag. “Ek dink hulle is gawerig en nogal gevat, weet jy. Hulle sê hulle het
ook nou by die groot skare jong Suid-Afrikaners aangesluit wat eers ’n proetjie van die lekker lewe wil hê voordat hulle ernstig begin werk. Het glo klaar werk gekry as opers by ’n ouetehuis.” “Opers?” stik sy byna. “My aarde tog, weet die ouetehuis waarvoor hulle hulle inlaat?” “Blykbaar. Hulle moet net hekwagters wees. Kyk dat die bejaardes wat aan Alzheimer ly, nie wegloop nie. Dis glo nogal ’n probleem.” Sy is tot swye geslaan. In haar bestaan het sy nooit gedink die Hattinghs sal enige verantwoordelike werk kan doen nie. Sy haal net skouers op en glimlag ongelowig. Om meer as een rede is hierdie aand verstommend. Sy en Gerrit het so pas ewe prosaïes besluit om hul lewe saam te slyt en nou moet sy hoor die onhebbelike Hattinghs is ook hier in Londen. “Ek sien nie daarvoor kans nie,” sê sy hardop en Gerrit se wenkbroue lig. “Ek hoop regtig nie jy het vir hulle gesê waar ek werk nie. Hulle is kapabel en kom ewe daar aangesit en …” “Maak amok? My liewe Chrissie, oor sommige dinge wen jy jou darem tot breekpunt toe op! Dis twee gawe seuns wat ’n laat storm-en-drang beleef. Wees net geduldig met hulle.” “Dis die ding!” trek sy los. “Ek het glad nie, maar glád nie meer geduld nie, Gerrit! Ek het nie lus vir kinderagtigheid nie! Die … die lewe is te ernstig daarvoor.” In die nou kenmerkende gebaar steek hy sy hande na haar toe uit en sy vat dit ingedagte. “Christelle, dan moet ons regtig daaraan werk om jou gelukkig te laat word. Jy móét leer om jou laste af te laai.” Tot haar konsternasie spring daar trane in haar oë, loop onkeerbaar oor en drup tot op haar ken. Sy klad en vee, maar dit stroom al hoe meer. Stilweg en sonder snikke, maar dit voel of haar hart wil breek. Gelukkig tog kyk Gerrit haar net bedaard aan, gee later sy sakdoek wat heelwat meer effektief is as die twee snesies wat sy in haar aandhandsakkie het. “Huil maar, my liefie,” sê hy net en eet onverstoord sy vis klaar. “Ek … ek weet nie wat my makeer nie,” stamel sy toe die ergste huil ophou en sy verleë rondloer.
“Maak dit saak? Ons begin mos ’n nuwe lewe. Lê dit neer, Christelle. Dan sal dit weggaan.” Miskien is hy reg, dink sy meer gerusgestel toe die poeding kom. Heerlike groot perskes gevul met pimperneutroomys. “Dié plek is nogal ’n gastronomiese ervaring,” sê sy met ’n waterige glimlaggie. “Dit gaan meer as dit word,” sê hy en haal ’n klein dosie uit sy deftige vlootblou baadjie se sak. “Eers net die kysring, soos wat my ma-hulle sou sê. Later kan ons jou verloofring gaan uitsoek.” Hy maak dit sommer self oop en haal ’n fyn Russiese trouringetjie in drie skakerings van goud uit. “Haai,” sê Christelle en hou haar hand uit sodat hy die ring kan aansteek. Dit vertoon besonder mooi aan haar skraal vinger en hy lyk so ingenome dat sy lief met hom glimlag. Hy is werklik ’n allerliewe mens, dink sy. Hy noem my wel nie Eva nie en sy soene laat my nie vlam vat nie, maar ek is tuis by hom. En in so ’n tuiste kán liefde blom. Ek moet dit net koester.
Hoofstuk 5
Net toe Christelle begin dink haar vrese is ongegrond, verskyn die Hattinghtweeling uit die niet. Juis op ’n oomblik toe sy ’n redelik bekende filmster welkom heet. Sy begelei die vrou en haar jongste vriend na hul tafel en toe sy die twee steeds buite op die trap sien, wil-wil sy net raas. Maar toe besef sy dat hulle jou waarlik uitgevat is in hul allerbeste. Donker baadjies, wit hemde en modieuse geel dasse, de lot. Blonde poniesterte sedig teruggebind in die nek. Hulle moes bespreek het – en natuurlik iemand se arm gedraai het om plek te kry. Hulle straal toe sy hulle met ’n stram glimlaggie groet. “Goeienaand, mooiste,” groet albei. “Naand, menere Hattingh,” sê sy streng. “Welkom is julle nou nie eintlik nie, maar wegwys sal ek julle ook nie. Bloot omdat dit swak maniere sou wees.” “Haai, sies vir jou, mooiste,” sê Tiaan onverstoord toe hy langs haar inval. “Ja, skaam jou,” koor Riaan aan haar ander kant. “Ons kom juis om ‘celebrities’ soos jy te bewonder en dan is jy al weer so goor.” “Die enigste ‘celebrity’ is die een daar in die hoek wat al vyf wederhelftes kafgedraf het en Margaret Thatcher wat effens later sal arriveer.” “Daar is net één blonde Ystervrou wat ons bewonder en dis jy,” sê Riaan galant. “Ja-nee,” voeg Tiaan by, “daar is nie ’n manier waarop dáái tannie soos jy kan lyk in daai toppie nie!” Sy gee hulle net ’n moordkyk. Peste. Maar sy moet toegee, die spieël en ook Gerrit het min of meer dieselfde gesê voordat sy vanmiddag by die skakelhuis weg is. Hierdie goue toppie by die swart romp sit asof dit net vir haar ontwerp is. Elke fraai kurwe word beklemtoon.
Hulle gaan sit ewe formeel by hul tafeltjie vir twee en dis toe dat sy hond se gedagte kry. “Onder watter name het julle bespreek?” vra sy kwaai. Hulle loer na mekaar. Glimlag engelagtig. “Ons het gesê ons is jou broers,” deel Tiaan haar in ’n vertroulike stemtoon mee. “Mister Remington was heel beïndruk, veral toe ons hom vertel dat jy ’n dokter is wat nou net ’n los werkie doen.” Natuurlik, dink sy vies. Dié dat Mister Remington haar so warm welkom geheet het en ook daarom dat Missus Remington haar vroeër vanaand eenkanttoe geneem en gekla het oor die migraine wat sy so gereeld van rooiwyn kry. En ewe besorgd het sy wat Christelle is, ’n bekende middel aanbeveel asook die goeie raad om nie soetgoed saam met rooiwyn te geniet nie. “Ek sal julle nog kry,” sis sy, maar bedwing tog ’n glimlag. “O, ons hoop van harte so,” sug Tiaan en Riaan knipoog vir haar. Maar net toe sy wil wegdraai om nog gaste te gaan haal, vat hy haar hand met die nuwe ring vas, bring dit tot vlak by sy oë. “Aardetjie tog, watse ding is dit dié?” “Die voorloper van ’n verloofring,” sê sy en pluk haar hand weg. Maar hulle reageer nie, kyk net na mekaar met ’n blik wat sy glad nie kan ontsyfer nie en laat haar begaan toe sy loop. Genadiglik gedra hulle hulle besonder goed vir die res van die aand en sy kan in vrede na die ander gaste se behoeftes omsien. Die broers sit egter asof hulle geplant is. Eet skynbaar die spyskaart van bo tot onder deur en Christelle sidder by voorbaat oor die rekening wat hulle gaan kry. Maar wat, as enigste liefies van hul welgestelde ouers, behoort dit ook nie die ergste probleem te wees nie. Sy ril nou nog as sy dink aan die honderd en tien pond wat Gerrit nou die aand by Babylon moes opdok. Toe sy egter om byna halfelf klaarmaak, wag hulle haar by die voordeur in. “Jou kêrel het gesê ons moet jou huis toe begelei. Hy hou niks daarvan dat jy saans so alleen met die moltrein moet terugry nie.” Wat waar is, want as Gerrit op diens is, vra hy Piet of Fanie om haar te kom haal. Maar sy kyk hulle boos aan en jok sommer: “Tj! Hy weet nie eens van julle nie.”
“Hy weet goed,” sê Tiaan, “en ek sien sommer hy hou van ons. Hy sien die goedheid agter die blink uiterlike raak, jy weet.” Sonder dat sy wil, proes sy van die lag. “Hoe gaan dit met jul ouers? Is hulle nie al kinds van bekommernis nie?” “Glad nie. Dit gaan wonderlik met die dierbare goed,” sê Riaan meteens so ernstig dat Christelle hom agterdogtig beskou. Maar sy blik is reguit en eerlik. “Hulle vertrou ons en hulle weet dat ons nie regtig so simpel is as wat party mense dink nie.” Sy stap ’n rukkie in stilte tussen die twee, luister hoe Tiaan ’n geluidlose deuntjie tussen sy tande loop en fluit. En meteens versag haar hart. Hoe gouer sy aan hulle aandag skenk, hoe gouer gaan hulle bedaar en weggaan. Want weggaan moet hulle. Dis eenvoudig ondraaglik en onredelik soos wat sy na Frans verlang solank sy naby dié twee is. “Het julle lus vir koffie of iets?” vra sy. “Altyd,” sê hulle. Hulle neem ’n taxi na Kensington en gaan na Scoffs Eating House in Kensington High street. Super plek, beweer die tweeling. Sedert hul aankoms twee weke gelede het hulle al drie maal hier geëet. Christelle weerhou liefs haar opinie, want die plek is super weird. Propvol opgestopte voëls en diere en allerlei snuisterye. Dit lyk soos ’n kruis tussen ’n kleindorpse pandjieswinkel en ’n houthuisie in die berge sodat mens tegelyk beklemd en opgewonde voel. En op die tweeling se onvermydelike vraag oor wat sy daarvan dink, sê sy sugtend: “Oscar Wilde het iewers gepraat van ‘Chaos, illuminated by flashes of lightning.’ En dis hier van toeing.” “Baie paslik,” beaam Riaan, “want dis nou juis tyd vir ’n paar flitse van openbaring.” Sy kyk stip na hom om te sien of hy spot. Maar nee. Die jeugdige gesig met die lig blosende wange is doodernstig. Tiaan bestel solank koffie en sommer drie pastadisse ook, want hy voel effens dun van al die treinry, sê hy. Christelle voel tot haar verstomming dat sy self nogal honger is en laat hom begaan.
“Wat bedoel jy?” vra sy vir Riaan. “Wel,” antwoord Tiaan, “ons twee is op ’n missie. Jy sien, ons het taamlik onlangs by jou susters en hul mans gekuier. Gawe mense daai.” “Het hulle julle genooi?” vra sy direk en albei skud hul kop, klik-klik met die tong. “Jy is darem stief met ons! Maar nee, ons was nie genooi nie, ons is gestuur.” “Deur wie nogal?” vra sy maar dis of haar maag op ’n knop trek. Die pasta kom en die broers val ywerig weg. “Ons kom nog daarby,” sê Riaan na ’n paar happe. “Jy sien,” sê Tiaan, “ jou susters is bekommerd oor jou. En ander mense ook. Hulle dink jy val rond.” “Wat?!” “Ja,” sê Tiaan, “hulle dink jy weet nie wat jy wil hê nie, maar ons, ons wéét wat hulle nie weet nie!” Christelle stoot haar bord ravioli weg so kwaad is sy. “Wat besiel julle twee alewig om met alles en almal te spot?” Twee paar blou oë kyk haar waterpas aan, maar dis weer Tiaan wat praat: “Jy misgis jou, Christelle,” sê hy so koel en kalm dat sy hom net kan aangaap. “Ons twee is wel in staat tot meer as net polêre denke. Daar lê wye wêrelde tussen warm en koud, wit en swart, liefde en haat.” Christelle sit stom, staar na die jong man met die ernstige blik en bedaarde stemtoon. Hoor sy reg? “Jy sien,” gaan Riaan op dieselfde bedaarde trant aan, “mens kán jou werklikheid verander. Mens is in staat om keuses te maak. Die liewe Heer het dit so gemaak. Maar jy moet sélf tot daardie besef kom.” Verby die punt dat sy enigsins kan dink dat hulle spot of laf is, trek sy weer die pasta nader, begin eet omdat sy sowaar nie weet wat om anders te doen nie. Toe
skiet dit haar te binne: “Wat weet julle wat my susters nie weet nie?” Riaan druk-druk stylvol met sy servet aan sy mondhoeke en leun effens vooroor sodat hy sag kan praat. “Ons weet dat jy en Frans Mahler lief is vir mekaar. Ons was daardie oggend ná Bernadette se kleintjie gebore is, op die strand. Ons het net teruggekom van ons visvangs op die rotse daar naby die Mahlers se strandhuis.” Christelle se binneste word stil. Dis of haar hart ook ’n rukkie verpoos sodat sy haar asem vinnig moet intrek so benoud raak sy. “Nee,” fluister sy. Hulle knik plegtig. “Ons het gesien,” sê Riaan. “En ons het niemand vertel nie. Ons is aan jou kant, sien. Beskou ons dus as jou vertrouelinge. Regsklinies gesproke is hierdie gesprek dus gepriviligeerd. Moet dus geen verweer opper nie, dis onnodig.” “Nou’s julle weer laf,” sê sy ergerlik. “Inteendeel,” sê Tiaan. “Ons kan dié saak nie so laat nie, want ons weet te veel. Frans is bloot dom en jy is moedswillig.” Dis of sy opeens soos ’n ballon afblaas. Daar is geen fut in haar oor nie. “Waarom is hy so dom?” vra sy suf en eet amper kompulsief van die lekker spinasie-en-fetakaas-ravioli. “Omdat hy ordentlik is waar dit liefde aangaan en dit werk nooit,” antwoord Riaan. “Hy klou vas aan daardie verhouding omdat hy moreel verplig voel daartoe. En ons dink dis juis immoreel om in ’n verhouding te bly waar daar slegs van pligsgedrewenheid sprake is.” “Maar is julle ooit seker?” vra sy saggies. “Ja,” sug Tiaan, “dis tragies maar waar. Hierdie inligting is eintlik ook absoluut konfidensieel, maar ons voel genoodsaak om jou te vertel. Ons weet dit sal veilig wees by jou. Buitendien raak dit jou ten seerste.” “Hoe?” “Wel, Heidi Jansen is HIV positief. Jare lank al. En nou is sy al siek. Sy het mos
eers medies geswot en toe skielik oorgeslaan sielkunde toe. Nou ja, sy het aan besmette bloed geraak toe sy in ’n staatshospitaal gehelp het. Snytjie aan haar pols gehad. Om te dink sy was toe eintlik net ’n toeskouer.” Hy sug diep. “Jy sien, Frans het haar saamgevat toe hy in sy finale jaar gehelp het met ’n geboorte.” Dis ’n fabel, dink Christelle dof. Sulke goed gebeur mos nie. ’n Skreiende jammerte wel in haar op. Sy sien die mooi, fyn gesig van die Jansen-meisie voor haar. Broos soos porselein. En sy onthou Anna se brief wat gesê het Heidi kuier op Mahlersdrif, maar dat sy siek is. En ongevraagd voel Christelle ook die kramp, die geweldige pyngreep van die liefde. Haar hart, haar hele wese is seer daarvan. Arme Frans. Arme Heidi. Sy sug swaar. “Dan is dit mos reg dat hy haar bystaan. Wat kan hy anders doen?” Riaan kyk haar kalm aan. “Hy hét ’n ander opsie. Hy kan daaraan dink dat hy jóú lewe verwoes.” “Darem nie,” keer sy. “Gerrit is …” “’n Goeie ou,” kap Riaan terug. “Daaroor stry ons nie. Maar hy is nie vir jou nie. Toegegee, ons lojaliteit lê by ons vriend, Frans, maar feite is, Gerrit sal jou nie gelukkig kan maak nie, al wil hy. Nie ná wat ons op die strand gesien het nie. Christelle, jy en Frans het gesoen soos mense wat fonteinwater in die woestyn gekry het.” “Dorstig en desperaat,” voeg Tiaan by sonder om ’n oog te knip. Sy dink: Ek sit hier oop en bloot voor die Hattingh-tweeling van alle mense. Hulle weet amper alles van my. Hulle het tot in my hart der harte gekyk en toon mededoë met my soos wat byna niemand nog het nie. Selfs my liewe susters kyk die dinge mis waarop hierdie twee hul vinger nou so sekuur lê. Adelien en Bernadette vermoed net vaagweg, maar die tweeling weet vir seker. Dis byna ’n verligting om haar hartsgeheim met hulle te deel. Die koffie word bedien en Christelle kyk haastig op haar horlosie. Dis amper eenuur in die oggend. Gerrit sal rasend van bekommernis wees. “Toemaar,” sê Tiaan, “ons het hom gebel en gesê ons gaan by Lord Morton’s eet en dat ons jou dalk sal ophou met die terugkom.”
“Was dit die hele idee?” vra sy met ’n wrang laggie. “Dit was, ja,” sê Riaan. “Ons moes net iets doen, Christelle. Ons kon tog nie net sit met die wete dat jy en Frans oor mekaar voel soos wat julle voel nie!” Sy sit ’n rukkie en drink haar koffie klaar. “Wel, dit was tevergeefs. Ek … ek weet nie eens of Frans oor my voel soos ek oor hom nie. ’n Man dink mos anders oor soen.” “Wie sê só?” wil Riaan dadelik gegrief weet. “Tj!” klik Tiaan ook ergerlik. “Daar is mans en dan is daar máns. Regte mans wat weet wanneer om ’n girl te soen en dit te bedoel. Frans is so ’n man. Hy sal nie soen net vir die lekker nie.” “Ag so?” vra sy geamuseerd. “Ja, hy sal soen omdat hy nie anders kan nie. Hy sal soen omdat hy sal beswyk as hy dit nie doen nie.” Christelle kyk verstom na die twee eenderse gesigte, elk met ’n blonde stert hare skuins oor die netjies geklede skouers. Is dit regtig die Hattinghs dié? wonder sy verdwaas. Kon sy nog altyd hierdie sy van hulle mis gekyk het? Inderdaad wel, kom dit voor. Sy skud haar kop liggies. “Weet julle, ’n Amerikaanse skrywer, ene Bovee uit die vorige eeu, het gesê: ‘It is the ion that is in a kiss that gives to it its sweetness. It is the affection in a kiss that sanctifies it.’” “O, dis mooi,” sug Tiaan en bestel nog swart filterkoffie vir hulle al drie. “Hm,” mymer Christelle, “maar Oscar Wilde het weer gesê ’n soen kan ’n lewe ruïneer.” “Hy was satiries en sinies,” keer Riaan dadelik. “Frans is nie so ingewikkeld nie. Hy’s ’n boerseun.” Christelle lag. “Weet julle, dit was tot sover die mees betekenisvolle aand wat ek nog in Londen beleef het. En ek is baie bly julle het met my gepraat. Ek het dit nodig gehad.” “Ons weet dit,” sê Tiaan gewigtig. “Maar jy besef seker dat jy ook nou ’n baie
gewigtige bekentenis gemaak het.” Sy knik. “Ja … Maar dit bring my nie nader aan die oplossing nie. Gerrit bied my ’n goeie lewe. Frans bied my niks. Nie eens ’n foonoproep of selfs ’n SMS nie. Hy het my uit sy lewe gesny. Wat ek natuurlik nou goed kan begryp.” Riaan sug. “Ja. Kom. Dit word laat en ek wil nie gefoeter word deur ’n ou wat ek pas ’n week gelede ontmoet het nie.” Gerrit wag hulle onder in die sitkamer in en sonder dat sy dit so bedoel, pers Christelle haar mond weerspannig saam. As hy nou iets moet sê. Maar nee, hy nooi die tweeling in, en op die daad is hulle weer hul ou self. Gek en grap só dat Gerrit skud van die lag en Piet en Fanie kom kyk wat aangaan. Jane is al in die bed, beduie hulle en sy’s erg humeurig. Glo bang vir die eksamen wat voorlê. Christelle bied aan om te gaan melkkoffie maak en dis byna halfdrie voordat die tweeling vertrek na hul kommune in Bloomsbury wat hulle glo met vyf ander deel. Buitendien moet hulle nou regtig gaan doedoe, want netnou-netnou het hulle weer ’n stywe skof as hekwagters. Christelle soen Gerrit gapend nag en toe sy in die bed lê, verwonder sy haar oor die aand. Dat daar darem groot geborgenheid in begrip lê, is waar. En dat die tweeling haar uit haar voeë verras het, is nog meer waar. Die Hattinghs is haar bondgenote soos wat sy in haar lewe nog nooit gehad het nie. Sy wat altyd eenkant was. Koppig en eiesinnig, soos wat Adelien haar meermale radeloos beskryf het. Haar susters was wel haar rolmodelle en Nomsa ’n gawe pêl, maar niemand het ooit geweet hoe sy werklik voel nie. Voordat sy wegdommel, besef sy dat sy geweldig daarna uitsien om die tweeling weer te ontmoet. Hulle het juis gepraat van Donderdag wanneer sy weer die dag af het. En sy was onnoemlik verlig toe Gerrit sê hy is op diens by Cromwell se hoësorg-kindersaal. Miskien moet sy en die Hattinghs na ’n museum gaan, dink sy. Dalk die National Gallery. Daar kan hulle rustig ronddrentel en wonder oor wat gaan word van vergeefse liefde. Maar een gedagte laat haar nugter wakker word: Wie sou die broers na haar susters toe gestuur het en wat sou hulle nou eintlik moes uitvind? Sou dit Frans wees? En as dit is, het die tweeling haar nie naastenby alles vertel wat sy moet weet nie.
Hoofstuk 6
Die e-posbriewe kom almal op ’n hoop. Anna kla oor die trekkery van die werkershuis na die nuwe buitekamers en sê Nomsa het alweer ’n uitval met Efraim gehad omdat hy nie na haar pype wil dans nie. Hy weier om in Pretoria by haar te gaan kuier en sê as sy wil skoolhou, kan sy dit op die plaas kom doen. Die plaasskool tussen Stille Weide en Mahlersdrif kort juis ’n paar goeie onderwysers, maar as sy dan nou so lief is vir die stad dan moet sy maar daar bly. Hy sal vir hom iemand anders soek, want hy gaan nie lobôla betaal vir ’n vrou wat kwaai en astrant is nie. Dat Anna vodde is oor haar dogter se liefdeslewe, is klinkklaar, maar haar klagtes hou nie daar op nie. Nee, Abel het mos vir hulle ’n tweeplaatstofie vir die buitekamer gegee waarop hulle kan pap maak. Maar sy en Thabu laaik die ding niks nie. Mens kan nie saans lekker voor hom sit soos voor die koolstoof wat hulle in die ander huisie gehad het nie. Pa Abel se brief is guitig maar ook vol innige bekentenisse: “Nou ja, Liefkind, daar het jy dit nou. Ek moes natuurlik Anna se brief vir jou oortik en het buitendien lankal dié boodskap gekry. Sy loop al drie weke met ’n dik mond rond en g’n mens het geweet waarom nie. Nou weet ek immers. Sal maar vir haar ’n AGA laat insit in die buitekamer. Dan kan sy en Thabu snoesig daar sit. Vreemd tog hoe mens soms mekaar se wense en behoeftes mis kyk, nè. Ek moes dit voorsien het. Maar nou ja, ek het sovele jare só toegespin in myself gelewe dat ek nie eens my eie kinders se gedagtes wou leer ken nie. Vergewe tog maar. Jou susters en hul geliefdes het nou die naweek hier gekuier en ons almal het jou pynlik gemis. Die twee kerspopuliere se stammetjies word al dikker en die blare raak mooi blinkgroen en dig. Jeanette sou baie van haar boom gehou het. Soms word ek tog nog verdrietig as ek daarna kyk. Veral as die oostewind saans opkom en die blaartjies vrolik laat fladder. Dan verbeel ek my maar jou ma en Wilhelmpie waai vir my. Dan waai ek terug. Anna en Thabu het my dit nou die aand sien doen en toe waai hulle ook maar. Ja, kindjie, mens sal seker nooit ophou om te verlang nie. Al kom daar nog sewentig somers vir my, sal ek steeds elke somer na Jeanette en Wilhelm se bome kyk en wonder oor die lewe en die dood. Tog moet jy nie treurig voel omdat ek so sê nie. Ek het baie dinge geleer
die afgelope jare. Dat mens kan treur en nog kan bly wees ook. Henk sê so en hy is ’n slim man. Hy ken die mens se binnekant goed.” Christelle lees tot hier en toe huil sy soos wat sy in die laaste tyd huil: sonder enige waarskuwing en met hartlike oorgawe. Tog is dit reinigend, of ou emosies oplos en wegspoel. Hoe wonderlik is die weë tog, dink sy in die kanseltaal van haar kindertyd. Dominee Geertse (lank reeds salig) kon soms so weemoedig uitroep: “Ag, geliefdes, is die weë van die Here tog onbegryplik wonderlik.” Toe het sy dikwels gewonder hoe die weg van die Here onverstaanbaar sowel as wonderlik kan wees. Maar vandag, dink sy en klad haar gesig, maak dit waaragtig sin. Sy lees haar pa se brief weer van voor af en gaan toe aan waar sy laas opgehou het: “Van Henk-hulle gepraat: hy en Bernadette dink daaraan om Stille Weide toe te kom. Vir goed. Henk wil ’n retraite hier begin. Eers het ek nie mooi geweet wat dit nou is nie, maar toe hy verduidelik dat dit vir mense soos ek is, het ek nogal verstaan. Daar is baie mense wat nie oor hul verdriet kan kom nie. Miskien kan mens nie regtig nie, maar mens kan leer om daarmee saam te leef totdat jy groter is as die hartseer. Dit het onse Henk my geleer. Dan bou ons mooi chalets en ’n soort konferensiesaaltjie vir groepsessies (soos wat ek nou aan jou swaer se praat verstaan) en die stukkende mense kom dan hiernatoe om te herstel. Dalk het hulle ’n dokter ook nodig, Chrissie. Dalk kan jy hier op die dorp ’n praktyk kom open. Maar wag, lat ek nou nie gedagtes in jou kop lê nie. Verder is ek en ou Basie nou op ’n nuwe spoor. Hier het ’n paleontoloog van Wits aangekom, ene dr. Kinsley, en hy beweer daar lê fossielspore in dié geweste. Hy wou weet of hy ’n paar maande, dalk ’n jaar, hier kan bly. Toe sê ek ja, hy kan sy kamp daar anderkant die Voortrekkerhuis opslaan, want hy is baie opgewonde oor die klipspore daar by die sandsteenkop rond. Nou staan sy tent daar, maar hy kom elke aand koffie drink. Ons gesels ’n hond uit ’n bos. Hy praat Ingels en ek Afrikaans. Partymaal ry ou Basie ook oor dan gesels ons drie tog te lekker.” Christelle peins lank oor dié e-brief. Haar kop is so vol gedagtes dat sy kwalik weet watter kant toe. Dis in die laaste tyd asof sy haar pa in sy e-pos opnuut ontdek. Die ware en ook die nuwe Abel Buitendag openbaar homself as ’t ware nou aan haar; dié Abel wat vrede gemaak het met sy eie lewe. En die wonderlike woorde van die Britse romanskrywer George Eliot kom onwillekeurig by haar op: Dat ’n mens ’n punt bereik waar mens “nie meer met smart worstel nie, maar met jou smart kan verkeer soos met ’n blywende metgesel. Een wat jou gedagtes
met jou deel.” Sy wonder ontroerd of Adelien en Bernadette ook sulke e-posse kry? Sekerlik tog, aangesien dit lyk asof daar sterk gekoukus word oor die toekoms van Stille Weide. Oplaas glimlag sy spontaan, want dis eintlik wonderlik, al die dinge wat nou op Stille Weide aangaan. Sy skryf terug en stort haar blydskap oor al die nuwe verwikkelinge in haar woorde uit. Gerrit kom loer in toe hy van die hospitaal af kom en sy wys vir hom die briewe. Hulle lag saam daaroor en hy sê: “Sien jy nou, alles werk op die ou einde ten goede uit. Dink net hoe bly gaan jou pa wees as ons twee ook nou op Stille Weide opdaag en hom vertel dat hy nog ’n skoonseun gaan bykry! Die idee van ’n retraite is natuurlik uitstekend. Maar wys my die jongste foto’s van jou nefies en niggietjie!” Sy gehoorsaam gretig. Kliek op die fotoaanhegsels van haar susters se e-briewe en toe die gesiggies op die skerm oopvou, is die steeds piepklein Naomi inderdaad fraai en lieflik soos wat haar naam te kenne gee. En Adelien se Danie wat laas week glo gedoop is, is tog te oulik met Robert wat sy kleinboet kordaat in stewige armpies vashou. “Ag, is hulle nie te dierbaar nie?” koer Christelle. “Hm.” Gerrit buk en soen haar in haar nek. “Ek dink ons s’n gaan nóg mooier wees!” Christelle knik net en skakel die skootrekenaar af. “Kom ek gaan maak vir jou iets om te eet,” sê sy. “Enne, jy weet mos ek gaan môre saam met die tweeling uit, nè?” “Ja, die twee grapjasse!” lag hy. “Hm. Onder daai jasse is daar stemmige pakke, dit moet jy weet.” “Het ek dan kompetisie?” vra hy skalks. “O nee! Jy kan maar sê ons is baie goeie vriende.” Net voordat hulle met die trap afgaan kombuis toe, trek hy haar nader, kyk stip
in haar oë. “Maar ons is die beste vriende, nie waar nie?” “Ons is, ja,” sê sy doodeerlik en soen hom spontaan op die wang. “Jy is die beste vriend wat ’n mens kan hê.” Hy kelk haar gesig in sy hande en soen haar sag op die mond. Sug liggies. “Eendag wil ek nog ander woorde ook hoor.” Omdat sy eerlik is, en sy werklik niks verder kan sê nie, trek sy hom aan die hand af ondertoe. Soos wat in die laaste tyd gereeld gebeur, kom die ander uit hul kamers te voorskyn toe hulle ’n gewerskaf in die kombuis hoor. Ook Jane kom windverwaaid by die voordeur in en sak doodmoeg op een van die kombuisstoele neer. “This course is killing me,” sê sy in ’n tranerige stem. Ook Piet en Fanie, sien Christelle, lyk mismoedig. Toe eers besef sy dat dit dalk die weer kan wees. Die son het weke laas waterig geskyn. Elke dag hang daar ’n kilgrys wolkedek oor die stad. Dis net sy wat so verwikkel is in haar eie binnewerke, dat dit haar nie juis pla nie. Maar sy moet toegee, ’n heldergeel sonligdag sal wondere verrig. “Ek maak vir ons hoenderpastei en groenboontjies met geelrys,” sê sy. “Sit julle net en kyk.” “You’re such a blessing,” sê Jane en glimlag ’n slaggie, lyk verstom toe Christelle oomblikke lank roerloos na haar staar. “What?” “Niks. Dis net … Wel, ’n ‘blessing’ is nogal spesiaal.” “Maar dit is jy,” sê Gerrit wat haar fyn dophou met sy speurende blik. Die ander beaam heelhartig en terwyl sy kosmaak, die hoenderstukke braai en van die been trek, Anna se pasteikors met bruismeel en olie aanmaak, klets hulle gesellig oor die jongste flieks wat hulle hoop om te sien. Teen die tyd dat sy klaar is, is almal rasend honger en hulle eet in behaaglike stilte. “So then, Gerrit,” sê Jane en skep vir haar nog hoenderpastei in, “you will have a bride who can actually cook. That in itself is a blessing!” “Indeed,” knik Gerrit, sy oë op Christelle wat effens verstil voordat sy verder eet. Later gaan die ander boontoe en Gerrit hou haar terug toe Piet en Fanie begin
opwas. “Kom ons gaan drink koffie iewers waar ons kan gesels,” sê hy. Hy wag nie vir haar antwoord nie, haal net haar blou woljas van die kapstok in die portaal af en draai die byende serp sag om haar nek, trek sy windjekker aan en rits dit met so ’n versoberde gesig toe, dat sy skielik beangs raak. Hy weet, dink sy. Hy weet in sy hart dat ek hom nie liefhet nie. En toe weet sy ook: So kan dit nooit aangaan nie. Nie as sy haar daarop roem dat sy eerlik is nie. Dis net dat sy opeens nie weet hoe om hierdie allerliewe man seer te maak nie. Is daar ’n operasie sonder pyn? wonder sy melodramaties. Hulle neem ’n taxi na die Albert Roux Cafe in Kensington High Street. ’n Onromantiese plekkie, sien sy dadelik. En hy bestel tee in plaas van koffie. Hulle bring dit in ’n soort smeedyster-teepotjie met ’n patroontjie in reliëf daarop. Sy skink in stilte, daarvan bewus dat sy effens versluierde blik haar gesig nie ’n oomblik verlaat nie. “Christelle … toe jy die kinders se foto’s vir my gewys het, het jy nie gereageer toe ek daarvan praat dat ons, wel, ons s’n dalk nog mooier sal wees nie. Waarom nie?” Dis ’n vraag wat geen sydelingse, swenkende antwoord sal duld nie. Sy teug diep na asem en sê skaars hoorbaar: “Gerrit, ek kan nie jou kinders hê nie. Ek kan nie jou lewe deel nie. Ek kan net nié.” Hy roer sy tee byna geluidloos, sit die teelepel versigtig in die piering terug. “Vertel,” sê hy net. “Ek kan begryp, al kan ek nie nou vir jou sê dit maak nie seer nie.” Haar lippe beef toe sy sê: “Ek weet. En ek is so verskriklik jammer. Ek wou, regtig ek wóú.” Hy steek weer sy hande na haar toe uit en sy vat dit sonder skroom, bly dat hy nog hy is. “Ek weet dit, Christelle. Deels is dit my eie skuld. Ek wou jou so graag hê. Maar liefde laat hom nie gesê nie, nè?” Sy skud haar kop, maak haar vingers weer los en haal die ringetjie af. Hy neem dit, laat dit argeloos in sy bosak gly. “Wie is dit?” vra hy sag. “Frans Mahler.” Sy oë rek, sy mond gaan oop. “Maar …”
“Ja,” knik sy, “hy en Heidi Jansen is saam.” “Nou verstaan ek glad nie.” “Ek ook nie. Maar ek weet net ek kan my nie nou aan jou verbind nie, Gerrit. Maar as dit jou kan troos, jy is die enigste ander man aan wie ek ooit sou dink om my te verbind.” “’n Flou trosie, maar dankie.” Terug by die skakelhuis, sê hy: “Vreemd hoedat dinge tog op ’n manier uitwerk. Cromwell Hospital het my vandag gevra of ek nie dalk kans sien om in Engeland te spesialiseer nie. Ek het soveel ondervinding opgedoen in hulle kindersaal dat hulle my graag daar sal wil hê.” Dit wring haar hart tog op ’n manier. “Dan sal ek jou nie dikwels sien nie,” sê sy kinderlik omgekrap. “Nee,” antwoord hy, “maar ek sal altyd jou vriend wees.” “My pa wil hê ek moet op ons dorpie gaan praktiseer,” sê sy. “En ek dink tog ek wil dit doen. Of eers net help om Stille Weide se retraite op die been te kry.” “Mooi,” sê hy net en staan tru dat sy eerste trapop kan gaan. Christelle huil haar weer aan die slaap, maar so deur die radelose snikke, weet sy sy sien uit na môre, want dan kan sy weer met die Hattinghs oor Frans gesels. Hulle is ook skaars in die National Gallery voordat sy hulle trompop loop. “Wie’t julle na my susters toe gestuur?” “Hokaai,” keer Riaan en staar aandagtig na een van Rafael se skilderye, ‘Madonna of the pinks’. “Kyk net hier, dis in 1507 geskilder. Wau!” “Dit laat my koud,” sê Christelle kwaai. “Ek móét nou met julle praat!” “Nou kom dan,” sê Riaan rustig. “Kom ons gaan eet in die Portrait Restaurant. Dis op die vyfde verdieping van die nuwe Ondaatje-vleuel.” Die broers wag ook sowaar totdat hulle kos eers kom voordat hulle haar
naastenby kans gee om haar sê te sê. Oe en a eers oor die heerlike dis van bloukaas en gebraaide spek met okkerneute en kraakvars Belgiese blaarslaai. “Lekker, ja,” sê sy kortaf. “Maar ek wil nou dadelik weet wat Frans als van my af weet, want ek dink dis hy wat julle, nie net na my susters toe nie, maar ook hierheen gestuur het.” “Wel,” sê Tiaan, “jy’s nogal reg. Ons wou wel Londen toe kom, maar hy het as ’t ware die besluit aangehelp.” “Het hy julle afgepers of gedreig?” spot sy darem ook bietjie. Want die vet weet, te veel erns gaan hierdie twee nou net nog moedswilliger maak. Hulle knik plegtig. “Ons het ons lewe gewaag,” sê Tiaan. “Ons het hom eendag gaan sien. Hy’s mos nou op Bethlehem, of het jy nie geweet nie? Hy praktiseer daar as ginekoloog in die Hoogland-kliniek.” “Nee, ek het nié geweet nie!” sê sy ergerlik. “O,” sê Riaan onskuldig. “Wag, kyk eers ’n slag na die ongelooflike uitsig van hier af. Daar is Big Ben, Nelson’s Column en die Parlementshuis. Ek wonder of mens op een dag al hierdie goed kan besoek en nog onthou wat jy gesien het en …” “Ek gee nie ’n snars om nie! Ag, wáárom treiter julle my so?” “Omdat jy tog nie omgee nie,” antwoord Tiaan. “As jy regtig omgegee het vir Frans sou jy al op eie bodem gewees het en hard probeer het om hom te verlei. Dit behoort nie te moeilik te wees as jy dáárdie truitjie,” en hy wys met ’n vinnige voorvinger na haar blou rolnektrui, “aanhet nie. Riaan, dink jy mens sou na dié kledingstukkie kon verwys as ’n ‘spannende’ truitjie of ’n ‘gespanne’ truitjie?” “Net ’n spantruitjie,” meen sy broer. “Maar ek kan jou dit sê, daai kledingstukkie maak my erg gespanne!” Christelle staan op, so woedend soos wat sy in jare nie was nie. “Ek haat julle!” sê sy. Maar Riaan gryp ’n hand vol van haar lang denimromp vas en sy word gedwing om weer te gaan sit eerder as om ’n kabaal in die openbaar te veroorsaak.
“Toe nou maar,” paai hy. “Ons weet nou wat ons wil weet. Jy is ernstig oor onse Fransman. Wat ons jou wou vertel, is dat toe ons van jou begin praat, hy ampertjies vergeet het dat daar ’n vrou in kraam op hom wag. Dit het gelyk of alles rondom hom padgee. Hy het wraggies spierwit geword. Eers so al met sy kakebeen langs en toe tot op sy voorkop. Toe het hy koel en kalm gesê hy sal ons dooddonner as ons iets omtrent jou vir hom verswyg. Jy weet, nes hy gesê het toe ons vir die eerste keer ook so doodonskuldig in die hoërskool beland het. Nou ja, dit was ook ons eerste keer alleen saam met ’n kraamdokter en toe raak hy so aggressief dat …” “Riaan!” roep sy wanhopig uit en selfs sy broer kyk hom betigtend aan. “Oukei. Wel, hy het ons letterlik gesmeek om jou op te spoor en om hom dadelik te laat weet as jy ongelukkig lyk. Toe sê ons vir hom dat dit net sy eie skuld is as jy ongelukkig is en toe vertel ons hom van die mooi toneel tussen julle twee daar op die strand.” “En tóé?” vra sy asemrig. “Toe crack hy amper,” sê Tiaan. “Ek het ou Frans nog nooit so bewerig gesien nie. En voor hy kon herstel, vra ons hom mooi: Wat nou van Heidi en dink hy dis reg om ’n verhouding op ’n skuldgevoel en jammerte te probeer bou? Maar net toe kom roep die nurse hom en sê die bybie is al amper daar en waar’s hy.” “Ons het nie langer gebly nie,” gaan Riaan skielik doodernstig aan. “Ons het gevoel wat gesê moes word, is gesê. Nou moet sy begrip van en sy sin vir die magiese, maar ook werklike spel van die liefde oorneem.” “Magiese spel van die liefde?” Christelle skud haar kop verstom. “Ja,” knik Tiaan opeens net so nugter. “Ek dink hy het vir die eerste maal besef dat sy droom oor jou aan skerwe kan spat.” “Sy droom?” eggo sy verdwaas. “O ja,” antwoord Riaan en sy blou oë kyk haar oop en eerlik aan. “Ons weet al van kleins af dat hy dood oor jou. Dié dat ons jou so gepes het. Sommer vir die lekkerte, jy weet. En natuurlik om te sien hoe hy elke keer so skouspelagtig ontplof daaroor. Dit was elke klap werd, hoor!”
Hy en Tiaan lag hul bulderende lag sodat mense gesteurd omkyk en sy weer kwaai vir hulle kyk. “Ja,” sê Riaan weer toe hulle bedaar het. “En nou’s daar op dié oomblik veel meer ‘bonding’ tussen jou en ons as tussen jou en hom. Hy sal behóórlik suur wees daaroor!” Maar haar kop het vasgesteek by iets: “Julle sê hy was van kleins af erg oor my?” “O ja. Vreemd dat jy dit nie eintlik raak gesien het nie. Ewenwel, jy was eers soveel jonger as hy. Intussen het hy so los en vas uitgegaan, onder andere met Heidi. Toe jy egter in matriek was, het hy seker gedog hy kan so stadigaan begin om jou gewoond te maak aan hom. Toe gebeur die ding met Heidi. En hoor hier, Heidi is eintlik ’n wonderlike mensie. Alles is tragies genoeg. Dis nie nodig dat daar nog tragiek moet wees net omdat jy en Frans nie jul hart volg nie.” “Makliker gesê as gedaan,” sug sy. “Maar ek is julle baie dank verskuldig, enne ek dink ek moet jul emosionele bagasie bietjie swaarder maak.” Sy leun na links en regs en gee elkeen ’n klapsoen op die wang. Tot haar innige verstomming bloos hulle albei beetrooi en sit tellings lank sprakeloos. Toe kug-kug Tiaan en sê: “Jy’s ’n great girl, Christelle. Ons sal wraggies aan jou dink, want dit gaan nie maklik wees nie. Frans het ’n klipharde kop bo daai papsagte hartjie.” “Ja,” sug Riaan. “Kyk maar Boontoe.” Sy knik en is niks verbaas oor die woorde nie. Want sy ken nou die Hattinghs. In die tyd dat sy klaarmaak om terug te gaan, werk sy nog by Lord Morton’s. Dit help om haar om haar ewewig te behou, want haar gedagtes wil met haar weghol. Sy berus ook daarby dat veral Missus Remington byna elke aand met ’n nuwe skeet vorendag kom. Sy gee raad en luister geduldig. Maar een aand verstik ’n vooraanstaande parlementslid – ’n aantreklike, flambojante man – aan ’n happie kreef dat hy botstil en potblou word. Dit gebeur net toe sy met nog gaste op pad na hul tafel verby die man loop. Die res van die geselskap kom skaars agter dat hy diep in die knyp is. Net sy besef dit. Sy gaan staan agter hom, stoot haar arms blitsvinnig om sy middel, druk net onderkant die borsbeen en voer die Heimlich-maneuver uit. Deur die genade spat die kreefhappie ver oor die tafel tot in ’n ander bord. Die arme man hyg en snik van verligting. Toe eers snap die res van die gaste wat gebeur het. Een neem Christelle terstond met ’n
digitale kamera af waar sy nog vlak by die man staan met ’n gerusstellende hand op sy skouer. Die volgende oggend is sy, haar sensuele swart kantrokkie en al, saam met sy edele die baron, op die voorblad van die London Times. ‘Doctor in disguise saves the Baron in distress’! staan daar. Sy was nog altyd baie fotogenies en Piet en Fanie is hoogs opgewonde oor die nuutste supermodel in hul midde. Sy demp hul terglustigheid gou maar dis niks vergeleke by die tweeling se kommentaar nie. “Mooiste!” roep hulle beurtelings jubelend uit toe hulle haar op haar selfoon bel. “Daai kantrokkie doen die ding, hoor! Trek hom aan as jy onse Fransman raakloop en die slag is geslaan! En o ja, ons het die foto ingescan en vir hom per e-pos gestuur! Maar sonder die byskrif. Hy sal dink jy en dié ou, jy weet mos? En o, hy gaan uitfreak as hy sien jy vat nogal aan daai baron!” “Ek distansieer my van julle twee!” kry sy eindelik ’n woord in. “Maar dit sal seker nie help nie, nè?” “Glad nie. Vlieg lekker en koebaai!” “Tata, julle.” Die aand voor haar vertrek sit sy en Gerrit in die kombuis en gesels. Die ander werk almal en hy bestudeer ’n handboek oor lewersiektes. Sy trek e-pos af. Een van Nomsa wat steen en been kla. Efraim is sommer plattelands, sê sy. Verbeel jou, dat sy met haar grade en diploma op ’n plaasskool moet gaan werk. Hy kan sy lobôla-beeste ook maar hou. Maar Christelle lees dit net halfpad. Haar oog vang die opskrif van ’n ander brief. Haar pa s’n. PLAASAANVAL OP MAHLERSDRIF. Sy skrik so dat sy snak na asem en Gerrit geskok na haar staar. Hy kom kyk wat haar so ontstel en sy wys met ’n bewende vinger na die skerm. Hy kliek op die brief en dit vou oop. “Liewe Chrissie, moenie skrik nie, want niemand is dood nie. Ek voel egter ek moet jou sê dat daar laas nag ’n aanval op Mahlersdrif was. Die Mahlers het na ’n gemeentefunksie op die dorp gegaan en met die terugkom is daar op hulle geskiet. Retha Mahler is in die boarm gewond en is in die hospitaal. Sy het nogal baie bloed verloor. Efraim, wat op die werf uitgekom het omdat hy lont geruik het, het met die Mahlers se haelgeweer op die booswigte losgetrek, maar hy is ook erg gewond. Hy lê in die Hoogland-Kliniek. Skoot was hoog bo deur die
regterlong. Arme man, my hart gaan uit na hom en ook na die Mahlers. Ek is net dankbaar dat Retha darem glo môre ontslaan word. Niemand is egter nog gearresteer nie. Nou ja. Anna sê Nomsa was op die plek histeries toe sy haar bel om te sê. Het glo kwaai woorde gekos om haar te laat bedaar. Ewenwel, sy het sonder meer op ’n taxi geklim en ons het ons erg gekwel totdat sy vanmiddag heelhuids hier opgedaag het. Nou sit sy pal langs Efraim se bed en hou sy hand vas. Anna sê hulle praat troustories. Nou ja, ek wou jou net sê.” “My hemel tog,” fluister Christelle. “Wanneer gaan hierdie slagting op ons plase en in ons stede end kry?” “Die ergste is,” antwoord Gerrit, “dat dit besig is om ’n retoriese vraag te raak. Kom, pak jou goedjies, ek sal jou môre Heathrow toe vat. Gaan huis toe en gaan wen eers daardie man se hart.” Christelle is doodmoeg toe Roald haar op die lughawe kom kry. Adelien kon nie wag nie en is met kleintjies en al ook in die motor. Christelle hou die kinders om die beurt vas, soen hulle sagte, geurige wangetjies en toe huil sy al weer. Vertel haar ontstelde suster en swaer net mooi alles so tussen Johannesburg Lughawe en Lynnwood. “Volg nou jou hart,” is Adelien se bondige kommentaar toe sy en Roald later saam met haar koffie drink. “Dit is die beste ding om te doen.” Ook Henk en Bernadette, wat gou die kleinding kom wys het, beaam dit. “’n Mens se hart weet wat reg is,” glimlag Bernadette en druk haar dogtertjie teen haar bors vas. “En een van die dae is ons mos ook op die plaas. Sal dit nie salig wees nie!” Christelle glimlag skewerig. “Beslis. Maar kom julle nie ook nie, Adie?” “O nee, ek is te lief vir die stad en Roald ook. Maar ons sal die retraite baie besoek, dié kan jy weet.”
“Dink aan my,” sug Christelle toe sy die volgende oggend plaas toe vertrek. Adelien gee haar net ’n klapsoen as antwoord. Heelpad verwonder sy haar aan die kosmos wat vol in die blom staan dié tyd van
die jaar. Die kleurvolle, helder herfs van my liewe Vrystaat, dink sy en haar hart klop vinniger. Ag, liewe Heer, bid sy so in die ry, ek is werklik so jammer vir Heidi. Maar ag, moet sy regtig vir Frans kry? Kan ek hom nie maar hê nie? Here, gee tog dat Heidi sal verstaan. Dis nou as Frans dit ooit oor sy hart kan kry om haar te sê hy’s lief vir my, dis nou ás hy ooit vir my lief is. Mens weet mos nooit met mans nie, liewe Heer. Ag, vergewe tog dat ek so deurmekaar bid, maar ek weet nie meer so mooi nie. Dankie dat U verstaan wat ek wil. Help my tog om te verstaan wat U wil. So praat sy Boontoe soos wat die Hattinghs aanbeveel het tot byna op Stille Weide. Sy glimlag spontaan toe sy die twee skraal, vergelende boompies in die tuin opmerk. So soos kleintjies wat teer grootgemaak word tussen die ander dikstampopuliere. Sy hou stil en loop eers soontoe om sag aan die blare en stamme te raak. “Nou ja, Mamma en Wilhelm,” sê sy. “Ek dink ek gaan hier wees om jul bome te sien grootword.” Anna moet haar vanuit die huis gesien het, want sy kom uitgehol met die twee honde opgewonde agterna. Sy huil en praat en huil en praat. Christelle druk die ronde vrou teen haar vas en paai: “Toe nou maar. Hier is ek nou en ek het gekom om te bly.” Toe snik Anna éérs, maar kry darem uit dat Efraim heelwat beter is al is hy nog in die hospitaal. En o ja, Nomsa val van Maandag af in by die plaasskool. Burgemeester Tlaletsi het iewers ’n toutjie getrek. “Hoekom is jy terug?” vra sy oplaas toe hulle die huis instap. “Lang storie,” sug Christelle. “Waar’s my pa?” “Hy het Henk se ma gaan help trek. Sy kom mos nou hier op die dorp bly. Daar in daardie woonstelle langs die kerk. Lyk my Sara en die jong dominee se pa laaik mekaar baie. Sy’t hom by die kerk ontmoet toe sy laas saam met Henkhulle hier was.” “Ek sien,” glimlag Christelle. Goed so, dink sy tevrede. Tant Sara sal steeds ’n goeie vriendin van Pa Abel bly. Vriendinne soos sy loop lang paaie saam met mense. Sy en haar nuwe oukêrel, soos wat Anna sou sê, sal dalk nog groot insette hier op Stille Weide lewer. “Maar jy. Wát maak jy hier?” torring Anna opnuut toe hulle in die kombuis kom
en op hul ou plek by die tafel gaan sit, elk met ’n groot beker soet melkkoffie. “Ek het gekom om te bly, Anna. Ek het ook gekom om te kyk of Frans Mahler my wil hê.” Tot haar verbasing gaan Anna se gemoed nie dadelik aan die skommel nie. Sy oordink die woorde. “Dan moet jy eers vir sy ma blomme vat,” sê sy ferm. En toe moet Christelle opsluit eers na die buitekamers kom kyk en die blinknuwe roomgeel AGA bewonder. “Nou moet jy gaan,” por Anna toe. “En koop baie blomme. Dit sal Frans se ma bly maak.” So kom dit dat Christelle vir Retha Mahler gaan groet nog voordat sy haar pa te sien kry. Sy ry by die Schoonraads aan wat met langsteelrose boer en koop ’n tamaai bos robynrooies. Op Mahlersdrif ry sy die groot werf met die laning hoë denne binne en hou voor die regop, onpretensieuse dubbelverdieping stil. Mieta is so bly om haar te sien, sy snik sommer. Wat is dit met ons almal? wonder Christelle. Onder die gladde oppervlak is daar aanhoudend opgekropte trauma, daarom huil ons as enige iets durf rimpels maak. Ons leef bang-bang en skrikskrik. Ons sal almal ánders moet begin lewe. Emosioneel paraat raak. Dalk is die retraite sommer ’n baie goeie ding. Mense van oral moet op Stille Weide kom leer hoe om innerlik en uiterlik te oorleef. Retha Mahler lê bo in haar roomwit slaapkamer en rus. Sy lyk nog bleek en moeg, maar is ooglopend bly dat Christelle gekom het. “Dis so lief van jou, Chrissie,” sê sy toe Mieta die bos rose in ’n kristalvaas op haar spieëlkas kom neersit. Toe sug sy diep: “Ja, mens moet elke mooi ding so diep waardeer, kind.” “Tante, ons moet almal nou paraat raak. Nes tante beter voel, moet jy op Stille Weide ’n beradingsessie kom bywoon.” “Haai, my kind.” “Regtig, ons sal en moet hierdie dinge oorkom. As ons almal hande vat, kan ons dit doen.” Die vrou kyk met verwondering en tog ’n bietjie bedugtheid na haar. “Dink jy ons kan?” “Ons moet. Hoe gaan dit regtig hier op Mahlersdrif, tante?” vra sy en haar direkte blik hou die vrou se moeë bruingroen oë vas.
“Praat jy nou van Heidi Jansen?” vra sy net so reguit. Christelle knik en sluk swaar, vleg haar vingers krampagtig inmekaar. “Nie goed nie. Sy is nou maar pal in Bloemfontein naby die hospitaal. Kry kortkort longontsteking met ’n vreeslike koors. Frans gaan juis die naweek maar weer soontoe.” Sy draai haar kop weg venster toe en staar na die kristalhelder blou van die lug. “Waarom het jy gekom, Christelle?” “Almal gaan dit seker nog vra. My pa gaan dit ook wil weet. Tante, ek het gekom om te sien of Frans my wil hê. Of hy kans sien om Heidi te vertel dat … wel, dat ons vir mekaar voel. As dit reg is so met tante …” Stilte kom lê tussen hulle en toe tuimel trane oor die vrou se ingesonke wange. Sy druk haar maer vingers voor haar mond en huil diep en geluidloos sodat Christelle ook moeite met haarself het. “Ag, Here tog,” sug Retha Mahler eindelik en druk-druk aan haar seer skouer. “Mag dit só wees.” Dis byna woordeliks wat Abel ook sê toe sy regop en hande agter die rug voor hom staan soos in haar kindertyd en haar hart sonder omhaal oopmaak. Hulle staan op die stoep en kyk hoe die son se nagloed nog die sandsteenkop anderkant die werf roospienk verf. Abel trek sy jongste nader en soen haar op haar voorkop. “Mag die Here jou voornemens seën, Chrissie.” Die nag slaap sy droomloos asof God haar onrustige, malende gedagtes vir die duur van haar slaap vir Hom geneem het. Sy word kalm wakker. As Frans haar wil hê, sal sy na hom toe gaan. As hy Heidi kies, het sy wel ’n hawe hier op Stille Weide. Sy trek keurig aan, maar ook met ’n bietjie vroumenslis, soos wat haar Hattingh-‘broers’ haar geadviseer het. Want die blou truitjie by haar ontwerpersdenim, sit presies, soos wat Roald eenkeer tydens haar studiejare oor ’n bloesie opgemerk het. Hoe presies? wou sy weet. Maar Adelien het ietwat ergerlik geantwoord: Presies soos wat hy sit as hy ’n boodskap stuur! Is dit ’n goeie of ’n slegte boodskap? wou Christelle bedees weet, skielik bang vir die effek van haar vroulikheid. Dit hang af vir wie jy dit bedoel, het Roald kalm opgemerk. As dit iemand is wat jou liefhet, sal hy dit mooi verstaan. As dit iemand is wat jou net uitkyk, sal hy dit lelik misbruik. Sy het die bloesie gaan
uittrek en ’n losser een gedra wat geen boodskap gehad het nie. Maar vandag is ’n ander dag, besluit sy. Vandag moet Frans die boodskap goed verstaan: dat sy nét syne is. Sy laat haar lang hare los, stoot haar vingers daardeur dat dit skuins agtertoe val en spuit Dior se onweerstaanbare J’Adore aan. ’n Geur wat haar aan blou maanlignagte vol katjiepiering laat dink. Toe sy ry, sien sy hoedat haar pa en Anna haar van die stoep af agternakyk. Op Bethlehem ry sy direk na die Hoogland-kliniek. “Ek is dokter Buitendag,” sê sy aan die ontvangsdame en hoop sy klink outoritêr. “Ek het dokter Mahler kom sien.” Sy leun vooroor op die toonbank en fluister: “’n Sensitiewe probleempie, jy weet.” Die vrou is iemand van haar tuisdorp. ’n Verlangse vriendin van ’n vriendin. En sy glimlag mooi sodat die vrou meer vermurwe as wat sy ooit kon hoop. “Sit so ’n oomblikkie,” fluister sy kameraadskaplik. “Ek maak vir jou ’n openinkie, wat.” Christelle glimlag en gaan sit tussen twee hoogswanger vroue. “Hoe ver is jy?” wil een vriendelik weet. “Heel aan die begin,” antwoord sy. “Ek weet nog nie eens nie.” Dis immers waar, verskoon sy haar dubbelsinnige storietjie. Sy is so op haar senuwees dat sy kan gil. Toe die ontvangsdame haar roep, is haar bene byna te lam om te loop. Frans sit en skryf iets in ’n lêer, maar toe die vrou hom inlig dat dokter Buitendag hier is om hom te sien, val die pen uit sy hand en hy spring op. So vervaard soos ’n skoolseun wat met ’n sigaret betrap is. Die deur agter Christelle klik toe en sy bly staan, kyk na die man na wie sy so brandend verlang het die afgelope maande, kry hom lief met ’n liefde wat homself vurig in haar hart herbevestig. En sy weet ook dat sy volkome in beheer is. Hy is eintlik bleek, so ontredderd is hy. “Christelle?” “Hallo, dokter,” sê sy en gaan sit oorkant hom. Hy sak terug in sy stoel. “Christelle, my hemel, jy kan mos nie my pasiënt wil wees nie. Gits, jy weet
mos dis nie eties nie!” “Ag wat, dis net ’n klein probleempie. En dis nie asof ons vriende is nie. Ons is kwalik kennisse. Buitendien, dis redelik sensitief en ek wil dit nie graag met iemand bespreek wat nie van beter weet nie. Almal op die dorp sê jy’s eintlik die beste. Jy behoort dit maklik te kan opklaar. Ginekoloë leer mos deesdae darem meer as net die buitelyne van die vroulike wese ken, nie waar nie? Jy weet seker nou al iets van die binnewerke ook?” “Wat bedoel jy?” vra hy, geheel uit sy vaarwater. Dis of hy net nie kan glo wat hy sien en hoor nie. Sy vingers wat die pen vasgehou het, tik-tik op die lessenaarblad en dis weer wit onder sy vol onderlip soos wanneer hy diep ontstig is. Sy kruis haar lang bene stadig en trek toe haar byende denimbaadjie uit, skud haar hare agtertoe sodat die heerlike geur om haar swewe. Sy oë rek en hy sluk ’n slag, kyk skielik weg, nes sy ma toe sy verbouereerd geraak het. ’n Kort oomblikkie kry Christelle hom amper jammer. En vir die eerste maal in haar lewe is sy trots op haar bates. Voel sy dis die regte goed op die regte plek op die regte tyd. Watter kans het hy nou eintlik? wonder sy genoeglik. “Luister,” sê sy met ’n fyn glimlag, “ek het hierdie probleem. Ek was saam met ’n man op ’n strand. En daar het iets gebeur wat ek as bindend beskou.” Die bleekheid sprei tot onder sy neus en sy oë sper. “O,” maak sy ’n klein handgebaartjie, “niks drasties gesien uit die oogpunt van die huidige tydsgees nie. Nee, net iets wat my al voorheen ook aan hom gebind het met bande wat so sterk is soos bloed. My soort bloed, jy weet. A plus, dink ek. A vir Absoluut, Aansteeklik, Adekwaat, ensovoorts. Adekwaat is natuurlik volkome voldoende vir altyd, as jy weet wat ek bedoel?” Hy staar na haar, en in sy donker oë glim daar iets wat haar laat dink dat hy besig is om by te kom. “Wel,” glimlag sy soet, “noudat jy nie meer so erg komatoos is nie, dokter, sien jy kans om my te help, of wat?” Sy blik vee vir ’n oomblik weer oor haar hals en toe kyk hy af en tel die pen op, trek ’n lyntjie op die skoon voorskrifblaadjie voor hom. “Wat … moet ek vir jou
voorskryf, dokter Buitendag?” “’n Lewenslange kuur, dokter Mahler. Dis al wat my ooit sal help. Twee broers het eenmaal vir my gesê mens leef net een maal. Wel, dis min of meer wat hulle bedoel het. En ek sal kan leef sonder jou medisyne, dokter, maar dit sal nooit weer dieselfde vir my wees nie. Die lewe sal dolleeg wees en ek sal dit moet vul met allerlei dinge om nie ingesuig te word in die vakuum daarvan nie.” “Christelle.” “Dis die emosie in ’n soen wat dit heilig maak, Frans. Onthou dit. Dis eintlik al wat ek vir jou kom sê het. Totsiens.” Toe staan sy op, lank en lenig in haar denim en mooi, presiese truitjie. Sy stap uit sonder om terug te kyk. Toe gaan koop sy ’n boksie sjokolade en loer by Efraim in. Nomsa is besig om twee nursies hot en haar te stuur, sien sy. Dan vir water, dan vir nog ’n kussing. Sy lag toe sy Christelle in die deur sien en Efraim ook. Toe sy vra hoe dit gaan, antwoord hulle tegelyk: “Sharp, sharp!” Hy kom oormôre uit, sê Efraim. Hy en Nomsa gaan trou, hy het klaar tien beeste vir die lobôla. “Auk! Is dit al?” terg Nomsa en skik weer aan sy kussing, maar kyk skielik skerp na Christelle. “Nou moet nog net jy ’n man kry!” Christelle lag of dit ’n grap is en groet die twee. Toe sy tuiskom, beef sy so groot as wat sy is. Genadiglik loop sy nie vir Anna of Pa Abel raak op pad kamer toe nie. Sy sluit haar toe vir die res van die oggend. Lê op haar bed en praat Boontoe soos nog nooit vantevore nie: As ek dalk ’n bietjie aspris was, Heer, moet U asseblief verstaan. Dis maar net omdat ek ’n vrou is wat met die man geflankeer het wat vir haar die allerenigste op aarde is. Asseblief moenie dat dit teen my tel nie. Help hom en help vir Heidi, assebliefblieftog. Heidi, Heer, wat so mooi skryf oor heel word. So bring sy die naweek deur. Sy bid selfs sonder dat sy dit bewustelik weet. Smeek en pleit vir haarself, vir Frans, vir Heidi, vir haar pa en susters en hul mans en kinders, vir die retraite, vir die land en teen misdaad. Sy gesels met Anna, ontmoet die paleontoloog. Luister na sy praatjies, loop saam met Keiser en Mietsie en haar pa veld toe, bewonder die Voortrekkerhuisie wat werklik goed
gerestoureer is – en wonder wat gaan word. Weet vir eens en vir altyd dat as Frans haar los, sy opdraand sal moet leef vir die res van haar dae. Tant Retha Mahler bel haar Sondagmiddag. “Hy’s terug,” sê sy net. “Maar ek weet nie wat geword het nie. Hy’s baie stil. Hou jou maar reg. Hy sal seker een of ander tyd daar op Stille Weide ’n draai maak.” Christelle stort en trek aan, ’n bloedrooi, gevaarlike truitjie en haar denim. Spuit van die blou katjiepieringnagte se parfuum aan en sit in haar kamer voor die venster. Kyk uit oor die laning wat aanloop na die huis. As iemand van Mahlersdrif af aangery kom, kan mens dit al van ver af sien. Dan sal sy wegloop, het sy haar voorgeneem. Veld toe, Voortrekkerhuisie toe. Hy kan haar kom soek. Anna kom later kyk en klik met haar tong. “Moenie worry nie,” sê sy. “Mieta het my gebel. Hy het nou net gery.” Sy vlie uit die huis, honde agterna. Sy waai vir die paleontoloog toe sy verby sy kampeerplek hol en hy waai terug. Sy draf oor die stuk veld anderkant die kop en kom uitasem by die Voortrekkerhuisie aan. Groet die wag wat onder die peperboom langs die huisie sit, een van Anna se broerskinders, en stoot die krakende voordeur oop. Sy gaan sit binne op die houtbankie by die growwe tafel soos wat oom Basie dit gemaak het. Sy kyk na die oop, aangepakte herd met die ysterpanne en die ketel, op na die balke teen die dak, trek die grasgeur van die rietdak in haar longe. Kom nou Frans, kom nou … Toe hy kom, is hy uitasem. Hy moes ook gehardloop het, dink sy bly. Hy het ’n denimbroek en ’n swart rolnektrui aan en sy donkergroen oë is oop en blink. Hy is opgewonde ook, besef sy. “Hallo,” fluister sy maar glimlag nie, staan op en retireer tot byna teen die haard. Hy gaan staan met sy hande in sy sye geplant, maar dis weer blekerig om sy mond. “Hallo, Chrissie.” Hy blaas sy asem uit en trek dit toe weer in, hou dit asof hy nie weet wat om daarmee te maak nie. Toe sê hy vinnig: “Ek het vir Heidi alles gaan vertel.” “En?” “Sy begryp. Eintlik het sy seker nog altyd begryp want ek, wel, ek het nie opgetree soos ’n verliefde man optree nie. Ek was meer haar vriend, sê sy.”
“Wat nou?” vra Christelle meedoënloos koel. “Wel, ’n verhouding vra meer as lojaliteit en vriendskap. Ek en jy sal haar natuurlik nog baie gaan ondersteun.” Sy knik, maar toe hy wil nader staan, hou sy haar hand op. “Wag. Nelson Mandela het gesê as jy met ’n mens ‘praat in ’n taal wat hy verstaan dan vat hy dit kop toe’.” ’n Klein laggie pluk aan sy mond. “En verstaan jy dit nou?” “Net met my kop. Hy het ook gesê ‘as jy met hom in sy eie taal praat, dan vat hy dit hart toe’.” “In jou eie taal?” vra Frans. En toe kliek hy. Gee twee tree tot by haar. Hy soen haar amper nog voordat hy haar vasvat. Sy mond gaan hartstogtelik oor haar gesig, haar hals en kom tot rus in haar nek waar hy teug na asem asof hy jare lank sonder suurstof was. Haar arms klem hom styf vas, haar hande vryf oor sy rug, sy skouers. Toe hy eindelik weer kan praat, sug hy: “Eva, waar was jy my lewe lank? Of nee, ek het nie gelééf tot nou toe nie!” Hy kyk in haar oë, vat bondels van haar digte hare vas en glimlag met sy oë. My kwaai Frans, dink sy verteder, en so mak soos ’n lam. Toe druk hy haar en haar rooi truitjie dig teen sy bors vas, bring haar kop na syne toe. Hy soen en soen asof hy liefkosing uitgevind het. Maar skielik ruk hy terug en sy sien wat die Hattinghs altyd gesien het as hulle hom tempteer. Die kwaaigeit van daardie donker blik. “Watse ellendige foto stuur die Hattinghs vir my? Wat vat jy so aan die man? En watse man is dit in elk geval?” “Lang storie,” terg sy, maar sien sy moet nou liefs nie te ver gaan nie. “Toemaar, dit was maar net ’n aristokraat wat verstik het en toe help ek hom. ’n ‘Doctor in disguise saves baron in distress’ soort van ding, jy weet.” Hy frons maar lag weer. “Die tweeling sal aan my moet kom rapporteer en hulle velle sal waai!”
“Nee, jy kan hulle nie te veel verniel nie, want hulle sal graag strooijonkers wil wees,” lag sy en hy tel haar terstond in sy arms op, tol in die rondte van skone vreugde. “Eva, my Eva!” Hulle steek die gestapelde houte in die haard aan, want die herfslug is koelerig. Frans gaan maak die ketel vol by ’n handpomp op die klein werfie en kom sit dit op die vuur. Christelle haal van die erdebekers wat vir toeriste gehou word, uit die kassie en gooi poeierkoffie, Cremora en suiker in. Anna hou ’n blik vol semelbeskuit ook daar en sy haal twee uit. “Nog,” sê Frans waar hy by die tafel sit en elke beweging van haar dophou. “Ons gaan lank hier sit. Hierdie vuur moet altyd brand.” Sy lag en haal nog vier stukke uit, gooi water op die koffiemengsel en kom sit langs hom. Hy vat haar hand, soen haar palm saggies. Sy vou haar vingers om sy stewige ken. “A face like a blessing,” sê sy.
Opsomming
Die wewenaar Abel Buitendag se lewe op sy plaas in die Oos-Vrystaat het ’n stil, onverstoorde gang. Of so dink hý. Sy drie dogters smag eintlik na meer warmte en kontak, na ’n lewe wat gelééf word. Sedert hul ma se dood, toe hulle nog klein was, klou hul pa verbete vas aan dit wat verby is. Maar soos Abel se dogters een vir een uit die huis gaan en deel word van die groot wêreld, gryp die lewe hul met woede en met vreugde vas. Hulle ervaar die storm en soet pyn, ook soms die bitterheid, wat liefde bring. Die oudste dogter, Adelien, is ’n dosent in sielkunde in die stad en moet op ’n dag kies tussen twee besonderse mans in haar lewe. Maar sy is ook gekweld oor haar twee susters. Christel, die jongste een, is nog op skool en alleen by die huis met ’n pa wat te sag is. En Bernadette het ’n man gekies wat haar dalk nog baie hartseer kan bring.
Oor die skrywer
Helene de Kock is ’n baie bekende en gewilde skrywer van veral liefdesromans. Sy woon in Pretoria. Daar het reeds 13 omnibusse van haar liefdesverhale verskyn. Haar roman, Abel se dogters, het binne enkele maande uitverkoop en moes herdruk word. Sy het ook sedertdien twee langer romans gepubliseer: Dieper water en Somersneeu.
Human & Rousseau ’n druknaam van NB-Uitgewers, ’n afdeling van Media 24Boeke (Edms) Bpk, Heerengracht 40, Kaapstad, 8001 Posbus 6525, Roggebaai 8001, Suid-Afrika www.humanrousseau.com
Kopiereg © 2003 deur Helene de Kock
Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting.
Bandontwerp deur Tertia du Toit E-boekontwerp: Trace Digital Services
Ook beskikbaar in druk: Eerste uitgawe, derde druk in 2003 ISBN: 978-0-7981-4380-6
Epub-uitgawe: Eerste uitgawe in 2014 ISBN: 978-0-7981-6809-0 (epub)
Mobi-uitgawe: Eerste uitgawe in 2014 ISBN: 978-0-7981-6810-6 (mobi)